
In my loopbaan was ek altyd gelukkig om op die regte tyd op die regte plek omring deur die regte mense te wees, ook by Die Volksblad. Hiermee ‘n buiging na ‘n spesiale span (foto).
Die Volksblad het in die tyd ‘n volkleurkoerant geword, van middag-gleuf tot oggendgleuf oorgeskakel, die eerste Saterdagponie in die land uitgegee en ‘n leier met gemeenskapskoerante geword. Deur al hierdie vernuwings (en andere) was die span doelgerig aan my sy. Saam kan ons op ‘n vrugbare en voorspoedige hoofstuk terugkyk.
Die Vrystaat was altyd ‘n goeie voedingsbron van joernaliste. Die span van die 80’s was in die opsig uitblinkers. Meer as ‘n dosyn het redakteurs, assistent-redakteurs en buitelandse verteenwoordigers geword. Een is Henriette Anderson, huidige grootbaas by Netwerk24. Ander is o.a. Gert Coetzee, huidige redakteur, Chris Karsten, Sarel Venter, Piet Theron, Jan Scholtz, Francois Lötter, Tobie Wiese, André Brink, Charl van Rooyen, Thinus Prinsloo, Anneke Blaise, Carlien Wessels en Annelise Doubell. (Ouer tydgenote soos Herman le Roux en andere was in die 80’s reeds as leiers gevestig.)
Vir rubriekskrywer Johan van Wyk (die “Oom” van Stop van Myne) het ek in 1988 vir die FAK se prestigeprys vir joernalistiek benoem. Dit was ‘n persoonlike vreugde toe my kollega die prys inpalm. Fred Schnetler was ‘n ander toppresteerder wat pryse versamel het.
Topskrywers soos Deon Meyer, Rudie van Rensburg en Chris Karsten, die onvermoeide sport-statistikus Frikkie van Rensburg, dinamiese advertensieman Philip van Rensburg, wat ‘n baanbreker in Afrika is, top-skakelman Tom Ferreira en ander het op hul eie terreine uitgestyg – te veel om te noem. Dit is ‘n lekker gevoel dat Die Volksblad iets tot hul vorming kon bydra.
Kollegas het my ‘n “kompulsiewe koerantman” genoem. Koerant uitgee was, volgens hulle, vir my “‘n passievolle drif”. Dankie, kollegas, vir daardie getuigskrif – as dit as een bedoel was. ‘n Onmiddelike doelwit was om iets van hierdie entoesiasme aan my hele span oor te dra. “Maak die skouers oop met ‘n groot storie,” is die kultuur wat ek dadelik probeer vestig het. Ek het o.m. ‘n wisseltrofee geskenk om ondernemende joernalistiek te bevorder: ‘n opgevoude koerant uit stinkhout deur die beeldhouster Laura Rautenbach.
Stories wat hulle tot sterk aanbieding geleen het, was onder meer die raaiselagtige neerstorting van die Helderberg naby Mauritius; die Challenger-ruimteramp; die Vrystaatse vloedramp van 1988; die Westdene-busramp; die staatsgreep in die Seychelle onder aanvoering van Mike Hoare; die polisieman-bankrower André Stander se rooftogte en uiteindelike skietdood in Florida, VSA; die ontwrigte Springbok-rugbytoer na Nieu-Seeland in 1981; die Barend Strydom-moorde op Kerkplein, Pretoria; die skrikbewind van pedofiel Gert van Rooyen; die val van die Berlynse Muur in Oktober 1989 en, les bes, ontbanning van die ANC en vryheid vir Nelson Mandela. Met ons aanbieding kon ons met die bestes saamgesels. ‘n Patroon van “skouers oopmaak” is gevestig en die visuele impak het ingrypend verbeter. Die beeld van “vaal Boertjie” is vir goed afgeskud. Wyle Nols Nieman het hierin ‘n reuserol gespeel.
Dat gemeenskapsdiens ‘n goeie koerant onderskei, was altyd ‘n credo. Twee witbroodjie-“kinders” van die era was Die Volksblad– Kunsmark en die Matrieknooiwedstryd. Een van die beste geskenke aan die gemeenskap was Kunsmark wat in 1982 gestig is. Skares het op Kunsmark-Saterdag na Koningspark gestroom. Iets soos 1 600 uitstallers was in ‘n stadium geregistreer. Die Matrieknooiwedstryd het topwenners opgelewer soos Margaret Wessels, bedryfshoof van die Standard Bankgroep.
Dat ek gelukkig by Die Volksblad was en beroepsatisfaksie van die hoogste orde beleef het, blyk seker uit die verbetenheid waarmee ek aan die pos vasgeklou het. Toe Ton Vosloo teen die einde van 1982 moes Kaap toe as kroonprins vir Lang David de Villiers, is ek aangekeer om in sy plek terug te kom Beeld toe. Ná wik en weeg het ek dit van die hand gewys. Later het die geleentheid twee keer gekom om Rapport se leisels oor te neem. Geesdrif het ontbreek.
Met die Riaan Eksteen-debakel by die SAUK is ek die pos van nuushoof aangebied. Ek wou nie byt nie. Van buite die mediakring het twee toenaderings gekom. Eers het ‘n afvaardiging van Bultfontein (Tokkie se tuisdorp) my gevra om my as NP-kandidaat in die kiesafdeling Winburg beskikbaar te stel. Aikona. Louis Botha, Administrateur, met wie ek ‘n vriendskapsverhouding gehad het, het my daarop vertroulik ‘n pos as LUK (lid van die Uitvoerende Komitee) aangebied. Nee, ek wou redakteur bly.
Dit was ek 12 heuglike jare lank. Die dag toe ek, einde Maart 1992, die deur van Die Volksblad se deftige redakteurskantoor met sy swaar ou meubels (stinkhout en Birmaanse kiaat) en donker houtpanele teen die mure vir laas agter my toetrek, was ek innig dankbaar dat die uitnemende geleentheid my gegun was.
More praat ons oor die politiek van die 80’s.