Die aflosstokie gaan oor van Zaaiman na Van Deventer.

Die papier is geelbruin en die oneweredige letters verklap dat dit uit ‘n primitiewe tikmasjien kom. As jy begin lees, stem jy saam of kry jy skaam – so om die beurt.

Met die dokumentjie ter sprake het kollega Tobie Wiese my enkele weke gelede uit die bloute kom verras. Hy moes destyds ‘n berig daaruit haal en het dit sowaar gebêre. Dat dit nog iewers bestaan, sou ek nie kon raai nie.

Bo-aan staan geen datum, onderwerp of aanduiding van die geleentheid nie.  Geen twyfel egter wat dit is nie: die uwe se “intreetrede” in Augustus 1980.  Dit is gelewer by die afskeid van my voorganger SF (Oom Bart) Zaaiman in die deftige Hotel President in Unielaan, Bloemfontein.  Die toesprakie behels 11 getike bladsytjies goedkoop papier soos vir berigte gebruik is  – seksies het ons dit genoem.

Ongelukkig was die ”intreerede” volgens huidige insigte hopeloos te langasem. Ook te wydlopend en woordryk. Te omslagtig en selfs hier en daar onbenullig.  Die garnering verdwerg plek-plek die essensie, soos die borde kos wat sommige sjiek restaurants vir jou voorsit. Waarskynlik is sekere mense daardie aand bang gepraat. Sonder twyfel het ek die meeste mense moeg gepraat: ‘n ongelukkige herhalende swakheidjie.

Gelukkig is plek-plek darem ook enkele dinge kwytgeraak waarmee ek vier dekades later nog min of meer instemming kan betuig. Een is die volgende verbintenis: “Dit sal Die Volksblad onder meer as sy taak sien: om almal wat vreedsame ontwikkeling voorstaan, van watter ras of kleur ook al, te monster om ‘n linie te vorm teen die magte wat die land wil omstoot.

“Hy sal sy voet dwars sit teen elke vorm van radikalisme, van links en van regs, en hy sal hom beywer om by sy mense steeds ontvanklikheid te laat groei vir die waarheid dat die enigste bestendige manier om seggenskap oor die eie te behou, is om dit in konsensus met ander te doen.  In die opsig wag daar harde werk. “

Vroeër betoog ek: “Doeltreffende weerstand teen gevare van binne en buite kan net kom as verhoudinge gesond is, so gesond dat al die mense van Suid-Afrika – al die volke en groepe – verenig teen die gemeenskaplike gevaar.

“En hulle sal net verenig as elkeen ‘n sinryke bestaan het om te verdedig, ‘n eie plekkie in die son wat vir hom so waardevol en so dierbaar is dat hy hom met mag sal verset teen enige poging om hom dit te ontneem. “

Dit is woorde wat van die toehoorders moes laat sluk het.  In kringe was dit bekend dat vrese bestaan het oor die “liberale” gees  wat die “Beeld-man” sou kom indra, en ‘n abortiewe poging is selfs ter elfder ure aangewend om die aanstelling om te keer.  Gelukkig het dit nie geslaag nie.  Die 12 jaar in die stoel was vir my dubbel en dwars die moeite werd.

Met ‘n storie wat ek as jong verslaggewer by Oom Blackie Swart, eerste staatspresident, gehoor het, het ek dalk ook ‘n ongemaklikheidjie by sommige veroorsaak.  Oom Blackie het vertel dat met die inwyding van die koshuis Pres. Steyn by die UV die destydse Vrystaatse Administrateur, sir Cornelius Wessels, die spreker was. Vir die studente was sy boodskap:

”Geleerdheid is mooi, maar moet tog nooit neersien op die jong man met ‘n paar velskoene en ‘n ferweelbroek nie – dikwels klop ‘n warm Afrikanerhart in daardie ferweelbroek.”

“Dit geld ook ons koerant,” het ek gewaag. ”Sy voorkoms is miskien velskoen en ferweelbroek,  maar sy hart klop reg. As die díreksie vir ons ‘n nuwe skoene en ‘n broek sal gee (bedoelende ‘n kleurpers, wat ons toe wel gekry het), ons sal sorg dat die hartklop reg bly.”

Het ons die hartklop reg gehou?  In hoe ‘n mate het die nuwe redakteur woord gehou? Kon ons ideaal en werklikheid versoen? Daaroor moet andere liewer oordeel. Nie almal se oordeel sal positief wees nie, glo ek. Nou-ja, met die waters wat verby is, sal die meule nooit weer maal nie. Wat verby is, is verby.

Oor die vervullende skof van 12 jaar in Voortrekkerstraat 79 vertel ek vorentoe meer.

 

 

 

 

Deel dit: