‘n Verdoemende klagstaat kan opgestel word vir die saak van Homo sapiens vs. Papio ursinus. Noem ‘n vorm van kwaadwillige saakbeskadiging – sekelstert se kind ken hom. Hule is opperste vandale en morsjorse. Ook geslepe inbrekers en diewe
Hierdie vakansie hoor ek van ‘n gruwelike nuwe wandaad: hulle maak motors se deure oop – ja, waaragtig – en bemors die binnekant met die aardige resultaat van hul spysverteringskanaal. Julle ken dit mos: so gelerig, slapperig en bedwelmend stink.
Een slagoffer het al R2 500 opgedok vir verskeie diep reinigings van sy vuurwa. Daardie afstootlike reuk het in elke skeurtjie ingetrek. Jy kry hom eenvoudig nie uit nie.
Ek het ‘n video van die hartverskeurende petalje gesien. Die eienaar praat nie in vriendelike terme van ‘n bobbejaan nie. Hy noem die betrokke liggaamsfunksie ook sommer by sy drieletter-naam – nie net een keer nie, maar telkens.
Voorheen al gehoor van ‘n bobbejaan wat in ‘n bed hier in Sabiepark beland het. Die arme huisvrou het betraand met die besoedelde beddegoed by die waskamer opgedaag en om hulp gesmeek. Maar van ‘n hele motor se binnekant opdons nog nooit tevore nie.
Ergste wat ons nog self deurgeloop het, was met ‘n besoek aan ons swembad op ‘n snikhete Desemberdag terwyl ons in Skukuza ‘n lekker ontbyt gaan eet het. Versadig en verkwik, keer ons voor middagete terug, net om, verslae en ontnugter, ons stoep in ‘n chaos aan te tref.
Die troebel kleur van die water verklap dadelik dat vreemde lywe in ons bos-swembadjie moet gewees het. Oral op die stoep lê plasse – swembadwater, wyn en die produk van die ongemanierde besoekers se nierfunksie onuitkenbaar vermeng. (Die Bolandse wyn was op ys in ‘n groot Coleman.)
Minstens vyf stoelkussings is in ‘n afstootlike toestand. Die tropleier – ‘n lelike gevaarte met die bou van ‘n rofstoeier, ‘n mank been en onaangename geel tande – het hom klaarblyklik in ‘n uitdagende demonstrasie van baasskap soos ‘n veroweraar op my persoonlike swembad-gemakstoel neergevly. Die kussing is deurweek, hopelik net met swembadwater …
Ons wil graag self afkoel, maar vir sulke besoedelde water sien ons darem nie kans nie. Ons draai toe maar die uitlaatkraan oop, tap die swembad dolleeg, en begin met besems en borsels die taak voorhande.
Eers amper 24 uur later is ons al plassende terug in ons badjie – steeds suur oor die moeite, ongerief en verlies aan wyn.
Die bliksems!
Deel dit: