
Spanfoto by ‘n Nieman-piekniek. Dick Foxton kniel regs voor.
Vir Dick Foxton het ek seker in 30 jaar nie gesien nie – dalk langer. Die nuus van sy dood (op Netwerk24) het tog ‘n uitroep uitgelok, asof die periode wat ons paaie uiteengeloop het, veel korter was.
Enersyds was die verbasing groot oor die mededeling dat hy al jare die nimlike Thuli Madonsela se lewensmaat en verloofde was. Andersyds was hy die soort mens wat jy nie lig vergeet nie: hartlik, joviaal, borrelend vrolik, lief vir kameraadskaplike kuiers. ‘n Bon vivant in die ware sin van die woord.
My ervaring van Dick, 82-jarige voorloper in die openbare skakelwese, spruit uit ‘n deurlugtige koerante-aangeleentheid wat ongelukkig doodgeloop het: die jaarlikse Nieman-“piekniek” wat in die jare 70 en 80 ‘n feestelikheid soos min was.
Nieman slaan op die Nieman-genootskap aan die Harvard-universiteit in Amerika. Die piekniekgangers was oud-Niemangenote – joernaliste wat die voorreg gehad het om ‘n sabbatsjaar aan Harvard in Cambridge, Massachusetts te gaan deurbring. Ons was gaste van wyle Aubrey Sussens, baas van die skakelfirma Group Editors. Hy het jare vir die reis- en verblyfkoste van die vreemde byeenkomste gesorg. Sussens was die eerste Suid-Afrikaanse Nieman Fellow in 1961. Hy is in November 2002 ná ‘n lang siekte oorlede.

Dick Foxton
Sy status in Nieman-geledere was die van ‘n sort “Godfather”. Sy woord was wet, en hy kon na ons pieknieks nooi wie hy wil, ook van buite die Niemanstal. So het Dick Foxton op die toneel gekom; ook Otto Krause. Omdat Aubrey van hul geselskap gehou het, het hy hulle vir die kuiers met die status van ere-Niemans beklee.
Dick Foxton het op sy beurt graag Niemans na sy eie geleenthede in Johannesburg genooi. ‘n Wedersydse band was gesmee.
Met hoeveel plesier dink ek nie terug aan daardie tye nie. Ons eerste klompie Nieman Fellows uit Suid-Afrika was soos ‘n hegte klub. Al was ons politiek uiteenlopend, was ons sosiaal nogal geheg aan mekaar.
Elke jaar het ons reünies gehou (die sogenaamde “pieknieks”) op plekke soos Chobe in Botswana, die Swaziland Spa , die Wild Coast Casino en die Mmabatho Sun. Hoogtepunt was ‘n swartdas-dinee.
Onder die ouer garde van hierdie nie-amptelike Wie’s Wie van die media is koerantbaas Ton Vosloo en ‘n galery senior redakteurs soos Tertius Myburgh, Allister Sparks, Michael Green Salie de Swardt, Harald Pakendorf, Percy Qoboza, Andrew Drysdale, Aggrey Klaaste en Alf Ries.
Onder die latere generasie Niemans is Zwelakhe Sisulu, gewese direkteur-generaal van die SABC, Mathathta Tsedu, Barney Mthombothi, Tim du Plessis, Barbara Folscher, Moeletsi Mbeki, Thabo Mbeki se broer, en Johanna van Eeden.
Die Byl het ook al sterk in die bos gekap. Van die bekendes van daardie era wat nie meer met ons is nie, is buiten Sussens (en nou ook Foxton): Tertius Myburgh, Percy Qboza, Michael Green, Allister Sparks, Louis Louw, Salie de Swardt, Alf Ries, John Ryan, Andrew Drysdale, Stewart Carlyle, Ted Doman en Dennis Pather.
Sy jarelange verbintenis gee aan Suid-Afrika die onderskeiding dat hy naas die gasheerland verreweg die meeste Niemans opgelewer het. Ná Sussens volg die grootste denkbare verskeidenheid in die Suid-Afrikaanse joernalistiek: Afrikaners (hoewel later al hoe minder), Engelssprekendes, swartmense, bruinmense, Asiërs; mans en vroue; Nasionaliste en ANC’s — ‘n moderne Babel van botsende politieke oortuigings, verskillende waardestelsels en later al hoe driftiger meningsverskille.
In 2016 was Johanna van Eeden van Netwerk24 die laaste Suid-Afrikaner wat die kosbare voorreg gesmaak het voordat die historiese verbintenis deur ‘n misleide nuwe kurator afgekap is. Watter pynlike verlies.
My eie wonderlike Niemanjaar was 1977, amper 50 jaar gelede. Ek onthou dit soos gister.