Daar staan sy.

By die onlangse verskuiwing van die standbeeld van Wolraad Woltemade uit Pinelands na Milnerton in Kaapstad was groter toeganklikheid ‘n oorweging.  Die waarde van ‘n groter gehoor vir die lesse van Woltemade se heldhaftige reddingsdade in ‘n stormsee op sy nuwe staanplek is in toesprake beklemtoon.

Onwillekeurig doem by die lees daarvan toe in my gedagtes seker Suid-Afrika se ontoeganklikste standbeeld op:  dié van die kaalvoetvrou aan die bokant van die Retiefpas op die plaas Scheepershoek in die Kerkenberg-omgewing in die Drakensberg. Dit gedenk die ‘opstand’ teen die Britse regering in Natal in 1842 van Voortrekkervroue wat, volgens hulle, liewer kaalvoet die berg sou oorsteek as om deur vreemdes verslaaf te word.

Die inspirerende lewensgroot beeld van ‘n vrou in destydse Voortrekkerdrag staan ongeveer 60 km van Harrismith, wes van die Sterkfonteindam. Ongelukkig is dit, na my wete, net bereikbaar met ’n vierwielaangedrewe voertuig en met die toestemming van die huidige eienaar van die plaas.

Min mense is gevolglik daarvan bewus.  Die gevolg is dat ‘n belangrike boodskap oor die moed, onverskrokkenheid en deursettingsvermoë van die Voortrekkervroue eenvoudig in vergetelheid verdwyn.

Twaalf kilometer van die standbeeld, oor die steil Oliviershoekpas by Kerkenberg, is ‘n klip op ‘n klein plato reg onder ‘n rotsstapel te sien waarop die naam van die Trekkerleier Piet Retief en die datum van sy 57ste verjaardag, 12 November 1837,  deur sy dogter, Debora, met groen verf aangebring is terwyl ‘n gedeelte van sy trek daar uitgespan het. Altesaam 66 waens het op hierdie roete teen die steil berg afgetrek.

Die beeld verkry myns insiens daardeur nog groter betekenis as ‘n baken van een van die min bekende historiese terreine wat so direk met die Groot Trek en Retief verbind kan word.

My persoonlike kennismaking met die omgewing wat so deurdrenk is van geskiedenis was in 1981 op besoek aan die historiese Retiefklip-erfenisterrein by Kerkenberg vir die Geloftefees. My voorreg gewees om daardie jaar as feesredenaar by Kerkenberg op te tree.

Piet Retief se naam

Die “saal” waar ek op 16 Desember 1981 aan die woord gestel is, was in ‘n skeur tussen twee groot rotse. Dit is seker nou nog. Die dak is / was van sink. Skielik het dit hard begin reën. Die reën het later so op die sinkdak gedawer dat my normaalweg forse stem kwalik die mas kon opkom = ‘n bittersoet herinnering.

My gulle gashere het my die Retiefklip en die lewensgroot beeld gaan wys. Die beeld is vier jaar tevore deur die Vrystaatse Voortrekkerbeweging daar laat oprig, en  is op 12 Oktober 1977 deur mnr. Fanie Maree, destydse eienaar van die plaas, onthul. Die beeldhouer was Alfonso Smuts. Die besoek aan die eensame beeld in die berge het my aangegryp.

Ook die groen geverfde inskrywing op die Retiefklip het ‘n diepe indruk op my gemaak. Dit word deur ‘n glaskassie wat later aangebring is, teen wind en weer beskerm.  Met die 1937-Eeufeesviering is ‘n gedenkplaat deur mev. J.C. Preller (‘n kleindogter van Debora Retief) onthul en in 1986 is die Engelse weergawe van die plaat deur studente van die Pretoria Technikon geskenk. (Tydens die Anglo-Boereoorlog het nóg mense – veral lede van die Bethlehem-kommando – hul name langs dié van Retief s’n gevoeg).

Later wou ek die beeld, die Retiefklip en Kerkenberg weer besoek. Ek het my tot my spyt laat afraai om die perd op te saal. Vandag kwel my gewete my dat ek my nie toe ek in die geleentheid was vir groter toeganklikheid van die kosbare erfenisgebied  beywer het nie.  Swak, Piketberg.

NASKRIF: In 1842 het Natalse Voortrekkerleiers ’n “declaratie van onderwerping aan het gezag van die Britse koningin” onderteken.  Die vroue van Pietermaritzburg het egter vasgeskop. Onder leiding van mevrou Susanna Smit, vrou van eerwaarde Erasmus Smit (geestelike leier van die Trek) en suster van Gerrit Maritz, het ’n deputasie van weerbarstige vroue ‘n onderhoud van ongeveer drie uur met die Britse mag se Afrikaner-gebore kol. Henry Cloete gevoer.

Cloete moes hoor dat die vroue van die Groot Trek die reg verwerf het om oor die toekoms van hul land te praat deur aan veldslae saam met hul mans deel te neem. Die vroue het hom deeglik ingelig oor hul lyding op die trekpad. Hul laaste woorde was ’n waarskuwing wat die offisier hewig ontstel het: “Ons loop liewer kaalvoet terug oor die Drakensberg as om onder Britse juk te buig.”

OOK VANDAG IN RAPPORT

Deel dit: