• Vriendelike woorde van Anschen Conradie oor “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” … en oor koerante van oudsher in die algemeen:

    Die klassieke koerantwese, kompleet met drukpers, ink, rolle papier, tikmasjiene, donkerkamers en teleksmasjiene word toenemend verower deur elektroniese publikasies; digitale foto’s, rekenaars, die internet, en alles wat daarmee saamgaan. Die ouer garde (waarby ek myself insluit) onthou egter nog die eerste oopvou van Sondag se Rapport, die skoolseuns wat soggens met hulle fietse koerante aflewer, en die afwagting oor wat die dag se lamppaalplakkate mag inhou.

    Die skrywer, deurwinterde joernalis en voormalige redakteur van (Die) Volksblad, deel in hierdie bundel etlike kosbare herinneringe, nostalgie, humor, ironie, anekdotes, en huldeblyke uit vervloë dae. Sommige bydraes is, met erkenning, ontleen vanaf LitNet en die Nagkantoor-Facebookgroep, en sommige het voorheen in die skrywer se eie publikasies verskyn. Die voorwoord is deur Ton Vosloo – en die oorsprong van sy bynaam word ook in die bundel verklap.

    Die ouer bydraes gaan so ver terug as 1914 toe C.J. Langenhoven ‘n persoonlike brief aan die koerant waarvan hy redakteur was, Het Zuid-Westen, geskryf en gepubliseer het, en sluit aan by moderne gebeure soos die storm wat om Prof. Amanda Gouws se kop losgebars het aangaande vroue wat vloek, en ‘n ontstoke dame beweer het vloekwoorde kom ‘…uit die mond van tandelose mense in die greep van alkohol of dwelms.’ (61)

    Ander hoogtepunte sluit in: Glenda Kemp se privaat vertoning vir joernaliste waar die toegangsgeld R10 per kop was, maar darem ‘n bakkie kerrie-en-rys ingesluit het; die bisarre sensuurwetgewing wat polisiebeamptes in 1967 verplig het om, gewapen met skêre, ‘n berig uit die koerante te knip; die drukkersduiwel wat ‘n resensent laat koes het toe sy ‘Swak’ met ‘Twak’ vervang is; die redaksielid wat tydens die Vrystaatse aardbewing van 1975 soek geraak en in die brandkluis ontdek is, en die diakritiese glips wat in 1947 in ‘The Times’ se beriggewing oor die koninklike besoek aan Suid-Afrika die opskrif ‘Hoere, hoere, hoere vir die koning!’ tot gevolg gehad het.

    ‘n Lekkerlees, nostalgiese bundel.
    ⭐️⭐️⭐️⭐️ #uitdieperdsebek

Deel dit: