APPEL EN DIE BOOM

Image0104

Wilhelm (Jorrie) Jordaan staan links agter en Jaap Steyn regs agter. Tussen hulle is Georjane Groenewald. Voor sit Herman le Roux en die uwe.

More uit Melkbos

Pa en seun – twee top-joernaliste.

Ek praat van Willem Jordaan, nuwe redakteur van Die Burger, en sy pa, Wilhelm – prof. Wilhelm. Wilhelm is joerrnalis wat sielkundige geword het. Hy vermeng die twee dissiplines op ‘n skitterende wyse in sy gereelde rubrieke.

Jorrie, soos ek hom in sy jong dae geken het, was ongetwyfeld ook redakteursmateriaal. Hy was ‘n uithaler-verslaggewer van Die Volksblad toe ek nuusredakteur was. Toe stuur ek Jorrie op ‘n dag Brandfort toe waar ‘n ligte in die bome vliegtuig geval het. Hy was wit om die kiewe toe hy terugkom op kantoor. So ‘n ontstellende toneel wou hy in sy dag des lewens nooit weer sien nie.

Ek het vergeefs probeer paai, en verduidelik dat hy by die koerant vir groter dinge as vliegtuigongelukke bestem is. Jorrie het voet by stuk gehou. Hy het gaan verder studeer – doktor en professor in sielkunde geword.

En hierdie ou? Hy sit met die verwyt dat een enkele opdrag van hom die joernalistiek van ‘n blink ster beroof het.

Twee ander tydgenote het sielkundiges geword. Hulle is prof. Charl Vorster en prof. Anda van den Heever. Charl was verslaggewer en Anda sekretarese. Sy kon tik dat die byle huil. Wonder wat sou dit wees dat die joernalistiek en die sielkunde so hand aan hand loop?

Ns. Prof. Jaap Steyn, gerekende taalman en bekroonde skrywer, was ook by Die Volksblad in daardie tyd. Hy was my voorganger as hoofsubredakteur. Het baie by hom geleer. (hvd)

TERUG OP MY TROON

stoel

Ek op my geliefde stoel. By my is Jan Scholtz, die aand van my afskeid by Die Volksblad in 1992.

Middag uit Melkbos

My stoel is terug. Ek sit in my studeerkamer op Melkbos voor die rekenaar en swaai en draai op ‘n meneer van bruin leer met soliede armleunings van Birmaanse kiaat. Na twee manade op ‘n harde, regop kombuisstoeltjie is dit hemels. Ek voel soos ‘n koning op sy troon.

Die stoel is deel van van een van wyle kollega Jan Scholtz se monumente by Die Volksblad: die stylvolle redakteurskantoor met sy meubels van stinkhout en Birmaanse kiaat. Die meeste meubels is deur die meester-vakman Jan persoonlik gerestoureer met die opgradering van die gebou in 1986.

Die stoel is volgens Jan se opdragte deur Bloemfontein se Republiek Meubels vervaardig – deur Lappies Labuschagne se mense, wat hul storie geken het. My voorreg gewees om op daardie stoel te sit en in daardie deftige kantoor my dagtaak te verrig tot 1992.

(Dr. AJR van Rhijn het, terloops, in die 40’s by dieselfde lessenaar gesit. Die uwe was toe ‘n skoolseuntjie in Kimberley – sonder die vaagste benul dat dit my ook beskore sal wees. Die huidige redakteur, Gert Coetzee, sit na my wete steeds by die lessenaar).

Die kantoor is ná al die jare feitlik onveranderd. Natuurlik is die rekenaar in die plek van die tikmasjien. Dan het ‘n vorige redakteur die stoel uitgegooi. My geliefde stoel. Het nie met sy rug ge-akkordeer nie.

Maar stoel in Bloemfontein, stoel op Melkbos. Klink seker verwarrend. Laat ek die kloutjie by die oor bring. Nee, dis nie dieselfde stoel nie. Die Melkbos-stoel is ‘n replika. Die twee is vinkel en koljander.

Die replika is in my besit sedert 1992. Was my afskeidsgeskenk toe ek by Die Volksblad weg is Kaap toe – ‘n gewaardeerde geskenk wat seker deur Jan geïnspireer is. Hy het geweet hoe lief ek vir die meubels in my mooi kantoor is. (Het ook ‘n replika van die boekrak in ‘n gangetjie wat na ons eetkamer lei. Maar dié het ek self laat maak.)

Ewenwel, in Desember verlede jaar gee die stoel se meganisme skielik mee. Sewentien jaar se sit het sy tol geëis. My gewig is boonop nie iets wat ‘n mens sommer uitblaker nie.
Ek soek en ek soek, en kom uiteindelik by die firma Office Concepts uit. Gaan laai my stoel daar af. Wag en wag. Toe kom die nuus: Jammer, daardie soort imeganisme is uit die mode. Kry dit nergens.

My stoel, my stoel. Ek praat mooi. Hulle moet eenvoudig ‘n plan maak. Goed, laat ons kyk, sê Nathan.

Vanoggend ná my soveelste navraag bel Nathan: Sit jy of staan jy? Jou stoel is reg. Ek kon die man soen.

Die Proteas het ‘n slag weer gewen, ‘n salige koel seebriesie stoot by die woonkamer se skuifdeur in, en ek sit weer die sit wat my boude al so lank so goed ken. Die Kaap is weer so Hollands soos kan kom. (hvd)

SOOS MOEDERSMELK

IMG_0105

Spotprente teen my muur.

Middag uit Melkbos

Een muur in my studeerkamer is die ene geraamde spotprente en karikature. Skoondogter, Mariza, het hoeka gese: As pa in die hemel kom, sal hy rondkyk wat daar is om te raam.

Santam verkondig in ‘n advertensie by sy geel sambreel: Ons dek alles. Mag ek parafraseer: Ek raam alles.

Onder die vyftien-stuks sketse op my “karikatuur-muur” is die wat op agterflappe van HvD-boeke in die 90’s gepryk het:

Een deur Charl Marais van die redakteur HvD, gebaadjie en gedas met Volksblad in die hand. Dit was op die agterflap van my eerste boek, Scoops en skandes.

Dan een deur ‘n onbekende kunstenaar uit die tydskrif Magazines in focus: ‘n korpulente HvD, koerant in die een hand en telefoon in die ander. Hy bulder: I wish to report a mistake. THE AFRIKAANS PRESS IS NOT DEAD. Dit was aan die adres van wysneuse wat Afrikaanse koerante al 20 jaar gelede prematuur wou begrawe. Die karikatuur (een van my gunstelinge) was op die agterflap van my tweede boek, Flaters en kraters. Die aanleiding was ‘n toespraak waarin ek bruisend verklaar het: Vir die doempofete sê ek vanaand: Trek uit u begrafnisklere. Gooi weg u kransies. Laat die vonkelwynproppe klap dat ons partytjie kan hou!

Die derde in die reeks is deur Fred Mouton. Dis van HvD agter sy rekenaar waaruit ‘n stortvloed woorde bly stroom – ‘n afskeidsgeskenk van Die Burger by my aftrede einde 1997. Dit was op die agterflap van my reisboek, Oos, wes, reismoles.

Ook in die boekekategorie is die omslag van my versamelde hekelversies, Polisie, polisie, ons reënboog is geroof. Dit toon twee gewapende rowers wat weghol met ‘n reënboog in hul hande. Orin Scott was die kunstenaar. Ander omslae van HvD-boeke hang elders in die huis.

Oudste spotprent teen die muur is een wat in 1979 in Beeld verskyn het toe die “nuwe dagblad” ‘n tere vyf jaar oud was. Die tekenaar is Orin Scott. By ‘n verjaardagkoek staan hoofredaksielede Ton Vosloo, Piet Botma, Bob van Walsem, HvD en Piet Muller. Beeld was vanjaar veertig. Botma en Van Walsem is al oorlede

Wat ook teruggryp na daardie dae is ‘n geraamde skets van twee gevleuelde engele op die voorblad van die Nieman Association van Harvard se tydskrif, Nieman Reports. Een engel verklap aan die ander: Confidentially, I’d rather spend eternity as a Nieman Fellow. Na my wonderjaar op die Harvard-kampus in 1976/77 verstaan ek nogal daardie sentiment.

Uit my Volksblad-dae kom allerlei illustrasies by humorstukke uit my pen. Charl Marais het my geteken waar ‘n Brasiliaanse polisieman met ‘n yslike snor my op Rio se lughawe beetkry. Dit had te make met ‘n oorgewig-koffer waarvan ek moeitevol ontslae geraak het. Daar is ook ‘n Fred Mouton-ene van moleste in die vreemde. Op die einste Rio-lughawe tuimel Marisa (3) in ‘n stormloop vliegtuig toe gillend uit haar stootwa. Pa gryp sy kop vas.

‘n Derde is van my kennismaking met die Swartsee in Rusland. Waag ook maar net om ‘n toon in te steek. Die kunstenaar is Fred Mouton.

Op my 50ste verjaardag het ‘n studentemaat, Faan van Huysteen, vir my ‘n geraamde reeksie uit die strokiesprent Peanuts present gegee. Die dierbare Peannuts-karaktertjie is besig om ‘n brief aan die redakteur te skryf. Dit begin: Liewe redakteur van Briewe aan die redakteur, hoe gaan dit met jou?

In die tweede prentjie merk die meisiekind Lucy snipperig op: Hoe gaan dit met jou? Watter soort brief is dit om aan ‘n redakteur te skryf? In die derde antwoord Linus: Ek het net gedink hy sal dit dalk waardeer as iemand oor sy gesondheid navraag doen. In die vierde slaan die klein ramkat die spyker nog meer op die kop: Redakteurs is darem ook so half en half mense, weet jy?

Het ‘n geweldige affiniteit vir daardie geskenk van vriend Faan.

Uit my Kaapse dae is ‘n spotprent wat in Rapport was. Dit is ‘n meesterlike uitbeelding deur Lou Henning van die SAUK se Chris Louw wat ‘n verbaasde HvD verskreeu. Louw is ook reeds heen.

Die onderhoud op Monitor onthou ek soos gister. Dit was oor my persoonlike voorlegging aan die WVK waarin ek o.m. betoog het Afrikaanse koerante het niks om oor verskoning te vra nie; ons het trouens in die voorste loopgrawe gestry om teen die sin van ‘n groot gros lesers die saak van hervorming volhardend te dien.

Louw het dit as ‘n “romantisering” afgekraak en so emosioneel geraak dat hy amper in trane uitgebars het. Die onderhoud het in ‘n kwaai skermutseling ontaard.

Die grootste raam teen die muur is om ‘n reeks Honiball-tekenprentjies van 1983, wat ek by Thys Slabber van Melkbos present gekry het. ‘n Koerantverkopertjie skreeu: BURGHE! ‘n Man stoom op hom af. Die outjie skrik hom boeglam en lê rieme neer. Die man haal hom in en gryp hom aan sy kraag. Dan woel hy in sy broeksak en vra doodgewoon: ‘n Burger asseblief. Die verkopertjie is verstom: Slaan my dood met ‘n kanarieveertjie. En keep de tjyns sê hy ok nog ….

Twee dinge maak hierdie ene vir my spesiaal waardevol: Honiball se handtekening en die pragtige uitbeelding van die hegte verhouding tussen die leser en sy koerant – iets wat wat al die wondere van die e-era nie kan troef nie.

Trouens, skielik besef ek: Al die spotprente teen daardie muur saam beklemtoon een oorheersende tema. Dit is die HvD-motto waarmee ek my loopbaan afgesluit het, en wat by my steeds geld: Die koerant is soos moedersmelk. Daar is geen substituut nie. (hvd)

IN DIE VOORSTE RY

2014_11_282

Saam met die groot geeste in die politiek van die 80’s (links bo, regs bo, links onder en regs onder): P.W. Botha (ook Willie van Niekerk), Nelson Mandela, Thabo Mbeki, F.W. de Klerk en Pik Botha.

Middag uit Melkbos

Om redakteur van ‘n dagblad te wees, is om in die voorste ry te sit terwyl eietydse geskiedenis op ‘n reuse-skerm voor jou verbyrol. Dis my eie woorde wat ek aanhaal. Met instemming. In die onstuimige jare 80 het die tempo en intensiteit van die geskiedskrywing ongekende vlakke bereik.

Met my aanstelling is ‘n ou droom vervul. Jare tevore het ek op ‘n vraag van ‘n kollega, Trudi Gey von Pittius, vrymoedig geantwoord: “Natuurlik wil ek redakteur word.” Hoe rof die rit sou wees, het ek nie toe besef nie; ook nie die 39-jarige in 1980 nie.

Enorme politieke uitdagings en verskuiwings was reeds op die horison. Swart nasionalisme het soos ‘n donderstorm losgebars. Die bosoorlog oorkant die grens en die terreuroorlog tot in die hart van ons stede het uitmergelend gewoed. Sanksies en boikotte het gewurg.

Toekomstwyfel het wyd ingeskop. Die magtige Nasionale Party het gewankel en in 1982 geskeur. In ‘n vurige “familietwis” het broer teen broer opgestaan. Die Konserwatiewe Party het elke verkiesing veld gewen. Dr. Andries Treurnicht is as redder omarm – ook deur persoonlike vriende. Die Volksblad was die NP se Vrystaatse spreekbuis. Hy moes moue oprol en baklei vir ‘n vale om ‘n stembus-ramp af te weer.

Uiteindelik is P.W. Botha se ystervuis deur ‘n beroerte verlam. Die meer pragmatiese F.W. de Klerk oorgevat (lekker Volksblad-scoop gewees danksy die wakker Alf Ries in die persgalery van die parlement). Toe kom 2 Februarie 1990. Nege dae later het Nelson Mandela as ‘n vry man uit die tronk gestap – ‘n monumentale dag wat die “nuwe Suid-Afrika” ingelui het.

Hierdie politieke aardverskuiwing het nie gebeur sonder geweldige uitdagings aan Afrikaanse koerante nie. Hedendaagse kritici is vol verwyte. Kon ons nie harder gedruk het vir vinniger en ingrypender hervormings nie? Hulle onderskat, verstaan nie en vergeet gerieflik die weerstand uit eie lesersgemeenskappe wat stukkie vir stukkie afgebreek moes word. Hope witmense het vir dood bly vasklou aan die baasskap wat hulle as hul goeie reg beskou het.

In daardie weerstand is ook die redakteur as persoon ingesuig; hy (en sy gesin) is oor sy “verligte” politiek gehoon, getreiter en met die dood gedreig. Oor van die kommentare kon ek lag, soos my regse Tukkietydgenoot Daan van der Merwe se opmerking dat ek ‘n “swaargewig liggewig” is. Maar laat ek bely: in ‘n stadium was die “swaargewig liggewig” erg benoud, veral nadat ‘n aktiewe saboteur, wat homself die “wit terroris” genoem het, sy intrek in ‘n woonstel oorkant die koerantgebou geneem het om op ons te spioeneer. Die redakteur het veral op donker winteroggende maar omkyk-omkyk kantoor toe gedrafstap. Teer en veer deur die AWB – soos die arme prof. Floors van Jaarsveld te beurt geval het – was die minste wat hy gevrees het.

Terwyl bittere kritiek uit wit geledere op die koerant gereën het, is van die perskommentator James McClurg van die Cape Times die volgende pluimpie ontvang: “Batting on the sticky wicket of the conservative OFS, Die Volksblad has shown consistent courage. Its present editor, JH van Deventer, resolutely dispenses reformism to one of South Africa’s more conservative communities.”

Onlangs is ‘n boek onder my aandag gebring met die titel South Africa’s Resistance Press: Alternative Voices in the Last Generation under Apartheid deur Les Switzer en Mohamed Adhikari (Ohio University Press, 2000). “Real opposition in Afrikaner press circles against grand apartheid, however, stems from the 1980s, and it came from newspapers in the Transvaal and Orange Free State,” sê die skrywers. “Ton Vosloo, editor of Beeld, and Hennie van Deventer, editor of Die Volksblad, for example, were critical of the government’s ban on the ANC and other opposition groups.”

Oor die “courage” en “real opposition” is meermale ook van Indiërs en bruinmense dankies ontvang vir die vars stem teen diskriminasie uit Bloemfontein. (Op Harrismith was die pikante situasie dat die beheerraad van die skool waar my dierbare swaer, Fanie van Wyk, hoof was, ‘n Chinesie toegang geweier het. Die Volksblad het aggressief haar saak opgeneem … en die stryd gewen. Vir my moeite is ek na die Republiek van China genooi!)

‘n Mooi afronding in die pylvak van my redakteursdae was die Vrystaatse stemmery in die waterskeidingsreferendum van 1992. Teen die stoutste verwagtinge in is albei Vrystaatse stemdistrikte ingepalm. Amper 55% van die stemme was ten gunste van magsdeling in ‘n onderhandelde nuwe grondwet. Die lang, verbete stryd van Die Volksblad was nie vrugteloos nie! (Die loodplaat van daardie voorblad hang in my Sabieparkhuis.)

As ek terugkyk op my 12 jaar in die stoel, is dit nie sonder selfkritiek nie. Ook in die politiek, en veral die hantering van regse vrese, was die oordeel in die redakteurskantoor nie altyd suiwer nie. Met konfrontasies, probleme, teleurstellings, foute en al was dit tog ‘n fassinerende en vervullende era.

Vandag is ek dankbaar dat my koerant weldeeglik sy rol gespeel het om oë vir werklikhede te help oop maak. Al voldoen die Suid-Afrika van 2014 dan nie naastenby aan die idealistiese verwagtinge van ‘n kwarteeu gelede nie, glo ek onwrikbaar: ons het by die kruispad reg gekies. Hoeveel erger kon ons voorland nie gewees het nie?

Maar van politiek alleen kan ‘n redakteur nie leef nie. Later vertel ek oor ander uitskiet-aspekte van daardie tydvak – en van ‘n paar karakters. (hvd)