Nov 16, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Geen Sherlock Holmes of Bennie Griessel word geverg om uit die leidrade op die foto’s af te lei dat die Van Deventers van Melkbos op ‘n uitstappie buite hul gewone milieu was nie. Vir die kortste pad na die antwoord op die vraag “waar” kyk stip na Tokkie se stoel. Dis in die vorm van ‘n eier ja, maar nie sommer ‘n gewone eier nie. Dis klaarblyklik ‘n volstruiseier.
Natuurlik dus Oudtshoorn. Die stoel is in die deftige nuwe inkoopsentrum Klein Karoo Markt neffens die Volstruis-Emporium. Sy Checkers is die mooiste winkel waarin ek nog my voete gesit het. Eerlik.

Dan is daar die foto van die uwe in ‘n ongewoon landelike toneel: die nadere kennismaking met kleinseun Migael van Deventer se kuddetjie Landrani meatmasters op seun Johan en skoondogter Mariza se plek aan die Grobbelaarrivier met die ietwat ambisieuse naam van “Ons Plasie” . (Maar daar is darem ook ganse en hoenders, granaat- en olyfbome en hawerkampe wat groen begin uitslaan.) Die vreemde wese met sy grys kapsel en kierie het duidelik die mooi skapies se belangstelling geprikkel.
Die flenterband op die derde foto is nie regtig Oudtshoorn-verwant nie, buiten dat die volstruisdorp se Tyremart en GH Towing saam met Johan – en ook die AA – in meerdere en mindere mate geskitter het om die noodsituasie vinnig te beredder nadat ‘n agterband naby Caltzdorp gebars het. Genoemde band het heelwat vinniger gedisintegreer het as wat ‘n sogenaamde “Run flat” volgens die bemarkers behoort te doen.
Ons is terug op Melkbos met herinneringe aan onder meer heerlike gebraaide galjoen, meatmaster-tjops (darem nie een van Migael se skapies nie), ribbetjie en filet op die Van Deventers se idilliese stoep. In my gedagtes is egter ook steeds die beeld van die mank X1 verlate op die gruisstrook langs die R62 en omflank deur Karoobossies .

Niemand sal my na dese ootuig dat dit ‘n briljante ingewing was om motors sonder noodwiele te vervaardig nie.
Naskrif: Nog ‘n herinnering is die duurste stukkie hake wat ek nog in enige restaurant voorgesit is – en ongelukkig nie die grootste, geurigste of lekkerste nie. Ek verswyg maar genadiglik daardie restaurant se naam, maar Oudtshoorn-inwoners sal seker kan raai. Gelukkig was die
geselskap aan die tafel in die prima-klas. Studentemaat Pierre le Roux en Esther het van Mosselbaai oorgery.

MARIZA berig oor die kuier soos volg:
Oupa Hennie en Ouma Tokkie het die week vir Migael kom kuier. Wat ń fees! Hulle het van Migael se verjaardagkoek (plegtig gevries sedert 31 Augustus) saam met hom geniet, die nuwe Klein Karoo Markt besoek en ons Landrani Meatmaster skape ontmoet. Ma Tokkie het vir ons 6 gaanse verduidelik wie’s baas, en Tokkie (ons haan en Ma se naamgenoot) het sonder ophou gekraai

Tjoppie mis Ma Tokkie gladnie…sy het saans blatant op SY plek gesit


Nov 11, 2025 | Boeke, Vars Blog
Die pasiënt lyk vaag bekend toe hulle hom, taamlik verwese en met ‘n stapel papiere vasgeklem in sy be-aarde hand, in ‘n rolstoel by die hospitaal se afdeling patologie instoot.
Ek knoop ‘n geselsie aan en hy bevestig my vermoede: Hy is “Die Afrikaner”.
Sy tong hang behoorlik uit, deel hy my mee. Elke spesialis van elke dissipline was die laaste ruk oor hom (soos ‘n vorige generasie mos gepraat het). Brein, hart, longe, niere, dikderm, spiermassa – niks ontsnap die intense aandag van die deskundiges nie
Hy was al in die teater vir ‘n reeks biopsies, by die X-strale, by elke denkbare skandeermasjien – selfs by die gastroloog en dieetkundige. Nou is hy met die spul papiere hierheen gestuur. Kyk, oral is net regmerkies. Daar is geen bloedafwyking aan die wetenskap bekend nie of hy moet daarvoor getoets word.
Dat iets met hom skort – dit het hy nou al uit vele monde met groot erns verneem. Maar wat presies? Elke dokter het sy of haar eie teorie en verkondig dit met breedsprakerige vertroue as die volle waarheid en niks anders as die waarheid nie. Soveel ghoeroes, soveel diagnoses. Ai tog.
Op daardie oomblik verskyn ‘n suster met ‘n spuitnaald en wink dat hy nader gebring word met die oog op die verdere ontledings wat wag. Arme ou. Ek voel die deernis in my opwel toe hy kopskuddend agter die gordyn verdwyn.
Om darem dag vir dag so van kop tot tone onder die vergrootglas te kom, moet die liggaam en die gees uitermate vermoei. Om uit soveel oorde soveel oordele te moet verneem oor wat alles aan jou onwel is, moet elke sterfling diep beproef.
Raai, vir my lyk hy toe nie eens so verskriklik siek soos hulle maak nie. Duidelik ge-stres is hy oor al die “uitdagings” (moderne kodewoord vir hengse probleme) op sy pad), maar darem nie so vol bose kwale dat dit hom so ‘n uniek jammerlike wese maak, soos sommige verkondig nie.
Dis nou maar my beskeie straaltjie. Maar nou-ja, laat ek bieg dat ek geen ekspert van enige aard is nie, en dat die kort geselsie daar in die wagkamer boonop by my nogal ‘n affiniteit vir die ou bokker gekweek het. Ek is dus nie onbevooroordeeld nie.
Sterkte, mnr. Afrikaner, vir die spul bloedtoetse. Hoop hulle kry genoeg are om bloed uit te tap. Maar moet nou darem ook nie te veel “worry” oor die uitslae nie, wat.
Nov 6, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Dalk die hartseerste van vele verwante hartseerstories. Dit was die dood vroeg in Januarie 1982 van die identiese Kruger–tweeling van Universitas, Bloemfontein, Ockert en Pieter (19), wat saam in ‘n operasie in die Grensoorlog in Angola gesneuwel het.
Ockert is op slag dood. Pieter het hom in die vliegtuig doodgebloei. Die twee, die laatlammetjies van hul ouers, was die vorige jaar in matriek aan die Greykollege. Op die Netwerk24-foto is hulle in hul skoolkleurbaadjies.
Ná die tragedie is militere beleid verander sodat tweelinge nie daarna weer in een voertuig ontplooi is nie.
Hul ouer suster Piekie Halgryn het gister in ‘n roerende plegtigheid by die gedenkmuur by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein ‘n krans vir haar boeties gelê, lees ek op die Volksblad-landingsblad van Netwerk24 in ‘n berig deur Charles Smith.
Ek was in die 80’s by Die Volksblad. Charles se berig wek herinneringe aan die talle berigte oor slagoffers van die bosloorlog destyds in die koerant – altyd op die voorblad, dikwels hoofberig, meesal op die plakkaat. Die Kruger-ongeval het geweldige skokgolwe deur die gemeenskap gestuur, onthou ek.
‘n Probleem wat ons by die koerant nogal meermale gehad het, was dat die dood van ‘n slagoffer via hul naastes al in die gemeenskap bekend was, maar nog nie deur die weermag aangekondig is nie omdat alle prosedures nog nie afgehandel was nie. Ingevolge veiligheidswetgewing was ons hande gebind; ons moes wag vir die aankondiging voordat ons kon publiseer. Van ons lesers kon nie verstaan hoekom die koerant in hul oë sy voete so sleep nie. Die beperkende wetgewing was vir ons ‘n irritasie, om dit sag te stel.
Die dood van die Krugerseuns vind ook by my weerklank as oupa van ‘n tweeling (nou 21). Ek weet goed dat my lewe nooit weer dieselfde sou wees as hulle op brose ouderdom 19 uit my lewe weggeruk sou word nie. Sou ek ooit ophou huil het?
Oct 31, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die interessante voorgeskiedenis van die trefferliedjie “Ek verlang na jou” is gister op Facebook ontrafel n.a.v. ‘n plasing deur my oor ‘n onderhoud wat ek in die 70’s met die bekoorlike sangeres Sonja Herholdt gevoer het.
Daarin het ek vertel hoe Sonja die lied by studente op ‘n KJV-kamp gehoor het, dit vir haar geliefde, FC Hamman (haar latere eerste man), gesing het, en hulle twee dit toe in ‘n selfgeskepte ateljee in sy woonstel in Aucklandpark verwerk het. Later het sy daarmee haar eerste Sarie van ‘n handvol verwerf.
Die voorgeskiedenis van die lied wat sy by die studentegroepie gehoor het en wat dadelik op haar indruk gemaak het, is nie wyd bekend nie. Danksy veral die Facebook-bydraes deur die sanger Nelia Frans Briel, Carl Pistor en Johan Bezuidenhout kan ek nou die chronologiese verloop, redelik waarheidsgetrou dink ek, hier weergee. Hopelik bereik die inligting iemand by Wikipedia, waar ‘n bywerking klaarblyklik nodig is.
Om voor te begin: “Ek verlang na jou” is geskryf deur Jan de Wet, waarskynlik terwyl hy na sy meisie in Suidwes verlang het. Dit word opgeneem deur Nelia Frans Briel en Anita Briel, seun en dogter van die legendariese singende egpaar Frans en Sannie Briel, op die album “Hello-A” onder die name Boet en Sus. Luister:
https://www.youtube.com/watch?v=3XM_phVy3OA
Terwyl FC Hamman vroeg in die 70’s vir vyf of ses weke saam met Gordon Vorster in die Kalahari is om die rolprent “Sarah” te verfilm, hoor sy op ‘n KJV-kamp ‘n groepie studente “Ek verlang na jou” sing. Sy gaan sit toe en skryf vir FC ‘n minnebrief – niks anders nie as net die woorde van die liedjie. Toe FC terugkom, sing sy die liedjie vir hom. Hy dink dit is “baie mooi” en verwerk dit toe vir die rolprent in ‘n saamgeflansde ateljee in sy woonstel wat hy en Sonja met elerdosles uitgeplak het en met klanktoerustinq wat hulle op “vreeslike skuld”” gekoop het. In Januarie 1975 word “Sarah” uitgereik.
Sonja wat pas begin skoolhou het, laat haar teensinnig ompraat om op Potchefstrom in die voorprogram vir
Gwynneth Ashley Robin – wat later in ‘n vliegongeluk dood is – ‘n paar liedjies te sing. Een is “Ek verlang na jou”. Die gehoor is gaande.
Die volgende stap is om “Ek verlang na jou”” op plaat te sit. Toe sy en FC by die platemaatskappy kom, hoor hulle vir die eerste keer die liedjie is reeds drie jaar tevore deur Boet en Sus opgeneem. Hare klink darem toe darem heelwat anders – veral die koorgedeelte is geheel verander – en die maatskappy willig in. Dit word opgeneem op ‘n enkelsnitplaat (“seven single”) saam met “Waar gaan jy heen?”.
Die plaat verkoop soos soetkoek en die oorstelpte Sonja wen ‘n Sarie daarvoor in 1975. In 1976 verskyn dit op die vollengte-album ”Sonja”.Daarvan word 60 000 verkoop. Dit is dan die hele storie.
Naskrif: Ek beklemtoon graag dat Sonja nooit te kenne wou gee dat sy en FC Hamman die lied geskep het nie. Die feit dat dit tevore deur Boet en Sus opgeneem is, het sy uitdruklik in die onderhoud genoem.
Oct 30, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

So is die rubriek aangebied, met my en Sonja se foto’s; hare darem groter as myne.
Nou moet ek versigtig trap, ek weet, maar ek wil tog waag om dit op skrif te stel: dat Sonja Herholdt die borrelendste, opgewekste, sprankelendste en ongekunsteldste mens is met wie ek ooit ‘n onderhoud gevoer het.
Sonja word vandag in “Die Burger” se lekker rubriek ”50 Jaar gelede” vermeld vir die Sarie wat sy in 1975 – toe ‘n bloedjong Oos-Randse onderwyseres – met haar eerste treffer “Ek verlang na jou” verwerf het. Die weghol-sukses van die lied het die einde van haar onderwysloopbaan beteken, en sy het een van die voorste Afrikaanse sangers van ligte liedjies geword met ‘n loopbaan vol hoogtepunte. Dink maar aan “Jantjie”.
Ek het vir die “Beeld”-rubriek “Onder Vier Oë” met Sonja gaan gesels – vernaamlik oor haar sangloopbaan. Die gesprek het wye draaie geloop, tot by haar hare, haar klerekas, haar liefdeslewe, sommer baie ander dinge . Oor elke onderwerp het sy openhartig en entoesiastiers geborrel.

Kroeskop-krullebol: drie dae trane gestort hieroor.
Oor die hare het sy vertel hoe sy drie dae lank gehuil het nadat ‘n haarkapster dit tot ‘n krullebol-kroesies konfoes het. Lank was dit ‘n hele petalje (tot twee ure soms) om voor elke vertoning die hare reg te dokter sodat Sonja soos die ou Sonja lyk: die vars plaasmeisiebeeld waarop sy gesteld was.
Ook met haar klere was daar ‘n beeldprobleem. Ontwerpers wou haar na haar sin te sexy laat lyk. Sy het soberder, sagte vloeiende lyne verkies.
Met “Ek verlang na jou” het sy kennis gemaak by ‘n groepie studente wat dit op ‘n KJV-kamp gesing het. Dit het haar “nou eers vreeslik” laat verlang na haar studentekêrel (en eerste man), FC Hamman, op wie sy baie verlief was. Hy was toe in die Kalahari besig om aan die rolprent “Sarah” te werk,
Sy gaan sit toe en skryf vir FC ‘n briefie – niks anders nie as net die woorde van die liedjie: “Ek verlang na jou / Na die winde wat sy arms om my vou / So verlang ek as die son en die maan en die wind en die wolke oor my gaan / Verlang jy ook na my? / Daar waar jy nou in die verre lande bly / En verlang jy as die son en die maan en die wind en die wolke oor jou gaan?”
By sy terugkeer het sv die liedjie vir hom gesing. Hy het gedink dit is “baie mooi” en het dit toe vir “Sarah” verwerk. FC se woonstel in Aucklandpark het hulle “onwettig” in ‘n ateljeetjie omgeskep. Die hele plek het hulle met elerdosles uitgeplak. In een muur het hulle ‘n gat geslaan en’n venster ingesit, Daarna het hulle “op vreeslike skuld” hul eie klanktoerustinq gekoop en aan die werk gespring. En daar is die uiteindelike “Ek verlang na jou”, soos ons hom ken, eintlik gebore.

Sober, sag en vloeiend – dis sy, glo Sonja.
Die mense se reaksie op haar debuutlied was net ongelooflik. Van die plaat is 60 000 verkoop. Toe sy vir die Sarie benoem word, was dit vir haar ‘n yslike verrassing. “Ek het dan net begin sing.” Toe haar naam die aand uitgelees word, was sy so oorstelp dat sy in trane uitgevars het. Maar ‘n naam is gevestig wat 50 jaar later steeds wyd bekend is. Nou ook op my blog.
Oor baie ander dinge het ek en Sonja gesels. Uiteindelik in twee onderhoude oor twee dae. Dit was ’n uitvoerige rubriek. Net een ding wil ek egter nog graag noem: van die plesier wat sy geput het uit hope briefies van jong bewonderaars oor watter inspirasie sy vir hulle was. Die een briefie wat haar behoorlik laat borrel het, was van die premier, John Vorster, en sy vrou, Tini. Hulle het haar bedank dat sy vir hul kleindogter Martelize Kolver ‘n inspirasie was.
Martelize Kolver? Ja, die einste wat ons later oor die radio, die verhoog en die TV-skerm leer ken het as ‘n ster uit eie reg. Ek wonder of sy van oupa en ouma se briefie weet.