Twintig jaar gelede moes swaer Fanie van Wyk en Maretha, twee groot geeste in die onderwys, weens gesondheidsredes van Harrismith Kaap toe verhuis.
In die tyd sien ek in die Eiendomsgids van Die Burger – toe ‘n knewel – ‘n advertensie vir die nog splinternuwe Klaradyn-oord in Brackenfell.
Hoe gelukkig het die twee Vrystaters nie kom wortel skiet daar in Limietberg, Klaradyn, nie; hulle onder meer uitgeleef in die vestiging van ‘n netjiese, verbeeldingryke tuintjie, enig in sy soort. Fanie kon ook na hartelus woeker met sy bonsais.
Nege jaar gelede is my joviale swaer oorlede. Die kampioenatleet – SA kampioen in die 440 vir seuns o/19 in 1957 – se asem het opgeraak. Maretha het op haar eie ‘n vervullende lewe bly lei.
Gister het ek Tokkie vir oulaas by haar gaan kuier – hoe ouer jy word, hoe meer dinge doen jy mos “vir oulaas”. Skoonsus Maretha verhuis. Sy skaal af.
Vreemd gewees om te kuier in die half kaalgestroopte huis – minus sy rakke en rakke vol boeke en die enorme versameling skilderye teen die mure, een van die Van Wyks se groot bronne van vreugde en trots – en hulle mag maar trots gewees het.
“Vir oulaas” het ons die tuin bewonder – onder meer die spesiale hoekie met vier opgeskote olyfboompies, een vir elke kleinkind.
Oor die ete in Klaradyn se eetsaal kan ‘n mens huis toe skryf: sop, wildspastei, pampoenkoekies, gebakte aartappels, broccoli, fluweelpoeding. En die porsies! Eet mense in aftree-oorde elke dag so?
In die voorportaal het ‘n mede-inwoner ons afgeneem voor twee skilderye – ‘n skenking van die Van Wyks aan die oord. Van links is Eben wat uit Nieu-Seeland gekom

het om sy ma te help trek, Maretha, Tokkie en die uwe.
Die tweede foto is van die huis in Limietberg wat aanstons ‘n nuwe eienaar kry. Sy kry ‘n j
uweel.
Teen drie-uur ry ons “vir oulaas” by die hek uit. “Tot siens, Klaradyn,”tot siens, Klaradyn” vorm my lippe die woorde op die wysie van “Kom dans, Klaradyn”, gewilde Afrikaanse liedjie van toeka. Weemoed skuil in die woorde. Nog ‘n hoofstuk is verby.
Deel dit: