Vergewe die oud-Tukkie sy uitgelatenheid vanoggend.
Grote plesier gewees om gisteraand in Sabiepark op die stoep te sit en kyk hoe die manne in die rooi, blou en goud die Arende van Potchefstroom platloop, end-uit in die geselskap van ‘n langasem-muskeljaatkat uitgestrek op die stoepmuurtjie.
Ook hoegenaamd nie nagelaat om inhoud te gee nie aan die ou intervarsityliedjie wat ons in my tyd al wiegende uit volle bors gesing het: As elke ou Tukkie sy glasie vol maak, wie wil dan water hê, wie wil dan, wie wil dan, wie wil dan hê , wie wil dan water hê?
Hierdie ou was op Tuks van 1958 tot 1962. Ek is langer as ses dekades uit my geliefde Kollegehuis weg Bloemfontein toe. Wonder hoeveel veterane van 85 en ouer het die stryd op LC de Villiers-stadion op die skerm gevolg.
Ek vermoed ek was dalk die oudste wat dit op ‘n stoep in ‘n natuurreservaat gedoen het met ‘n groot wynglas vol Amarulalikeur en ‘n muskeljaatkat as geselskap.
Ek is waarskynlik ook een van die ouer garde wat nog self daardie gestreepte wit trui oor die kop getrek het – ‘n rede tot trots al was dit in die laer ligas.
Geluk, Tukkies, op ‘n glinstersege. Vanaand vloei die Amarula weer. ‘n Groot fees vier ‘n mens mos nie net een keer nie.
Dan ook: ek wil ‘n dop op julle drink dat julle daardie karaktervolle trui deur al die jare soos goud bewaar het. ‘n Tukkie bly ‘n Tukkie, herkenbaar so op die rugbyveld. Die behoud van daardie tradisie is vir vele ander ‘n les.
Yeah Tuks! 

Deel dit: