‘n KRITIEKE RELLETJIE OOR ‘n BUITELANDSE REIS

Suid-Afrika het voorheen ‘n kritieke relletjie beleef oor ‘n staatspresident  se goedkeuring of nie vir ‘n ministeriële reis. Die dramatis persona was PW Botha, Pik Botha en  FW de Klerk.

Draai die horlosie terug na 11 Augustus 1989.  Pres. Botha reik die dag  ‘n kriptiese verklaring uit wat lui: “Ek dra nie in terme van die reëls wat handel met buitelandse reise van ministers kennis van die deur dr. (Kenneth) Kaunda aangekondigde samesprekings op 28 Augustus nie.”

Daarmee word die voortslepende leierstryd tussen hom en FW de Klerk, nuwe hoofleier van die NP,  op die spits gedryf, want die reis ter sprake is een wat FW en Pik Botha,  minister van buitelandse sake, na Lusaka sou onderneem om met Kaunda gedagtes te wissel.

Konsternasie het geheers, want PW se verklaring was ‘n duidelike weerspreking van ‘n Pik-verklaring die vorige aand op SAUK-TV dat “ná raadpleging” besluit is dat hy en FW na Lusaka gaan reis.  Die klaarblyklike betekenis van eersgenoemde was dat PW die besoek nie goedkeur nie, en dat Pik dit boonop versin dat hy daarvoor toestemming gegee het.

FW het die konflik as ‘n “misverstand” bestempel en bygevoeg dat hy sonder welslae ‘n dringende vergadering met PW probeer reël het.  Pik het op sy beurt verklaar dat so ‘n reis “volgens sy insigte “ïn beginsel” deur PW goedgekeur was. PW het bly vasskop.

Wat sake vererger het was dat die botsing in die hitte van ‘n taai verkiesingstryd plaasgevind het, en natuurlik, tot diepe verleentheid vir die NP,  deur die opposisie uitgebuit is. Dr. Andries Treurnicht, KP-leier, het dit byvoorbeeld ‘n openbare “spektakel van onbeholpenheid” genoem en bygevoeg dat dit “n skokkende onthulling was van totale wanorde in die regering”. Kwaai woorde!

Ondanks alle pogings om die saak in der minne te skik, was die vertrouensbreuk tussen PW en sy kabinet onherstelbaar.  Die uiteinde was dat hy in bitterheid sou bedank terwyl hy tot op die einde volgehou het dat die kwessie  van vooraf goedkeuring van reise geen tegnikaliteit was nie, maar die “essensie van vertroue” tussen die Staatspresident en die ministers wat in sy kabinet dien.

  • Ek het in die boek “Leierstryd”deur my kollegas Ebbe Dommisse e n Alf Ries gaan blaai om my geheue te verfris.

BY DIE DOOD VAN ‘N BON VIVANT

Spanfoto by ‘n Nieman-piekniek. Dick Foxton kniel regs voor.

Vir Dick Foxton het ek seker in 30 jaar nie gesien nie – dalk langer. Die nuus van sy dood (op Netwerk24) het tog ‘n uitroep uitgelok, asof die periode wat ons paaie uiteengeloop het, veel korter was.

Enersyds was die verbasing groot oor die mededeling dat hy al jare die nimlike Thuli Madonsela se lewensmaat en verloofde was.  Andersyds was hy die soort mens wat jy nie lig vergeet nie: hartlik, joviaal, borrelend vrolik, lief vir kameraadskaplike kuiers. ‘n Bon vivant in die ware sin van die woord.

My ervaring van Dick, 82-jarige voorloper in die openbare skakelwese, spruit uit  ‘n deurlugtige koerante-aangeleentheid wat ongelukkig doodgeloop het: die jaarlikse Nieman-“piekniek” wat in die jare 70 en 80 ‘n feestelikheid soos min was.

Nieman slaan op die Nieman-genootskap aan die Harvard-universiteit in Amerika. Die piekniekgangers was oud-Niemangenote – joernaliste wat die voorreg gehad het om ‘n sabbatsjaar aan Harvard in Cambridge, Massachusetts te gaan deurbring. Ons was gaste van wyle Aubrey Sussens, baas van die skakelfirma Group Editors. Hy het jare vir die reis- en verblyfkoste van die vreemde byeenkomste gesorg. Sussens was die eerste Suid-Afrikaanse Nieman Fellow in 1961. Hy is in November 2002 ná ‘n lang siekte oorlede.

Dick Foxton

Sy status in Nieman-geledere was die van ‘n sort “Godfather”.  Sy woord was wet, en hy kon na ons pieknieks nooi wie hy wil, ook van buite die Niemanstal.  So het Dick Foxton op die toneel gekom; ook Otto Krause. Omdat Aubrey van hul geselskap gehou het, het hy hulle vir die kuiers met die status van ere-Niemans beklee.

Dick Foxton het op sy beurt graag Niemans na sy eie geleenthede in Johannesburg genooi. ‘n Wedersydse band was gesmee.

Met hoeveel plesier dink ek nie terug aan daardie tye nie. Ons eerste klompie Nieman Fellows uit Suid-Afrika was soos ‘n hegte klub. Al was ons politiek uiteenlopend, was ons sosiaal nogal geheg aan mekaar.

Elke jaar het ons reünies gehou (die sogenaamde “pieknieks”) op plekke soos Chobe in Botswana, die Swaziland Spa , die Wild Coast Casino en die Mmabatho Sun. Hoogtepunt was ‘n swartdas-dinee.

Onder die ouer garde van hierdie nie-amptelike Wie’s Wie van die media is koerantbaas Ton Vosloo en ‘n galery senior redakteurs soos Tertius Myburgh, Allister Sparks, Michael Green Salie de Swardt, Harald Pakendorf, Percy Qoboza, Andrew Drysdale, Aggrey Klaaste en Alf Ries.

Onder die latere generasie Niemans is Zwelakhe Sisulu, gewese direkteur-generaal van die SABC, Mathathta Tsedu, Barney Mthombothi, Tim du Plessis, Barbara Folscher, Moeletsi Mbeki, Thabo Mbeki se broer, en Johanna van Eeden.

Die Byl het ook al sterk in die bos gekap. Van die bekendes van daardie era wat nie meer met ons is nie, is buiten Sussens (en nou ook Foxton): Tertius Myburgh, Percy Qboza, Michael Green, Allister Sparks, Louis Louw, Salie de Swardt, Alf Ries, John Ryan, Andrew Drysdale, Stewart Carlyle, Ted Doman en Dennis Pather.

Sy jarelange verbintenis gee aan Suid-Afrika die onderskeiding dat hy naas die gasheerland verreweg die meeste Niemans opgelewer het. Ná Sussens volg die grootste denkbare verskeidenheid in die Suid-Afrikaanse joernalistiek: Afrikaners (hoewel later al hoe minder), Engelssprekendes, swartmense, bruinmense, Asiërs; mans en vroue; Nasionaliste en ANC’s — ‘n moderne Babel van botsende politieke oortuigings, verskillende waardestelsels en later al hoe driftiger meningsverskille.

In 2016 was Johanna van Eeden van Netwerk24 die laaste Suid-Afrikaner wat die kosbare voorreg gesmaak het voordat die historiese verbintenis deur ‘n misleide nuwe kurator afgekap is. Watter pynlike verlies.

My eie wonderlike Niemanjaar was 1977, amper 50 jaar gelede. Ek onthou dit soos gister.

 

HOEKOM DANIE MOES TROU EN SO

Terwyl Danie Krynauw se stories oor sy vlugtog met die polisie-vangwa, die motballe, NP van Wyk Louw en so aan klaarblyklik die naweek wyd plesier verskaf het, bied ek hiermee ‘n Danie Merk II aan.
Dit bevat o.m. ‘n storie of wat wat ek vir Saterdag se storie in BY gesensureer het. (Lees hier: https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/hennie-van-deventer-die-burgemeester-wat-glo-in-n-vangwa-gevlug-het-20250618)  ‘n Mens is mos maar bedag op politieke inkorrektheid en daardie klas ding.
Nietemin, Danie Merk II dan:
Die ou rakker het graag vertel van al die “spesiale meisies”, “verloofdes” en “eerste liefdes” wat hy kammakastig op sy kerfstok het. Soos ‘n wafferse Franse heer het hy vroue links en regs op die hande gesoen.
Dit moet seker maar van sy gade, Esbé, soms hare op die tande geverg het, maar sy het dit filosofies en met ’n gelate glimlag aanvaar. Meermale het sy haar platjieman pittig met ’n eie stukkie droë humor getroef. Dan het ek altyd stilletjies gedink: “Skote, Esbé!”
Danie sou byvoorbeeld ewe windmakerig verkondig: “Ons moes mos trou!” Hy het dan gemeld hul troue was op 9 Junie, maar hul seun, Danie, is op 8 Junie gebore. Esbé het rustig verduidelik: “Danie is wel op 8 Junie gebore, ja, maar eers op 8 Junie 1964 – agt jaar later.”
Verder: “Danita (die eerste) is eers op 26 Maart 1963 gebore, ná sewe jaar se huwelikslewe. ’n Krÿnauw laat hom nie aanja nie!” Dodelik!
Soos gemeld was die plaaslike Pick n Pay ‘n gunsteling-jagveld vir sy streke. ’n Keer was hy tussen die seeppoeiers. ’n Man, maklik 30 jaar jonger as hy, kom nader, en Danie begin brom. “Kan ek oom help?” wil die jonger man hulpvaardig weet. Danie: “Wonder waar steek hulle die Fokôl weg.” Slaggoffer: “ Fokôl, oom?” Danie: “Ja, man. Hulle sê vir my as Skip of Omo nie help nie, sal Fokôl help.”
Met die volgende storietjie het hy nogal hier en daar iemand gevang: die bure het ’n seuntjie van vyf. Hy speel met ander bure se dogtertjie wat ook vyf is, en vra haar vertroulik: “Het jy al seks gehad?” Sy: “Nee, nog net masels”!
Die volgende stukkie was in een van verskeie selfpublikasies, die bundeltjie Krynauw ’n knertsie:
“Christle Böhringer, ’n vriendin van Esbé, het baie babatjies in Distrik Ses gevang. Een aand laat moes sy weer ’n baba in ’n klein kamertjie gaan vang.
“’n Lamp het op die tafeltjie gebrand en ’n kers of twee was ook opgesteek. Christle het op ’n primusstofie water gekook. Uiteindelik het die kleintjie ’n eerste skree geskree.
“Nadat Christle die baba gereed gekry het, het sy die kind nader aan die lamp gebring. Dit lyk toe vir haar asof die baba rooi hare het. Sy gee die baba vir die enkelmoeder en vra: ‘Het die pa rooi hare?’
“‘Ek weet nie, nursie, want hy het ’n hoed opgehet!’”
(Sou Danie nou nie hierdie Krynauw-kronieke geniet het nie. Daardie spotprent van Dr. Jack – Saterdag in BY – sou sweerlik al die tyd in ‘n raam teen sy muur gewees het. Ek plaas dit graag hier, met die nodige erkenning.)

VIR OULAAS BY KLARADYN

Twintig jaar gelede moes swaer Fanie van Wyk en Maretha, twee groot geeste in die onderwys, weens gesondheidsredes van Harrismith Kaap toe verhuis.
In die tyd sien ek in die Eiendomsgids van Die Burger – toe ‘n knewel – ‘n advertensie vir die nog splinternuwe Klaradyn-oord in Brackenfell.
Hoe gelukkig het die twee Vrystaters nie kom wortel skiet daar in Limietberg, Klaradyn, nie; hulle onder meer uitgeleef in die vestiging van ‘n netjiese, verbeeldingryke tuintjie, enig in sy soort. Fanie kon ook na hartelus woeker met sy bonsais.
Nege jaar gelede is my joviale swaer oorlede. Die kampioenatleet – SA kampioen in die 440 vir seuns o/19 in 1957 – se asem het opgeraak. Maretha het op haar eie ‘n vervullende lewe bly lei.
Gister het ek Tokkie vir oulaas by haar gaan kuier – hoe ouer jy word, hoe meer dinge doen jy mos “vir oulaas”. Skoonsus Maretha verhuis. Sy skaal af.
Vreemd gewees om te kuier in die half kaalgestroopte huis – minus sy rakke en rakke vol boeke en die enorme versameling skilderye teen die mure, een van die Van Wyks se groot bronne van vreugde en trots – en hulle mag maar trots gewees het.
“Vir oulaas” het ons die tuin bewonder – onder meer die spesiale hoekie met vier opgeskote olyfboompies, een vir elke kleinkind.
Oor die ete in Klaradyn se eetsaal kan ‘n mens huis toe skryf: sop, wildspastei, pampoenkoekies, gebakte aartappels, broccoli, fluweelpoeding. En die porsies! Eet mense in aftree-oorde elke dag so?
In die voorportaal het ‘n mede-inwoner ons afgeneem voor twee skilderye – ‘n skenking van die Van Wyks aan die oord. Van links is Eben wat uit Nieu-Seeland gekom

het om sy ma te help trek, Maretha, Tokkie en die uwe.
Die tweede foto is van die huis in Limietberg wat aanstons ‘n nuwe eienaar kry. Sy kry ‘n j
uweel.
Teen drie-uur ry ons “vir oulaas” by die hek uit. “Tot siens, Klaradyn,”tot siens, Klaradyn” vorm my lippe die woorde op die wysie van “Kom dans, Klaradyn”, gewilde Afrikaanse liedjie van toeka. Weemoed skuil in die woorde. Nog ‘n hoofstuk is verby.

SKAKEL NA BEWOë TYD

Frik Nel (heel links) klink ‘n glasie met Tokkie van Deventer op ons verbintenisse van 25 jaar met mekaar en met Sabiepark twee jaar gelede. Ook op die foto is Frans en Michelle Marais en Herman en Rina le Roux. Die plek is Sabiepark se piekniekplek langs die Sabierivier.

Met die dood van oud-brigadier Frik Nel van die Veiligheidspolisie gaan nog ‘n skakel na ‘n onstuimige verlede verlore. Sy herinneringe as lid van die veiligheidspolisie en myne as joernalis het in Sabiepark – ons gemeenskaplike boskuierplek vir ‘n kwarteeu – gesorg vir prikkelende gesprekke oor ‘n bewoë stuk geskiedenis wat ons albei intens beleef het.

Een gemeenskaplike herinnering was die Silverton-bankbeleg op 25 Januarie 1980.  Frik was aan die spits van die ondersoek. Ek was nagredakteur van Beeld. Drie swaar gewapende MK-kaders op ’n terreur-missie het agtergekom die polisie is op hul hakke. Om te ontvlug, storm hulle toe ’n tak van die ou Volkskas-bank in Silverton binne. Altesaam 25 burgerlikes – personeel en kliënte – is gyselaar gehou. Ambisieuse eise is gestel: ’n onderhoud met premier John Vorster; die vrylating van Nelson Mandela en ’n vliegtuig om in Maputo te kom. Ná urelange onderhandelinge het die polisie toegeslaan. Al drie is in ’n blitsaanval doodgeskiet. Twee burgerlikes, Valerie Anderson en Anna de Klerk, swanger vrou van die polisieman Mof de Klerk, ’n bekende rugbyspeler, het ook omgekom. De Klerk se desperate pleidooi om aan die stormloop deel te neem om die gyselaars te gaan ontset, was een van die aangrypende menslike dramas wat hom afgespeel het

Dit voel soos gister toe die foto’s van die voos geskiete terroriste die aand op my lessenaar beland. Soveel bloed en sulke stukkende liggame op die voorblad? Die gedagte het my aanvanklik laat terugdeins. “Gooi dit groot,” was die advies van my kollega wyle Bob van Walsem, ‘n beredeneerde Hollander. “Die mense sal die bliksems so wil sien.”

Natuurlik was Bob daardie aand in die kol. Die mense WOU groot foto’s van dooie terroriste sien om die weersin uit hul bloed te kry. ‘n Halfeeu later het ek en Frik  oor ‘n  tjoppie en ‘n glasie “polisiekoffie” (brandewyn en Coke) hieroor saamgestem.