‘n Viering vandeesweek by die Woordfees wat ek ongraag misloop, is die uitgewery Naledi se 20ste verjaardag. Met Naledi is my bande van so ‘n aard dat ek werklik wens my omstandighede was anders. Naledi is naamlik die uitgewer van vyf van my laaste sewe boeke in die afgelope agt jaar: naas die jongste, Wag-‘n-bietjie , ook Laatoes – kykweer van ’n kanniedood-koerantman in 2017, Na verre hawens in 2019, Koerantkamerade in 2021 en Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord in 2023 (foto).
Aan hoofman Johan Coetzee en al sy kollegas met wie ek in die publikasie van die vyf boeke kon saamwerk, my dank vir ’n verrykende ervaring. Veral aan Eugenie Wiggins (boekredakteur) en Karen Cronje (ontwerper) ’n spesiale buiging vir hul bydrae tot produkte wat danksy hul kundige insette in die proses steeds beter en beter as die oorspronklike geword het.Ek klink graag – en met die grootstste respekte vir die plek en aansien wat hy in 20 jaar in die SA boekebedryf verwerf het – op Naledi en sy mense ’n feesglasie. Ek doen dit met ‘n Beeld-glasie nie om dowe neute nie, maar ter ere van Naledi en Barnard Beukman se welslae met die Beeldboek: Die (vreemde) einde van ‘n koerant.