Jun 20, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Na die aksie.
“Ons het vanmiddag seks gehad op die dak.“ Toe ek ‘n vriendin, die stemmige Leonora Mouton (ook al saliger), se oë soos pierings sien rek, besef ek die formulering kon netjieser gewees het. Dat daar seks op die dak was, was wel waar. Die “ons” was egter net toeskouers (en toehoorders).
Die aktiewe deelnemers was twee veldlikkewane. Hul storie verskyn vandag in By, naweekbylae tot Die Burger, oor allerlei likkewaanpetaljes op en onder ons dak in Sabiepark. Die seks-storie is een van die vreemdste.
Een middag skrik ek en Tokkie vir ‘n onaardse geluid. Klink of iemand met ’n hark die sinkteëls (Harvey Tiles) bo-oor die gras van die ou dak getakel het. Of soos ‘n span katte wat met leë blikke aan hul sterte vervaard op die dak rondtol.

Opgekrul in ‘n wasgoedmandjie.
Ons spits die ore en konsentreer om te probeer bepaal waar die onheil skuil. Die geluid beweeg vinnig rond. Ons is buite toe, al om die huis. Niks.
‘n Vinnige beweging op die dak vang skielik my oog. Dis die dartelende lyf van ‘n veldlikkewaan. Hy waggel rats oor die nok. Dan verdwyn hy weer geheel van die radar af. Nou weet ons: dis daai kloue aan die kort pootjies wat ons rus so verstoor het. Maar wat het dan nou van die rusverstoorder geword?
Ons hoef nie lank te wonder nie. Opnuut klink die kawolt op – hierdie keer geografies makliker bepaalbaar. Dis bokant die gastekamer. “Daar val hy”, roep Tokkie. Dit klink inderdaad so. Of dalk het hy gespring. Doelbewus of per ongeluk is hy nou op die sparretjie-afdak wat as motorstaanplek dien. Dis ‘n getjommel van die eerste water soos hy balans – of waardigheid – probeer herstel.

Tokkie het haar hande vol.
Vir ‘n sekonde of wat loer ‘n stertjie tussen die sparretjies uit – of nee wag, dit is twee. ‘n Lig gaan op. Watter rare reptiel-ritueel het ons nie pas bo ons koppe beleef nie!
Van likkewaan-seksualiteit is ek geen kenner nie. Maar twee en twee is vier. En wat hier gebeur het, was duidelik ‘n spel van likkewaan-romantiek: ‘n opgeklitste mannetjie wat ‘n maatjie in die oog gekry het en meedoënloos rondjaag; sy wat tergerig voor die vryer se attensies bly padgee om sy energie tot hoër vlakke op te dryf. La donna è mobile.
‘n Ruk kyk ons daardie twee stertjies so. Dan wikkel hulle, dan raak hulle stil. Later volg ‘n onheilspellende langer stilte.
Iewers lees ek ‘n wyfie lê in die lente 20 – 40 eiers in ‘n gat. Hoop nie wat ons aanskou het, was die voorpel tot so ‘n eier-uitstorting nie. En dit dalk in ‘n knusse gat in onse dak. O gatta-patatta.
Jun 14, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Daar staan sy.
By die onlangse verskuiwing van die standbeeld van Wolraad Woltemade uit Pinelands na Milnerton in Kaapstad was groter toeganklikheid ‘n oorweging. Die waarde van ‘n groter gehoor vir die lesse van Woltemade se heldhaftige reddingsdade in ‘n stormsee op sy nuwe staanplek is in toesprake beklemtoon.
Onwillekeurig doem by die lees daarvan toe in my gedagtes seker Suid-Afrika se ontoeganklikste standbeeld op: dié van die kaalvoetvrou aan die bokant van die Retiefpas op die plaas Scheepershoek in die Kerkenberg-omgewing in die Drakensberg. Dit gedenk die ‘opstand’ teen die Britse regering in Natal in 1842 van Voortrekkervroue wat, volgens hulle, liewer kaalvoet die berg sou oorsteek as om deur vreemdes verslaaf te word.
Die inspirerende lewensgroot beeld van ‘n vrou in destydse Voortrekkerdrag staan ongeveer 60 km van Harrismith, wes van die Sterkfonteindam. Ongelukkig is dit, na my wete, net bereikbaar met ’n vierwielaangedrewe voertuig en met die toestemming van die huidige eienaar van die plaas.
Min mense is gevolglik daarvan bewus. Die gevolg is dat ‘n belangrike boodskap oor die moed, onverskrokkenheid en deursettingsvermoë van die Voortrekkervroue eenvoudig in vergetelheid verdwyn.
Twaalf kilometer van die standbeeld, oor die steil Oliviershoekpas by Kerkenberg, is ‘n klip op ‘n klein plato reg onder ‘n rotsstapel te sien waarop die naam van die Trekkerleier Piet Retief en die datum van sy 57ste verjaardag, 12 November 1837, deur sy dogter, Debora, met groen verf aangebring is terwyl ‘n gedeelte van sy trek daar uitgespan het. Altesaam 66 waens het op hierdie roete teen die steil berg afgetrek.
Die beeld verkry myns insiens daardeur nog groter betekenis as ‘n baken van een van die min bekende historiese terreine wat so direk met die Groot Trek en Retief verbind kan word.
My persoonlike kennismaking met die omgewing wat so deurdrenk is van geskiedenis was in 1981 op besoek aan die historiese Retiefklip-erfenisterrein by Kerkenberg vir die Geloftefees. My voorreg gewees om daardie jaar as feesredenaar by Kerkenberg op te tree.

Piet Retief se naam
Die “saal” waar ek op 16 Desember 1981 aan die woord gestel is, was in ‘n skeur tussen twee groot rotse. Dit is seker nou nog. Die dak is / was van sink. Skielik het dit hard begin reën. Die reën het later so op die sinkdak gedawer dat my normaalweg forse stem kwalik die mas kon opkom = ‘n bittersoet herinnering.
My gulle gashere het my die Retiefklip en die lewensgroot beeld gaan wys. Die beeld is vier jaar tevore deur die Vrystaatse Voortrekkerbeweging daar laat oprig, en is op 12 Oktober 1977 deur mnr. Fanie Maree, destydse eienaar van die plaas, onthul. Die beeldhouer was Alfonso Smuts. Die besoek aan die eensame beeld in die berge het my aangegryp.
Ook die groen geverfde inskrywing op die Retiefklip het ‘n diepe indruk op my gemaak. Dit word deur ‘n glaskassie wat later aangebring is, teen wind en weer beskerm. Met die 1937-Eeufeesviering is ‘n gedenkplaat deur mev. J.C. Preller (‘n kleindogter van Debora Retief) onthul en in 1986 is die Engelse weergawe van die plaat deur studente van die Pretoria Technikon geskenk. (Tydens die Anglo-Boereoorlog het nóg mense – veral lede van die Bethlehem-kommando – hul name langs dié van Retief s’n gevoeg).
Later wou ek die beeld, die Retiefklip en Kerkenberg weer besoek. Ek het my tot my spyt laat afraai om die perd op te saal. Vandag kwel my gewete my dat ek my nie toe ek in die geleentheid was vir groter toeganklikheid van die kosbare erfenisgebied beywer het nie. Swak, Piketberg.
NASKRIF: In 1842 het Natalse Voortrekkerleiers ’n “declaratie van onderwerping aan het gezag van die Britse koningin” onderteken. Die vroue van Pietermaritzburg het egter vasgeskop. Onder leiding van mevrou Susanna Smit, vrou van eerwaarde Erasmus Smit (geestelike leier van die Trek) en suster van Gerrit Maritz, het ’n deputasie van weerbarstige vroue ‘n onderhoud van ongeveer drie uur met die Britse mag se Afrikaner-gebore kol. Henry Cloete gevoer.
Cloete moes hoor dat die vroue van die Groot Trek die reg verwerf het om oor die toekoms van hul land te praat deur aan veldslae saam met hul mans deel te neem. Die vroue het hom deeglik ingelig oor hul lyding op die trekpad. Hul laaste woorde was ’n waarskuwing wat die offisier hewig ontstel het: “Ons loop liewer kaalvoet terug oor die Drakensberg as om onder Britse juk te buig.”
OOK VANDAG IN RAPPORT
Jun 11, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Frikkie Wallis en sy boek.
Merkwaardig dat dit nou juis so moet val, maar Suid-Afrika se “Mnr. Nuusdagboek” word vandag, Vrydag 12 Junie, vir laas gegroet op dieselfde kalenderdag as wat waarskynlik die beroemdste en aangrypendste dagboek ter wêreld begin hou is.
Vir die “dag wat is”, is op die dagboek die gedenkdiens van Frikkie Wallis (74), deurwinterde Afrikaanse uitsaaier en dagboek-houer, om 11:00 in die NG kerk Melkbosstrand. Frikkie was ‘n veteraan-SAUK-omroeper, joernalis, radio-nuusskrywer en hoorspel-spesialis, asook die skrywer van ‘n yslike geskiedenisboek “Nuusdagboek: Feite en Fratse oor 1000 Jaar” (Human & Rousseau, 2000), ‘n omnibus van historiese gebeure oor die eeue heen.

Frikkie, die uwe en Hennie Pienaar, oud-SAUK, op Melkbos se stoep.
Tot twee dae voor sy dood op 31 Mei het Frikkie, ondanks kwynende gesondheid, uit sy rolstoel op die patroon van sy monumentale boek op Facebook getrou bly dagboek hou van die nuus van vergange tye. Sy rubriek, “Die dag dat was”, is wyd waardeer.
Vir vandag se “dag wat was”, bied gewis geen idealer inskrywing in die ganse geskiedenis hom aan nie as die geboortedag van die ikoniese Joodse meisie Anne Frank se veel gelese dagboek op 12 Junie 1942, haar 13de verjaardag.

Anne Frank se dagboek – die boek. .
Die dapper meisie wat net twee jaar later, in 1945, in ‘n konsentrasiekamp aan tifus oorlede is, het die boekie by haar vader present gekry en het haar bitter ervaringe tydens die Duitse besetting van Nederland tydens die Tweede Wereldoorlog getrou daarin aangeteken.
Meer as 35 miljoen eksemplare van die ikoniese boek is verkoop – in vele tale, ook Afrikaans, soos vertaal deur Lina Spies en uitgegee as Die Agterhuis.
Frikkie, soos ek hom leer ken het, sou hom verkneukel het aan die vreemde sameloop op die Juniekalender van die einde van sy era as dagboekskrywer in 2026 en die begin van Anne Frank s’n in 1942.
Jun 4, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Om behoorlik en waardig, sonder eie skade, van die boksie, sakkie of botteltjie as van ‘n ontslape naaste ontslae te raak, kan uitdagend word, soos Emile Joubert, rubriekskrywer van Die Burger vandag in Van Alle Kante lamenteer, Die stomme man het met die verantwoordelikheid wat sy skouers rus rakende sy vriend wyle Johann al meer as een bloutjie geloop.
Daardie verbrande materiaal wat by ‘n krematorium gegenereer is, is gewoonlik bestem vir ’n gunstelingplek van die oorspronklike eienaar. Langs die kus, op ’n berg, in die bos, in die woestyn, op ver paaie – solank daar aan die bestemming vir die oorledene aangename herinneringe gekleef het.
Sommige voorkeurbestemmings is nie net eksoties nie, maar ook avontuurlik. Ek het ’n vriend, ’n motorfiets-entoesias, wat niks anders vir sy as begeer nie as dat dit uit ’n valhelm in die Karoo geskud word terwyl die Harley-Davidsons, BMW’s en Gold Wings volspoed bly voortdreun, en Nat King Cole sing “There goes my everything”.
’n Nogal ongewoon, nie-eksotiese wens van ’n Vrystaatse boer was dat sy as in sy beeskraal gestrooi word. Hy was vir sy Afrikanerbeeste liewer as vir enigiets anders. ’n Kaapse oubaas wou doodgewoon van sy voorstoep na sy agterplaas verskuif word, tussen die beendere van sy honde, wat ten minste lojaal aan hom was.
Gewoon of ongewoon, die laaste wil van ’n geliefde oor wat van sy of haar hopie as moet word, is gewoonlik vir die treurende naasbestaandes soos ’n bevel. Wie is so hardvogtig dat hy of sy willens en wetens so ’n vertroetelde hartewens in die wind sal slaan?
Of dit nou beteken jy moet ver ry, pieke bestyg, gate grawe, op ’n “biker rally” gaan of sommer die assies in ’n blompotjie op die kaggelrak uitstal, gewoonlik kan die oorledene in relatiewe vrede rus dat elke haalbare opdrag oor die hantering van die stoflike oorskot met respek tot op die titteltjie uitgevoer sal word.
’n Teken van die tyd is die sogenaamde Muur van Herinnering waar die nissies in ’n ry by ’n kerk of elders ingeryg sit. Een voordeel is dat jy nie deur jou medemens ingeasem word nie – ’n diepliggende aversie van my vrou, Tokkie, wat by voorbaat oor daardie bose gedagte aan die ril gaan, veral as die Kaapse winde so waai waar hulle wil.
’n Tweede verdienste van die nis-opsie is die bestaan van ’n relatief permanente adres waar die nageslag in tere herinnering die hoof in eerbied kan gaan buig of by geleentheid – soos Vaders- of Moedersdag – ’n blommetjie kan gaan neersit.
Die strooi van die as is nie altyd sonder insident of komplikasie nie. Die volgende het regtig met ’n oudkollega gebeur: Oupa se as moet op Bloubergstrand in die branders gestrooi word. Al die familie is daar, in hul kerkklere. Die kerkklere blyk ’n lastigheid te wees, want dit is juis op daardie tyd hoogwater. Selfs met opgerolde broekspype kom jy dan nie ver nie.
Twee, drie proeflopies word gehou. Die langste naasbestaande kry daarop die sombere taak. Maar hy trap op ’n stuk seebamboes, struikel en verloor sy ewewig. Daar trek Oupa se laaste oorblyfsels met ’n slap bogie tot net voor sy tone.
’n Brander vat dit en begin dit uitstoot strand se kant toe, waar die vergaderde roubeklaers in stilte die seremonie sien skeefloop. Toe kies ’n meisietjie met twee bokstertjies en ’n wit rokkie met bytjies en blommetjies op die voorpant plassend die hasepad. “Tjips,” skree sy, “Oupa is op ons!”
Toe Melkbos nis-georiënteerd begin raak het, het ’n buurvrou van die kerk erg gesteurd oorgestoom om die planne te probeer stuit. Sy was doodbang dit sal mense aanmoedig om op haar drumpel as’t ware die ashouers te kom omkeer. Sê nou die wind waai? Dan kleef die goed aan haar gordyne vas!
Daardie tyd het ek ’n versie oor die nuwe “nis-mark” geskryf wat in my hekelbundeltjie Polisie, Polisie, Ons Reënboog Is Geroof opgeneem is:
As ek die dag finaal disnis is,
my assies in ’n nis gekis is,
kan jy maar oral vonkpos stuur:
die ou is oor – en in – die muur!
Sien minder
Jun 3, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Wanneer oor skepe en skeepvaart gepraat word – en hoe graag praat ek nie oor skepe nie! – is Cunard se Queen Mary II voorop in my gedagtes. Ook MSC se Sinfonia bring tere herinneringe.Maar ‘n mens se eerste liefde bly jou eerste liefde.
En aan hierdie “bevare seeman” se eerste liefde onder die skepe in sy lewe, die Union-Castle se Pendennis Castle, is hy vanoggend saam met sy oggendkoffie herinner.Dis weer Die Burger se terugblik-rubriek, 50 Jaar gelede, wat op ‘n bittersoet-manier die verlede laat herleef.
By die rubriek is oudergewoonte die voorblad van die koerant van 50 jaar gelede. Daarop is ’n foto van die Pendennis wat vir oulaas uit Southampton op die Kaapse roete vertrek. Ná sovele vaarte met sovele passasiers, vragte koerante, tydskrifte, briewe en strokiesboeke vir kinders was posbote se tyd klaarblyklik aan’t uitloop.
Die aankondiging was destyds soos ’n begrafniskennisgewing in die koerant, onthou ek: die begin van die einde van ‘n era. Dat juis die sierlike Pendennis die doodsklok moes lui, het my en Tokkie geruk, want dit was “ons skip.”
Toe die slanke posboot op ’n koelerige lentedag in September 1970 met haar kenmerkende lila romp en baksteenrooi skoorsteen uit Tafelbaai vertrek op ’n vakansievaart na Durban oor Port Elizabeth en Oos-Londen, was onder die 550 passasiers was Jakob Hendrik en Gesina Susara van Deventer. Dit was ons eertes vaart – ’n droom bewaarheid vir ’n jong Bloemfonteinse egpaar.
En hoe het die gogga nie gebyt nie. Minstens ‘n dosyn vaarte sou volg , na die verre Sydney, Venesie, Dubrovnik, Hongkong … One sou deur die Suezkanaal vaar en die Griekse eilande besoek. Ek sou daaroor ‘n reisboek skryf, “Na verre hawens” (Naledi).
Maar terug na die Pendennis se laaste vaart. ’n Jaar later, in 1977, sou ook die jonger SA Vaal se laaste vaart aanbreek. Die gordyn op die posboot-era het finaal gesak. Blaasorkeste het op die kaai stemmige marsmusiek gespeel; sleepbote het met waterfonteine ’n eresaluut gegee. Heelwat trane is weggepink toe die ou grote met die lila romp se afskeid met ’n ekstra luide geskal aangekondig word.
Wat van die Pendennis geword het? Op 14 Junie 1976 is dit aan Panamese eienaars verkoop en tot die Ocean Queen herdoop. Die romp is ’n neutrale wit geverf; die skoorsteen goudbruin. Die Queen sou uit Hongkong plesiervaarte onderneem. Die plan was ongelukkig doodgebore. In 1978 het dit weer van eienaars (en naam) verwissel. Die Pendennis (Queen) het eers Sinbad en later Sinbad 1 geword. Die vernederende leeglêdae het voortgeduur.
In April 1980, net ’n dekade ná ons eerste proeseltjie van die plesier van vaar, het “ons skip” op sy laaste reis uit Hongkong vertrek. Sy finale bestemming was die Taiwanse hawestad Kaohsiung (uitgespreek Ka-ou-sjoeng). In Kaohsiung se skeepswerf sou die ou staatmaker “afgetakel” word: ’n eens trotse skip in verre waters tot ’n hoop afvalmetaal gereduseer. Stof tot stof, swierigheid tot skroot.
NASKRIF: Hoe ver van “tamaai” die “tamaaie” skepe van die posboot-era was, blyk uit ’n vergelyking van tonnemaat. Die Pendennis was ’n skip van 28 582 ton. Die MSC Musica, maar net ’n medium-plesierboot in die MSC-vloot – of “cruise ship” – wat al in 2006 gebou is en onlangs in Suid-Afrika bedrywig was, is ’n lywige 92 409 ton! MSC se nuwe vlagskip, die MSC Bellissima, is 171 598 ton. Royal Caribbean International se reusagtige Symphony of the Seas, die wêreld se grootste, is ’n verstommende 228 081 ton!
May 27, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Vuurtjies flikker in Balule.
Vir plesier, inkopies, kerk of werk. Met die wonderlike “seisoenskaart” die Wildkaart as paspoort is die Krugerwildtuin se poorte vir ‘n besoeker oop, ongeag die doel, as jy jou in daardie wyke bevind. Dis ‘n uitnemende voorreg.
Skukuza, die hoofkamp, word vir die Van Deventers ‘n hoofslagaar wanneer ons so twee keer per jaar in Sabiepark in Mpumalamga spreekwoordelike tentpenne gaan inslaan. Hoeveel keer ons in 28 jaar deur die Krugerhek vinnig Skukuza toe is, probeer ek aan die vooraand van die viering van die Wildtuin se eeufees oor ‘n paar dae, op 31 Mei, sommer vir my eie pret en verkneukeling bereken.
Skukuza en ons eie gewoontes het al baie verander, maar ek probeer tog uitwerk plus-minus hoeveel kere se inzits daar was vir die winkel (vir kruideniersware, bier, houtskool, piesangs of koerante), hoeveel vir die vulstasie en klein werkwinkel (vir brandstof of ‘n stukkende band), hoeveel vir die dokter, die kerk, die bank, ‘n restaurant, die gholfbaan (darem net as saamstappers met kinders en kleinkinders) en ‘n waskamer (voordat Sabiepark sy eie gekry het). Skukuza is immers net 16 kilometer ver, skaars ‘n klipgooi.
‘n Naastenby akkurate sommetjie is ‘n onbegonne taak. Sedert 1998 is ons letterlik honderde kere deur daardie hek. Ons ry ook by die hek in as ons gou by Lake Panic gaan voëls kyk, by Tshokwane of Hlanguleni gaan piekniek maak of op Hazyview gaan groter inkopies doen – in by Kruger, uit by Phabeni; al met die rivierpad die S3 langs die Sabierivier af.
Of, natuurlik, vir langer Wildtuinbesoeke. Soos graag aan Balule, primitiewe boskampie naby Olifants. Ons is versot op Balule. Hoe treurig is dit nie dat die intieme kampie met sy ses rondawels by die eeufees steeds agter gegrendelde hekke moet wees weens die vloede in Januarie – een van die ergste slagoffers. My hart ween vir die geliefde plek waar die bos dag en nag heers.
Geen wonder nie die personeel by die Krugerhek het ons en my kar, die silwer 1999-Honda CR-V met die registrasienommer CY 7755, met al die in en uit al so goed leer ken. Dis vir hulle die “old man’s car”. Skuif ‘n kleinkind agter die wiel in, moet hy bontstaan om te verduidelik.

Kollegemanne kuier.
Om die kosbaarste van hope kosbare Wildtuin-herinneringe uit te sonder, is amper so onmoontlik as om die getal besoeke te bereken. Vyf saamtrekke met studentemaats van Tukkies se Kollegetehuis in Balule (en twee in Orpen) moet naby aan die hoogste hoogtepunte wees. Maar hoe salig is nie ook saam met ander vriende gekuier nie en hoe lief het ons ook nie vir veral Olifants, Letaba, Satara, Orpen en Shingwedzi geword nie – asook vir die uitsonderlike Boulders.
Moenie vir Boulders tussen die rotskoppies vergeet nie. By sy watergat ontbreek aksie selde. Sommer drie dawerende buffelstormlope in ‘n paar magiese ure het ons daar beleef. Oor diere en huldinge doen ek egter nie vandag in hierdie skrywe verslag nie.

... en kuier.
Een van die uniekhede van ons bosverbintenis is Sondae se erediens in die treffende koel kerkie met sy indrukwekkende koorsboom in Skukuza se netjiese personeeldorp. Om op pad kerk toe leeus tee te kom, of luiperds, of jou teen ‘n donker muur van olifante vas te ry, dra by tot die salwing van die gemoed op die Sabbat.
Die Paassangdiens was altyd (is dalk nog) op ’n unieke plek: die indrukwekkende Granokoppie langs die H1 suide toe. Treffend was dit vir ons om verskeie kere op kampstoeltjies daar hoog bokant die veld te sit terwyl die nag stadig rondom toesak, en die Paasverhaal in lied (met kitaarbegeleiding), poësie, Skriflesing en gebed te herdenk .

Piekniek op die koppie.
Ds. Carl Louwrens (en Sarah) is Skukuzamense wat huisvriende geword het. So ook Jimmy en Lida Pressly wat ons aan die eksklusiewe vreugde van laatmiddag-pieknieks op die einste Granokoppie bekend gestel het … en aan die stapperskamp Napi waar ons eweneens heerlik met weergalose gasvryheid en Wildtuinkos bederf is.
Skukuza se dokter kry mens nodig vir enigiets van kwaai insekbyte tot ’n spysverteringstelsel wat van al die braaivleis protesteer. Ons nood was ‘n keer hoog na ’n ongelukkie by die hek. ‘n Boesemvriend wil sy vuurwapen laat verseël. Hy stap hy met sy voorkop in die dak se hoek vas en syg neer soos ’n os.
Ons dag hy is geskiet. Hy kom egter dronkerig orent en verdryf vinnig alle vrese oor ’n skietwond deur sy eie stiksienigheid en die skerp hoek van die dak in tale te verwens. ’n Paar steke in Skukuza se spreekkamer en ’n paar kopseerpille later was hy reg vir die Wildtuin.
Ander kere moes kinders haastig maak vir mediese hulp ná ‘n kleinkind se onderonsies met ‘n verradderlike sakspinnekop.
By die eeufees onthou ons ook kwaai vloede, soos in 2000 en vanjaar weer, asook brande soos die een in September 2003 wat veral in die Pretoriuskop-omgewing dood en verwoesting gesaai het. Die skouspelagtige vlamme teen die donker naghemel kon ons van ons stoep in Sabiepark waarneem. Om agterna die geliefde aarde so aan flarde te sien, vat aan ‘n mens.
Ons onthou voorts die noodlottige luiperdaanvalle kort op mekaar op ‘n vroulike drawwer en ‘n 10-jarige skoolseun in Skukuza en die skok daaroor in die plaaslike gemeenskap, asook ‘n paar ander Skukuzadinge, soos die halfmarathon.

Skukuza-marathon.
Elke eerste Saterdag in Augustus vind die Skukuzahalfmarathon plaas. Ons was telkens onder die toeskouers. Sowat ’n duisend atlete neem daaraan deel. Hulle word afgesit met die geblikte brul van ’n leeu. Daarna hardloop hulle al rondom die personeeldorp, verby Lake Panic, wat deel van die gholfbaan vorm. ’n Trop buffels, olifante en selfs leeus het al die roete versper. Veldwagters moes hulle verjaag. (Foto)
’n Kermis-atmosfeer heers op die sportveld. Die NGK Skukuza verkoop kerrie en rys; die skool worsbroodjies en so. Tokkie was darem in die sin al ‘n deelnemer. Sy het op haar tweeplaat-gasstofie in Sabiepark dertig koppies rys vir die kerk se kerrie-en-rys-tafel gekook. Dit het ons in koffer Skukuza toe karwei. Ek het fluks foto’s geneem van Tokkie by haar rystas – in hierdie verband geen spelfout nie!

Ons klink ‘n glasie.
Ons eerste Kersfees in die bos was in 2002. By die Parkwinkel was ’n spesiale Kersaanbod: laat jou foto neem saam met Kersvader vir R10. Die agtergrond was ’n sebravel. Om saam met ’n swart Sinterklaas in ’n rooi pak te poseer voor ’n sebravel – dis mos Afrika!
Ons klink hier op Melkbos ‘n glasie Maroelalikeur – niks anders nie – op daardie wonderlike plek 2000 km van hier se 100 jaar van ongekende geestesverryking en vredeskepping vir die siel van geslagte natuurliefhebbers van hier en oorsee. Daar is maar een Krugerwildtuin. Absoluut net een.