
Frik Nel (heel links) klink ‘n glasie met Tokkie van Deventer op ons verbintenisse van 25 jaar met mekaar en met Sabiepark twee jaar gelede. Ook op die foto is Frans en Michelle Marais en Herman en Rina le Roux. Die plek is Sabiepark se piekniekplek langs die Sabierivier.
Met die dood van oud-brigadier Frik Nel van die Veiligheidspolisie gaan nog ‘n skakel na ‘n onstuimige verlede verlore. Sy herinneringe as lid van die veiligheidspolisie en myne as joernalis het in Sabiepark – ons gemeenskaplike boskuierplek vir ‘n kwarteeu – gesorg vir prikkelende gesprekke oor ‘n bewoë stuk geskiedenis wat ons albei intens beleef het.
Een gemeenskaplike herinnering was die Silverton-bankbeleg op 25 Januarie 1980. Frik was aan die spits van die ondersoek. Ek was nagredakteur van Beeld. Drie swaar gewapende MK-kaders op ’n terreur-missie het agtergekom die polisie is op hul hakke. Om te ontvlug, storm hulle toe ’n tak van die ou Volkskas-bank in Silverton binne. Altesaam 25 burgerlikes – personeel en kliënte – is gyselaar gehou. Ambisieuse eise is gestel: ’n onderhoud met premier John Vorster; die vrylating van Nelson Mandela en ’n vliegtuig om in Maputo te kom. Ná urelange onderhandelinge het die polisie toegeslaan. Al drie is in ’n blitsaanval doodgeskiet. Twee burgerlikes, Valerie Anderson en Anna de Klerk, swanger vrou van die polisieman Mof de Klerk, ’n bekende rugbyspeler, het ook omgekom. De Klerk se desperate pleidooi om aan die stormloop deel te neem om die gyselaars te gaan ontset, was een van die aangrypende menslike dramas wat hom afgespeel het
Dit voel soos gister toe die foto’s van die voos geskiete terroriste die aand op my lessenaar beland. Soveel bloed en sulke stukkende liggame op die voorblad? Die gedagte het my aanvanklik laat terugdeins. “Gooi dit groot,” was die advies van my kollega wyle Bob van Walsem, ‘n beredeneerde Hollander. “Die mense sal die bliksems so wil sien.”
Natuurlik was Bob daardie aand in die kol. Die mense WOU groot foto’s van dooie terroriste sien om die weersin uit hul bloed te kry. ‘n Halfeeu later het ek en Frik oor ‘n tjoppie en ‘n glasie “polisiekoffie” (brandewyn en Coke) hieroor saamgestem.