Waar is ons nagapies heen? Soos Marlene Dietrich in haar liedjie “Where have all the flowers gone?” treurig wonder oor die verdwyning van blomme treur die Van Deventers oor hul nagapies .

Oor jare het ons bederf geraak: Sodra dit sterk skemer is, het die oulike nagdiertjies uit alle oorde vir ‘n “vingerete” in die bos aangesweef gekom. Party het soos lede van 1 Valskermbataljon bo uit die nok neergedaal; ander het uit die ooste op ‘n vasgestelde roete ge-arriveer. Soms het een of twee ons om die suidwestelike hoek van die huis verras.

Drie rekords is weer en weer verbeter:  hoeveel opdaag, hoe lank dit huller vat om die piesangtafel skoon te maak en hoeveel piesangs in ‘n aand verorber word. Die rekord-opkoms is tien, die tyd ‘n blitsige tien minute en die getal piesangs twee en ‘n stukkie.

Die betroubaargheid van die galado moholi’s was onoortreflik. So betroubaar soos ‘n Japanse Bullet-trein, het Tokkie gemeen.

Maar vanaand is al aand ses  van die lank verwagte wintervakansie van 2021. Geen van die gewone “tsjak-tsjak” wat hul koms aankondig nie. Geen beweging in die knoppiesdoring skuins voor die huis nie. Geen beweging in die sekelbos, die Transvaalse katjiepiering, die groot maroela teenaan die stoep of in hul laaste stasie voor die kostafel, die ietwat gehawende ou pendoring, nie.

Verlangend tuur ons aand vir aand na die alternatiewe roete om die hoek via ‘n haak-en-steek met sy gevaarlike dorings. Uit hom is dit net een substansiële sprong tot in die maroela. In ‘n avontuurlustige bui het om-die-hoek-sluipers soms op die swembadmuur na die pendoring aangehupppel gekom. Ook daar gebeur tot dusver niks.

Die groter variant die bosaap (galado crassicaudatus) was sommer die tweede aand al hier.  Toe ons Vrydagaand in die agterste lapa braai, was hy gou om dit te ontdek.  Ook die vrugtevlermuise skeer heen en weer laag oor die skyfies piesang wat spesiaal uitgesit is. Maar dis al aktwiteit.

Dat dit nie net by Tarlehoet is dat die welkome besoekertjies eenvoudig tussen neus en ore verdwyn het nie, hoor ons  by ander Sabieparkvriende wat hulle ook ten seerste mis.  Waarheen het hulle dan pad gevat?  Waarom?

Dalk uitgeboender deur die groter, sterker en aggressiewe bosnagaap wat eintlik oewerbewoners is? Dalk te veel grootooguile in die kontrei? Ons sou bittergraag wou weet.

Intussen eet ek maar elke oggend ‘n paar skyfies piesang by my brekfiskos. En bly hoop dat die afwesigheid net tydelik is.

Deel dit: