ODE AAN ‘n ROLPERS
Die Volksblad (later Volksblad) was met sy heengaan die oudste Afrikaanse koerant – hy was in papierformaat van 1904 af met ons tot 2020 – en kon, om doodeerlik te wees, in ‘n stadium nie meer sy ouderdom wegsteek nie.
Sy susters, Die Burger en Beeld, was al fleurig in volkleur toe hy nog as die “Vaal Boertjie“ bekend was.
Toe in 1983 kry die geliefde koerant ‘n moderne Goss-rolpers. Op 24 Februarie 1983 het hy die heel eerste keer in volkleur verskyn. Dit was asof die nuwe pers en die vermoë om in kleur te pronk ‘n verjongingskuur was. ‘n Nuwe frisheid het dadelik op elke terrein ingetree.
Opwindende dae was daar in my 12 jaar as redakteur te veel om op te noem. Dalk die opwindendste dag – beslis die dag met die meeste toeskouers op elke moontlike staanplek in die drukkery – was die verskyning van die eerste volkleurkoerant. Soos die koms van ‘n nuwe baba was dit. Hoe trots en ingenome was ons Volksbladders nie.
So trots was ons dat ons ons pers in aksie graag vir gaste gaan wys het. Om hul meevoering te beleef as die koerante so snel en kant en klaar van die pers kom, was deel van die bekoring. Om vir hulle ‘n kraakvars koerant in die hand te stop, was soos om ‘n kleuter te bederf.
Ek het self graag die koerant by spesiale geleenthede onder die by die rolpers gaan inwag. Te veel keer om op te noem.
Oor daardie indrukwekkende Goss-pers kan ek liries raak.
Ek het hierdie al voorheen geskryf, maar ek herhaal dit graag: Telkens is ek opnuut getref deur die gladde sinchronisasie van tegniek, konkas vol ink, yslike rolle papier en vakmanskap. Ek het stil staan en luister na die egalige musiek van ‘n rolpers op volle vaart, en my aan die skouspel vergaap: die gevlegde papier wat in ingewikkelde patrone seepglad hul bane deur die ingewande van die metaalreus vind om wonderbaarlik koerant te word.
Wanneer jy die koerant oopvou, die verslawende aroma van die drukkersink nog skerp in jou neusgate, was elke berig, elke foto en elke advertensie presies op die regte plek. Die kleure was perfek ingestel. Die koerant was gereed vir die lesers wat wag.
Wat my vandag by die Goss-rolpers bring, is twee foto’s uit die bloute uit die Verenigde Koninkryk. Dis met die ingebruikneming geneem deur Mike Smith wat ‘n persfotograaf was en later ‘n eersterangse Britse fotograaf geword het. Mike het die moeite gedoen om my op te spoor en die foto’s te stuur.
You made my day, my friend.