Vuurtjies flikker in Balule.

Vir plesier, inkopies, kerk of werk. Met die wonderlike “seisoenskaart” die Wildkaart as paspoort is die Krugerwildtuin se poorte vir ‘n besoeker oop, ongeag die doel, as jy jou in daardie wyke bevind. Dis ‘n uitnemende voorreg.

Skukuza, die hoofkamp, word vir die Van Deventers ‘n hoofslagaar wanneer ons so twee keer per jaar in Sabiepark in Mpumalamga spreekwoordelike tentpenne gaan inslaan.  Hoeveel keer ons in 28 jaar deur die Krugerhek vinnig Skukuza toe is, probeer ek aan die vooraand van die viering van die Wildtuin se eeufees oor ‘n paar dae, op 31 Mei, sommer vir my eie pret en verkneukeling bereken.

Skukuza en ons eie gewoontes het al baie verander, maar ek probeer tog uitwerk plus-minus hoeveel kere se inzits daar was vir die winkel (vir kruideniersware, bier, houtskool, piesangs of koerante), hoeveel vir die vulstasie en klein werkwinkel (vir brandstof of ‘n stukkende band), hoeveel vir die dokter, die kerk, die bank, ‘n restaurant, die gholfbaan (darem net as saamstappers met kinders en kleinkinders) en ‘n waskamer (voordat Sabiepark sy eie gekry het).  Skukuza is immers net 16 kilometer ver, skaars ‘n klipgooi.

‘n Naastenby akkurate sommetjie is ‘n onbegonne taak. Sedert 1998 is ons letterlik honderde kere deur daardie hek. Ons ry ook by die hek in as ons gou by Lake Panic gaan voëls kyk, by Tshokwane of Hlanguleni gaan piekniek maak of op Hazyview gaan groter inkopies doen – in by Kruger, uit by Phabeni; al met die rivierpad die S3 langs die Sabierivier af.

Of, natuurlik, vir langer Wildtuinbesoeke.  Soos graag aan Balule, primitiewe boskampie naby Olifants. Ons is versot op Balule.  Hoe treurig is dit nie dat die intieme kampie met sy ses rondawels by die eeufees steeds agter gegrendelde hekke moet wees weens die vloede in Januarie – een van die ergste slagoffers.  My hart ween vir die geliefde plek waar die bos dag en nag heers.

Geen wonder nie die personeel by die Krugerhek het ons en my kar, die silwer 1999-Honda CR-V met die registrasienommer CY 7755, met al die in en uit al so goed leer ken.  Dis vir hulle die “old man’s car”.  Skuif ‘n kleinkind agter die wiel in, moet hy bontstaan om te verduidelik.

Kollegemanne kuier.

Om die kosbaarste van hope kosbare Wildtuin-herinneringe uit te sonder, is amper so onmoontlik as om die getal besoeke te bereken.  Vyf saamtrekke met studentemaats van Tukkies se Kollegetehuis in Balule (en twee in Orpen) moet naby aan die hoogste hoogtepunte wees.  Maar hoe salig is nie ook saam met ander vriende gekuier nie en hoe lief het ons ook nie vir veral Olifants, Letaba, Satara, Orpen en Shingwedzi geword nie  – asook vir die uitsonderlike Boulders.

Moenie vir Boulders tussen die rotskoppies vergeet nie.  By sy watergat ontbreek aksie selde.  Sommer drie dawerende buffelstormlope in ‘n paar magiese ure het ons daar beleef. Oor diere en huldinge doen ek egter nie vandag in hierdie skrywe verslag nie.

... en kuier.

Een van die uniekhede van ons bosverbintenis is Sondae se erediens in die treffende koel kerkie met sy indrukwekkende koorsboom in Skukuza se netjiese personeeldorp. Om op pad kerk toe leeus tee te kom, of luiperds, of jou teen ‘n donker muur van olifante vas te ry, dra by tot die salwing van die gemoed op die Sabbat.

Die Paassangdiens was altyd (is dalk nog) op ’n unieke plek: die indrukwekkende Granokoppie langs die H1 suide toe. Treffend was dit vir ons om verskeie kere op kampstoeltjies daar hoog bokant die veld te sit terwyl die nag stadig rondom toesak, en die Paasverhaal in lied (met kitaarbegeleiding), poësie, Skriflesing en gebed te herdenk .

Piekniek op die koppie.

Ds. Carl Louwrens (en Sarah) is Skukuzamense wat huisvriende geword het. So ook Jimmy en Lida Pressly wat ons aan die eksklusiewe vreugde van laatmiddag-pieknieks op die einste Granokoppie bekend gestel het … en aan die stapperskamp Napi waar ons eweneens heerlik met weergalose gasvryheid en Wildtuinkos bederf is.

Skukuza se dokter kry mens nodig vir enigiets van kwaai insekbyte tot ’n spysverteringstelsel wat van al die braaivleis protesteer. Ons nood was ‘n keer hoog na ’n ongelukkie by die hek. ‘n Boesemvriend wil sy vuurwapen laat verseël. Hy stap hy met sy voorkop in die dak se hoek vas en syg neer soos ’n os.

Ons dag hy is geskiet. Hy kom egter dronkerig orent en verdryf vinnig alle vrese oor ’n skietwond deur sy eie stiksienigheid en die skerp hoek van die dak in tale te verwens. ’n Paar steke in Skukuza se spreekkamer en ’n paar kopseerpille later was hy reg vir die Wildtuin.

Ander kere moes kinders haastig maak vir mediese hulp ná ‘n kleinkind se onderonsies met ‘n verradderlike sakspinnekop.

By die eeufees onthou ons ook kwaai vloede, soos in 2000 en vanjaar weer, asook brande soos die een in September 2003 wat veral in die Pretoriuskop-omgewing dood en verwoesting gesaai het. Die skouspelagtige vlamme teen die donker naghemel kon ons van ons stoep in Sabiepark waarneem. Om agterna die geliefde aarde so aan flarde te sien, vat aan ‘n mens.

Ons onthou voorts die noodlottige luiperdaanvalle kort op mekaar op ‘n vroulike drawwer en ‘n 10-jarige skoolseun in Skukuza en die skok daaroor in die plaaslike gemeenskap, asook ‘n paar ander Skukuzadinge, soos die halfmarathon.

Skukuza-marathon.

Elke eerste Saterdag in Augustus vind die Skukuzahalfmarathon plaas. Ons was telkens onder die toeskouers. Sowat ’n duisend atlete neem daaraan deel. Hulle word afgesit met die geblikte brul van ’n leeu. Daarna hardloop hulle al rondom die personeeldorp, verby Lake Panic, wat deel van die gholfbaan vorm. ’n Trop buffels, olifante en selfs leeus het al die roete versper. Veldwagters moes hulle verjaag. (Foto)

’n Kermis-atmosfeer heers op die sportveld. Die NGK Skukuza verkoop kerrie en rys; die skool worsbroodjies en so. Tokkie was darem in die sin al ‘n deelnemer. Sy het op haar tweeplaat-gasstofie in Sabiepark dertig koppies rys vir die kerk se kerrie-en-rys-tafel gekook. Dit het ons in koffer Skukuza toe karwei. Ek het fluks foto’s geneem van Tokkie by haar rystas – in hierdie verband geen spelfout nie!

Ons klink ‘n glasie.

Ons eerste Kersfees in die bos was in 2002. By die Parkwinkel was ’n spesiale Kersaanbod: laat jou foto neem saam met Kersvader vir R10. Die agtergrond was ’n sebravel. Om saam met ’n swart Sinterklaas in ’n rooi pak te poseer voor ’n sebravel – dis mos Afrika!

Ons klink hier op Melkbos ‘n glasie Maroelalikeur – niks anders nie – op daardie wonderlike plek 2000 km van hier se 100 jaar van ongekende geestesverryking en vredeskepping vir die siel van geslagte natuurliefhebbers van hier en oorsee. Daar is maar een Krugerwildtuin. Absoluut net een.

 

Deel dit: