Arme redakteurs en ander bekleders van warm stoele in die media word van vele onheilighede verdink. Een is dat hulle daar in hul verhewe ivoortorings sit en hulleself telkens aanmatig om beslissings te vel oor watter wetsoortreders se name geplaas moet word en watter nie.
Hou die redakteur van iemand, beskerm hy hom / haar en verswyg die naam geredelik. Kan hy iemand nie verdra nie, boeta, dan is die naam voorbladnuus. By ‘n plasing van my oor die moord op die Overbergse skoolmeisie Deveney Nel en die naamloosheid van haar moordenaar weens sy jeugdigheid dui verskeie kommentare op die bestaan van hierdie wanpersepsie.
Synde iemand wat al in die vorige eeu sy kantoordeur finaal agter hom toegetrek het, sal die uwe hom nie uitgee as kenner van die heersende mediareg nie. Hy weet darem dat hedendaagse kollegas o.m. met wette soos die Strafproseswet, die Kinderwet en die Skeiwet rekening moet hou. Allerlei moets en moenies bestaan ook rakende plegers en slagoffers van seksuele misdrywe.
Uit eie ervaring kan hy met die kollegas simpatie betuig. Mense wat my ken, weet ek is nie onder die voorstes wat gister se dinge eenvoudig voor die voet afkraak nie. Maar dat daar hope wetsvoorskrifte – en ook allerlei koddighede – was, daarvan kan ek nie wegskram nie.
Vat nou maar die slagysters wat die uitgebreide arsenaal veiligheidswette van destyds vir koerante gestel het – van die Wet op Amptelike Geheime tot die Verdedigingswet. Dit was ‘n klas mynveld waarin ‘n koerant volgens bestaande veiligheidswetgewing byvoorbeeld ‘n foto van Oliver Tambo kon publiseer (omdat hy nie in die tronk was nie), maar hom nie kon aanhaal nie (omdat hy gelys was), terwyl hy van Nelson Mandela nie ‘n foto kon publiseer nie (omdat hy in die tronk was), maar hom kon aanhaal (omdat hy nie gelys was nie). Sulke kompleksiteite het die arme joernalis se verstand laat duisel!
Dave Dalling, Prog-LV vir Sandton, het in ‘n stadium in die Volksraad beweer dat daar agt redakteurs met vonnisse of aanklagte teen hulle is (HvD was een). “Die moeras van wetgewing wat die publikasie van koerante aan bande lê , maak misdadigers van Suid-Afrika se redakteurs!” het hy uitgeroep. Daardie telling kon maklik hoër gewees het. Trouens, dat nie meer en erger “misdrywe” gereeld deur verwarde redakteurs gepleeg is nie, is nogal ‘n wonder.
‘n Geval wat ek in my boek Wag-‘n-bietjie (Naledi, 2025) noem raak die Boererebel Jopie Fourie en my kollega Ton Vosloo (foto’s).
Op die voorblad van Albert Blake se biografie oor Fourie pryk ‘n mooi foto van hom. Ek wonder of Blake weet van die tyd toe dit onwettig sou wees en vir hom ‘n boete op die hals kon haal, soos Ton aan sy bas moes voel. .
Rondom 1980 is hy in die Johannesburgse landdroshof met R1 000 beboet omdat Beeld in die bylae BY ‘n foto geplaas het van Fourie wat in 1914 tereggestel is deur Louis Botha se regering. Die foto is sonder Vosloo se medewete geplaas. Hy is egter as redakteur van Beeld gedagvaar – dalk was Jimmy Kruger nog minister van justisie wat sy mes ingehad het teen koerante !
Ton het nie R1000 kontant by hom gehad nie en kredietkaarte was nie aanvaarbaar nie. Hy is selle toe geneem en vingerafdrukke is geneem, maar hy kon darem Beeld se bestuurder, Eric Wiese bel wat duisend rand dringend van Doornfontein stad toe oorgestuur het om hom by die selle af te los.
Die boete van R1000 was die drumpel – indien dit meer was, sou my kollega ‘n permanente misdaadrekord gehad het wat hom dalk in sy latere loopbaan as direkteur van maatskappye kon benadeel het!
Ekself moes in 1983 – 17 jaar ná die moord op dr. HF Verwoerd – by Die Volksblad ‘n boete van R100 opdok oor ‘n foto wat die nimlike By, ook sonder my medewete, van Dmetrio Tsafendas, sy moordenaar, geplaas het. Dit mag nie gebeur het nie, omdat hy in die tronk was, en ek is beboet, al het ek geen regstreekse rol in die oortreding gespeel nie.
Gelukkig het tye darem in die opsig verander. Blake hoef nie ‘n boete – of, erger, die tronk – te vrees nie!