
Oggendwandeling.
Uit Sabiepark altyd iets nuuts. In Maart/April 2026 was dit weer so.
Ek en Tokkie maak kennis met die reuse- pootlose akkedis (skink) op die agterstoep. Lyk nes ‘n dikkerige swarterige slang. Binne 24 uur kry sy jou werklikwaar ‘n tweede op haar gereelde oggendwandeling in Apiesdoring. Morsdood in die pad.
‘n Muskeljaatkatjie is ‘n regte kaatjie van die baan op die stoep. Bring een aand ‘n maat saam. Draf rond of die plek aan hom behoort – tot by my tone – en gee die bosnagape en nagapie opdraende by die piesangtafel. Bosnagape – een aand was daar drie – kraai egter koning by die kos.

Hier was die “klip”
‘n Klip in die pad is nie ‘n ongewone verskynsel vir stappers nie. Tokkie gewaar een oggend een skaars 50 meter van ons motorpad. Toe sy nader kom, spring die “klip” op – ‘n “klip” met kolle en grasie. Die luiperd verdwyn in die veld. En Tokkie? Sy draai om huis toe om doodluiters van die insident te kom vertel en ‘n stok te kom soek. Daar vertrek sy toe op dieselfde roete.
Onder die gevleueldes het die naguiltjie uitgeblink. Die bydraes was van nader as nog ooit gereelder en ewe melodieus as altyd. Altyd ‘n vreugde by die vuurtjie saam met die sauvignon blanc.
‘n Mens word net een keer 80, maar wie keer jou om dit twee keer te vier? Tokkie se 80ste is behoorlik op Melkbos gevier, omring met kinders en kleinkinders en rondom ‘n spesiale 80-koek al die pad uit George. Twee weke later was viering x 2 in Sabiepark, 2 000 km noord van Melkbos. Feesgenote was die Malans van Pretoria: Cules, Dalene, Pierre, Yvette en Elaine. Pierre se foto’s is, soos verwag kon word, baie besonders.
Sabiepark het die eerste weke gelyk of balies cholorofil rojaal oor hom uitgegiet is, groener en ruiger as wat ons verwag het. Oral was net loof. Het gelyk of ‘n mens maar ‘n besemstok ook in die grond kon druk. Dit sou groei.
Die diere het verdwyn in die ruigte. ‘n Swartwitpens-kalf is half-half deur wuiwende grashalms versluier. Die Sabie het breed bly vloei. Heelwat reën het geval. Een sterk stortbui en verder kiesa, kiesa.

Kaatjie van die baan
Die laaste week het verdorde blare begin neerdaal. Herfs is hier.
Ai, hoe bly is ons dat ons op hierdie eerste besoek ná die waterskeiding met ons nuwe status as “gaste” van die Claassense die natuurweelde so kon beleef. Hoop daar sal nog wees ondanks die kwynende kragte.
‘n Nuwigheid was stoepstorie-eredienste uit Melkbos op die rekenaarskerm. ‘n Rooiborshoutkapper het sy bes probeer om tred te hou by ds. Faani Engelbrecht se uitkap op die kitaar en ‘n njalabul wat koes-koes tussen die Bosveld-katjiepiering en ‘n gewone pendoring deur is, het op ‘n kritieke oomblik in ds. Albertus Louw se preek my konsentrasie onderbreek
Verder het die kerk op die skerm rustig verloop – ook ‘n keer toe Tielman Rossouw gepreek het. En ons uitsig rondom ons was werklik mooier as in ons kerk.
Tukkies se glorie in die Varsitybeker is met stygende uitbundigheid deur die oud-Tukkie op die stoep dopgehou, in die geselskap van ‘n langasem-muskeljaatkat wat end-uit op die stoepmuur gewaak het.

Haai, akkedis!
Nog ‘n persoonlike plesiertjie was vir die Beeld-veteraan om twee keer in drie dae Beeld se Lesersfoto van die Dag te lewer: een van ‘n sjarmante njala-ooitjie en een van sebras in ‘n ry op die miershoop op die hoek van Apiesdoring.
By laasgenoemde was die byskrif: Stand in ‘n stryt straaip. So het Oom Boy Louw, legendariese Springbokvoorspeler van die 30’s (saam met Danie Craven, Bennie Osler en so), glo altyd sy spanmaats tot orde geroep. Lyk of die Sabieparkse sebras sy woorde ter harte geneem het. Hulle oefen lynstane op ‘n miershoop op die hoek van Wildevy- en Apiesdoringlaan.
Nie aan my nie, maar aan Sabieparkse diere kom die lof toe.
Altyd uiters bevredigend om na langelaas op gevorderde ouderdom ‘n buitengewone ambisie te verwesenlik. Hoe lank droom ek nie nou al van ‘n koeksister geniet in ‘n swembad nie? Waaragtig, die vakansie doem die besonderse geleentheid vir die 85-jarige op. Saam met my in ons Sabieparkse swembad was Pierre Malan wat boonop ‘n koppie tee in die hand gehad het om die ervaring te verryk.
Naskrif: Geheimsinnige steungeluide uit die bos ten ooste van die huis is onverklaard. Jy sal Tokkie nie oortuig dat daar nie ‘n vangs was nie. Ek moes net keer of sy is veld-in om te gaan verken.