In my vorige blog en ander plasings verwys ek na Naledi se 20ste verjaardagviering as ‘n okkasie. Dadelik word ek uit die Suid-Kaap gekapittel dat ek kwansuis ‘n Anglisisme inspan terwyl die Afrikaanse woord geleentheid homself aanbied.
Nou kyk, ek is in die algemeen geduldig met katkiseerders – maar nie oor my taal nie. Daaroor is my vel dun. Ek wys toe dadelik, die beterweter op die woord se Latynse oorsprong: occassio. Ek meld ook dat ek dit gebruik as rymwoord: ek lig ‘n glasie op die okkasie. Verder haal ek Breyten Breytenbach aan uit die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal: “Die troue van die burgemeester was ‘n hele okkasie. Daar staan ek …. / angelier in die baadjie / nuwe Italiaanse skoene vir die okkasie.” Maar die kêrel hou voet by stuk.
My knap kollega wyle Ollie Olwagen had ook op sy dag ‘n stryd met ‘n briefskrywer wat oral anglisismes in sy suiwer Afrikaanse taalgebruik in blokraaie bespeur het. Hy skryf toe vir Die Burger ‘n brief oor die onderwerp waaruit ek graag ruim wil aanhaal.
Ollie skryf: Baie mense besef nie dat talle Afrikaanse woorde wat hulle as “Engels” beskou eintlik internasionale leenwoorde is wat Engels en ander tale uit bv. Frans gekry het nie. Die stemme gaan gedurig op oor die hordes “Anglisismes” wat ons taal sou binnedring, terwyl die ware Anglisismes, bv. idiome soos perd van ‘n ander kleur, ons taal heimlik binnegesluip en reeds feitlik oorgeneem het.
Van die woorde wat die beswaarde briefskrywer so hinder, is miskien nie Germaanse erfenisse nie, maar Romaanse of Latynse, wat nogtans nuttige sinonieme bied wat die taal verryk. Ek sal miskien vyf keer geestesvervoering in ‘n geskrif gebruik, maar dan bly wees vir ‘n sinoniem soos eksaltasie waarmee ek die styl kan opkikker en die geskrif minder eentonig kan maak. Eksaltasie kry ons, net soos die Engelse hul exaltation, immers uit Latyn, ex sulto, wat opspring beteken. Dit is dus geen “Engelse woord” nie.
Of daardie sosys (gekruide worsie), wat eenmaal miskien veel bekender was as tans, maar nietemin. Dit kom nie van die Engelse sausage af nie, maar van Frans saucisse, uit Latyn solsicium.
Of renegaat, wat ‘n goeie, mooi sinoniem vir verraaier is. Ook dié woord asook die Engelse renegade kom van Latyn, renegare, wat ontken beteken.
Hoef ‘n mens voort te gaan? Daar is vandag heeltemal te veel “kenners” wat nie die nodige kennis het om grondige uitsprake oor taalsake te maak nie, maar die forum gegun word om hul menings as “beoordelaars” te verkondig. Die probleem is dat hul uitsprake deur ander onkundiges geglo word en onkunde oor die “Anglisisme” al hoe breër uitkring. Daarmee word Afrikaans die reg ontsê om, soos ander Europese tale, met ‘n sinoniemryke woordeskat te spog.
Want alles wat “Engels klink” se herkoms lê doodeenvoudig nie in Engeland nie. Dankie, Ollie. Ek sekondeer. Mag sulke verbete Anglismejagters krampe op onnoembare plekke kry elke keer as hulle so mistas.