Wanneer oor skepe en skeepvaart gepraat word – en hoe graag praat ek nie oor skepe nie! – is Cunard se Queen Mary II voorop in my gedagtes. Ook MSC se Sinfonia bring tere herinneringe.Maar ‘n mens se eerste liefde bly jou eerste liefde.

En aan hierdie “bevare seeman” se eerste liefde onder die skepe in sy lewe, die Union-Castle se Pendennis Castle, is hy vanoggend saam met sy oggendkoffie herinner.Dis weer Die Burger se terugblik-rubriek, 50 Jaar gelede, wat op ‘n bittersoet-manier die verlede laat herleef.

By die rubriek is oudergewoonte die voorblad van die koerant van 50 jaar gelede. Daarop is ’n foto van die Pendennis wat vir oulaas uit Southampton op die Kaapse roete vertrek. Ná sovele vaarte met sovele passasiers, vragte koerante, tydskrifte, briewe en strokiesboeke vir kinders was posbote se tyd klaarblyklik aan’t uitloop.

Die aankondiging was destyds soos ’n begrafniskennisgewing in die koerant, onthou ek: die begin van die einde van ‘n era.  Dat juis die sierlike  Pendennis die doodsklok moes lui, het my en Tokkie geruk, want dit was “ons skip.”

Toe die slanke posboot op ’n koelerige lentedag in September 1970 met haar kenmerkende lila romp en baksteenrooi skoorsteen uit Tafelbaai vertrek op ’n vakansievaart na Durban oor Port Elizabeth en Oos-Londen, was onder die 550 passasiers was Jakob Hendrik en Gesina Susara van Deventer. Dit was ons eertes vaart – ’n droom bewaarheid vir ’n jong Bloemfonteinse egpaar.

En hoe het die gogga nie gebyt nie.  Minstens ‘n dosyn vaarte sou volg , na die verre Sydney,  Venesie, Dubrovnik, Hongkong  …  One sou deur die Suezkanaal vaar en die Griekse eilande besoek.  Ek sou daaroor ‘n reisboek skryf, “Na verre hawens” (Naledi).

Maar terug na die Pendennis se laaste vaart.   ’n Jaar later, in 1977, sou ook die jonger SA Vaal se laaste vaart aanbreek. Die gordyn op die posboot-era het finaal gesak. Blaasorkeste het op die kaai stemmige marsmusiek gespeel; sleepbote het met waterfonteine ’n eresaluut gegee. Heelwat trane is weggepink toe die ou grote met die lila romp se afskeid met ’n ekstra luide geskal aangekondig word.

Wat van die Pendennis geword het? Op 14 Junie 1976 is dit aan Panamese eienaars verkoop en tot die Ocean Queen herdoop. Die romp is ’n neutrale wit geverf; die skoorsteen goudbruin. Die Queen sou uit Hongkong plesiervaarte onderneem. Die plan was ongelukkig doodgebore. In 1978 het dit weer van eienaars (en naam) verwissel. Die Pendennis (Queen) het eers Sinbad en later Sinbad 1 geword. Die vernederende leeglêdae het voortgeduur.

In April 1980, net ’n dekade ná ons eerste proeseltjie van die plesier van vaar, het “ons skip” op sy laaste reis uit Hongkong vertrek. Sy finale bestemming was die Taiwanse hawestad Kaohsiung (uitgespreek Ka-ou-sjoeng). In Kaohsiung se skeepswerf sou die ou staatmaker “afgetakel” word: ’n eens trotse skip in verre waters tot ’n hoop afvalmetaal gereduseer. Stof tot stof, swierigheid tot skroot.

NASKRIF: Hoe ver van “tamaai” die “tamaaie” skepe van die posboot-era was, blyk uit ’n vergelyking van tonnemaat. Die Pendennis was ’n skip van 28 582 ton. Die MSC Musica, maar net ’n medium-plesierboot in die MSC-vloot – of “cruise ship” – wat al in 2006 gebou is en onlangs in Suid-Afrika bedrywig was, is ’n lywige 92 409 ton! MSC se nuwe vlagskip, die MSC Bellissima, is 171 598 ton. Royal Caribbean International se reusagtige Symphony of the Seas, die wêreld se grootste, is ’n verstommende 228 081 ton!

Deel dit: