Aug 11, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Week drie van die wintervakansie breek aan met die blye nuus van die nagapies se lank afgewagte herverskyning op Tarlehoet se stoep.
Presies om 18:10 Maandagaand land die eerste Drie minute later land nommer twee. Eerste keer dat ons 14 dae moes wag. Die opgewondenheid was groot. Helaas te laat gewees vir ‘n foto.
Albei besoekertjies het taamlik verskrik voorgekom. Eerste ou het vinnig ‘n skyfie opgeraap en laat vat. Die tweede het darem twee keer teruggekom. Wonder wat hulle so laat skrik het dat hulle so sku en op hul senuwees is. Ons hou maar duim vas dat hulle weer ‘n instelling gaan word.
Drie bloukuifloeries het blykbaar in die katjiepiering by die voorstoep ingetrek. Hulle is heeldag hier rond. Sebras en bosbokkies het vir mooi foto’s by die watergat gesorg. ‘n Hiëna laat gereeld Tokkie se gorillaligte aangaan. Paradysvlieëvangers maak ook meermale hul opwagting.
By Philip en Nance van Rensburg se huis (“Ons Plasie”, 62) het ons ‘n nuwe stukkie sebrakennis opgedoen: hoe lief die nasie vir die soetdoring se heldergeel poeierkwasblommetjie is. Hulle eet verbete.
Lente breek vroeg aan. Die drolpere staan in sierwit “bruidsgewaad”, die knoppiesdoring is ‘n see van geel en onder die worsbome lê die rooi trompette dig. Wonder darem hoekom so ‘n sierlike boom so ‘n onwelriekende naam gekry het.
Van die lekkerste aktiwiteite bly maar elke aand se vuurtjie maak vir die braai. Die ou man se houtgebruik is minder konserwatief as tevore. Nou die aand die gloeiende kole benut deur agterna soos kinders malvalekkers op stokkies te braai.
Ons mis steeds ons koerant – ook by die vensterwassery. Ons mis ook die kerk – maar bly lugtig vir “byeenkomste”. Die mense van Mpumalanga blink juis nie uit in die dra van maskers nie – selfs in Sabiepark. Wat ons nie mis nie, is die bobbejane. Hulle hou hulle skaars, skaarser as ooit, en ons is in die wolke daaroor.
‘n Aanwins op ons boekrak is Ron Dulek van Alabama se “Sitting with elephants” (kyk die hoofstuk “Skurwe slaapmaats “ in “Bure van nature”). ‘n Boeiende en insiggewende boek oor sy toenadering tot en uiteindelike vriendskap met ‘n tamaaie matriarg . Sy vrygewigheid met fooitjies laat net die oë rek – tot R500 vir die drie hekwagte elk wanneer hy padgee. Dink ek moet ook my keps by 286 gaan hou.
Aug 6, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In ‘n goue halfuur het ons die volgende beleef:
- Vyf sebras het soos skimme uit die bos gekom om te kom drink. Onenigheid het tussen twee ontstaan. Wilde skoppe is uitgevoer.
- ‘n Bosnagaap het grasieus teen die maroela afgeseil en oral piesang gesoek – ook, tot Tokkie se ergernis, op haar vars verniste tafeltjie. Later het hy in die boom gaan sit en skel.
- Die resident-muskeljaatkatjie het ritselend rondgesluip.
- Seekoeie het lustig in die Sabie genurk.
- Hiënas het in die verte aanhoudend geweeklaag.
- Op die kole van die ou rooiboswilg by die kombuisvenster wat afgekap is, het twee varktjoppies perfek gaar geraak (skaap is skaars).
- ‘n Glasie of drie koue chenin blanc van Laborie is geniet.
‘n Salige vertraagde viering van my 80ste wat op 3 Januarie stil verbygegaan het.
Op ‘n wildtuinrit Onder-Sabie toe is amper ‘n kilometer agter vyf leeuinne aangekruie. Van hul poging om te jag, het niks gekom nie. Bokkies het te vinnig laat spaander. Ek glo die vloot karre het die leeus gekortwiek.
Twee takbevelvoerders van die afdeling Arende het die visverkeer in die Sabie bespied – ‘n besonderse fotogeleentheid. Vier sebras met hul nekke oor mekaar was dit ook. Fotograaf was egter aan die slaap.
‘n Briefskrywer beweer in Beeld daar is nou meer olifante as rooibokkies in die wildtuin. Wel, op die rit het dit werklik so gelyk. Buiten honderde olifante ook baie kameelperde gesien, buitengewoon baie koedoebulle en vier mooi njalabulle. Die karkas van ‘n sivet in ‘n boom het motors laat opdam. Vreet luiperds ander roofdiere?
Buffelspastei by die netjiese nuwe Nkuhu-halfwegstasie geniet. Goeie waarde vir R45. Ongelukkig doen die toestand van die toilette afbreuk aan die plek. Die indruk van algemene versletenheid is verder versterk.
‘n Slegte verwikkeling is dat geen koerante of tydskrifte meer in die wildtuin beskikbaar is nie. Wat ‘n gemis! Digitaal is inderdaad nou oweral. Ook sleg is toegang tot die Proteahotel (seker darem net vir die duur van die pandemie) net tot hotelgaste beperk word.
Tuis, verskaf twee bosbokkies – ‘n rammetjie en ‘n ooitjie – vreugde. Het vanoggend weer saam kom water drink. Die knoppiesdorings stoot lentebloeisels. Weet nie of die watergat lek en of hier snags ‘n groot dieregefuif is nie? Vlak sak vinnig. Bedags is die dierevolume nie juis om van te praat nie.
By die piekniekplek is gereeld leeu- en luiperd-aktiwiteit. Ons mis dit telkens. Sien net baie olifante en minder gevaarlikes.
Ons geniet ons yskas terdeë. Vir ons konserwatiewe behoeftes is hier oortollige krag. Die sonkrag-lapaliggies het gesneuwel. Niks hou vir altyd nie en party goed net vir ‘n kort rukkie.
By TV-kamer is toepassing van Covid-protokolle nie so dat jy dit sal agterkom nie. Sal liefs nie in die lang naweek daar na die derde toets teen die Leeus gaan kyk nie. BY die pieknieplek – in die oopte – word temperature egter opgeskryf. “It’s a strange, strange world, Master Jack.”
Tokkie is oustryk aan die werskaf. Die “engel met die verfkwas” is bedrywig met die verf en vernis. Net om haar dop te hou, is uitputtend. Sy is vol blou kolle van al die stote en stampe. Telkens raak sy so verdiep in haar werk dat haar koffie staan en koud word. My eie hand herstel mooi ná ‘n bloederige onderonsie met ‘n aalwyn.
Aug 1, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Waar is ons nagapies heen? Soos Marlene Dietrich in haar liedjie “Where have all the flowers gone?” treurig wonder oor die verdwyning van blomme treur die Van Deventers oor hul nagapies .
Oor jare het ons bederf geraak: Sodra dit sterk skemer is, het die oulike nagdiertjies uit alle oorde vir ‘n “vingerete” in die bos aangesweef gekom. Party het soos lede van 1 Valskermbataljon bo uit die nok neergedaal; ander het uit die ooste op ‘n vasgestelde roete ge-arriveer. Soms het een of twee ons om die suidwestelike hoek van die huis verras.
Drie rekords is weer en weer verbeter: hoeveel opdaag, hoe lank dit huller vat om die piesangtafel skoon te maak en hoeveel piesangs in ‘n aand verorber word. Die rekord-opkoms is tien, die tyd ‘n blitsige tien minute en die getal piesangs twee en ‘n stukkie.
Die betroubaargheid van die galado moholi’s was onoortreflik. So betroubaar soos ‘n Japanse Bullet-trein, het Tokkie gemeen.
Maar vanaand is al aand ses van die lank verwagte wintervakansie van 2021. Geen van die gewone “tsjak-tsjak” wat hul koms aankondig nie. Geen beweging in die knoppiesdoring skuins voor die huis nie. Geen beweging in die sekelbos, die Transvaalse katjiepiering, die groot maroela teenaan die stoep of in hul laaste stasie voor die kostafel, die ietwat gehawende ou pendoring, nie.
Verlangend tuur ons aand vir aand na die alternatiewe roete om die hoek via ‘n haak-en-steek met sy gevaarlike dorings. Uit hom is dit net een substansiële sprong tot in die maroela. In ‘n avontuurlustige bui het om-die-hoek-sluipers soms op die swembadmuur na die pendoring aangehupppel gekom. Ook daar gebeur tot dusver niks.
Die groter variant die bosaap (galado crassicaudatus) was sommer die tweede aand al hier. Toe ons Vrydagaand in die agterste lapa braai, was hy gou om dit te ontdek. Ook die vrugtevlermuise skeer heen en weer laag oor die skyfies piesang wat spesiaal uitgesit is. Maar dis al aktwiteit.
Dat dit nie net by Tarlehoet is dat die welkome besoekertjies eenvoudig tussen neus en ore verdwyn het nie, hoor ons by ander Sabieparkvriende wat hulle ook ten seerste mis. Waarheen het hulle dan pad gevat? Waarom?
Dalk uitgeboender deur die groter, sterker en aggressiewe bosnagaap wat eintlik oewerbewoners is? Dalk te veel grootooguile in die kontrei? Ons sou bittergraag wou weet.
Intussen eet ek maar elke oggend ‘n paar skyfies piesang by my brekfiskos. En bly hoop dat die afwesigheid net tydelik is.
Jul 29, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Let op die lang droogtetyd tussen die vorige inskrywing uit die bos en hierdie een. Tussen 2 Februarie 2020 en 29 Julie 2021 lệ 18 maande van inperkings weens Covid 19, verlange na Sabiepark, frustrasie en selfs twyfel of ek en Tokkie – nou 80 en 75 onderskeidelik – ooit weer ‘n voet op die geliefde grond sou sit.
Wel, hier is ons – danksy Pzifers, Airlink se direkte vlug na Kruger-Mpumalanga en ‘n paar ander dingetjies wat uiteindelik vir ons reg geval het.
Aanvanklik was dit bra vreemd om weer hier te kom. Selfs die Honda se knoppies het my laat rondtas. Tarlehoet self was half begrawe onder blare, spinnerakke en dooie goggas. Miere het ‘n bylsteel feitlik opgevreet en ‘n besemstok gehalveer. Maar vandag, dag drie, het normaliteit al grootliks teruggekeer.
Ons plek ken ons nog. Charelle het vir Tokkie by die Krugerhek herken, Chris Badenhorst vir my by sy werkwinkel – nog net so ‘n plaat motors soos altyd – en ons vrugteverkoper-vriend by die ou Checkers die Honda. By die kantoor wil almal weet: “Hoe gaan dit met Christopher?” Die weersiens met Patson en die flukse Lucy was hartlik. Ongelukkig is Patson se dienste nie meer nbeskikbaar nie. Hy werk nou net vir Sabiepark.
Ou “kuiergaste”uit die diereryk soos die bosnagaap, die hiëna, die uil, die bloukuifloerie,die tarentale, die sebras, die blouwildebeeste, die rooibokkies en die bobbejane het reeds kom oë wys. Die hiëna was skemer by die swembad-trappies. Later het die bokker aan die noodwiel se seil kom kou. Die bobbejane het buitengewoon rustig verby gemarsjeer.
Drie kameelperde het ons spesiaal kom “verwelkom”. Een het dadelik aangesuiker watergat toe, sy voorbene geknak en die lang nek laat sak om van die skoon, vars water te geniet . Dit was die eerste keer in 23 jaar dat ‘n kameelperd voor ons o uit ons watergat teenaan die huis drink – heuglik! Die ander twee het lank hier rondgestaan en blare gepeusel. Op die foto’s kan ‘n mens sien hoe naby aan die stoep en lapa hulle was.
In Maroelalaan het ‘n swartwitpens vinnig tussen die bosse uitgespring. Goed gewees om so gou een van die Sabiepark-sierade te sien. (De Wet Mouton het ‘n klompie op die gras by die kantoorgebou afgeneem.)
Ons eerste vlugtige kuiertjie by die piekniekplek het ‘n verrassing gelewer: ‘n poublou bosloerie (narina trogon) met sy karmosyn bors in die takke van die reuse-trosvy. Natuurlik was daar ‘n ophef, soos altyd, al is die minder seldsame bloukuifloerie vir my mooier. Organ het met die Canontjie vir my ‘n klompie foto’s geneem. My nek is te styf vir sulke “lugfoto’s”.
Natuurlik was daar ‘n paar olifante (drie) en ‘n bosbokkie. Ook ‘n koedoe.
Wat vir ons sleg is, is die toenemende versletenheid van die wildtuin. By Boulders het ons lekker gekuier saam met Philip en Nancé van Rensburg asook Jaap en Marlene Duvenage, Jani en Daniël. Warm water was bitter skaars. Kaste, deurkosyne en stoele het beter dae geken. Ook Letaba, Tshokwane en die Phabenihek toon tekens van verval. Skukuza se “beddings” by die winkelkompleks is verwaarloos. Dit lyk met een woord bra oes.
Sabiepark daarenteen lyk goed versorg. Gedurig kom nuwighede by, soos die groot uitkykplek by die rivier en nuwe braaiplekke, ook by die TV-kamer. ‘n Persoonlike plesiertjie is dat “Bure van nature” by die kiosk ‘n topverkoper is. Organ Ongeni wat die buitebladfoto van “Bure” geneem het, kry vanmiddag sy komplimentệre eksemplaar van die boek. Tokkie sal die keer die fotograaf wees.
Jul 16, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Ken jy die Laeveld, sal jy Bure van nature baie geniet. Was jy nog nooit daar nie, sal jy stomgeslaan wees oor die leefstyl in die bos, skryf Dawid de Wet in sy vriendelike Litnet-resensie van “Bure van nature”.
Hy skryf: Ek was baie geseënd om as kind baie tyd in die Krugerwildtuin te kon deurbring. My oom was die hoof van spyseniering in “die wildtuin”. In ’n tyd van buffelvleispasteie met slaptjips vir middagete en wit lapservette. ’n Tyd voor kettingwinkels. My oom-hulle het in die personeeldorp in Skukuza gebly. Ben was ’n koedoe wat elke dag oor die lae heining gespring het om in die tuin aan allerlei groen blare te kom peusel. Die heining was eerder daar om nuuskierige hiënas saans uit die werf te hou. Soms kon my neef nie met sy fiets na die laerskool toe ry nie, want daar was manne met tanne op die dorp se gholfbaan of krieketveld. Dikwels was dit ’n seekoei of rooibok wat in die slag gebly het. Ouers is dan baie mooi gevra om die kinders maar self by die skool se hek te kom besorg. Ek het vele sorgelose dae in die bos tussen die huise spandeer. Dit was vir my nooit genoeg nie.
Almal wat al tyd in die Laeveld spandeer het, sal jou kan sê dit is sintuigwêreld. Die flikkerende vlamme van ’n Combretum– (kierieklapper-) vuurtjie, die vroegoggendgeluide, soos dié van ’n fisant wat lank voor sonsopkoms die nag se nuus uitblaker, die laatmiddagreuk van oewerbos, en die rillings langs jou ruggraat as jy skielik bewus raak van die hiëna agter jou kampstoel.
Hennie van Deventer se Bure van nature: Waar mens en natuur skouers skuur is ’n boek vol stories van ontmoetings met wilde diere in ’n wilde wêreld. Die verhale wat Van Deventer, lank verbonde aan Naspers, hier deel, is oor ’n tydperk van 20 jaar in Sabiepark, ’n privaat natuurreservaat teenaan die Sabierivier en aangrensend aan die Krugerwildtuin, versamel.
Ek het van die beskrywing van die gebande muishonde gehou. “Die bangjanne in hulle geledere sal sommer ’n agteroor-salto uitvoer as hulle ’n mens sien. Daardie stukkie gimnastiek word met skril uitroepe van skok en verontwaardiging begelei.”
…….
Die hoofstukke is kort en die vertellings humoristies, en die boek lees dus maklik. Dit is perfek vir diegene wat in die wintermaande saans knus in die bed lê en na die Laeveld verlang.
……..
Dan is daar nog stories van likkewane in die dak, leeus op die wandelpad, luiperds op die stoep en hiënas wat alles vreet wat in sig is. Natuurlik ook slange: luislange, Mosambiekse spoegkobras en die gevreesde swart mamba. Vir iemand wat daar huis moet hou, is die streke van blouape en bobbejane dalk nog erger.
Diep binne-in ons is daar tog ’n heimwee, ’n tipe verlange na so ’n lewe in die bos. Watter ander woonbuurt kan dan spog met ’n inwonende luiperd? Nogal met ’n naam soos Vin Diesel. Dit is net jammer dat die buurt se vlakvark, Brood, ook onder Diesel moes deurloop. En wie kan die vloed van Februarie 2000 vergeet?
Die hoofstukke is kort en die vertellings humoristies, en die boek lees dus maklik. Dit is perfek vir diegene wat in die wintermaande saans knus in die bed lê en na die Laeveld verlang. Ek ruik en proe en sien “die tipiese Laeveldse natuurskouspel van blitse teen die donker naghemel” wat oorslaan in ’n sagte reën. En dan verlang ek ook.
Sabiepark klink vir my soos die ideale woonplek (as jy die insekaanvalle en breekskade van viervoetiges ignoreer). Jou huis is in die wildtuin en die wildtuin in jou huis. Duikertjies en bloukuifloeries word bekendes en kameelperdgeboortes kan van die stoep waargeneem word.
Ken jy die Laeveld, sal jy Bure van nature baie geniet. Was jy nog nooit daar nie, sal jy stomgeslaan wees oor die leefstyl in die bos.