TARZAN EN JANE

Soos Facebook se algoritmes nou maar werk, word by jou ‘n belangstelling bespeur en dan word jy toegegooi met verbandhoudende materiaal. ‘n Navraag oor ou flieks het ‘n vloegolf foto’s van aktrises op my losgelaat: Marilyn Monroe, Brigitte Bardot, Gina Lollobrigida, Sophia Loren, Elizabeth Taylor, Claudia Cardinale … Ek kla nie. Dis almal mooie meisiekinders gewees in my jeug. Welbehaaglik om hulle weer so in hul fleur te sien en so ses dekades gelede teruggevat te word toe ons almal nog jonk was.
Tussen die nooiens maak ‘n foto van ‘n bekende toentertydse paartjie ook op die onthoupad sy opwagting: Johnny Weissmuller en Maureen O’Sullivan as Tarzan en Jane in “Tarzan Escapes”. (1936). “Me Tarzan, you Jane.”Onthou julle die bekendstelling, diegene wat oud genoeg is?
Tarzan: watter opwindende herinneringe skep die beroemde oerwoudman in sy lendekleed nie by my nie? Nie net was verskeie van die eerste flieks wat ek in Kimberley se ou Plazateater in Transvaalweg gesien het, Tarzans nie, maar ook een van my eerste boeke was oor hom: Edgar Rice Burroughs se ”Tarzan, die aapman”. Dit was my beloning vir vlytigheid in een van die laer standerds aan Diamantveld in Kimberley. Nou’s dit skoonveld. Tokkie beweer dit het nie 59 jaar gelede saam met my in die huwelik gekom nie. Sluk maar moeilik daaraan.
Burroughs, ‘n Amerikaner, het sy eerste Tarzanboek half tong in die kies geskryf. Toe word sy karakter oornag ‘n fiksie-ikoon – een van die suksesvolste tot vandag. Uiteindelik het sy avonture 24 boeke in beslag geneem en in ‘n rits rolprente sy spiere gebult. Hy het ook ‘n strokiesheld geword in ‘n reeks wat wêreldwyd in koerante verskyn het. Die Tarzan-handelsmerk het talle produkte versier. Burroughs se “ranch” in Kalifornië is nou die buurt Tarzana in Los Angeles. So kan ‘n mens aangaan.
Burroughs het sy held as peuter-skipbreukeling aan die Afrikakus laat beland. Toe hy 18 was, ontmoet hy die Amerikaanse meisie Jane Porter wat saam met haar verdwaalde pa en ander in dieselfde stuk ongerepte oerwoud as Tarzan se ouers rondswerf. Die liefde vlam op daar in die wildernis. Toe sy terugkeer na die VSA verlaat hy (tydelik) sy tuiste om haar – sy enigste liefde – te gaan soek. Saam beleef hulle die wonderlikste avonture.
Met sy boeke en wat daaruit gespruit het, het Burroughs vir hom ewige roem en ook eretitels soos “die mensdom se invloedrykste skrywer” verwerf.
Ongetwyfeld die bekendste Tarzan was Johnny Weissmuller, ‘n Hongaars-gebore Duitser wat ‘n briljante swimmer en waterpolospeler was en met vyf Olimpiese medaljes, waaronder goues, in die swembad kon spog. Na sy uittrede as swemmer was hy tussen 1932 en 1948 in 12 Tarzanrolprente die man agter die beroemde lang Tarzankreet wat in al die Tarzanflieks voorkom.
Die sexy Maureen O’Sullivan was ‘n Iers-Amerikaanse aktrise wat ses keer teenoor Weismuller die rol van Jane vertolk het.

FUNICULI, FUNICULAAA!

Jamme, jamme ‘ncoppa, jamme jà /Jamme, jamme ‘ncoppa, jamme jà/ funiculì, funiculà! funiculi funiculà!/ ‘ncoppa, jamme jà /funiculì, funiculà!

So sing Mario Lanza gisteraand in U Eie Keuse op die radio.  Soos altyd wonder ek oor die herkoms en betekenis van die ou Napolitaanse gunsteling.  Hierdie keer gaan soek ek op Google. Waarlik ‘n lied met ‘n “pedigree”, ontdek ek toe.

Funiculì, Funiculà is in 1880 deur ene Luigi Denza gekomponeer. Die guitige lirieke in ‘n Italiaanse dialek is geskep deur ‘n joernalis, Peppino Turco. Die lied gedenk die opening van die eerste kabelspoor  (funiculare) op die berg Vesuvius in Italië.

Die Duitse komponis Richard Strauss is op ‘n Italiaanse reis ses jare na die ontstaan deur die lied bekoor Hy dag dis ‘n tradisionele Napolitaanse liedjie en sluit dit in by ‘n eie komposisie, Aus Italien. Denza het dit te hore gekom en Strauss oor skending van sy kopiereg gedagvaar. Strauss het die saak verloor en was verplig om Denza ‘n fris tantieme te betaal.

Van die top-sangers wat die lied deur die jare opgeneem het, sluit in Joseph Schmidt, Erna Sack, Beniamino Gigli, Luciano Pavarotti, Andrea Bocelli, Connie Francis en die groep The Chipmunks. Nogal ‘n indrukwekkend lys.

Ander Napolitaanse gunstelinge is klasieke treffers soos O Sole Mio, Santa Lucia en  Torna a Surriento wat veral deur Dean Martin bekend gemaak is.  O Sole Mio het ‘n Elvis Presley-weergawe: It’s now or never. Die verwantskap  het ek nie besef voordat ek vandag op Google daarvan gelees het nie. Maar natuurlik … neurie dit net.

 

 

 

 

TUSSEN DIE BLOEKOMS BY VAN SCHOORSDRIFT

Lankal het die nuuskierigheid my beet oor wat op jou wag as jy die Van Schoorsdrift-omrit van die N7 neem – daar by die brugbouery in die omgewing van Potsdam en Vissershok en net enkele kilometer van die Melkbosstrand-afrit. Vanmiddag het ek gaan verken.
Die omvang van die padbouery tref die oningewyde onverwags. Op die nuwe pad van vyf kilometer wat die ou Vissershokpad nuwe lewe gaan gee, verrys vyf massiewe brûe, een oor die N7 en oor Dieprivier. Uiteindelik gaan die Vissershokpad aansluit by ‘n nuwe pad wat nog gebou moet word met die fensie naam Berkshire Boulevard. Dit gaan geskied op ‘n punt net wes van die Malanshoogtepad / Contermanskloofpad om die Weskus en Durbanville te verbind. Die spulletjie gaan ‘n mooie R780 miljoen kos.
Die mense mik glo om die pad in die eerste kwartaal van 2027 oop te stel. Vir hierdie leek lyk die projeksie optimisties. Die werk aan die brûe is ver gevorder, maar die aarde daaromheen lyk of ‘n ruimteskip van ‘n ander planeet af daar neergeploeg het. My keel sou toegetrek het as ek die voorman was en orde uit die chaos moes skep.

Eindelik het my verkenningsrit nêrens heen gelei nie; het liewer omgedraai toe dit te leeg en woes om my begin lyk. Maar dan weet ek darem ook nou ‘n paar dinge wat ek nie voorheen geweet het nie, soos waar die ingange van die groot volstruisplaas en van die Morningside-lughawe is.

Die bloekomboomlaning op die pad steek die een naby Melkbos op die verbindingspad met die N7 maklik die loef af. Trouens, soveel bloekombome op ‘n kol tref ‘n mens seker nêrens elders in die Kaap aan nie.

Verskuil tussen die bloekoms ontdek ek toe die yslike Zone 7-motorfietsrenbaan. Nooit besef hoeveel mense sak op ‘n Sondagmiddag met hul tweewiel-gevaartes op so ‘n baan toe nie. Lyk na ‘n gekuier van die eerste water (met ietsie sterker by vir die ergste dors).

 

MYNVELD VAN WETTE VIR ARME REDAKTEURS

Arme redakteurs en ander bekleders van warm stoele in die media word van vele onheilighede verdink.  Een is dat hulle daar in hul verhewe ivoortorings sit en hulleself telkens aanmatig om beslissings te vel oor watter wetsoortreders se name geplaas moet word en watter nie.

Hou die redakteur van iemand, beskerm hy hom / haar en verswyg die naam geredelik.  Kan hy iemand nie verdra nie, boeta, dan is die naam voorbladnuus. By ‘n plasing van my oor die moord op die Overbergse skoolmeisie Deveney Nel en die naamloosheid van haar moordenaar weens sy jeugdigheid  dui verskeie kommentare op die bestaan van hierdie wanpersepsie.

Synde iemand wat al in die vorige eeu sy kantoordeur finaal agter hom toegetrek het, sal die uwe hom nie uitgee as kenner van die heersende mediareg nie.  Hy weet darem dat hedendaagse kollegas o.m. met wette soos die Strafproseswet, die Kinderwet en die Skeiwet rekening moet hou. Allerlei moets en moenies bestaan ook rakende plegers en slagoffers van seksuele misdrywe.

Uit eie ervaring kan hy met die kollegas simpatie betuig. Mense wat my ken, weet ek is nie onder die voorstes wat gister se dinge eenvoudig voor die voet afkraak nie. Maar dat daar hope wetsvoorskrifte – en ook allerlei koddighede – was, daarvan kan ek nie wegskram nie.

Vat nou maar die slagysters wat die uitgebreide arsenaal veiligheidswette van destyds vir koerante gestel het – van die Wet op Amptelike Geheime tot die Verdedigingswet. Dit was ‘n klas mynveld waarin ‘n koerant volgens bestaande veiligheidswetgewing byvoorbeeld ‘n foto van Oliver Tambo kon publiseer (omdat hy nie in die tronk was nie), maar hom nie kon aanhaal nie (omdat hy gelys was), terwyl hy van Nelson Mandela nie ‘n foto kon publiseer nie (omdat hy in die tronk was), maar hom kon aanhaal (omdat hy nie gelys was nie). Sulke kompleksiteite het die arme joernalis se verstand laat duisel!

Dave Dalling, Prog-LV vir Sandton, het in ‘n stadium in die Volksraad beweer dat daar agt redakteurs met vonnisse of aanklagte teen hulle is (HvD was een). “Die moeras van wetgewing wat die publikasie van koerante aan bande lê , maak misdadigers van Suid-Afrika se redakteurs!” het hy uitgeroep. Daardie telling kon maklik hoër gewees het. Trouens, dat nie meer en erger “misdrywe” gereeld deur verwarde redakteurs gepleeg is nie, is nogal ‘n wonder.

‘n Geval wat ek in my boek Wag-‘n-bietjie  (Naledi, 2025) noem raak die Boererebel Jopie Fourie en my kollega Ton Vosloo (foto’s).

Op die voorblad van Albert Blake se biografie oor Fourie pryk ‘n mooi foto van hom. Ek wonder of Blake weet van die tyd toe dit onwettig sou wees en vir hom ‘n boete op die hals kon haal, soos Ton aan sy bas moes voel. .

Rondom 1980 is hy in die Johannesburgse landdroshof met R1 000 beboet omdat Beeld in die bylae BY ‘n foto geplaas het van Fourie wat in 1914 tereggestel is deur Louis Botha se regering. Die foto is sonder Vosloo se medewete geplaas. Hy is egter as redakteur van Beeld gedagvaar – dalk was Jimmy Kruger nog minister van justisie wat sy mes ingehad het teen koerante !

Ton het nie R1000 kontant by hom gehad nie en kredietkaarte was nie aanvaarbaar nie. Hy is selle toe geneem en  vingerafdrukke is geneem, maar hy kon darem Beeld se bestuurder, Eric Wiese bel wat duisend rand dringend van Doornfontein stad toe oorgestuur het om hom by die selle af te los.

Die boete van R1000 was die drumpel – indien dit meer was, sou my kollega ‘n permanente misdaadrekord gehad het wat hom dalk in sy latere loopbaan as direkteur van maatskappye kon benadeel het!

Ekself moes in 1983 – 17 jaar ná die moord op dr. HF Verwoerd – by Die Volksblad ‘n boete van R100 opdok oor ‘n foto wat die nimlike By, ook sonder my medewete, van Dmetrio Tsafendas, sy moordenaar, geplaas het.  Dit mag nie gebeur het nie, omdat hy in die tronk was, en ek is beboet, al het ek geen regstreekse rol in die oortreding gespeel nie.

Gelukkig het tye darem in die opsig verander. Blake hoef nie ‘n boete – of, erger, die tronk – te vrees nie!

OM ‘n NAAM TE NOEM OF NIE

In Die Burger, op Netwerk24 en ander media in die formele sektor lees ons ‘n naamlose 18-jarige is 25 jaar tronk toe gestuur vir die moord op die skoolmeisie Deveney Nel (16) in die Overberg.
Sy naamloosheid is te wyte aan die feit dat hy minderjarig was toe hy haar vermoor het en ingevolge die Kinderwet as minderjarige vervolg is.
Op sosiale media word sy naam egter links en regs genoem. Selfs ‘n foto word gepubliseer. Die meeste mense steur hulle nie op Facebook of Instagram aan die Kinderwet nie. Voorspelbaar gaan geeneen ook oor oortreding vervolg word nie, want wie gaan die skuldiges opspoor? Waar begin jy toeslaan?
Toenemend kom dit voor dat formele media se monde deur wetgewing gesnoer word terwyl gebruikers van sosiale media straffeloos hul eie kop volg. Toe die vermoorde ds. Liezel de Jager se man, Werner, byvoorbeeld destyds as verdagte in hegtenis geneem is, het die hele land dit geraai of danksy die sosiale media vinnig geweet. In die formele media is sy naam meesal verleë verswyg. Hy was net “’n man”.
‘n Interessante uitsondering was die Sondagblad Rapport wat toe nog in koerantformaat verskyn het. Hy het pront die verdagte se identiteit openbaar. Wat my betref, was Rapport se waagstuk geregverdig. Tegnies het die koerant wel die wet oortree, maar dit was groot nuus wat elders sonder voorbehoud uitgeblaker is. En per slot van sake: Watter skade het hy daardeur aangerig?
Voorts het die koerant ‘n belangrike punt bewys: Dat jy nie in ‘n saak met soveel nuuswaarde ‘n stel wette kan hê wat net vir een seksie van die media geld en ‘n ander stel – of geen wette – vir ‘n ander seksie nie. Dit het Rapport gedoen sonder om selfs net ‘n skrobbering van ‘n vies landdros uit te lok.
Klaarblyklik het in die mediareg ‘n kopkrap-situasie ontstaan wat veral waar die Kinderwet ter sprake is, lastige dorings het. Dat wetgewers en wetstoepassers hier met ‘n neteligheid te doen kry waarvoor hulle nie maar net anderpad kan kyk nie, is egter gewis. Anders kom chaos.