TOKKIE SE LUIPERD
34 Tokkie-treë ooswaarts van die ingang na Tarlehoet Apiesdoringlaan se kant toe het my dapper vrou vanoggend op haar oggendwandeling ‘n luiperd in Wilgevylaan, Sabiepark, raakgeloop. In die middel van die pad
Dis hy wat vir haar geskrik het en nie sy vir hom nie, benadruk sy – en, onthou nou, sy was ongewapen. Eers nadat sy my kom inlig het, is sy met ‘n stok in die hand hier weg, vreesloos weer op dieselfde roete.UIT KUNSMARK VAN KUNSMARK – MET LIEFDE
Die gedugte ry ander kunstenaars wat ‘n lang pad saam met “Die Volksblad” se beroemde Kunsmark in Bloemfontein gestap het, moet my vandag maar vergewe as ek Esté Mostert vir ‘n buiging uitsonder.
Este het inderdaad kort na haar eerste solo-uitstalling on 1981- sy was toe 22 – ‘n entoesiastiese Kunsmarker geword en dit deur die jare gebly, maar dit is vir een kunswerk wat ek haar hier wil vermeld.
Dit hang in my huis op Melkbos reikafstand van die stadsamptelike oorkonde van die Bloemfonteinse stadsraad waaroor ek ‘n dag of drie gelede geskryf het. Die onderwerp is die Kunsmark.
Soos gemeld, was Tokkie wat Dondag 80 jaar oud word, in die 80’s geruime tyd Mev. Kunsmark. Toe ons Kaap toe kom, het uit uitstallersgeledere spontaan die gedagte gekom dat sy ‘n geskenk moet kry.
Iemand se blink idee was so ‘n skildery. Daarvoor was Esté en haar uitsonderlike styl haarfyn uitgeknip. Sy is bekend vir haar romantiese skilderye van droomwêrelde, vol esoteriese figure en landskappe. ”Haar werk is ‘n weerspieëling van haar innerlike wêreld, met ‘n fokus op kleur, lig en atmosfeer,” rapporteer Meta op sy KI-platform.
So min as wat ek van skilderkuns weet, wil ek my verstout om te beweer dat haar skildery (foto) van die informele kunsmark onder die bome met sy skilderye, kunstenaars en besoekers presies dit vergestalt.
Este is ‘n uitvoerproduk van Kroonstad – soos o.a. Antjie Krog, Dot Serfontein, Burger Geldenhuys, Max du Preez, Mosuia Lekota en Pallo Jordan. Sy het formele kunsonderrig ontvang aan die Universiteit van die Vrystaat, waar sy onder Casper Steenkamp, Ben Botha en Prof A.A.F Treurlinckx gestudeer het.
Sedert haar eerste solo-uitstalling in 1981 het sy deelgeneem aan talle nasionale en internasionale uitstallings in lande soos Taiwan, die VSA en Engeland.
Ek wens sy kon weet hoe ek en Tokkie nog haar skildery wat duidelik met soveel liefde geskep is, geniet en waardeer.
‘n DOKUMENT OM TE KOESTER

Bo is Tokkie by die oorkonde op sy ereplek op Melkbos. Onder word dit aan ons oorhandig op ‘n onthaal in die stadsaal in 1988. Links is ons en regs die Neuhoffs, Toeks en Neels.
‘n Swerwer het oplaas tuisgekom, en harte en hande staan vir hom oop. Die swerwer is nie ‘n mens nie, wel ‘n waardvolle dokument.
Ek praat van ‘n sierlike stadsamptlike oorkonde van die stad Bloemfontein aan “Die Volksblad” weens die waarde van die Kunsmark vir die stad in die jare 80.
Die geraamde oorkonde was in ‘n swerwer-fase sedert “Die Volksblad” (later net “Volksblad”) op 8 Augustus 2020 treurig as papierkoerant ophou bestaan het (later ook as aparte digitale produk). Om die een of ander rede is dit nie saam met ander memorabilia NALN toe waar ‘n waardige ”Volksbladkamer” sedertdien ingerig is nie.
Met die oog op Tokkie se 80ste verjaardag a.s. Sondag het die oorkonde sy weg uit Bloemfontein na Melkbosstrand gevind. My vrou was jare lank ‘n gewilde en bewame Mev. Kunsmark.
Waterskade en skade aan die raam is herstel en die oorkonde staan nou op ‘n ereplek in Penguin Place 11.
Die Kunsmark is in 1982 deur die uwe in Koningspark, Bloemfontein, begin. Elk eerste Saterdag van die maand het uitstallers van heinde en ver gekom, selfs oor landsgrense. Meer mense het dikwels daarheen gestroom as wat Saterdagmiddae gaan kyk het hoe Vrystaat oorkant die straat rugby speel. Gemeentes het orrels afbetaal en kerke geverf met eetgoed wat daar verkoop is.
Dalk die spesiaalste herinnering is die vrugtekoek waarmee die Kunsmark sy vyfde verjaardag op 2 Mei 1987 gevier het – amper 40 jare gelede. In daardie koek was 15 bottels brandewyn (geen tikfout nie). Hier is die volledige resep: 70 kg koekmengsel / 30 kg meelblom / 15 kg suiker / 60 dosyn eiers / 15 bottels brandewyn / 18 kilogram botter / 15 kilogram kersies /9 kilogram neuter.
Tokkie en haar helpers het daardie dag in spesiale mandjies 5 000 porsies koek uitgedeel.
Die stadsamptelike verering was die breinkind van burgemeester Neels Neuhoff. Saam met die oorkonde is ‘n serifikaat van verering op 23 Februarie 1988 aan my en Tokkie oorhandig. Ons bewaar dit ook soos goud.
Die oorkonde is ‘n kalligrafiese pragstuk. Dit is toegeken weens die ”merkwaardige suksesverhaal van die Kunsmark en uit waardering vir die Kunsmark se besonderer waarde vir Bloemfontein en sy inwoners.
“Die Kunsmark dra ‘n aangename beeld van die stad uit tot ver buite sy grense en bevestig weer eens die vrugbare bondgenootskap van dekades tussen die Vrystaatse hoofstad en ‘Die Volksblad’.”
As iemand dalk dink die oorkonde hoort nie op Melkbosstrand nie, hier is ‘n boodskap wat van Gert Coetzee, laaste redakteur van die koerant en as’t ware vader van die kamer by NALN, ontvang is: “Ek is bly dit het by julle uitgekom en vertrou dit graag aan julle toe, ook om te koester en te geniet.” Dankie, Gert.
By die amptelike ontvangs van die oorkonde spreek ek graag ook ‘n woordjie van waardering aan ander staatmaker-bouers aan die Kunsmark deur die jare soos Georjane Oberholzer, Marietjie Gericke, Henriëtte (Anderson) Loubser en Alet Coetzer.
JAAR VAN DIE BIKINI, BIRO, DOLLY, TOKKIE EN ANDERE

15 Maart 1966
Die jaar 1946 se uitsonderlike bydraes tot die wêreld waarin ons woon, was onder meer die bikini, die Biro-pen, die Vespa, sykouse, die Ystergordyn, die VVO, Heathrow-lughawe en Gesina Susara van Wyk, die nimlike Tokkie van Deventer van Melkbos wat vandag oor ‘n week, op 15 Maart, 80 jaar oud word.
Vir my is Tokkie se verskyning op die ondermaanse die topstorie van die jaar. Maar ek erken vooroordeel aan my kant.
Ander nuwe aankomelinge van die Tokkiejaar was onder andere Dolly Parton oor wie se 80ste in Januarie nogal ‘n bohaai gemaak is, Farrah Fawcet-Majors, George Best, Sylvester Stallone, Illie Nastase, José Carreras en Emerson Fittipaldi van elders, asook Whitey Basson, Liedjieboer Anton Goosen (enkele dae gelede), Bles Bridges, Allan Boesak en Steve Biko van hier. Vir ‘n sekere garde sal van die name, indien nie almal nie, wel iets beteken.
Die wêreldbevolking in 1946 was 2 147 000 000. In die afgelope 80 jaar het die syfer nogal geklim. Dit staan op 8,3 miljard.
As motor-entoesias neem ek kennis dat die 1946-model Ford Super Deluxe waarskynlik die jaar se topkar was. Die weelderige Chrysler Town & Country was ook ‘n aanspraakmaker. Massaproduksie van die ikoniese Volkswagen-Kewer het begin.
Onder die boeke van die jaar was “The Pianist” wat ’n onvergeetlike fliek geword het. ‘n Fliek wat die Oscars laat instroom het, was “The Best Years of Our Lives”. Onder die groot name in Hollywood was Gregory Peck, Ingrid Bergman en Lana Turner. Alfred Hitchkock was al op die toneel met die riller “Spellbound”.
Perry Como was topsanger met vier treffers, o.a. “Prisoner of Love”, die nommer-een-lied van die jaar. Bing Crosby en Frank Sinatra was op sy hakke. In Parys het ‘n “Mossie” Edith Piaf gesing: “La Vie En Rose”.
Op sportgebied was name soos Joe Louis (boks), Ben Hogan en Sam Snead (gholf) en Wally Hammond (krieket) prominent. Die lank vergete Fransman Yvon Petra was Wimbledonkampioen.
Aanstaande Sondag, 15 Maart, is nie net Tokkie se verjaardag nie. Dit is ook die heuglike dag waarop ek 60 jaar gelede die verloofring aan haar vinger gesteek het – die mooiste bloem van Bloemfontein het myne geword! Die foto’s hierby is daardie aand geneem.
Dit is verder die Idus van Maart – die 74ste dag op die Romeinse kalender – die dag waarop Julius Caesar in 44 v.C. vermoor is, en die dag waarop Hendrik Verwoerd Suid-Afrika in 1961 uit die Statebond geneem het. Tokkie was toe in standerd agt .
In September 1966 is Verwoerd vermoor. Tokkie was toe twintig. Dit is ook die jaar waarin ons verloof en getroud geraak het. Sedertdien het 60 jaar verloop. Ons is amper by ons diamant-bruilof.
Naskrif: Die bikini is ontwerp deur ‘n gewese motoringenieur, Louis Reard. Die naam kom van die Amerikaanse toetsterrein van die kernbom, Bikini Atoll. Reard het gemeen sy ontwerp het selwers “sterk plofkrag”. Hy het nie misgetas nie, het hy?
EMMERS VOL LIEFDE VIR ‘n NUWE KOERANT

Die opwinding laai op oor die verskyning van Die Papier oor’ ‘n week op 6 Maart. Op die koerant se skouers rus ‘n groot verantwoordelikheid om te kom help bewys dat die gedrukte koerant nie ‘n uitgestorwe ou reliek is soos die ossewa nie (die beeld van julle weet wie).
In die kantore waar die eerste Die Papier tot stand kom, heers bepaald reeds opwinding, afwagting, en ‘n mate van gesonde spanning. Dit is ‘n bondel energie daar wat knoop en ontknoop en wag om los te bars.
Dis nie raaiwerk nie. Met elke vooraf-tree van die Beeld-stigting in September 1974 het ek immers intiem saamgeloop. Trouens, ek is die enigste oorlewende van die klein pionierspannetjie wat reeds in Junie in die hartjie van Johannesburg begin planne maak, mense werf en drome droom het.
Dis ‘n tintelende gevoel om ‘n nuwe koerant te begin. Ek dink daaraan as ‘n hoogtepunt in ‘n koerantloopbaan met vele hoogtepunte.
Met die oog op die koms van die nuweling het ek die versamelfoto gaan uithaal van tonele rondom Beeld se eerste verskyning op Sondagaand 15 September (die koerant het natuurlik die datum gedra van Maandag 16 September.)
Bo regs dwaal redakteur Schalk Pienaar laataand deur ‘n verlate verslaggewerskantoor in die lelike ou eerste Beeldgebou in Millerstraat, Doornfontein – nes ‘n verwagtende vader by die geboorte van sy eersteling.
Die formidabele redakteur sou helaas net enkele maande in sy veeleisende hou voordat hy weens swak gesondheid die aflosstokkie aan Johannes Grosskopf moes oorhandig.
Die klein fotot’jie regs onder is die Sondagmiddag in die fabriek geneem. Die eerste nuusredakteur, dis nou ekke, staan opgewonde en kyk hoe die eerste voorblad gestalte kry. Dit is meer as ‘n halfeeu gelede. Dit voel soos gister.
Die heel eerste uitgawe het verskyn met ‘n scoop. Die Burger se Alf Ries, prins van politieke beriggewers, het daardie oggend met die Boeing uit die Kaap die berig gebring – met komplimente van PW Botha: “Troepe oral op die grens”. Die Suid-Afrikaanse Weermag skud hom reg weens die chaos in Mosambiek ná Portugal se abdikasie. Troepe is oral op strategiese plekke aanwesig. Grense word gepatrolleer.
Pienaar regs) , besturende direkteur Lang David de Villiers(links) , groot dryfkrag agter die stigting van Beeld, en Phil Weber (middel), voorsitter van die Nasionale Pers, staan op die hooffoto ingenome met die nuwe baba. ‘n Mens kan sommer sien die drie Naspers-swaargewigte bars van trots op die weerbarstige nuweling wat die koeranttoneel in die noorde later ná ‘n lang en bitter stryd op sy kop sou keer.
In Julie 1980 moes ek vir Beeld vaarwel sê om terug te gaan “huis” toe – as redakteur van Die Volksblad waar ek in 1963 my joernalistieke tande begin sny het. Tussen 1974 en 1980 lê egter ‘n verhaal van fantastiese hoogtepunte. Ongelukkig ook laagtepunte. Maar watter onvergeetlike skof was dit nie.
Ek herhaal vandag graag ‘n woordjie wat ek ‘n keer uit die hart gespreek het en wat al telkens aangehaal is: Dat ek nie weet van enige ander koerant waarin soveel mense soveel liefde gestort het nie.
Ek dink Die Papier se mense gaan ook emmers vol liefde in hul koerant stort.