VOLKIES VEG VOORT

Potch se oud-Volkies veg voort oor die verknoeiing van hul skoolwapen. Die volgende verklaring kry sy loop op sosiale media:
Dit het onder ons aandag gekom dat rondom die eufeesviering van die skool in 2022 die wapen sonder rede, motivering of inagneming van geskiedenis, tradisie of Volkiekultuur ingrypend verander is. Ons oud-Volkies teken beswaar aan en verwag /eis dat met ons in gesprek getree word.
Die nuwe wapen toon na ons oortuiging die volgende gebreke:
a) Die nuwe wapen doen afbreuk aan die oorspronklike eenvoud en trefkrag van die oorspronklike.
b) Die wegdoen met die oorspronklike skild is na ons mening ongevraag en verminder die treffende visuele impak.
c) Die voël op die oorspronklike, hetsy arend volgens die meeste of feniks volgens sommige oud-Volkies, is uniek, en moet gehandhaaf word uit tradisie, asook uit respek vir die geskiedenis en vir ons voorgangers,wat dit om welke redes ookal bepaal het.
d) Die silwer akkertakke op die nuwewapen versteur die balans van die oorspronklike en maak geen sin nie. Dit het geen tradisionele verband met die geskiedenis van ons skool nie. Veel eerder sou wilgertakke of swartdoringtakke iets kon beteken het.
e) Die oorspronklike drie skakels van ‘n ketting wat dui op krag en eenheid is vervang met drie losstaande ringetjies wat oor mekaar lê, sonder ineenskakeling. Een verduideliking is dat dit op God Drie-enig dui. Dit is teologies nie houdbaar nie. ‘n Tweede veruideliking is dat dit op kinders, ouers en onderwysers dui. Daardie drie elemente is egter kenmerkend van enige skool en geensins uniek aan Volkies nie.
As oud-Volkies versoek ons die Beheerliggaam (BL) om met ons in gesprek te tree oor die onsinnige en onnodige verandering van ‘n trotse wapen wat die toets van tyd deurstaan het, sodat die oorspronklike in ere herstel kan word.

 

‘N EKSIE-PERFEKSIE SOUT-VAN-DIE-AARDE-MENS

Tukkiebaadjies raak knap maar Tukkieharte klop warm.

Oor Cas Jacobs, studentemaat wat vanoggend op 85 oorlede is, kan jy lank en uitvoerig uitwei – oor sy liefde vir fyn kos en fyn musiek; sy verbintenis tot voortreflikheid en hoë standaarde; sy onwankelbare lojaliteit aan sy gesin, vriende en plekke van herkoms; sy taaie volharding en blymoedigheid in sy lang stryd teen kanker.

Ek en Cas het saamgeloop van 1958 af toe ons uit verskillende windrigtings by Tukkies se Kollegetehuis aangekom het.   Die lewenslange vriendskap is gevoed deur ‘n onblusbare verknogtheid aan Kollege en die vriende wat ons daar gemaak het, asook, later in ons lewe, ‘n gedeelde liefde vir die bos.

Ons eerste re-unie.

Intieme klein koshuisreünies in die Krugerwildtuin was lank ‘n jaarlikse hoogtepunt.  In die 25 jaar dat ons bostoevlug, Sabiepark, in die Van Deventers se  besit is, was Cas en die dierbare Nella 17 keer op besoek (Hy het getel, nie ek nie, en dit in sy sierlike handskrif in ons gasteboek aangeteken.)  Van geen ander mense is soveel spore oral in die huis te bespeur nie: van breekgoed tot braaitoerusting; van handgeverfde tafellappies tot kussings.  Hul Honda was altyd boordensvol gelaai as hulle daar aankom.

Kuier op Melkbos.

Cas het Tukkies toe gekom as ‘n soliede, ongekunstelde Karooseun wat, in kontrei-idioom, van ‘n “badskamer” en ‘n “puts” gepraat het. Ons was dadelik tot mekaar aangetrokke. Die studentevriendskap het tyd en afstand oorbrug. Toe hy vandag, 22 April 2024, die aarde verlaat het, het ‘n intense melankolie my beetgepak. Sulke vriende is skaars.

Een voorbeeld: in 1960 was ek met my studentemotor, ‘n onversekerde Peugeot 203 uit 1953, in ‘n ongeluk.  Later kry ek van my koshuismaats ‘n bultende koevert – om te help betaal vir die herstel van die kar.  Cas was die dryfkrag..

In Sabiepark.

Die Peugeot was nooit weer dieselfde nie. Tog was hy op ’n epiese tog na Bloemfontein vir die Uniefees in meer as een opsig – ook as slaapkamer – ‘n staatmaker. Genadiglik was die handige Cas een van die vier passasiers. Met behulp van ’n stuk bloudraad en ’n tang vir probleme met die vergasser het die boerseun van Carnarvon ons op die pad gehou.

Een grou Sondagmiddag het ek en Cas  die kar voor Asterhof gaan trek met ’n yslike “Hoekie vir eensames” teen die voorruit. Toe dit donker word, was ons steeds eensaam!

Deur die jare het die Kollegemanne van daardie era graag saamgekuier, ook een keer by die mooi Jacobswoning in Drienielaan, Eldoraige, waar hulle goed ingerig was om plate-aande aan te bied en hul vriende op gereelde skaapbraaie te onthaal.

Piekniek op Granokoppie,

Van 2012 af was Balule, primitiewe boskampie in die wildtuin, en later Orpen ons bestemming.  Cas en Nella was altyd die voorvatters by die kospotte met vleis wat net reg gebraai is en ander fynproewergeregte.  Hulle was die mense wat die styl bygedra het met tafeldoeke, servette, kerse en keurige eetgerei.

Die tjops of steak was, soos altyd, haarfyn volgens Cas se vereistes gesny, die kole moes presies reg wees en die roosters blinkskoon. Vir die vriend  moes alles altyd eksie-perfeksie wees; met afskepery in watter opsig ook al had hy min geduld.

Van kuiers in Sabiepark het ons vele herinneringe, van stiltenagmale in die NG kerk in Skukuza en daardie gemeente se unieke paasdienste in die wildtuin tot pieknieks op die Granokoppie naby Skukuza met sy grenslose uitsigte en  wonderlike sonsondergange.

Afskeidsbraai in Sabiepark.

In Maart  2023 was Cas se afskeidsbesoek, al is dit nie so uitgespel nie.  Hy was toe 84 en ek 82.  Hy het al begin swaarkry met die gesondheid. Ons was vir oulaas saam in die swembadjie. Elke aand is ‘n vuurtjie aangesteek. Om weer so kameraadskaplik langs die vuur te verkeer, was vir ons albei ‘n emosionele okkasie, gelaai met sentiment, nostalgie en herinneringe uit ‘n lang lewenskof met paaie wat deurgaans heuglik bly kruis het.

Ek groet Cas Jacobs met ‘n seer hart, maar ook innig dankbaar vir die voorreg om so ‘n sout-van-die-aarde mens langer as ses dekades my vriend te kon noem.

WARE LEWENSKUNS HET HY BEMEESTER

Die Hoexters, Van Deventers en Philip en Nance van Rensburg by Sabiepark se piekniekplek.

Met sy 100ste verjaardag in Februarie het ek oor Gustav Hoexter, oud-appélregter, geskryf dat hy by uitstek die voorbeeld is van ‘n man wat die ware lewenskuns bemeester het.

Met sy dood twee maande en drie dae later in sy huis in Bloemfontein is dit die woorde wat eerste by my opkom oor hoe om die fyn heer met sy vlymskerpe regsbrein, sprankelende spitsvondigheid en grenslose hartlikheid te beskryf.
Ek het dit al voorheen vertel, maar omdat dit so ‘n raakvat-definisie vir Gustav verskaf, vertel ek graag weer van die geskenk waarmee ek op my 70ste by die Hoexterhuis in Sabiepark weg is. Vergewe my maar daaroor, asseblief.
Die geskenk was ’n bottel Bell’s (“gee daai man ’n Bell’s!”). Wat dit egter van ‘n gewone bottel Skotse watertjies onderskei het, was die Hoexter-wyshede wat dit vergesel het. Een, ’n stukkie Duitse waarheid, was op die drasak: “Alt werden steht in Gottes Gunst, jung bleiben, das ist Lebenskunst!” En hoe jonk van gees het hy nie self gebly nie!
Die ander was binne die drasak. Dit was die woorde van ’n heildronk op die nuttige kurktrekker: “Here’s to the corckscrew! The key to unlock the storehouse of wit! The treasury of laughter! The front door of fellowship! And the gate of pleasant folly!”
‘n “Storehouse of wit” was Gustav inderdaad. Die “treasury of laughter” het hy volledig besit. Die “front door to fellowship” – dit het sy vriendskap vir almal beteken wat so eindeloos bevoorreg was om hom te leer ken.
Was dit nie Sabiepark nie, het my paaie dalk nooit met Gustav s’n gekruis nie. Hy was nie een vir die kollig nie. Daarom is sy honderdste verjaardag buite in sy onmiddellike vriende- en kollegakring relatief onbesonge verby. Ook daarom sal die groot man by sy dood waarskynlik nie die wye eer en erkenning kry wat hy verdien nie.
Oor sy rol in die regspleging (ook as voorsitter van die belangrike Hoexter-kommissie) is ek nie toegerus om my uit te laat nie. Ek kan net getuig dat hy onder sy kollegas ‘n reputasie van uitmuntendheid met sy uitsprake, skerpheid van intellek en integritet geniet het wat hom in die bestes van die bestes op daardie gebied plaas.
My eie kennis van Gustav Hoexter kom van Sabiepark waar ons twee dekades lank oor dosyne vuurtjies by die piekniekplek en by ons onderskeie huise in Tambotie- en Wildevylane gekuier het.
Ek het Gustav by geleentheid Sabiepark se gulste gasheer genoem. Dit was geen oordrywing nie. Sy en die sprankelende Frances se gasvryheid was legendaries. ‘n Kampvuur by die Hoexters was nie ‘n speelgoed-vuurtjie nie. Onvergeetlike aande is deurgebring in die lapa met al die lanterns wat aan kaal takke rondom flikker, die lekker stompe waarmee die bedrywige gasheer sy vuur stook en die sebras (selfs koedoes) wat gereeld vir gaste se onthalwe sommer naby kom water drink het.
Aan die hoof van sy tafel onder die kandelaar van werklike kerse was hy meesleurend galant en gevat. Met vreugde onthou ek die anekdotes wat hy kon oprakel; sy onuitputlike fonteintjie van kwinkslae, feestelike bydraes tot tafelgesprekke en sy relevante kwotasies uit klassieke werke.
Gaste het aan sy lippe gehang en die uurtjies het om daardie tafel prettig omgevlieg met, buiten die goeie wyn, ook altyd iets spesiaals, soos ‘n Normandiese witblitsie, om die palet te reinig en gemoedelikheid te bevorder.
Hy was werklik die “grand old man” van Sabiepark. Dat iemand se plek leeg is, ‘n oorwerkte cliché. In sy geval is dit nie. ‘n Gustav Hoexter skop jy nie agter elke rosyntjie- of sekelbos uit nie.

VRYTJIE OP TV: OUPA SE RAAD

Vandag begewe ek my op ‘n terrein waarvan my kennis ‘n ronde nul is. Van sg. werklikheidsreekse op TV is ek geen kyker nie. Soms sien ek egter onvermydelik ‘n reklamegreep raak, soms ‘n toevallige flertsie en soms ‘n storie in ‘n tydskrif of koerant met ‘n prikkelende opskrif.
Elke keer is ek dankbaar dat ek nie die oupa van een van die mooi meisiekinders is wat hulle so as openbare vrymateriaal opdring en dan vir hulle die risiko van verwerping en vernedering (asook openbare snot en trane) op die (lae) hals haal nie.
Hoekom doen julle dit, liewe kinders? As al julle oupas soos hierdie oubaas is, moet dit vir hulle ‘n dolksteek in die hart wees dat kleinkinders vir wie hulle baie lief is, so vrypostig optree, (Ek het eers ‘n ander woord gebruik, maar dit met ‘n sagter een vervang.)
Natuurlik is daar g’n fout met ‘n vryery op sy tyd nie, maar liefs dan – soos in die ou dae – weg van die kollig. In my tyd wou ‘n jonkman liefs ook maar nie weet nie met wie sy nooientjie tevore kafoefel het nie. As sy, soos nou, op TV haar ware en talente in daardie rigting as’t ware voor Jan Rap en sy maat uitgestal het, sou sy gewis ‘n etiket van effens tweedehands om haar nek gekry het.
Nee wat, meisies, hou op met die verspottigheid. Laat die boere, die akteurs en daardie snare maar hul eie geluk loop soek en nie net met ope arms sit en wag dat TV-programmakers vir hulle plesiertjies aandra nie.
Dis nou maar ‘n ouderwetse oupa se raad, maar dink tog maar daaroor na of hy nie ‘n geldige waarskuwing opper wat vir julle seerkry kan spaar nie.

HOE-E-HOE-E-HOE-E IN DIE NAG

Aan die ou vuurtoring by Mouillepunt, Kaapstad – Suid-Afrika se oudste in sy soort, veteraan-vriend van seelui en stille toeskouer by sovele seerampe – kleef vir die uwe ‘n vreemderige herinnering. Ek herroep dit met ‘n sardoniese glimlag by die viering van sy dubbele eeufees.
Dit was in die 80’s, meen ek, dat ek ‘n keer van Bloemfontein gekom het vir ‘n doe van die Nasionale Pers in die Cape Sun Hotel se glorieuse balsaal. By en na die dinee was kollegiale geselligheid aan die orde. Die nag sukkel ek om aan die slaap te raak, soos, helaas, maar altyd die geval is wanneer die wyn-inname ‘n bepaalde vlak bereik en verbygesteek het. Ek sluimer wel uiteindelik in. Net om die volgende oomblik deur ‘n onheilspellende klageluid gewek te word.
Die wekker se verligte gesig beduie dis 02:00. My liggaam verstyf en my ore word gespits. Ja, werklik, daar kom dit weer: ‘n spookagtige hoe-e, hoe-e . En weer. En weer.
Bekommerd, bel ek later die toonbank. ‘n Slaperige stem antwoord traag. “Haai, dis kamer 333. Wat hoor ek? Brandalarm?” “Nee, geen brandalarm nie. Rustige nag, meneer.” Hy loop nie juis oor van welwillendheid nie, dag ek vies.
Nou is ek weer wawyd wakker. Ek dink aan ‘n nag in ‘n hotel in Cambridge, Massachusetts. Daardie nag is ek en die ander gaste wel deur ‘n alarm gewek. Ons moes in winterkoue uit ons kooie ylings straat toe. Brandwere het loeiend opgedaag. Gelukkig was dit nie regtig ‘n brand nie.
In elk geval, later bel ek weer die Cape Sun se toombank. ‘n Verspieder word na my in die kamer ontplooi. “Listen,” sê ek. Nee, hy hoor niks.
Hoe-e, hoe-e, bly dit egter opklink, duidelik en eweredig. “Listen,” sê ek weer: “There it is”. Dan stilte. Dan weer: “There it is”. Hy luister met gespitste ore.
Toe: “Oh, it’s the foghorn, sir.” Klem op die sir.
Die blerrie mishoring. Lank nadat die verspieder uit is, lê ek nog en luister. Ek word ‘n gevangene van die ritme. En net weggedommel, lui die wekker. Opstaantyd. Lughawe toe.
Gelukkig sus die Boeing se gesuis my gou aan die slaap. Ek land so vars soos ‘n madeliefie. “Lyk of jy lekker geslaap het, sê Tokkie.
Later hoor ek die goeie mense van Mouillepunt se kontrei noem haar, die mishoring, bedoel ek, “Moaning Minnie”. Wat ‘n vanpaste naam vir die lastige slaap-belemmeraar.
(Oor ‘n maand of drie is ons in Sabiepark. As ons daar snags hoe-e, hoe-e hoor, hoef ons nie kop te krap nie. Dis die uil, man! Al waaroor ons onseker sal wees, is of hy terug is op die stoep aldan nie. Die volgende oggend sal yslike wit miskolle op die stoepteëls verklap of hy daar geslaap het of in ‘n boom voor die huis. As dit op die stoep was, kan jy maar weet: rugbreekwerk lê voor om daardie mis afgeskrop te kry. Dit klou, boeta. Tokkie sê hoeka verffabrieke behoort daardie formule in die hande te kry. Dan sal hul waarborge iets beteken! )

TWEE QUEENS EN ‘N KONINKLIKE BERG

Twee vorstinne voor ‘n vorstelike berg – ‘n manjifieke toneel. Die manjifieke foto van twee manjifieke skepe – die Queen Mary 2 en die Queen Victoria – voor die manjifieke Tafelberg is geneem deur ‘n manjifieke fotograaf, Gerard van Niekerk.
Van hom het ek tevore verklaar: “Niemand kan ‘n skip soos hy afneem nie.” Vandag se foto bevestig dat ek met daardie uitspraak nie misgetas of oordryf het nie.
Dankie, Gerard, vir die voorreg om die foto op my blog, op my blad en op Nagkantoor te kan plaas, sonder prys en sonder geld.
So ‘n gesig sal Kapenaars nie sommer weer in die Kaapse hawe sien nie: die vlagskip van die Cunard-stal (Mary) en ‘n amper ewe stylvolle kleiner suster. (Victoria). Let op die statige donkerblou rompe en rooi torings.
Die Queen Victoria vaar vandag om 17:30 en die QM2 moremiddag om 18:00 na Lissabon en Southampton.

Die Queens is hier, die Queens is hier! Waterboe spuit ter verwelkoming van die twee vorstelike skepe uit die Cunard-stal. Nog ‘n trefferfoto van Gerard van Niekerk.