Na die aksie.

“Ons het vanmiddag seks gehad op die dak.“ Toe ek ‘n vriendin, die stemmige Leonora Mouton (ook al saliger), se oë soos pierings sien rek, besef ek die formulering kon netjieser gewees het. Dat daar seks op die dak was, was wel waar. Die “ons” was egter net toeskouers (en toehoorders).
Die aktiewe deelnemers was twee veldlikkewane. Hul storie verskyn vandag in By, naweekbylae tot Die Burger, oor allerlei likkewaanpetaljes op en onder ons dak in Sabiepark. Die seks-storie is een van die vreemdste.
Een middag skrik ek en Tokkie vir ‘n onaardse geluid. Klink of iemand met ’n hark die sinkteëls (Harvey Tiles) bo-oor die gras van die ou dak getakel het. Of soos ‘n span katte wat met leë blikke aan hul sterte vervaard op die dak rondtol.

Opgekrul in ‘n wasgoedmandjie.

Ons spits die ore en konsentreer om te probeer bepaal waar die onheil skuil. Die geluid beweeg vinnig rond. Ons is buite toe, al om die huis. Niks.
‘n Vinnige beweging op die dak vang skielik my oog. Dis die dartelende lyf van ‘n veldlikkewaan. Hy waggel rats oor die nok. Dan verdwyn hy weer geheel van die radar af. Nou weet ons: dis daai kloue aan die kort pootjies wat ons rus so verstoor het. Maar wat het dan nou van die rusverstoorder geword?

Ons hoef nie lank te wonder nie. Opnuut klink die kawolt op – hierdie keer geografies makliker bepaalbaar. Dis bokant die gastekamer. “Daar val hy”, roep Tokkie. Dit klink inderdaad so. Of dalk het hy gespring. Doelbewus of per ongeluk is hy nou op die sparretjie-afdak wat as motorstaanplek dien. Dis ‘n getjommel van die eerste water soos hy balans – of waardigheid – probeer herstel.

Tokkie het haar hande vol.

Vir ‘n sekonde of wat loer ‘n stertjie tussen die sparretjies uit – of nee wag, dit is twee. ‘n Lig gaan op. Watter rare reptiel-ritueel het ons nie pas bo ons koppe beleef nie!

Van likkewaan-seksualiteit is ek geen kenner nie. Maar twee en twee is vier. En wat hier gebeur het, was duidelik ‘n spel van likkewaan-romantiek: ‘n opgeklitste mannetjie wat ‘n maatjie in die oog gekry het en meedoënloos rondjaag; sy wat tergerig voor die vryer se attensies bly padgee om sy energie tot hoër vlakke op te dryf. La donna è mobile.

‘n Ruk kyk ons daardie twee stertjies so. Dan wikkel hulle, dan raak hulle stil. Later volg ‘n onheilspellende langer stilte.
Iewers lees ek ‘n wyfie lê in die lente 20 – 40 eiers in ‘n gat. Hoop nie wat ons aanskou het, was die voorpel tot so ‘n eier-uitstorting nie. En dit dalk in ‘n knusse gat in onse dak. O gatta-patatta.

Deel dit: