OUPA JAKOB SE GRAF

Terwyl ek nou aan’t gesels is oor grafte wat stories vertel, besef ek die graf van my oupa Jakob Hendrik Van Deventer het ook sy eie storie. Kyk mooi na sy geboortedatum. Hy is in 1871 gebore.
Sy seun, my pa, Johannes Cornelius, volg ‘n ronde 40 jaar later in 1911. Hierdie Jakob Hendrik volg toe op sy beurt ‘n ronde 30 jaar later in 1941. My seun, Johannes Cornelius, saam op die foto, volg daarna ook ‘n ronde 30 jaar later in 1971.
Iemand reken dis omdat die Van Deventers se rekenkunde verdag is dat hule liewer net met ronde syfers werk.
Die dubbelgraf van oupa en ouma Van Deventer is verlate op die familieplaas Rondspring in die distrik Babanango in KwaZulu-Natal. Al die plase daar is lankal onteien en deesdae uiters ontoeganklik. Jurie Mentz wat LV was vir Vryheid het ons in die 80’s daarheen geneem met sy 4 x 4, en dit was nogal ‘n uitdagende rit.

 

GRAFTE MET STORIES

Verbode minnaars – sy aan sy. Foto:Werner Olivier.

Dis ‘n graf in die gras, dis ‘n vallende traan – dis al

In die skrynende slotstrofe van die gedig van Jan F. E. Celliers. Dis Al, bevat ’n storie.  Die graf in die veld getuig van die verwoesting wat oorlog aanrig.  Die banneling keer terug na niks. Alles is tot niet.

In die Anglo-Boereoorlog was Celliers, toe in sy middel-30’s, self op  kommando. Hy het ‘n oorlogsdagboek gehou, wat later gepubliseer is. Al spel hy dit nie in Dis Al so uit nie, word aanvaar sy banneling is ‘n Boer wat ná daardie katastrofiese oorlog uit St. Helena of Ceylon terugkeer.

Elke graf oral is natuurlik ‘n storie uit eie reg. Dis immers die laaste punt agter die bekleder se lewensverhaal. Party lig die sluier egter meer as ander, soos in Celliers se aangrypende  gedig.

‘n Uitsonderlike graf in die veld met ‘n storie is in die distrik Rouxville in die Vrystaat, vlak duskant die Lesothogrens.  Die steen is ‘n lewensgetroue beeld van ‘n opgeskote seun. Die voetstuk verklap sy naam en kort leeftyd: Etienne Fouché, gebore op 6 Oktober 1927 en oorlede op 29 Augustus 1936, net voor sy negende verjaardag.

Oom Jim Fouche by die graf van sy jongste seun, Etienne.  (Foto: Rapport)

Etienne was die jongste seun van ‘n jong boer, Johannes Jacobus Fouché, en sy vrou, Letta McDonald met wie hy in 1920 getroud is  – die nimlike Oom Jim en Tant Lettie wat mettertyd in die openbare lewe met rasseskrede tot heelbo sou vorder: van administrateurspaar van die Vrystaat tot die minsame tweede Staatspresidentspaar van die land vir sewe jaar (1968 – 1975). Tussenin het hy as ‘n uiters gewilde minister van verdediging gedien.

Etienne se grafsteen op die destydse familieplaas Babel (nou ‘n gasteplaas in ander besit) is ‘n kunswerk, uit marmer gehou deur die Italiaanse beeldhouer Leopoldo Sangvinetti van Carrara aan die hand van ‘n foto wat sy ouers na Italie gestuur het nadat hul seun aan griep, longontsteking en hartversaking oorlede is.

Die plaas Babel het sy vreemderige naam gekry van die Elandsberg wat,  as jy van die ou opstal Oos gekyk het, uit die aarde verrys, hoog soos die toring van Babel. Fouché se oupa (Stephanus Philippus) het waarskynlik die plaas só genoem.  Oom Jim was innig aan die grond verknog waar hy met sy seuns op sy ryperd ‘n bekende gesig was; des te meer ná sy jongste seun in die geil aarde sy laaste rusplek gevind het.  (Die Fouchés het net een ander kind gehad, dr. Jacobus Johannes (Buks) Fouché, wat in die jare 60 as ambassadeur in Nederland gedien het. Hy was 14 jaar oud toe kleinboet Etienne oorlede is.)

Terwyl hy nog minister van verdediging was, is die Vrystaatse edelman in Rouxville se stadsaal gehuldig. In sy toespraak vertel hy toe van skipbreukeling wat op ‘n eiland uitgespoel het. Hy het lank gelukkig op die eiland gewoon. Toe kom ‘n skip waarmee hy kon huis toe gaan. Vir die eilandbewoners se hy toe: “Dit was lekker hier en ek was gelukkig onder julle, maar ek moet nou huis toe gaan, na my vaderland toe.”

In daardie stadium was Oom Jim se stem al krakerig en kon ‘n nattigheid op die wang bespeur word. Toe kom hy met sy toepassing. Die politiek, sê hy, is vir hom so ‘n eiland. Dit is lekker en hy is gelukkig. Maar dit word tyd om huis toe te gaan, terug na sy “vaderland”, na Babel toe. Toe juig die Rouxvillers en stroom die trane.

Die dagblad Die Volksblad het sy woorde vertolk as ‘n sinspeling dat hy uit die politiek wil tree; sy kop staan plaas toe. Die verwagting is selfs op die plakkaat geskep – maar toe kom niks van die uittree-planne nie. Hy word daarna die enigste staatspresident wat sy volle termyn van sewe jaar uitdien. In 1980 is hy oorlede. Hy en sy hartsplek is nooit weer herenig nie.

So 170 kilometer van Rouxville, in die Vrystaatse hoofstad, Bloemfontein. het ‘n gebroke vader vir sy lieflingseun ‘n marmer- praalgraf gebou: ‘n sarkofaag in die ou Suidpark-begraafplaas met sierlike suile, blombakke en bankies in die koelte van groot bome waar jy rustig kon gaan sit en na die voëlgeluide luister.

Die vader was dr. Barnie Human, stigter van Human Motors, seker die grootste eenmansaak in Suid-Afrika, vertak in meer as ’n dosyn maatskappye, met jaarlikse verkope van duisende voertuie. Sy legendariese slag om motors te verkoop, het ‘n bekende Suid-Afrikaanse motorbaas laat opmerk het: “As Human Motors na motor town in Johannesburg se Eloffstraat oorgeplant kan word, sal daardie ouens nie weet wat hulle getref het nie. “

Die Human-praalgraf in Bloemfontein.

Die seun was Callie (16), die kroonprins van die ontsaglike sakeryk.  wat in Desember 1967 op pad skool toe – die Greykollege – in ’n motorfietsongeluk gedood is. Hy het ‘n boek by die huis vergeet, omgedraai en in die haastigheid onversigtig agter aan ‘n vragmotor vasgeklou. Hy beland toe onder die wiele.

Met Callie se dood is die toekomsdrome vir ‘n Human-dinastie verpletter.   Sy ontroosbare pa het troos gesoek deur  monumente vir sy seun, ‘n belowende jong gimnas,  op te rig.  Waarskynlik die bekendste is die Callie Humansentrum by die Vrystaatse Universiteit: ‘n reusagtige binnenshuise sportsentrum met elke denkbare gerief, en doelmatig vir elke soort byeenkoms, van ‘n konsert tot ‘n gradplegtigheid tot ‘n kerksaamtrek.

Dit was inderdaad treffend hoe juis die verbondenheid met sy kerk op verskeie wyses in dr.  Human se gedenktekens vir sy seun manifesteer het. Met ’n groot skenking het hy byvoorbeeld die bou moontlik gemaak van die NG kerk op Margate, sy vakansiegemeente waarheen duisende Afrikaanse vakansiegangers steeds op Kersdae stroom. Hy het ook ’n eie Bybelfonds op sy seun se naam geregistreer vir die verspreiding van Bybels aan kinders.

Dr. Barnie Human is op 20 Junie 2006 oorlede en mev. Swanie Human op 2 Maart 2012. Albei is in die praalgraf ter ruste gelê.  Die Human-sakeryk het uiteindelik vererf na ‘n kleinseun, Jacques (Jakkie) Strydom, seun van die enigste dogter, Christa.  Dié is in Februarie 2024 op ‘n perdeskou by Victoria-Wes op 54 aan ‘n hartaanval oorlede.

In twee grafte langs mekaar in die Van Reenen-begraafplaas in die Drakensberg is die treurige verhaal van ‘n verliefde paartjie se verbode liefde opgesluit. Dit is die grafte van Valerie Wilcocks (22) en Johan Bestendig De la Harpe (21). Op albei grafstene staan geskryf: Geslaan deur weerlig op Mont-Aux- Source, 18 Desember 1932. Tot op daardie dag en datum was die onderskeie families in ‘n vurige vete.

Die Drakensbergse Romeo en Juliet is in ‘n skielike somer-donderstorm deur ‘n enkele weerligstraal neergevel. Valerie en Johan en sy perd, Moskou, waarop hulle saam gery het, is op slag gedood.

Valerie, eiesinnige dogter van die destydse Vrystaatse administrateur, CTM Wilcocks, was verlief op Johan De la Harpe, seun van Percy de la Harpe,’n boer van die plaas Die Goue Hek (seker waar die naam Golden Gate vandaan kom).   Op 17 Desember het Johan sy mondigwording gevier. Vermoedelik kon sy die partytjie nie bywoon nie, en het die twee afgespreek om mekaar die volgende dag by hul “geheime plek” vir hul hul eie viering te ontmoet.

Die jong verliefdes het vroeër van hul onderskeie familieplase af gery en ontmoet in die area naby waar Mont-Aux-Sources die kettinglere geleë is.  Daar het sy op Moskou oorgeklim. Toe die donderslag …

Piet Retief se naam in groen verf op ‘n klip by Kerkenberg.

Dit lyk darem of die twee strydende gesinne versoen is,  aangesien die twee minnaars langs mekaar in die Van Reenen-begraafplaas lê.

Nie verdaarvandaan nie, ongeveer 30 km suid van Harrismith, oor die steil Oliviershoekpas by Kerkenberg, is ‘n klip op ‘n klein plato reg onder ‘n rotsstapel te sien waarop die naam van Piet Retief en die datum van sy 57ste verjaardag, 12 November 1837,  deur sy dogter, Debora, met groen verf aangebring is terwyl ‘n gedeelte van sy trek daar uitgespan het.

Naby is die monument van die kaalvoetvrou ter ere van die Voortrekkervroue wat liewer kaalvoet die berg wou oorsteek as om deur vreemdes verslaaf te word.

Daardie klip op die plaas Aberdeen is natuurlik geen grafsteen nie, hoewel amper so.    Minder as twee maande later, op 6 Februarie 1838, is Retief en sowat 100 man (onder wie ongeveer 29 bruinmense) deur die Zoeloekoning Dingaan vermoor nadat hul belowende onderhandelinge skipbreuk gely het.

Die groen geverfde woorde op die Retiefklip kan vandag nog besigtig word, omdat dit deur ‘n glaskassie wat later aangebring is, teen wind en weer beskerm word. Met die 1937-Eeufeesviering is ‘n gedenkplaat deur mev. J.C. Preller (‘n kleindogter van Debora Retief) onthul en in 1986 is die Engelse weergawe van die plaat deur studente van die Pretoria Technikon geskenk.

(Tydens die Anglo-Boereoorlog het nóg mense – veral lede van die Bethlehem-kommando – hul name langs dié van Retief s’n gevoeg).

 

 

 

 

NOG 10 GOEIE JARE

Op ‘n tyd het ek en Tokkie groot vreugde daaraan gehad om vir mense na aan ons eie geskepte CD’s vir Kersfees te skenk met temas soos die liefde, tuine, voëls, reise op ver paaie, vroue, Kersfees, ens.
Ons twee het die snitte saam uitgesoek. Die knap Hildegard Martin van Melkbos het vir die res gesorg. Van ons vriende luister nou nog en laat weet getrou hoe hulle die musiek geniet. In 2016 het ons die praktyk ná 10 jaar gestaak.
In daardie jaar het ons drie bakens bereik: my 75ste, Tokkie se 70ste en ons 50ste troudag. Die tema van ons laaste CD was om klaarblyklike redes: afskeid. Die titel was een woord: Dankie.
Nou het 10 jaar verloop. Tien jaar! Vanjaar, 2026, bereik ons weer drie bakens: my 85ste, Tokkie se 80ste, ons 60ste. Eerste van die drie breek sommer more al aan, die laaste is 363 dae ver.
In die dekade het dinge nie stilgestaan nie. Buiten die veroudering in eie geledere bied die aktiwiteite van die Byl onder vriende nogal stof tot nadenke. Van die 100 gaste wat in ‘n tent op ons gras op Melkbos 2016 se bakens gevier het, is 28 al oorlede: amper 30 persent. Van die 72 wat oorbly, is ver van gesond.
Al is ek self deur ‘n operasie of twee en al loop Tokkie nou met ‘n hart-pasaangeër, al beweeg ek ook al hoe moeisamer met my onontbeerlike kierie, het ons steeds rede om oorvloedig dankbaar te wees.
Op die vooraand van bereiking van more (3 Januarie) se eerste baken van die nuwe bakenjaar se drie betuig ek graag ons dankbaarheid vir vele seëninge in presies dieselde woorde as in die binneblad-teks van ons 2016-CD; ek voeg net telkens die woordjie “steeds” by:
Ons het (steeds) heerlike herinneringe aan goeie, geseënde en gelukkige lewens.
Kosbare verbintenisse verryk (steeds) elke dag ons aardse bestaan.
Ons is (steeds) diep dankbaar vir milde genadegawes – totaal onverdiend.
Ons gemoedere is (steeds) gevul met vrede, nostalgie en ‘n tikkie bewoëndheid. Ons kyk (steeds) vorentoe in biddende afhanklikheid.
Op hierdie CD – die tiende en laaste uit ons stal – is ‘n seleksie hartsliedere. Ons strewe was om met woord en melodie ons wye spektrum van emosies te verklank.
Daarmee sê ons (steeds) vir een en almal: Dankie.

PIEKNIEK OP NUWEJAAR

Piekniek by Pretoria se Fonteine was nogal ‘n Nuwejaarsaktiwiteit wat jare her groot aftrek gekry het. Families (bedoelende families, nie gesinne nie) het vroeg op Nuwejaarsoggende voltallig daarheen opgeruk met hul komberse, waatlemoene, polonie en gemmerbier vir ‘n dag se ontspanning saam met broers, susters swaers, skoonsusters en elkeen se kinders .

Ma, Baby, was ‘n nooi Visser van Jacobsdal met drie susters, Antie Dinah, Antie Minnie en Antie Susie. Met hul onderskeie eggenote, Tony, Martiens, Willie en Danie, en kinders, Hennie – dis nou ekke – Christo en Cules, Lina, Elsa en Ria, Ben en Elise, Bertus, Susanette en Visser was die Visserclan en hul aanhangsels nogal ‘n gedugte span wat ‘n fris oppervlak Fonteine-grond beslaan het.
My storie handel nie oor die pieknieks self nie – daarvan het ek bra vae rekolleksies – maar met ‘n komplikasie wat een betrokke Nuwejaar in die 50’s konsternasie, verontwaardiging, verwyte, verleentheid, trane en ook heelparty onderdrukte lagbuie veroorsaak het.
Dit was die dae van die uitskop- onderrrokke met vele lae wat ‘n meisiekind se romp soos ‘n kerkklok om haar onderste stellasie laat uitdy het. Elise en Susanette – amper ewe oud – was in die tienerstadium wanneer in-die-mode-wees een van die grootste behoeftes en prioriteite van menswees is.
Neefs Bertus (later predikant op Reivilo) en Ben was weer in die motorfiets-stadium. Albei het verkies om met hul ysterperde piekniek toe op te ruk.
Elize kondig uit die bloute aan aan sy ry saam met neef Bertus as sy passasier. Antie Minnie gooi wal. Elize laat haar egter nie van haar avontuurlike voorneme afsien nie. Maar o wee, toe Bertus wegtrek, pluk die agterwiel van sy BSA op die een of ander onverklaarbare manier gulsig die onderrok in, laag vir laag.
Uiteindelik: Daar staan Elize in haar skamele onderklere, stomend van ontsteltenis, ook skaamkwaad oor haar koppigheid. Sy moes haastig ander klere gaan aantrek. Bertus moes op sy beurt die jaartse materiaal uit die wiel ryg. Wat ‘n gesukkel!
Die hele dag was daarna maar maar vir sommige ‘n surigheid. Vir ander was die toneeltjie weer heel vermaaklik. Hulle kon nie ophou om agterlangs te giggel nie.

STUK BROOD EN SLUK GIN

In ‘n land waar ontbering nie skaars is nie, moet ‘n mens sensitief wees en mooi nadink voordat jy jouself weens ontbering bejammer.

Gister, met vele Kerstafels rojaal oorlaai met die geurigste geregte, moet ek egter weer met ‘n skewerige bittersoet-glimlag van ‘n buitengewone Van Deventer-Kersfees onthou. ‘n Stuk oorskiet-toebroodjie en ‘n sluk Gordon’s was op die spyskaart. Net dit.
So gekom: Weens vrot huiswerk (geen huiswerk) bevind die uwe, Tokkie en dogter, Marisa, hulle oor Kersfees 2000 (of daar rond) in Londen. Dis nat en koud. Die donkerte sluip elke dag vroeg in en oorval jou as jy meen die middag is nog ver van verby.
Ons woon in ‘n bekostigbare woonstelletjie in St. John’s Wood, ‘n aangename woonbuurt net drie kilometer of so van Piccadilly Circus in goeie omstandighede. Die plek is veral bekend as tuiste van die beroemde krieketveld Lord’s, asook die ateljee in Abbey Street waar die Beatles, liewe Beatles, plate gemaak het. Op Kersdag wanneer alle openbare vervoer in die Groter Londen tot stilstand knars (inderdaad), is dit egter bra stil en afgesonderd: nie die beste plek om te wees nie.
Ons pak ons omgewing in St.John’s Wood op ‘n grou Kersdag te voet aan op soek na ‘n plekkie vir ‘n lekker Engelse ontbyt met spek en eiers. Op ons eindelose roete langs ‘n natuurreservaat of ‘n ding loop ons egter geen kroegerigheid of iets dergeliks raak nie.
Trouens, met moed wat al verder in ons skoene sak, dring die besef deur dat ons ons klaarblyklik in totaal winkellose sone bevind. Geen kafeetjie op die hoek eens waar ‘n polonie of ‘n vruggie aangeskaf kan word nie.
Ons beur teen die nat koue in al op ons spore terug na ons woonstelletjie, word op pad deur ‘n geniepsige bui oorval, en kom koud en bedremmeld tuis.
‘n Opname van te ete en drinke is ontmoedigend. Ons was die vorige aan by die Kersdiens in St. Martin’s in the Field langsaan die SA Huis by Charing Cross. In ‘n soort kelder-eetplek is agterna ‘n toebroodjie en sop genuttig. Een broodjie het oorgebly en is vir die wis en onwis saamgevat huis toe.
Enigste drank tot ons beskikking is so ‘n paar vinger jenewer in ‘n bottel wat onheilspellend suidwaarts sak. In die yskas is darem ‘n blik limonade.
Ons breek toe die toebroodjie in drie, deel die jenewer en limonade in drie en kry onsself diep jammer. Dit word ‘n lang dag. Eers op 26 Desember, Boxing Day, loop die busse en treine weer. Londen hier kom die Van Deventers!
(Vra hoekom ons nie ‘n taxi gevat het nie. Wel buiten dat ek gehoor het tariewe is Kersdag dubbeld, was daar ook die onverklaarbare bydraende faktor dat ons nergens een sonder passasiers teengekom het nie.)
In elk geval, my raad aan mense wat ore het om te voor: Dink mooi voordat julle vir Kersfees Londen toe gaan. Dink nog mooier voordat julle in St. John’s Wood gaan bly. Koop in hemelsnaam vir julle kos terwyl die winkels oop is en die wiele rol.
Moenie agterna by my kom huil as julle op die harde manier ontdek het die ou man praat die reine waarheid nie.

BY DIE DOOD VAN ‘n SWAARGEWIG-AFRIKANER

OU bure kuier saam op Melkbos. Ek is links. Die foto is ‘n paar jaar oud.

‘n Amperse buurman in Bloemfontein, prof.Pièrre Theron (85), mede-inwoner van Genl. Van Schoorstraat vir baie jare, was ‘n man wat betekenisvolle spore op onderwys- en kultuurgebied getrap het.: ‘n groot man met ‘n groot hart en met ‘n groot nalatenskap.

Pièrre is vanoggend weens nierversaking by sy huis in Bothastrand, naby Mosselbaai, stil oorlede. Hy was geruime tyd op nierdialise.
Sy bydrae op kultuurgebied sluit in ‘n termyn as voorsitter van die Afrikanerbond in ‘n uitdagende tyd (2007 – 2010). Met sy geredelike glimlag, dienswilligheid en rustige oorwoëndheid het hy as leier veel vermag om ‘n belangrike segment Afrikaners gefokus saam te snoer.
Op onderwysgebied het die oud-onderwyser gevorder tot ‘n gerekende dekaan van die die Fakulteit Opvoedkunde aan die Vrystaatse Universiteit. Sy invloed het wyd versprei.
As kerkman was hy in die voorste gestoeltes as ouderling by die NG gemeente Berg-en-Dal.
Ek en my buurman was ‘n tyd lank saam in die juk in die kultuurakker en het baie tyd saam deurgebring, hetsy in hotelkamers in die vreemde of op pad iewers heen vir ‘n vergadering of byeenkoms. Ons was baie ure in mekaar se geselskap en het tot mekaar se diepste gedagtes deurgedring.
Die nabye verhouding was vir my ‘n vooreg. Om Pièrre goed te leer ken, en die bande steeds te bly handhaaf, was lewensverrykend. Die blymoedigheid waarmee hy die sware las van gereelde nierdialises bly dra het en die humor wat hy in moeilike omstandighede behou het, was vir my besielend. Ek salueer hom.
Erica, sy elegante vrou met die liefde en fyn aanvoeling vir musiek, is voor hom heen. Die herinneringe aan hul saamloop het hy tot aan die einde bly troetel.
My hart gaan uit na sy kinders en ander naastes, veral aan Estelle en Kowie wat hom die laaste ruk so getrou en liefdevol versorg het.