WIE OP DEESKE AARDE?
Kom ons sit die raai-raai-riepastorie voort met “Koerantkamerade” (Naledi, 2021) as verwysingsbron.
Kom ons sit die raai-raai-riepastorie voort met “Koerantkamerade” (Naledi, 2021) as verwysingsbron.
Watter koerantman het vir PW Botha gese: “U se moer ook “? Watter een het hom, in sy eie woorde, aan PW “afgesmeer”? Wie is met koekies en tee in Libertas onthaal … en toe bars ‘n bom?
Geheimpies soos hierdie word verklap in “Koerantkamerade”, my nuwe boek, wat so saam met die lente sy buiging by Naledi gemaak het. Ook antwoorde op politieke prikkelvrae soos: Wie het ‘n jong Botha afgeraai om joernalis te probeer word? Wie het sy kabinetskuiwe tot Botha se gramskap in rooi pajamas uit ‘n hospitaalbed voorspel?
“Koerantkamerade” bied ‘n intieme blik agter die papiergordyn aan die hand van ʼn 50-stuks gemoedelike en informele “grafskrifte” van ontslape tydgenote in die perswese. Die galery van pers-persoonlikhede sluit in van die bekendste joernalistieke name van die goue jare van koerante van 1960 tot 2000, maar ook onbekende agter-die-skerm-mense. Die hele spektrum word gedek: van koerantverkopers tot korrespondente tot redakteurs en direkteure.
‘n Kernelement is talryke humoristiese anekdotes. Die sluier word ook gelig oor allerlei intriges in nuuskantore en direksies.
Die boek van 300 bladsye word opgedra aan “almal wat lief is vir koerante en oor die mense agter die papiergordyn wonder.” Dit bevat ‘n spesiale ekstra fotoseksie van 20 bladsye. Talle van die foto’s is nog nooit tevore gepubliseer nie.
“Koerantkamerade” word gepubliseer in samewerking met Nagkantoor en word ondersteun deur ‘n ruim subsidie van die LW Hiemstratrust. Danksy die subsidie kon die prys tot R220,00 beperk word.
Bestel dit by Tertia Swart-078 648 8616/ tertia@naledi.co.za of naledi.co.za(Naledi se webtuiste). “Koerantkamerade” sal weldra ook op die rakke van voorste boekwinkels landwyd te koop wees. Hou dop vir die omslag met die gevoude skippie van koerantpapier wat op die waters dobber.
(Nog enkele vrae oor koerantmense wat in “Koerantkamerade” beantwoord word: Watter bekende koerantman het in Finland hout gekap, in België by ʼn mosterdfabriek en in Duitsland in ʼn psigiatriese inrigting gewerk, en hom in Holland as ʼn buffetsjef bekwaam? Wie was ‘n konstabel, wie ‘n meubelmaker en wie ‘n plattelandse bankklerk? Hoeveel was predikante? )

Knus teen die koue.
Op die granokoppie Mathekenyani, 10 kilometer suid van Skukuza op die H1-1, gebeure vele dinge. Leeus en luiperds loop hier. Soms ‘n energieke olifant. Mense raak in stringe hier verloof, hulle trou selfs. Ander kom strooi die assies van ‘n geliefde. Intieme kerk- en ander byeenkomste vind plaas. Dis ook ‘n voortreflike plek vir ‘n skemer-geselligheid.
So omring deur die wydse Krugerwildtuin ver benede is die sonsondergang ‘n strelende prentjie. Met die komplimente van die gasvrye Jimmy en Lida Pressly van Skukuza kon die Van Deventers, asook Corrrie en Corrie du Plessis van Potchefstroom – die een is Corrie-Adam en die ander Corrie-Eva – ‘n geluksalige uurtjie of twee op die yslike rotsplaat deurbring met ‘n eet- en ‘n drinkdingetjie in die hand.
Later het die kundige Jimmy vir ons die sterre identifiseer: van die prominente Aandster tot Scorpio. Op pad huis toe in die donkerte kon ek en Tokkie van harte met mekaar saamstem: ‘n Goeie tyd saam met goeie vriende op ‘n goeie plek is goud werd.
Met renosters wat weens stropery en hervestiging in ‘n groot gebied van die Krugerwildtuin bitter skaars geraak het, word die Vyf Grotes deesdae nie sommer in ‘n japtrap afgetik nie. Ek en Tokkie is al vyf weke in Sabiepark en het die vakansie al iets soos tien Wildtuinbesoeke agter die rug. Leeus baie gesien, ook olifante en buffels. Luiperds nie soveel nie maar tog wel. Renosters? Niks. Toe skielik, op pad huis toe ná die kuiertjie op die koppie (‘n seldsame nagrit vir ons): Stadig stap in die donker pad, hier kom ‘n renosterma en haar kalf van voor in die teerpad aangedrentel; ongestoord of elke geknor van ‘n voertuig-enjin nie vir hulle potensiële onheil inhou nie.
Hulle poseer as ‘t ware vir foto’s. Dankie, julle. Sou maar sleg gewees het om in die Kaap aan die kleinkinders te gaan rapporteer dat ons in die Vyf Grotes-mekka was sonder om die Vyf Grotes almal te sien.
Tot die galery van sneeufoto’s van oraloor op allerlei webblaaie kan ek uit Sabiepark natuurlik geen bydrae lewer nie. Dit het hier nie gesneeu nie en slegs ‘n paar druppels het geval. Maar dit was deksels koel, hoor. Hier is my weerfoto: twee sebras wat Sondag skuiling soek teen die snerpende winterwindjie in ‘n knus hoekie by Tarlehoet. Toe ons omstreeks een-uur by die huis kom (wasdag gewees), het die twee hulle stewig ingeplant op die Honda se staanplek, en was hulle erg ongretig om die “verowerde gebied” prys te gee. Taamlike oortuiging geverg. Sulke merries!
Die stoelkussings op die vloer is nie vir hul gerief nie. Dis deur die wind daar gedeponeer
Ek raai die koue is nou verby. Lente is in die lug. Oral slaan groen blaartjies uit. Die sambokpeule staan geel in die blom of spog reeds met ‘n groen blaredos. ‘n Vreugde by Tarlehoet is die pienk impalaletjies.
Wild bly skaars maar voëls is aktief. Een oggend was daar tegelyk ‘n spookvoël, swarthelms, withelms, ‘n speg en kakelaars. Hope sysies kom drink.
‘n Kommer is of die teenwoordigheid van ‘n likkewaan op die stoep en ‘n gegor-gor in/op die dak verwant is.
Die “hoofstraat” van die Wildtuin, die Skukuza-Onder-Sabie-pad, bly maar die vrugbaarste. Ons het drie ritte daarop onderneem – twee keer na Nkuhlu insake buffelspasteie – en al drie keer leeus gekry, ook hope olifante, buffels, kameelperde, koedoes, ens. Luilekker is leeulekker. ‘n Maanhaar en ses wyfies het hulle o.m. langs die uitgestrek vir ‘n la-a-a-a-ng middagslapie. (OOr die buffelspasteie. Hulle is baie lekker en kos R45 elk. ‘n Mens kan hulle ook gevries koop. Reël met Natie.)
Naskrif: Presies 20 jaar gelede het 12 Probuslede en hul gades van Melkbos, 2 000 km ver, oorgekom vir ‘n braai. ‘n Hele konvooi het opgeruk. By die Gariepdam en Badplaas is langs die pad oorgeslaap. Daardie aand is op tipiese Bosveld-manier behoorlik vleis gebraai. Agter die huis was ’n ramkatvuur vir die skaaptjops en die wors (en die stywe pap in ’n swart driepootpot). Voor was ’n nog ysliker een vir kuier. ’n Vrag hardekool, rooiboswilg en sekelbos is in vlamme op. Genoeg vir ’n maand se gewone kampvure. Maar ’n bobaas-Bosveldfees was dit bepaald.
“Watter wonderlike gawes kom nie uit U vaderhand nie?” kon ek dankbaar bid toe ek onder die sterre die seën vra. Die volgende oggend is hulle vort Wildtuin toe. Weens stertftes en verhuisings is van daardie 12 net twee nog lede van die klub: Henri van Biljon en Frans Ellis

Kyk hoe hang die helikoptertjies.
Die hele wêreld word stil, sing Laurika Rauch. Sondagaand was dit so in Sabiepark. Die strelende rondomklank van die naguiltjie se lied het stil geword. Die hiëna het opgehou roep. Van die Sabierivier se kant het die olifante tot rus gekom en die seekoeie hul nurkery gestaak.
Dit was doodstil … asof die bos asem ophou vir die skouspel in die lug van die volmaan wat volhardend stry om ‘n pad oop te beur deur die digte wolke wat die hele dag lank ‘n digte loodgrys kombers oor die gebied getrek het.
Eers het enkele spatsels lig deurgebreek. Toe word die ligkolomme stadigaan groter. Die donker verloor sy greep. Dit swig. Uiteindelik sit hy daar: die helder, volronde volmaan van 22 Augustus 2021, die tweede en laaste van ons wintervakansie. Wat ‘n natuurskouspel was dit nie om met ‘n glasie goeie merlot in die hand (dankie, Lorinda Steenkamp) van die stoep die stryd tussen lig en donker meegevoer te beleef nie.

Die donker verloor sy greep.
Die amperse volmane Saterdagaand en Maandagaand was wonderskoon en verrruklik. Eersgenoemde het ons te danke aan luidrugtige rugbykykers en algemene ordeloosheid by die TV-kamer. Ons is rustyd weg om te kom vuur maak.
‘n Vasvat-voorneme het ek nou uit die monde van drie komiteelede gehoor. Dit is bemoedigend. Maar hoe steil die uitdaging is, het ‘n mens by die rugby opnuut besef. Geen Covid-protokolle het gegeld nie: temperatuur is nie gemeet (soos by die piekniekplek) nie, die reël insake kaspasiteit van die vertrek het hoegenaamd nie gegeld nie, sosiale distansie is nie gehandhaaf nie, maskers was skaars.
Hoe anders kan jy beheer uitoefen as deur strenge kontrole oor getalle, gedrag, ens.? Dit beteken vir eers toegangsbeheer – iemand by die hek met ‘n stel reëls in die hand. Maar dit vereis ook gedragsbeheer. Ek sal nie Alfred wil wees as hy dit tussen daardie klomp witmense moet waag en orde te probeer afdwing nie. Het juis nou die dag gesien hoe hardekwas jong manne met bottels bier in die hand in die swembad sy gesag uitdaag.
Om rustyd te loop, was my en Tokkie se eie keuse. Die ironie behoort egter niemand te ontsnap nie: eienaars vir langer as 20 jaar neem die wyk en jong gaste kuier lustig voort met hul brandewyn wat nie brieke het nie.
By Tarlehoet het impalas al ‘n paar keer die watergat opgesoek. Dit het gedagtes losgewoel aan die Impala-residensie in Visagiestraat, Pretoria, die private hotel wat in die 80’s Pa en Ma Malan se laaste ekonomiese aktiwiteit was. Wonder hoe lyk dit nou daar en of die Impala-residensie nog bestaan.
By die rivier was laat Sondagmiddag gelyktydig drie groepe olifante – saam seker dertig, veertig, selfs meer: ‘n lekker 76ste verjaardagpresent vir Corrie du Plessis van Potchefstroom, ‘n gas van Jimmy en Lida Pressly wat kom koffie drink het.
‘n (Seldsame) wildruinrit het ons laat wonder of die S van die S65 nou vir Sinkplaat staan. Ons (en die arme Honda) het behoorlik geskud. Skukuza se kampeerplek was tot oorlopens toe vol. So het ons dit nog nie gesien nie. En dit in die Covid-tyd. Die nuwe hotel, en veral die ongtwikkeling by die “Krugerstasie” (die ou Selatirestaurat), lyk puik, moet ek sê.
‘n Helikopterboom vol helikoptertjies in Skukuza se personeeldorp was ‘n bonus. . Die helikopterboom met sy trosse hangende blomme, in Engels die propellor tree, wetenskaplike naam gyrocarpus americanus, is ‘n middelgroot tot groot, bladwisselende boom wat veral voorkom op dolomiet in die noorde van Namibië. In die Zambezivallei en Limpopovallei groei die boom in warm, droë, laagliggende bosveld. By Skukuza is minstens twee waarvan ek weet – een by die kerk se ingang. Die het ek in al die jare nog nie so vol vrugte gesien nie.
Die volksnaam is afgelei van twee lang, papierdun vlerke van ongeveer 7cm lank wat soos die skroef van ‘n helikopter in die rondte draai wanneer die vrug val. Gyrocarpus inderdaad!

Terug na die vangs.
‘n Hand vol vere. Nie sommer enige vere nie, maar die glansende blou en rooi kleed van ‘n vorstelike bloukuifloerie. Tokkie tel ‘n kleurryke hopie daarvan Woensdagoggend op onder ‘n rooiboswilg by ons watergat by 154 in Sabiepark.
Raaisel: wat was die stomme voël se lot? Was die aanvaller ‘n roofvoël, was dit ‘n mukeljaatkat? Die verlies tref skynbaar diep in die loeriegemeenskap. Teen 09:00 soggens is ”ons” bloukuifloeries gewoonlik hier; hang hulle soos trosse skarflakenrooi blomme aan die bome en wip-wip hulle koggelend van tak tot tak. Enkele dae gelede was hier ses. Vyf het gedrink. Nommer ses was brandwag.
Eers Donderdag om 12:00 was twee terug. Mooi vir my geposeer by die voëlbad. Ook met die nagapies – wat deesdae gereeld weer presies op 18:10 hul opwagting maak – gaan dit so. As ‘n reuse-ooruil een gegryp het, bly die ander geruime tyd ver weg

Hand vol vere.
Aan die dierefront is dit stillerig. Maar soos Witnek die duikertjie – met ‘n nek wat al hoe witter geword het – en sy latere gesinnetjie ons aan die begin hier by eindeloos plesier verskaf het, doen ‘n bosbokgesinnetjie dit nou. Sal nie so ver gaan om te beweer dat hulle span Witnek se plek inneem nie, maar die aangenaamheid van hul teenwoordigheid wil ek graag hier boekstaaf.
Die laaste paar dae is ‘n duikertjie al hoe gereelder op die werf opgemerk. Ons romantiseer en glo dit kan ‘n afstammeling van Witnek wees, hoewel geen gryserigheid aan die kordate lyfie waargeneem word nie.
‘n Ander vermeldenswaardige bokbesoek was van vier najala-ooitjies en ‘n kordate jong bulletjie. Ek en Tokkie glo hulle het in die watergat kom drink. Ons was so ingestel op ons eerste glasies wyn dat ons hulle eers agtergekom het nadat die drinkery verby was.
Op die langerige afwesigheidregister moet ook vlakvarke gevoeg word. Die luiperds het hulle uitgeroei. Ons mis die rondlopers wat enige tyd by jou huis kon opdaag.
Sabiepark se sierade, die vier swartwitpense, het gistermiddag rustig by die tennisbaan gewei. ‘n Verruklike toneel. Ek en Tokkie het ‘n kwartier sit en kyk. Ek het hope foto’s geneem, o.m, van die bul se ongeduld met ‘n lastige duikertjie. By die piekniekplek tot dusver een leeu gesien. In Rooiboslaan ses kameelperde in een groep raakgeloop. Hier is dus nege of 10.

Sabiepark-sierade
“Ons noem die knoppiesdoring ons nasionale boom op erf 154 in Sabiepark. Waar jy kyk, staan ‘n rysige knoppiesdoring soos ‘n toringgebou.” So skryf ek in “Bure van nature”. Op die oomblik kleur hul bloeiseldrag ons nasionale bome ‘n dowwe geel. So ver soos die oog strek , staan die geel “toringgeboue”. Uit ons slaapkamervenster sien jy hierdie geel muur.
‘n Verontrustende verwikkeling is dat sekere elemente Sabiepark al hoe meer wil druk om ‘n soort “Badplaas in die bos” te word. Dis net kappityt die heeltyd. Om rustig die natuur te geniet, tel by die sarsie min. Die langnaweek met Vrouedag het die park uit sy nate gebars. Die piekniekplek, swemarea en TV-kamer is oorstroom. Drank het gevloei.
‘n Relletjie het uitgebars oor mense wat langdurige en luide Zoomvergaderings in die TV-kamer hou. Dit is gelukkig stopgesit.
Ons twee oues kon rustig die laaste toets teen die Leeus en die eerste teen die Poemas by Frik en Martie Nel sit en kyk. Maar hul huis is in die mark. Die ou vriende raak erg uitgedun.
+ Op 9 September 2001 het Pieter en Alida Fourie van Durbanville vir ons die vlakvark-sleutelhouer by die voordeur present gegee. Niemand kon toe raai dat dit 20 jaar later nie net vir sleutels sou wees nie, maar ook vir maskers – veral vir maskers.