Frikkie Wallis en sy boek.

Merkwaardig dat dit nou juis so moet val, maar Suid-Afrika se “Mnr. Nuusdagboek” word  vandag,  Vrydag 12 Junie, vir laas gegroet op dieselfde kalenderdag as wat waarskynlik die beroemdste en aangrypendste dagboek ter wêreld begin hou is.

Vir die “dag wat is”, is op die dagboek die gedenkdiens van Frikkie Wallis (74), deurwinterde Afrikaanse uitsaaier en dagboek-houer, om 11:00 in die NG kerk Melkbosstrand. Frikkie was ‘n veteraan-SAUK-omroeper, joernalis, radio-nuusskrywer en hoorspel-spesialis, asook die skrywer van ‘n yslike geskiedenisboek “Nuusdagboek: Feite en Fratse oor 1000 Jaar” (Human & Rousseau, 2000), ‘n omnibus van historiese gebeure oor die eeue heen.

Frikkie, die uwe en Hennie Pienaar, oud-SAUK, op Melkbos se stoep.

Tot twee dae voor sy dood op 31 Mei het Frikkie, ondanks kwynende gesondheid, uit sy rolstoel op die patroon van sy monumentale boek op Facebook getrou bly dagboek hou van die nuus van vergange  tye. Sy rubriek, “Die dag dat was”, is wyd waardeer.

Vir vandag se “dag wat was”, bied gewis geen idealer inskrywing in die ganse geskiedenis hom aan nie as die geboortedag van die ikoniese Joodse meisie Anne Frank se veel gelese dagboek op 12 Junie 1942, haar 13de verjaardag.

Anne Frank se dagboek – die boek. .

Die dapper meisie wat net twee jaar later, in 1945, in ‘n konsentrasiekamp aan tifus oorlede is, het die boekie by haar vader present gekry en het haar bitter ervaringe tydens die Duitse besetting van Nederland tydens die Tweede Wereldoorlog getrou daarin aangeteken.

Meer as 35 miljoen eksemplare van die ikoniese boek is verkoop – in vele tale, ook Afrikaans, soos vertaal deur Lina Spies en uitgegee as Die Agterhuis.

Frikkie, soos ek hom leer ken het, sou hom verkneukel het aan die vreemde sameloop op die Juniekalender van die einde van sy era as dagboekskrywer  in 2026 en die begin van Anne Frank s’n in 1942.

 

 

 

 

Deel dit: