VERLANGE NA KOERANTE


  • Vriendelike woorde van Anschen Conradie oor “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” … en oor koerante van oudsher in die algemeen:

    Die klassieke koerantwese, kompleet met drukpers, ink, rolle papier, tikmasjiene, donkerkamers en teleksmasjiene word toenemend verower deur elektroniese publikasies; digitale foto’s, rekenaars, die internet, en alles wat daarmee saamgaan. Die ouer garde (waarby ek myself insluit) onthou egter nog die eerste oopvou van Sondag se Rapport, die skoolseuns wat soggens met hulle fietse koerante aflewer, en die afwagting oor wat die dag se lamppaalplakkate mag inhou.

    Die skrywer, deurwinterde joernalis en voormalige redakteur van (Die) Volksblad, deel in hierdie bundel etlike kosbare herinneringe, nostalgie, humor, ironie, anekdotes, en huldeblyke uit vervloë dae. Sommige bydraes is, met erkenning, ontleen vanaf LitNet en die Nagkantoor-Facebookgroep, en sommige het voorheen in die skrywer se eie publikasies verskyn. Die voorwoord is deur Ton Vosloo – en die oorsprong van sy bynaam word ook in die bundel verklap.

    Die ouer bydraes gaan so ver terug as 1914 toe C.J. Langenhoven ‘n persoonlike brief aan die koerant waarvan hy redakteur was, Het Zuid-Westen, geskryf en gepubliseer het, en sluit aan by moderne gebeure soos die storm wat om Prof. Amanda Gouws se kop losgebars het aangaande vroue wat vloek, en ‘n ontstoke dame beweer het vloekwoorde kom ‘…uit die mond van tandelose mense in die greep van alkohol of dwelms.’ (61)

    Ander hoogtepunte sluit in: Glenda Kemp se privaat vertoning vir joernaliste waar die toegangsgeld R10 per kop was, maar darem ‘n bakkie kerrie-en-rys ingesluit het; die bisarre sensuurwetgewing wat polisiebeamptes in 1967 verplig het om, gewapen met skêre, ‘n berig uit die koerante te knip; die drukkersduiwel wat ‘n resensent laat koes het toe sy ‘Swak’ met ‘Twak’ vervang is; die redaksielid wat tydens die Vrystaatse aardbewing van 1975 soek geraak en in die brandkluis ontdek is, en die diakritiese glips wat in 1947 in ‘The Times’ se beriggewing oor die koninklike besoek aan Suid-Afrika die opskrif ‘Hoere, hoere, hoere vir die koning!’ tot gevolg gehad het.

    ‘n Lekkerlees, nostalgiese bundel.
    ⭐️⭐️⭐️⭐️ #uitdieperdsebek

HVD 3: REGTE TYD, REGTE PLEK, REGTE MENSE

In my loopbaan was ek altyd gelukkig om op die regte tyd op die regte plek omring deur die regte mense te wees, ook by Die Volksblad. Hiermee ‘n buiging na ‘n spesiale span (foto).
Die Volksblad het in die tyd ‘n volkleurkoerant geword, van middag-gleuf tot oggendgleuf oorgeskakel, die eerste Saterdagponie in die land uitgegee en ‘n leier met gemeenskapskoerante geword. Deur al hierdie vernuwings (en andere) was die span doelgerig aan my sy. Saam kan ons op ‘n vrugbare en voorspoedige hoofstuk terugkyk.
Die Vrystaat was altyd ‘n goeie voedingsbron van joernaliste. Die span van die 80’s was in die opsig uitblinkers. Meer as ‘n dosyn het redakteurs, assistent-redakteurs en buitelandse verteenwoordigers geword. Een is Henriette Anderson, huidige grootbaas by Netwerk24. Ander is o.a. Gert Coetzee, huidige redakteur, Chris Karsten, Sarel Venter, Piet Theron, Jan Scholtz, Francois Lötter, Tobie Wiese, André Brink, Charl van Rooyen, Thinus Prinsloo, Anneke Blaise, Carlien Wessels en Annelise Doubell. (Ouer tydgenote soos Herman le Roux en andere was in die 80’s reeds as leiers gevestig.)
Vir rubriekskrywer Johan van Wyk (die “Oom” van Stop van Myne) het ek in 1988 vir die FAK se prestigeprys vir joernalistiek benoem. Dit was ‘n persoonlike vreugde toe my kollega die prys inpalm. Fred Schnetler was ‘n ander toppresteerder wat pryse versamel het.
Topskrywers soos Deon Meyer, Rudie van Rensburg en Chris Karsten, die onvermoeide sport-statistikus Frikkie van Rensburg, dinamiese advertensieman Philip van Rensburg, wat ‘n baanbreker in Afrika is, top-skakelman Tom Ferreira en ander het op hul eie terreine uitgestyg – te veel om te noem. Dit is ‘n lekker gevoel dat Die Volksblad iets tot hul vorming kon bydra.
Kollegas het my ‘n “kompulsiewe koerantman” genoem. Koerant uitgee was, volgens hulle, vir my “‘n passievolle drif”. Dankie, kollegas, vir daardie getuigskrif – as dit as een bedoel was. ‘n Onmiddelike doelwit was om iets van hierdie entoesiasme aan my hele span oor te dra. “Maak die skouers oop met ‘n groot storie,” is die kultuur wat ek dadelik probeer vestig het. Ek het o.m. ‘n wisseltrofee geskenk om ondernemende joernalistiek te bevorder: ‘n opgevoude koerant uit stinkhout deur die beeldhouster Laura Rautenbach.
Stories wat hulle tot sterk aanbieding geleen het, was onder meer die raaiselagtige neerstorting van die Helderberg naby Mauritius; die Challenger-ruimteramp; die Vrystaatse vloedramp van 1988; die Westdene-busramp; die staatsgreep in die Seychelle onder aanvoering van Mike Hoare; die polisieman-bankrower André Stander se rooftogte en uiteindelike skietdood in Florida, VSA; die ontwrigte Springbok-rugbytoer na Nieu-Seeland in 1981; die Barend Strydom-moorde op Kerkplein, Pretoria; die skrikbewind van pedofiel Gert van Rooyen; die val van die Berlynse Muur in Oktober 1989 en, les bes, ontbanning van die ANC en vryheid vir Nelson Mandela. Met ons aanbieding kon ons met die bestes saamgesels. ‘n Patroon van “skouers oopmaak” is gevestig en die visuele impak het ingrypend verbeter. Die beeld van “vaal Boertjie” is vir goed afgeskud. Wyle Nols Nieman het hierin ‘n reuserol gespeel.
Dat gemeenskapsdiens ‘n goeie koerant onderskei, was altyd ‘n credo. Twee witbroodjie-“kinders” van die era was Die Volksblad– Kunsmark en die Matrieknooiwedstryd. Een van die beste geskenke aan die gemeenskap was Kunsmark wat in 1982 gestig is. Skares het op Kunsmark-Saterdag na Koningspark gestroom. Iets soos 1 600 uitstallers was in ‘n stadium geregistreer. Die Matrieknooiwedstryd het topwenners opgelewer soos Margaret Wessels, bedryfshoof van die Standard Bankgroep.
Dat ek gelukkig by Die Volksblad was en beroepsatisfaksie van die hoogste orde beleef het, blyk seker uit die verbetenheid waarmee ek aan die pos vasgeklou het. Toe Ton Vosloo teen die einde van 1982 moes Kaap toe as kroonprins vir Lang David de Villiers, is ek aangekeer om in sy plek terug te kom Beeld toe. Ná wik en weeg het ek dit van die hand gewys. Later het die geleentheid twee keer gekom om Rapport se leisels oor te neem. Geesdrif het ontbreek.
Met die Riaan Eksteen-debakel by die SAUK is ek die pos van nuushoof aangebied. Ek wou nie byt nie. Van buite die mediakring het twee toenaderings gekom. Eers het ‘n afvaardiging van Bultfontein (Tokkie se tuisdorp) my gevra om my as NP-kandidaat in die kiesafdeling Winburg beskikbaar te stel. Aikona. Louis Botha, Administrateur, met wie ek ‘n vriendskapsverhouding gehad het, het my daarop vertroulik ‘n pos as LUK (lid van die Uitvoerende Komitee) aangebied. Nee, ek wou redakteur bly.
Dit was ek 12 heuglike jare lank. Die dag toe ek, einde Maart 1992, die deur van Die Volksblad se deftige redakteurskantoor met sy swaar ou meubels (stinkhout en Birmaanse kiaat) en donker houtpanele teen die mure vir laas agter my toetrek, was ek innig dankbaar dat die uitnemende geleentheid my gegun was.
More praat ons oor die politiek van die 80’s.

HVD 2: STEM SAAM / KRY SKAAM

Die aflosstokie gaan oor van Zaaiman na Van Deventer.

Die papier is geelbruin en die oneweredige letters verklap dat dit uit ‘n primitiewe tikmasjien kom. As jy begin lees, stem jy saam of kry jy skaam – so om die beurt.

Met die dokumentjie ter sprake het kollega Tobie Wiese my enkele weke gelede uit die bloute kom verras. Hy moes destyds ‘n berig daaruit haal en het dit sowaar gebêre. Dat dit nog iewers bestaan, sou ek nie kon raai nie.

Bo-aan staan geen datum, onderwerp of aanduiding van die geleentheid nie.  Geen twyfel egter wat dit is nie: die uwe se “intreetrede” in Augustus 1980.  Dit is gelewer by die afskeid van my voorganger SF (Oom Bart) Zaaiman in die deftige Hotel President in Unielaan, Bloemfontein.  Die toesprakie behels 11 getike bladsytjies goedkoop papier soos vir berigte gebruik is  – seksies het ons dit genoem.

Ongelukkig was die ”intreerede” volgens huidige insigte hopeloos te langasem. Ook te wydlopend en woordryk. Te omslagtig en selfs hier en daar onbenullig.  Die garnering verdwerg plek-plek die essensie, soos die borde kos wat sommige sjiek restaurants vir jou voorsit. Waarskynlik is sekere mense daardie aand bang gepraat. Sonder twyfel het ek die meeste mense moeg gepraat: ‘n ongelukkige herhalende swakheidjie.

Gelukkig is plek-plek darem ook enkele dinge kwytgeraak waarmee ek vier dekades later nog min of meer instemming kan betuig. Een is die volgende verbintenis: “Dit sal Die Volksblad onder meer as sy taak sien: om almal wat vreedsame ontwikkeling voorstaan, van watter ras of kleur ook al, te monster om ‘n linie te vorm teen die magte wat die land wil omstoot.

“Hy sal sy voet dwars sit teen elke vorm van radikalisme, van links en van regs, en hy sal hom beywer om by sy mense steeds ontvanklikheid te laat groei vir die waarheid dat die enigste bestendige manier om seggenskap oor die eie te behou, is om dit in konsensus met ander te doen.  In die opsig wag daar harde werk. “

Vroeër betoog ek: “Doeltreffende weerstand teen gevare van binne en buite kan net kom as verhoudinge gesond is, so gesond dat al die mense van Suid-Afrika – al die volke en groepe – verenig teen die gemeenskaplike gevaar.

“En hulle sal net verenig as elkeen ‘n sinryke bestaan het om te verdedig, ‘n eie plekkie in die son wat vir hom so waardevol en so dierbaar is dat hy hom met mag sal verset teen enige poging om hom dit te ontneem. “

Dit is woorde wat van die toehoorders moes laat sluk het.  In kringe was dit bekend dat vrese bestaan het oor die “liberale” gees  wat die “Beeld-man” sou kom indra, en ‘n abortiewe poging is selfs ter elfder ure aangewend om die aanstelling om te keer.  Gelukkig het dit nie geslaag nie.  Die 12 jaar in die stoel was vir my dubbel en dwars die moeite werd.

Met ‘n storie wat ek as jong verslaggewer by Oom Blackie Swart, eerste staatspresident, gehoor het, het ek dalk ook ‘n ongemaklikheidjie by sommige veroorsaak.  Oom Blackie het vertel dat met die inwyding van die koshuis Pres. Steyn by die UV die destydse Vrystaatse Administrateur, sir Cornelius Wessels, die spreker was. Vir die studente was sy boodskap:

”Geleerdheid is mooi, maar moet tog nooit neersien op die jong man met ‘n paar velskoene en ‘n ferweelbroek nie – dikwels klop ‘n warm Afrikanerhart in daardie ferweelbroek.”

“Dit geld ook ons koerant,” het ek gewaag. ”Sy voorkoms is miskien velskoen en ferweelbroek,  maar sy hart klop reg. As die díreksie vir ons ‘n nuwe skoene en ‘n broek sal gee (bedoelende ‘n kleurpers, wat ons toe wel gekry het), ons sal sorg dat die hartklop reg bly.”

Het ons die hartklop reg gehou?  In hoe ‘n mate het die nuwe redakteur woord gehou? Kon ons ideaal en werklikheid versoen? Daaroor moet andere liewer oordeel. Nie almal se oordeel sal positief wees nie, glo ek. Nou-ja, met die waters wat verby is, sal die meule nooit weer maal nie. Wat verby is, is verby.

Oor die vervullende skof van 12 jaar in Voortrekkerstraat 79 vertel ek vorentoe meer.

 

 

 

 

VOLKSBLAD: ‘N NUWE LEWE

‘n Volksbladkamer by NALN was lank ‘n droom. Nou word dit ‘n werklikheid.

Met die trek uit die ou Volksbladgebou in Nelson Mandelarylaan (voorheen Voortrekkerstraat) in Bloemfontein na ‘n kleiner perseel in Westdene is vir ou en waardevolle stukke van historiese belang vier waardige nuwe tuistes beding.

Een is NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum) waar die stylvolle redakteurskantoor ‘n tuiste vind.  Dit sluit in ‘n statige lessenaar van Birmaanse kiaat wat uit die era van dr. AJR van Rhyn (redakteur van 1923 tot 1948) dateer.  In my era (1980 – 1992) is dit tot sy huidige glorie vernuwe.

Die lessenaar is deel van wyle kollega Jan Scholtz, ‘n meestervakman, se monumente by Volksblad. Die meubels – stoele, bank, tafels en boekrakke – sluit ook sierade uit stinkhout, swarthout en eikehout in.  Die meeste hiervan is onder Jan met sy hartstog vir hout se toesig of deur hom persoonlik gerestoureer met die omvattende opgradering van die gebou in 1986.

Wat ook na NALN gaan, is die oorpronklike Volksbladgebou se karaktervolle dubbel-voordeur met sy delikate bolig.  Sentraal in die ontwerp is ‘n lantern (laat daar lig wees?) en ‘n boekrol met die uitgebeitelde  inskripsie: “Vox populi vox Dei” – “die stem van die volk is die stem van God”.

Met die opgradering het die gebou ‘n keurige siersteenfasade en ‘n ruim ingang met glasdeure van moderne ontwerp gekry.  Die ou deur, ‘n pragstuk van Birmaanse kiaat, het nie meer “ingepas” nie. Jan het gespook om ook die historiese deur te red, en ek het my gewig solied agter hom ingewerp;  helaas ‘n verlore stryd.

Jan was tot sy dood toe bitter oor die mistasting.  Volgens hom is die voordeur vir alle praktiese doeleindes  “weggesmyt”.    Hoe verheug sou hy nie oor die nuwe lewe gewees het nie.

Ander Volksblad-eiendom van historiese belang sal deur die Nasionale Museum, die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke en INEG (Instituut vir Eietydse geskiedenis), nou bekend as ARCA, bewaar word. Dit is ook die tuiste van een eie private versameling (die ander is by die Erfenisstigting).

Ons veterane van vorige eras het maar asem opgehou oor wat van ons geliefde koerant – die oudste in Afrikaans  – se sentrale plek in die geskiedenis van die Afrikaane perswese van die land gaan word noudat dit nie meer op papier verskyn nie.  Ons almal slaak ‘n dankbare sug van verligting oor die nuus wat redakteur Gert Coetzee vanoggend bekend gemaak het.

In eie hoedanigheid –  maar ook as oudste oorlewende redakteur (chronologies) –  wil ek graag ‘n buiging maak na Gert en sy span vir toegewyde en vrugbare arbeid om vir Volksblad, naas die voortreflike digitale spruit wat hulle so bekwaam in stand hou, ‘n alternatiewe fisieke voortbestaan te gee met die bewaring van waardevolle historiese stukke by vier waardige tuistes.

Die besluite lyk sinryk en ek sien uit om by afhandeling ‘n besoek aan Bloemfontein te bring om in die goue herinneringe te kom deel.

  • Op die saamgestelde foto is die redakteurskantoor soos hy besig is om in NALN se gebou tereg te kom, soos hy in my tyd was en dolleeg na die trek.
  • Die volledige berig op Netwerk24 is te lese by https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/volksblad-en-sy-geskiedenis-kry-nuwe-tuiste-20211104

BY VLIEG AL 80 JAAR

By-redakteur, 1961

By-redakteur, 1961

Die Perdeby, studentekoerant van Tukkies, vlieg vanjaar al 80 jaar lank, swaai by geleentheid die heuningkwas of deel by ander geleenthede sy goedgemikte stekies uit op die kampus. Zoem voort, liewe By – my eerste “koerant” waarvan ek in 1961 bevoorreg was om redakteur te wees.

Wat ‘n jaar was 1961 nie – Suid-Afrika word ‘n Republiek. dr. H.F. Verwoerd verbreek bande met die Statebond, kerkmense bots by Cottesloe oor die politieke rol van die kerk ….Oor al die gewigtige gebeure praat Die Perdeby saam.

Hoë besoekers stroom na die kampus. Dr. Verwoerd kom kuier twee keer. Pres. C.R. Swart woon die intervarsity by, wat Wits tot algemene verbystering daardie jaar wen. Dr. Anton Rupert is die spreker op Lentedag. Hy bepleit ‘n “nuwe rassebenadering”. N. P. van Wyk Louw praat op gradedag. Elke keer is Die Perdeby op die toneel met ‘n verslaggewer — dikwels in die persoon van die redakteur self — en ‘n fotograaf, Dirk Cloete, ‘n fris ingenieurstudent met ‘n motorfiets.

Op die hoofartikelblad het ‘n gereelde rubriekie verskyn, waarby ‘n tekening was van ‘n vet Meksikaan met ‘n hangsnor en ‘n rokende pistool in die hand. Hy sê: “Ek skiet jou as nie saamstem nie ….” In die uitgawe van 24 Maart moet daar eenstemmigheid wees “ dat ons nou almal Commonwealth Old Boys-kleurbaadjies kan dra!”

Die Perdeby was darem nie net politiek nie. Van een mooie Bloemfonteinse roos, Gerdia Neethling, wat later joolprinses geword het. tel ek nie minder nie as sewe foto’s in die jaar se 22 uitgawes. Sy het mev. Gerdia Pretorius geword en het tussen Klerksdorp en Lichtenburg verongeluk.(G’n fout met die redakteur se smaak nie!)

Sosiale nuus was o.m. dat die naelloop-kampioen Sep Serfontein gekroon is tot 1961 se Mnr. Asterhof . Vir die eer moes hy daardie koshuis se ses verdiepings op en terug in minder as 46 sekondes.

Van die Akademie het in 1961 helaas maar min gekom. Maar lof vir Die Perdeby het uit verskillende oorde opgedaag. Jan Grobler, gewese Nasionale LV wat met dr. Andries Treurnicht in sy ministersdae oorhoops geraak het, het geskryf: “Die beste ‘By in die afgelope ses jaar wat ek al hier rondlê. Baie, baie geluk.”

Selfs die rektor, prof. C.H. Rautenbach, het lof uitgespreek: “U het ‘n moeilike taak op ‘n eervolle wyse behartig … ek dink dit was ‘n goeie jaar — ook vir die redaksie van Die Perdeby.”

In my eie laaste hoofartikel was ek half weemoedig. “’n Mens raak lief vir die ‘By. Dit is nie alleen jou verantwoordelikheid nie, maar ook jou trots. Die verskyning van elke uitgawe word ‘n persoonlike bevrediging soos ‘n kunswerk vir sy skepper.”

Die Perdeby is vanjaar 80. Dat 57 jaar intussen verloop het, stem my opnuut weemoedig