BY ‘n KKNK enkele jare gelede het ‘n sangeres wat na Amerika uitgewyk het, ene Clarabelle van Niekerk, ons . vermaak met o.m. ‘n liedjie oor die akkedis: akkedis, akkedis – dis wat hy is. So iets.
Ek het gedink: Dis ‘n doodgewone diertjie wat ek goed ken. Daarna het ek egter in Sabiepark met ‘n gepantserde akkedis kennis gemaak – ‘n ruwe meneer met kwaai skubbe. Dit het my laat besef: akkedisse kom in vele formate.
Nou het my paaie gekruis met ‘n variasie wat jy kwalik as selfs net verlangse familie sal eien. Hy is groot, hy is lank (30 45 cm) en is glad, hy het ‘n dik, effens swarterige lyf soos ‘n goed gestopte wors en hy het nie pote nie.
Met absolute oortuiging stuur ons toe die nuus uit van ‘n slangpetalje voor brekfis by ons agterdeur. Agterna raai ‘n kundiger Sabieparker aan: Google Acontas plumbeus. Aangename kennis mnr. Reuse- Pootlose Skink (of akkedis).
Party mense dink daardie acontas is boetie van die molslang, maar hy is geen slang nie. Hy sal jou nie tot in die hospitaal pik of spoeg nie. .
Mense wat hom dadelik as een van die duisternis soorte akkedisse ter wêereld sal eien, is waarskynlik dun gesaai. Ons kom al 28 jaar Laeveld toe vir vakansies en ons ken hom nie.
‘n Kenner deel egter mee dat die sku akkedis  – soos slange ook – in die herfs aktief raak om kos te versamel vir die winter.
Die foto leen ek by Google. Let op die lang kop met die staalgrys snoet en die klein oë, met ooglede.
Hy grawe graag in klam blaarmolm en vreet wurms, inseklarwes en paddatjies waarvan juis op die oomblik heelparty rond-hop.
Hoop nou nie volgende keer as ek ‘n stewige swart slangetjie teenkom. verwar ek hom met ‘n akkedis nie!
Deel dit: