KATKISASIE OOR OKKASIE

In my vorige blog en ander plasings verwys ek na Naledi se 20ste verjaardagviering as ‘n okkasie. Dadelik word ek uit die Suid-Kaap gekapittel dat ek kwansuis ‘n Anglisisme inspan terwyl die Afrikaanse woord geleentheid homself aanbied.
Nou kyk, ek is in die algemeen geduldig met katkiseerders – maar nie oor my taal nie. Daaroor is my vel dun. Ek wys toe dadelik, die beterweter op die woord se Latynse oorsprong: occassio. Ek meld ook dat ek dit gebruik as rymwoord: ek lig ‘n glasie op die okkasie. Verder haal ek Breyten Breytenbach aan uit die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal: “Die troue van die burgemeester was ‘n hele okkasie. Daar staan ek …. / angelier in die baadjie / nuwe Italiaanse skoene vir die okkasie.” Maar die kêrel hou voet by stuk.
My knap kollega wyle Ollie Olwagen had ook op sy dag ‘n stryd met ‘n briefskrywer wat oral anglisismes in sy suiwer Afrikaanse taalgebruik in blokraaie bespeur het. Hy skryf toe vir Die Burger ‘n brief oor die onderwerp waaruit ek graag ruim wil aanhaal.
Ollie skryf: Baie mense besef nie dat talle Afrikaanse woorde wat hulle as “Engels” beskou eintlik internasionale leenwoorde is wat Engels en ander tale uit bv. Frans gekry het nie. Die stemme gaan gedurig op oor die hordes “Anglisismes” wat ons taal sou binnedring, terwyl die ware Anglisismes, bv. idiome soos perd van ‘n ander kleur, ons taal heimlik binnegesluip en reeds feitlik oorgeneem het.
Van die woorde wat die beswaarde briefskrywer so hinder, is miskien nie Germaanse erfenisse nie, maar Romaanse of Latynse, wat nogtans nuttige sinonieme bied wat die taal verryk. Ek sal miskien vyf keer geestesvervoering in ‘n geskrif gebruik, maar dan bly wees vir ‘n sinoniem soos eksaltasie waarmee ek die styl kan opkikker en die geskrif minder eentonig kan maak. Eksaltasie kry ons, net soos die Engelse hul exaltation, immers uit Latyn, ex sulto, wat opspring beteken. Dit is dus geen “Engelse woord” nie.
Of daardie sosys (gekruide worsie), wat eenmaal miskien veel bekender was as tans, maar nietemin. Dit kom nie van die Engelse sausage af nie, maar van Frans saucisse, uit Latyn solsicium.
Of renegaat, wat ‘n goeie, mooi sinoniem vir verraaier is. Ook dié woord asook die Engelse renegade kom van Latyn, renegare, wat ontken beteken.
Hoef ‘n mens voort te gaan? Daar is vandag heeltemal te veel “kenners” wat nie die nodige kennis het om grondige uitsprake oor taalsake te maak nie, maar die forum gegun word om hul menings as “beoordelaars” te verkondig. Die probleem is dat hul uitsprake deur ander onkundiges geglo word en onkunde oor die “Anglisisme” al hoe breër uitkring. Daarmee word Afrikaans die reg ontsê om, soos ander Europese tale, met ‘n sinoniemryke woordeskat te spog.
Want alles wat “Engels klink” se herkoms lê doodeenvoudig nie in Engeland nie. Dankie, Ollie. Ek sekondeer. Mag sulke verbete Anglismejagters krampe op onnoembare plekke kry elke keer as hulle so mistas.

FEESGLASIE BY ‘n SPESIALE OKKASIE

‘n Viering vandeesweek by die Woordfees wat ek ongraag misloop, is die uitgewery Naledi se 20ste verjaardag. Met Naledi is my bande van so ‘n aard dat ek werklik wens my omstandighede was anders. Naledi is naamlik die uitgewer van vyf van my laaste sewe boeke in die afgelope agt jaar: naas die jongste, Wag-‘n-bietjie , ook Laatoes – kykweer van ’n kanniedood-koerantman in 2017, Na verre hawens in 2019, Koerantkamerade in 2021 en Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord in 2023 (foto).
Aan hoofman Johan Coetzee en al sy kollegas met wie ek in die publikasie van die vyf boeke kon saamwerk, my dank vir ’n verrykende ervaring. Veral aan Eugenie Wiggins (boekredakteur) en Karen Cronje (ontwerper) ’n spesiale buiging vir hul bydrae tot produkte wat danksy hul kundige insette in die proses steeds beter en beter as die oorspronklike geword het.
Ek klink graag – en met die grootstste respekte vir die plek en aansien wat hy in 20 jaar in die SA boekebedryf verwerf het – op Naledi en sy mense ’n feesglasie. Ek doen dit met ‘n Beeld-glasie nie om dowe neute nie, maar ter ere van Naledi en Barnard Beukman se welslae met die Beeldboek: Die (vreemde) einde van ‘n koerant.

BRUIDEGOM SE D……E KNIE

Dis seker so plus-minus die ergste ding wat op ‘n bruilof kan gebeur.
Ek praat nie van daardie bruilof in Kanaän waarvan ons in die Bybel lees nie, maar van ‘n bruilof op Queenstown van heelwat meer resente oorsprong. Ek lees daarvan in die rubriek 50 Jaar gelede in vanoggend se Burger.
Die bruidegom (darem al 52 en twee keer voorheen getroud) staan op om sy toespraak te lewer. Skielik val hy vooroor. Morsdood. Hartaanval.
Ek stel my voor sy maters was oorgehaal om te begin sing: Hy lyk vir my so baie soos Tant Koek se hoenderhaan. Dalk het die eerste note al opgeklink. Die woorde moes in hul kele vasgesteek het.
In Wag-‘n-bietjie (Naledi 2025) is ook ‘n storie oor ‘n bruidegom wat swaar getref is. Ek het dit oorspronklik by studentemaat Pierre le Roux gehoor en moet bely dat ek dit al vooirheen vertel het. Maar ‘n goeie storie het mos ‘n lang lewe.
Kom saam met my na die swierige tweede huwelik van oom Wessie, ’n ryk Swartlandse boer, met ’n jong weduwee. Die twee se hartewens was baie gaste, ’n blommefees in die kerk en ’n feestelike onthaal om oor huis toe te skryf.
In die kerk val veral die enorme blommerangskikking voor die kansel die bruilofsgaste op. Dit skep ’n indruk-wekkende fokuspunt. Aan die einde van die seremonie moet die bruidspaar op twee satynkussinkies kniel. Die bruidjie in haar nousluitende wit tabberd sak elegant op haar knieë. Die gryse bruidegom in sy swaelstert en streepbroek is volgende aan die beurt.
Hy verloor sy balans, struikel-struikel en val vooroor asof ’n kwaai bul hom van agter af gestamp het. In sy vooroor-neerstorting tref hy die rangskikking met minstens ’n dosyn brandende kersies wat tussen die vrag blomme en droë takkies flikker.
’n Enorme vaas met lelies, plus-minus in die middel van die struktuur, tuimel eerste. ’n Domino-effek ontstaan. Stuk vir stuk stort die hele blomme-en-kerse-tafereel met opeenvolgende knalle flenters op die vloer. Die momentum is onstuitbaar.
In die vol kerk heers ’n geskokte stilte. Toe klink die bruidegom se luide stem op: “Moes die d***e knie nou gaan staan en ‘lock’ het!?”
* Wag-‘n-bietjie is reeeds wyd in boekwinkels beskikbaar. Dit kan ook bestel word by die uitgewer, Naledi, se doeltreffende aanlynboekwinkel by https:naledi.co.za/product/wag-n-bietjie of by Tertia Swart (078 648 8616). Die prys is R275 plus R65 koerierskoste om dit by jou voordeur te laat aflewer.Die verskeidenheid in die boek strek van koerante tot die bos – alles dinge wat naby aan die skrywer se hart is.Dis seker so plus-minus die ergste ding wat op ‘n bruilof kan gebeur.
Ek praat nie van daardie bruilof in Kanaän waarvan ons in die Bybel lees nie, maar van ‘n bruilof op Queenstown van heelwat meer resente oorsprong. Ek lees daarvan in die rubriek 50 Jaar gelede in vanoggend se Burger.
Die bruidegom (darem al 52 en twee keer voorheen getroud) staan op om sy toespraak te lewer. Skielik val hy vooroor. Morsdood. Hartaanval.
Ek stel my voor sy maters was oorgehaal om te begin sing: Hy lyk vir my so baie soos Tant Koek se hoenderhaan. Dalk het die eerste note al opgeklink. Die woorde moes in hul kele vasgesteek het.
In Wag-‘n-bietjie (Naledi 2025) is ook ‘n storie oor ‘n bruidegom wat swaar getref is. Ek het dit oorspronklik by studentemaat Pierre le Roux gehoor en moet bely dat ek dit al vooirheen vertel het. Maar ‘n goeie storie het mos ‘n lang lewe.
Kom saam met my na die swierige tweede huwelik van oom Wessie, ’n ryk Swartlandse boer, met ’n jong weduwee. Die twee se hartewens was baie gaste, ’n blommefees in die kerk en ’n feestelike onthaal om oor huis toe te skryf.
In die kerk val veral die enorme blommerangskikking voor die kansel die bruilofsgaste op. Dit skep ’n indruk-wekkende fokuspunt. Aan die einde van die seremonie moet die bruidspaar op twee satynkussinkies kniel. Die bruidjie in haar nousluitende wit tabberd sak elegant op haar knieë. Die gryse bruidegom in sy swaelstert en streepbroek is volgende aan die beurt.
Hy verloor sy balans, struikel-struikel en val vooroor asof ’n kwaai bul hom van agter af gestamp het. In sy vooroor-neerstorting tref hy die rangskikking met minstens ’n dosyn brandende kersies wat tussen die vrag blomme en droë takkies flikker.
’n Enorme vaas met lelies, plus-minus in die middel van die struktuur, tuimel eerste. ’n Domino-effek ontstaan. Stuk vir stuk stort die hele blomme-en-kerse-tafereel met opeenvolgende knalle flenters op die vloer. Die momentum is onstuitbaar.
In die vol kerk heers ’n geskokte stilte. Toe klink die bruidegom se luide stem op: “Moes die d***e knie nou gaan staan en ‘lock’ het!?”
* Wag-‘n-bietjie is reeeds wyd in boekwinkels beskikbaar. Dit kan ook bestel word by die uitgewer, Naledi, se doeltreffende aanlynboekwinkel by https:naledi.co.za/product/wag-n-bietjie of by Tertia Swart (078 648 8616). Die prys is R275 plus R65 koerierskoste om dit by jou voordeur te laat aflewer.Die verskeidenheid in die boek strek van koerante tot die bos – alles dinge wat naby aan die skrywer se hart is.

KOLLEGE 110: SO WAS DIT IN MY TYD

Modderbad 1958. Ek is die ene met die snorretjie.

Toe ek in Januarie 1958 uit Potchefstroom by Kollegetehuis op die Tukkiekampus opdaag, het ‘n paar ontnugterings gewag.  Net ‘n paar: Die klapperhaarmatrassies was maar dun, aan warm water was ‘n gedurige tekort, die kos was middelmatig en die seniors was ongetwyfeld die kwaaiste op die kampus.

Ontgroening was nog springlewendig. Eerstejaars (ienks) is oral behoorlik gedril. Daar was modderbaddens, die pil (deurdrenk met bitter duiwelsdrek), nagligte (as jy waag om oor die tou te trap), gatpaarties, p-paarties en wat nog.

Ons spannetjie van 1958 moes tot vervelens voor die eetsaal in gelid aantree. Wyle Coen Dreyer, latere Springbok-gholfspeler, moes dan die bevel roep: “Haai-tjokkelorum, haasbek-patrollum, maak gereed om te storm, regs vorm.” Soos ‘n peloton kadette het ons netjies posisie ingeneem en vir verdere opdragte gewag.

Ja, ’n ienk kon maar weet: vir ‘n jaar lank is hy ‘n lyfeiene vir veeleisende seniors (hoeveel honderde sokkies het ek nie gewas nie!), Hy sou ‘n paar keer moes inpak en “trek” (met al sy klere, al sy boeke, al sy koffers). Hy sou moet “more meneer, middag meneer, naand meneer, reg meneer, goed meneer” tot by die ontheffing.

Die ontheffing was in Oktober as die jakarandas kort voor die eksamen begin blom. Die tyd het dan aangebreek vir die modderbad en die pil. Op daardie welaangename dag het die geel knopie met die K (vir Kollege) finaal gewaai – een wat terwyl dit nog op die bors vertoon is, nogal vir komieklike situasies kon sorg. Byvoorbeeld wanneer Kollege en Asterhof ‘n “inter-sleep” het en die ienks dan so man-aster-man-aster langs mekaar sit: “K, A, K, A, K, A …!”

‘n Jaar van groot nederigheid was dit. Maar as dit verby was, het jy behoort. Jy het soos vir ‘n dierbare nooi lief geword vir ‘n plek van baksteen en beton.  Jou hart was in jou borskas soos ‘n uitgeswelde adamsvy, omdat jy geweet het jy is getoets en is nie te lig bevind nie.

Daardie liefde vir ‘n plek van baksteen en beton is in 1960 met die Groot Trek van  die kampus af Proefplaas toe wonderbaarlik na die nuwe tehuis oorgedra, natuurlik danksy die saambring van Kollege-rituele, -tradisies en –gees wat in  die eerste amper vyf dekades deeglik ingewortel het.

Die jaarlikse ienksport was daardie jare ‘n vername okkasie. Sommer dadelik, in 1960 al, het die nuwe Kollege in sy groter formaat sy stem dik gemaak en loshande die beker gewen.  My val die eer te beurt om in die finale wedlooop van die dag, die HK-aflos,  die lint te breek. In 1961 word aan elke koshuis ‘n kleur toegeken. Vir sy sonde is Kollege se kleur pienk. Vir die hoogtepunt van die byeenkoms, die huiskomitee se aflosnommer, kry die manne toe ‘n ingewing. Ons verskyn op die baan in  enorme pienk bloemers wat by ‘n afslagwinkel aangeskaf is – en ons wen ver. Met ‘n wapperende bloemer breek ek weer die lint – die tweede jaar in ‘n ry.

Rugby was in Kollege ‘n saak na aan die gemeenskaplike hart. Groot wedstryde is gespeel, en dikwels gewen, want latere provinsiale spelers soos Nic Bojé, Proppie Goosen, Jan Tromp, Henry van Vuuren, Dries Pretorius en Koos Claassens was derduiwels. In huiswedstryde was ons haas onstuitbaar.

Kollege was van sy ontstaan op elke gebied ‘n sterk faktor. Die uitbreiding van getalle het ons egter die spierkrag gegee om van sport tot op sosiale gebied nog  sterker op die voorgrond te tree en ons te vestig as die gedugste manskoshuis aan elke front, buiten dalk die akademie. Goue jare het aangebreek.   Selfs ‘n borsbeeld van die eerste staatspresident, CR Swart, het ons weens ons politieke ywer verower.  Wonder wat daarvan geword het.

Vriendskappe wat in Kollege gesmee is, duur tot vandag. Kollegemanne van destyds doen moeite om by mekaar te kuier. ‘n Groepie van ses – later agt – het jare lank in die winter genoeglike klein reünies in die Krugerwildtuin gehou. Ons het Kollege se eeufees in die kampie Balule gevier. Die diere het in ontsag stil geword as ons die Kollegelied aanhef.

Ons eerste huisvoorsitter van die nuwe Kollege was Heystek van Rooyen van Roedtan.  Toe volg Vossie Grey Van Ermelo.  Albei is reeds oorlede.  In 1962 het die voorreg my, die oudste lewende bekleder van daardie pos,  te beurt geval. Op die huisvoorsitterskap, asook op Kollegetehuis self, is ek tot vandag innig trots.   Aan Kollege bly ek lojaal. Vir Kollege is ek steeds intens lief, al heet hy nou College House. .

Ek salueer Kollege / College op sy 110de verjaardag.

2000 DAE LANGS DIE SABIE

Sagte groen skitter in sonskyn.

Met die amper 90 van die wintervakansie van 2025 bygetel, is die dae wat ons in 27 jaar langs die Sabierivier deurgebring het, seker al gerieflik oor die 2 000, dubbel soveel as in die titel van my 2011-boek oor Sabiepark.

‘n Kuier daar bly ‘n vreugde, met elke dag se goue uur en elke aand se vuurtjie steeds hoogtepunte. Vanjaar is 100 sakke hout aangeskaf.  Ons het nie spaarsaam gewerk as ons ons vure pak nie. Ons het lekker gekuier, hetsy saam met familie, ander gaste of alleen.

Die manifieke metamorfose van die veld in die laaste week of wat was dalk die heel hoogste hoogtepunt. Amper oornag was ons in ‘n milde groen verswelg, veral aan die westekant.  Nog nooit het  die oorgang van seisoene intenser en meer dramaties beleef nie.

Temperature is in die drie maande ervaar wat wissel van amper 0 in Julie tot 40 grade in September. Nogal ‘n kontras.  Die bloedmaan en maansverduistering was baie spesiaal en die eerste storm van die somer nogal erg.  Die swembadseil was in ‘n ommesientjie onder ‘n dik laag hael begrawe. Later het “ons suster” ‘n welkome besoek gebring – ‘n sagte, deurdringende 20 mm.

As ek die vakansie moet naam gee, sal dit egter die kameelperdvakansie wees. Sowat van kameelperdbesoeke het ons nog nooit beleef nie. Die eerste groen blare het die langnekke bly lok – tot sewe  op ‘n slag, teenaan die lapa.

“Ons suster” besoek Sabiepark .

Die naguiltjies het ook, soos nooit tevore nie. die nagte omgesing.  Nagapies het baie plesier verskaf – tot op ‘n dag.  Voëls was soms baie aktief. Veral die gekroonde neushorings. Olifante het, soos altyd, by die piekniekplek geskitter.

Ergernisse was daar ook, soos ‘n yslike gesukkel om opgradering van die sonkragstelsel en totale herbedrading van die huis te voltooi.  Die hele September is omtrent deur die sloerende werk ingesluk.  Ek glo darem dat die eindresultaat – soos die nuwe bobbejaanwering by deure en vensters  – aansienlike waarde sal toevoeg. Ironies genoeg was die bobbejane veel minder van ‘n ergernis as in die verlede moet kry.  Die swembad lyk weer nuut en spiekeries danksy ‘n nuwe laag verf. Dit spog met ‘n nuwe bruin seil

‘n Diere-ergernis was ‘n likkewaan in en op die dak wat hom nie laat vang nie.  Ek ys as hy soos sy voorouer toegang tot die huis moet kry.

Sabiepark betree al hoe meer die tegnologiese era, met onder meer gesigsherkenning by die hek en die piekniekplek.  Goed en wel, maar ek mis die outydse warmte en hartlikheid van persoonlike kommunikasie.

Waar persoonlike kontak voortgaan, is die hoflikheid, hulpvaardigheid en toewyding van Sabiepark se mense werklik iets om oor huis toe te skryf.  Die merkwaardige herrysenis van die deurgeroeste Manie-braaier is een voorbeeld.

Die Skukuzakonneksie het ongelukkig verder verflou.  Die vriende daar word vinnig minder. Daarmee verdwyn geleenthede soos pieknieks en kerkbyeenkomste op die Granokoppie.  Ons mis werklik die ou band met die Skukuzakerk. Ons mis ook Sabieparkvriende wat weens die dood of ander faktore net skielik weggeraak het, en die tempo versnel.

‘n Kwelling bly hoeveel minder wild ons sien as in die begindae.  ‘n Mens besef die huise word meer en groter en die weiding word minder, maar die ou balans wat nagestreef is tussen wildbestuur en eienaars se verwagtinge word myns insiens te kwaai versteur.

Tokkie se gereelde oggend-staptogte – op met Apiesdoring, dan in Maroela verby die kantoor en huiswaarts met Wildevy – het vele dae absoluut niks opgelewer nie, buiten die boskasies wat haar so irriteer.

Ons twee stem saam:  radikale ontbossing is ‘n beter formule as radikale uitdunning van wild – iets waaraan die hiënas natuurlik fluks meedoen sonder dit hul status van spesiale inwoners van Sabiepark nadelig raak.