Apr 17, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
B
esoek jy Amsterdam, besoek jy die Rijksmuseum en hoop jy om ‘n glimps van Rembrandt se broemde Nagwag-skildery te sien. Jy is bereid om ure in ‘n tou te staan vir ‘n vlugtige blik as deel van ‘n bewegende massa mense wat met kenmerkende Nederlandse bruuskheid aangemoedig word om “op te skud”.
Daardie skildery word op die oomblik op ‘n unieke manier geresteoureer, lees ek vanoggend in Die Burger. Die restourasie, agter glas, vorm deel van die uitstalling. Besoekers ervaar iets van die sensitiewe arbeid om die ou glorie te herstel, .
Die berig wek ‘n suuderige herinnering aam ‘n vorige “restourasie” (let op die aanhalingstekens, asseblief) waarin die uwe en sy gade, Tokkie, ‘n sentrale rol speel.
Ons draai die horlosie so amper 30 jaar terug na die konferensie van die World Association of Newspapers in 1997 in Amsterdam. Een van die sosiale hoogtepunte was ‘n onthaal in die Rijksmuserum – boonop in die heilige halle van die Nagwag self. Waar derduisende toeriste bedags in verwondering verbytou, geniet ons die aand rustig Bols en krokette.
Jy kan ongesteurde die Nagwag bekyk vir solank jy wil. Niemand jaag jou aan nie. Ek en Tokkie benut die geleentheid ten volle.
Nog beter. ‘n Fotograaf is teenwoordig om sosiale foto’s te neem. Ek nader hom om ‘n groot guns: ‘n foto van die Van Deventers voor die Nagwag, mooi asseblief. “Met “plesier”, antwoord hy. Ons poseer en die flits gaan af, twee, drie keer.
Die volgende dag kry ek ‘n koevert by my sitplek. Binne is ‘n foto en ‘n briefie. Dis ek en Tokkie by die Nawag, ja, maar die foto is byna pikswart. Iets het nie gewerk nie, velen spijt.
Terug in SA, bekla ek my lot by kollega Ollie Olwagen. Hy – wat as ekspert beskou word – bied aan om te help.
Die resultaat van sy “restourasie” is die foto hierby. So hard soos Ollie probeer het, dit lyk net nie reg nie. Met KI en al die nuwerwetse goeters sou jy seker ‘n ander resultaat kon behaal het. Maar dis wat ek het, en dis vir my tog waardevol.
Apr 14, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Oggendwandeling.
Uit Sabiepark altyd iets nuuts. In Maart/April 2026 was dit weer so.
Ek en Tokkie maak kennis met die reuse- pootlose akkedis (skink) op die agterstoep. Lyk nes ‘n dikkerige swarterige slang. Binne 24 uur kry sy jou werklikwaar ‘n tweede op haar gereelde oggendwandeling in Apiesdoring. Morsdood in die pad.
‘n Muskeljaatkatjie is ‘n regte kaatjie van die baan op die stoep. Bring een aand ‘n maat saam. Draf rond of die plek aan hom behoort – tot by my tone – en gee die bosnagape en nagapie opdraende by die piesangtafel. Bosnagape – een aand was daar drie – kraai egter koning by die kos.

Hier was die “klip”
‘n Klip in die pad is nie ‘n ongewone verskynsel vir stappers nie. Tokkie gewaar een oggend een skaars 50 meter van ons motorpad. Toe sy nader kom, spring die “klip” op – ‘n “klip” met kolle en grasie. Die luiperd verdwyn in die veld. En Tokkie? Sy draai om huis toe om doodluiters van die insident te kom vertel en ‘n stok te kom soek. Daar vertrek sy toe op dieselfde roete.
Onder die gevleueldes het die naguiltjie uitgeblink. Die bydraes was van nader as nog ooit gereelder en ewe melodieus as altyd. Altyd ‘n vreugde by die vuurtjie saam met die sauvignon blanc.
‘n Mens word net een keer 80, maar wie keer jou om dit twee keer te vier? Tokkie se 80ste is behoorlik op Melkbos gevier, omring met kinders en kleinkinders en rondom ‘n spesiale 80-koek al die pad uit George. Twee weke later was viering x 2 in Sabiepark, 2 000 km noord van Melkbos. Feesgenote was die Malans van Pretoria: Cules, Dalene, Pierre, Yvette en Elaine. Pierre se foto’s is, soos verwag kon word, baie besonders.
Sabiepark het die eerste weke gelyk of balies cholorofil rojaal oor hom uitgegiet is, groener en ruiger as wat ons verwag het. Oral was net loof. Het gelyk of ‘n mens maar ‘n besemstok ook in die grond kon druk. Dit sou groei.
Die diere het verdwyn in die ruigte. ‘n Swartwitpens-kalf is half-half deur wuiwende grashalms versluier. Die Sabie het breed bly vloei. Heelwat reën het geval. Een sterk stortbui en verder kiesa, kiesa.

Kaatjie van die baan
Die laaste week het verdorde blare begin neerdaal. Herfs is hier.
Ai, hoe bly is ons dat ons op hierdie eerste besoek ná die waterskeiding met ons nuwe status as “gaste” van die Claassense die natuurweelde so kon beleef. Hoop daar sal nog wees ondanks die kwynende kragte.
‘n Nuwigheid was stoepstorie-eredienste uit Melkbos op die rekenaarskerm. ‘n Rooiborshoutkapper het sy bes probeer om tred te hou by ds. Faani Engelbrecht se uitkap op die kitaar en ‘n njalabul wat koes-koes tussen die Bosveld-katjiepiering en ‘n gewone pendoring deur is, het op ‘n kritieke oomblik in ds. Albertus Louw se preek my konsentrasie onderbreek
Verder het die kerk op die skerm rustig verloop – ook ‘n keer toe Tielman Rossouw gepreek het. En ons uitsig rondom ons was werklik mooier as in ons kerk.
Tukkies se glorie in die Varsitybeker is met stygende uitbundigheid deur die oud-Tukkie op die stoep dopgehou, in die geselskap van ‘n langasem-muskeljaatkat wat end-uit op die stoepmuur gewaak het.

Haai, akkedis!
Nog ‘n persoonlike plesiertjie was vir die Beeld-veteraan om twee keer in drie dae Beeld se Lesersfoto van die Dag te lewer: een van ‘n sjarmante njala-ooitjie en een van sebras in ‘n ry op die miershoop op die hoek van Apiesdoring.
By laasgenoemde was die byskrif: Stand in ‘n stryt straaip. So het Oom Boy Louw, legendariese Springbokvoorspeler van die 30’s (saam met Danie Craven, Bennie Osler en so), glo altyd sy spanmaats tot orde geroep. Lyk of die Sabieparkse sebras sy woorde ter harte geneem het. Hulle oefen lynstane op ‘n miershoop op die hoek van Wildevy- en Apiesdoringlaan.
Nie aan my nie, maar aan Sabieparkse diere kom die lof toe.
Altyd uiters bevredigend om na langelaas op gevorderde ouderdom ‘n buitengewone ambisie te verwesenlik. Hoe lank droom ek nie nou al van ‘n koeksister geniet in ‘n swembad nie? Waaragtig, die vakansie doem die besonderse geleentheid vir die 85-jarige op. Saam met my in ons Sabieparkse swembad was Pierre Malan wat boonop ‘n koppie tee in die hand gehad het om die ervaring te verryk.
Naskrif: Geheimsinnige steungeluide uit die bos ten ooste van die huis is onverklaard. Jy sal Tokkie nie oortuig dat daar nie ‘n vangs was nie. Ek moes net keer of sy is veld-in om te gaan verken.
Apr 14, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Vergewe die oud-Tukkie sy uitgelatenheid vanoggend.
Grote plesier gewees om gisteraand in Sabiepark op die stoep te sit en kyk hoe die manne in die rooi, blou en goud die Arende van Potchefstroom platloop, end-uit in die geselskap van ‘n langasem-muskeljaatkat uitgestrek op die stoepmuurtjie.
Ook hoegenaamd nie nagelaat om inhoud te gee nie aan die ou intervarsityliedjie wat ons in my tyd al wiegende uit volle bors gesing het: As elke ou Tukkie sy glasie vol maak, wie wil dan water hê, wie wil dan, wie wil dan, wie wil dan hê , wie wil dan water hê?
Hierdie ou was op Tuks van 1958 tot 1962. Ek is langer as ses dekades uit my geliefde Kollegehuis weg Bloemfontein toe. Wonder hoeveel veterane van 85 en ouer het die stryd op LC de Villiers-stadion op die skerm gevolg.
Ek vermoed ek was dalk die oudste wat dit op ‘n stoep in ‘n natuurreservaat gedoen het met ‘n groot wynglas vol Amarulalikeur en ‘n muskeljaatkat as geselskap.
Ek is waarskynlik ook een van die ouer garde wat nog self daardie gestreepte wit trui oor die kop getrek het – ‘n rede tot trots al was dit in die laer ligas.
Geluk, Tukkies, op ‘n glinstersege. Vanaand vloei die Amarula weer. ‘n Groot fees vier ‘n mens mos nie net een keer nie.
Dan ook: ek wil ‘n dop op julle drink dat julle daardie karaktervolle trui deur al die jare soos goud bewaar het. ‘n Tukkie bly ‘n Tukkie, herkenbaar so op die rugbyveld. Die behoud van daardie tradisie is vir vele ander ‘n les.
Yeah Tuks!
Apr 12, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

BY ‘n KKNK enkele jare gelede het ‘n sangeres wat na Amerika uitgewyk het, ene Clarabelle van Niekerk, ons . vermaak met o.m. ‘n liedjie oor die akkedis: akkedis, akkedis – dis wat hy is. So iets.
Ek het gedink: Dis ‘n doodgewone diertjie wat ek goed ken. Daarna het ek egter in Sabiepark met ‘n gepantserde akkedis kennis gemaak – ‘n ruwe meneer met kwaai skubbe. Dit het my laat besef: akkedisse kom in vele formate.
Nou het my paaie gekruis met ‘n variasie wat jy kwalik as selfs net verlangse familie sal eien. Hy is groot, hy is lank (30 45 cm) en is glad, hy het ‘n dik, effens swarterige lyf soos ‘n goed gestopte wors en hy het nie pote nie.
Met absolute oortuiging stuur ons toe die nuus uit van ‘n slangpetalje voor brekfis by ons agterdeur. Agterna raai ‘n kundiger Sabieparker aan: Google Acontas plumbeus. Aangename kennis mnr. Reuse- Pootlose Skink (of akkedis).
Party mense dink daardie acontas is boetie van die molslang, maar hy is geen slang nie. Hy sal jou nie tot in die hospitaal pik of spoeg nie. .
Mense wat hom dadelik as een van die duisternis soorte akkedisse ter wêereld sal eien, is waarskynlik dun gesaai. Ons kom al 28 jaar Laeveld toe vir vakansies en ons ken hom nie.
‘n Kenner deel egter mee dat die sku akkedis – soos slange ook – in die herfs aktief raak om kos te versamel vir die winter.
Die foto leen ek by Google. Let op die lang kop met die staalgrys snoet en die klein oë, met ooglede.
Hy grawe graag in klam blaarmolm en vreet wurms, inseklarwes en paddatjies waarvan juis op die oomblik heelparty rond-hop.
Hoop nou nie volgende keer as ek ‘n stewige swart slangetjie teenkom. verwar ek hom met ‘n akkedis nie!
Apr 9, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Verdoemende klagstaat kan opgestel word vir die saak van Homo sapiens vs. Papio ursinus. Noem ‘n vorm van kwaadwillige saakbeskadiging – sekelstert se kind ken hom. Hule is opperste vandale en morsjorse. Ook geslepe inbrekers en diewe
Hierdie vakansie hoor ek van ‘n gruwelike nuwe wandaad: hulle maak motors se deure oop – ja, waaragtig – en bemors die binnekant met die aardige resultaat van hul spysverteringskanaal. Julle ken dit mos: so gelerig, slapperig en bedwelmend stink.
Een slagoffer het al R2 500 opgedok vir verskeie diep reinigings van sy vuurwa. Daardie afstootlike reuk het in elke skeurtjie ingetrek. Jy kry hom eenvoudig nie uit nie.
Ek het ‘n video van die hartverskeurende petalje gesien. Die eienaar praat nie in vriendelike terme van ‘n bobbejaan nie. Hy noem die betrokke liggaamsfunksie ook sommer by sy drieletter-naam – nie net een keer nie, maar telkens.
Voorheen al gehoor van ‘n bobbejaan wat in ‘n bed hier in Sabiepark beland het. Die arme huisvrou het betraand met die besoedelde beddegoed by die waskamer opgedaag en om hulp gesmeek. Maar van ‘n hele motor se binnekant opdons nog nooit tevore nie.
Ergste wat ons nog self deurgeloop het, was met ‘n besoek aan ons swembad op ‘n snikhete Desemberdag terwyl ons in Skukuza ‘n lekker ontbyt gaan eet het. Versadig en verkwik, keer ons voor middagete terug, net om, verslae en ontnugter, ons stoep in ‘n chaos aan te tref.
Die troebel kleur van die water verklap dadelik dat vreemde lywe in ons bos-swembadjie moet gewees het. Oral op die stoep lê plasse – swembadwater, wyn en die produk van die ongemanierde besoekers se nierfunksie onuitkenbaar vermeng. (Die Bolandse wyn was op ys in ‘n groot Coleman.)
Minstens vyf stoelkussings is in ‘n afstootlike toestand. Die tropleier – ‘n lelike gevaarte met die bou van ‘n rofstoeier, ‘n mank been en onaangename geel tande – het hom klaarblyklik in ‘n uitdagende demonstrasie van baasskap soos ‘n veroweraar op my persoonlike swembad-gemakstoel neergevly. Die kussing is deurweek, hopelik net met swembadwater …
Ons wil graag self afkoel, maar vir sulke besoedelde water sien ons darem nie kans nie. Ons draai toe maar die uitlaatkraan oop, tap die swembad dolleeg, en begin met besems en borsels die taak voorhande.
Eers amper 24 uur later is ons al plassende terug in ons badjie – steeds suur oor die moeite, ongerief en verlies aan wyn.