Terug na die vangs.

‘n Hand vol vere. Nie sommer enige vere nie, maar die glansende blou en rooi kleed van ‘n  vorstelike bloukuifloerie. Tokkie tel ‘n kleurryke hopie daarvan Woensdagoggend op onder ‘n rooiboswilg by ons watergat by 154 in Sabiepark.

Raaisel:  wat was die stomme voël se lot? Was die aanvaller ‘n  roofvoël, was dit ‘n mukeljaatkat?  Die verlies tref skynbaar diep in die loeriegemeenskap. Teen 09:00 soggens is ”ons”  bloukuifloeries gewoonlik hier; hang hulle soos trosse skarflakenrooi blomme aan die bome en wip-wip hulle koggelend van tak tot tak. Enkele dae gelede was hier ses. Vyf het gedrink. Nommer ses was brandwag.

Eers Donderdag om 12:00 was twee terug. Mooi vir my geposeer by die voëlbad. Ook met die nagapies – wat deesdae gereeld weer presies op 18:10 hul opwagting maak – gaan dit so.  As ‘n reuse-ooruil een gegryp het, bly die ander geruime tyd ver weg

Hand vol vere.

Aan die dierefront is dit stillerig. Maar soos Witnek die duikertjie – met ‘n nek wat al hoe witter geword het – en sy latere gesinnetjie ons aan die begin hier by eindeloos plesier verskaf het, doen  ‘n bosbokgesinnetjie dit nou.  Sal nie so ver gaan om te beweer dat hulle span Witnek se plek inneem nie, maar die aangenaamheid van hul teenwoordigheid wil ek graag hier boekstaaf.

Die laaste paar dae is ‘n duikertjie al hoe gereelder op die werf opgemerk. Ons romantiseer en glo dit kan ‘n afstammeling van Witnek wees, hoewel geen gryserigheid aan die kordate lyfie waargeneem word nie.

‘n Ander vermeldenswaardige bokbesoek was van vier najala-ooitjies en ‘n kordate jong bulletjie. Ek en Tokkie glo hulle het in die watergat kom drink. Ons was so ingestel op ons eerste glasies wyn dat ons hulle eers agtergekom het nadat die drinkery verby was.

Op  die langerige afwesigheidregister moet ook   vlakvarke gevoeg word.  Die luiperds het hulle uitgeroei.  Ons mis die rondlopers wat enige tyd by jou huis kon opdaag.

Sabiepark se sierade, die vier swartwitpense, het gistermiddag rustig by die tennisbaan gewei. ‘n Verruklike toneel. Ek en Tokkie het ‘n kwartier sit en kyk.  Ek het hope foto’s geneem, o.m, van die bul se ongeduld met ‘n lastige duikertjie. By die piekniekplek tot dusver een leeu gesien.  In Rooiboslaan ses kameelperde in een groep raakgeloop. Hier is dus nege of 10.

Sabiepark-sierade

“Ons noem die knoppiesdoring ons nasionale boom op erf 154 in Sabiepark. Waar jy kyk, staan ‘n rysige knoppiesdoring soos ‘n toringgebou.” So skryf ek in “Bure van nature”.  Op die oomblik kleur hul bloeiseldrag ons nasionale bome ‘n dowwe geel.  So ver soos die oog strek , staan die geel “toringgeboue”.  Uit ons slaapkamervenster sien jy hierdie geel muur.

‘n Verontrustende verwikkeling is dat sekere elemente Sabiepark al hoe meer wil druk om ‘n soort “Badplaas in die bos” te word. Dis net kappityt die heeltyd. Om rustig die natuur te geniet, tel by die sarsie min.   Die langnaweek met Vrouedag het die park uit sy nate gebars.  Die piekniekplek, swemarea en TV-kamer is oorstroom. Drank het gevloei.

‘n Relletjie het uitgebars oor mense wat langdurige en luide Zoomvergaderings in die TV-kamer hou.  Dit is gelukkig stopgesit.

Ons twee oues kon rustig die laaste toets teen die Leeus en die eerste teen die Poemas by Frik en Martie Nel sit en kyk. Maar hul huis is in die mark. Die ou vriende raak erg uitgedun.

+ Op 9 September 2001 het Pieter en Alida Fourie van Durbanville vir ons die vlakvark-sleutelhouer by die voordeur present gegee.  Niemand kon toe raai dat dit 20 jaar later nie net vir sleutels sou wees nie, maar ook vir maskers –  veral vir maskers.

 

 

Deel dit: