Terwyl Danie Krynauw se stories oor sy vlugtog met die polisie-vangwa, die motballe, NP van Wyk Louw en so aan klaarblyklik die naweek wyd plesier verskaf het, bied ek hiermee ‘n Danie Merk II aan.Dit bevat o.m. ‘n storie of wat wat ek vir Saterdag se storie in BY gesensureer het. (Lees hier: https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/hennie-van-deventer-die-burgemeester-wat-glo-in-n-vangwa-gevlug-het-20250618) ‘n Mens is mos maar bedag op politieke inkorrektheid en daardie klas ding.
Nietemin, Danie Merk II dan:
Die ou rakker het graag vertel van al die “spesiale meisies”, “verloofdes” en “eerste liefdes” wat hy kammakastig op sy kerfstok het. Soos ‘n wafferse Franse heer het hy vroue links en regs op die hande gesoen.
Dit moet seker maar van sy gade, Esbé, soms hare op die tande geverg het, maar sy het dit filosofies en met ’n gelate glimlag aanvaar. Meermale het sy haar platjieman pittig met ’n eie stukkie droë humor getroef. Dan het ek altyd stilletjies gedink: “Skote, Esbé!”
Danie sou byvoorbeeld ewe windmakerig verkondig: “Ons moes mos trou!” Hy het dan gemeld hul troue was op 9 Junie, maar hul seun, Danie, is op 8 Junie gebore. Esbé het rustig verduidelik: “Danie is wel op 8 Junie gebore, ja, maar eers op 8 Junie 1964 – agt jaar later.”
Verder: “Danita (die eerste) is eers op 26 Maart 1963 gebore, ná sewe jaar se huwelikslewe. ’n Krÿnauw laat hom nie aanja nie!” Dodelik!
Soos gemeld was die plaaslike Pick n Pay ‘n gunsteling-jagveld vir sy streke. ’n Keer was hy tussen die seeppoeiers. ’n Man, maklik 30 jaar jonger as hy, kom nader, en Danie begin brom. “Kan ek oom help?” wil die jonger man hulpvaardig weet. Danie: “Wonder waar steek hulle die Fokôl weg.” Slaggoffer: “ Fokôl, oom?” Danie: “Ja, man. Hulle sê vir my as Skip of Omo nie help nie, sal Fokôl help.”
Met die volgende storietjie het hy nogal hier en daar iemand gevang: die bure het ’n seuntjie van vyf. Hy speel met ander bure se dogtertjie wat ook vyf is, en vra haar vertroulik: “Het jy al seks gehad?” Sy: “Nee, nog net masels”!
Die volgende stukkie was in een van verskeie selfpublikasies, die bundeltjie Krynauw ’n knertsie:
“Christle Böhringer, ’n vriendin van Esbé, het baie babatjies in Distrik Ses gevang. Een aand laat moes sy weer ’n baba in ’n klein kamertjie gaan vang.
“’n Lamp het op die tafeltjie gebrand en ’n kers of twee was ook opgesteek. Christle het op ’n primusstofie water gekook. Uiteindelik het die kleintjie ’n eerste skree geskree.
“Nadat Christle die baba gereed gekry het, het sy die kind nader aan die lamp gebring. Dit lyk toe vir haar asof die baba rooi hare het. Sy gee die baba vir die enkelmoeder en vra: ‘Het die pa rooi hare?’
“‘Ek weet nie, nursie, want hy het ’n hoed opgehet!’”
(Sou Danie nou nie hierdie Krynauw-kronieke geniet het nie. Daardie spotprent van Dr. Jack – Saterdag in BY – sou sweerlik al die tyd in ‘n raam teen sy muur gewees het. Ek plaas dit graag hier, met die nodige erkenning.)