SKIPPIE OPPI WATER

Wat is die betekenis van die skippie uit gevoude koerantpapier op die buiteblad van “Koerantkamerade”? Elkeen moet maar self besluit oor die simboliek.

Oor die herkoms die volgende: Die jaar 1978 was die Jaar van die Koerant: so uitgeroep deur die Nuusblad-Persunie (later herdoop tot Drukmedia-Assosiasie. Ter viering is ‘n bylae oor “Die Afrikaner en sy koerant” in die vier dagblaaIe van die Nasionale Pers, Beeld, Die Burger, Die Volksbad en Oosterlig, gepubliseer. Die voorblad van die bylae is deur Gail Irwin van Beeld ontwerp. Dit is Gail se koerantskippie, dobberend op die waters, wat die inspirasie vir “Koerantkamerade” se buiteblad verskaf het. Hierdie ontwerp is deur Karen Cronje.

VOLKSBLAD-KARAKTERS

Volksblad se bladsy sewe.

Dat staatspresident PW Botha, die “Groot Krokodil”, as jongeling politiek toe is, is op die rekening van ‘n Volksbladman. Die geheimpie word vandag verklap in Volksblad in ‘n artikel oor Volksblad-karakters  Koerantkamerade, my boek.  Die artikel beslaan die hele bladsy sewe van die koerant.

In die 30’s was Botha ‘n bedrywige vryskut-verslaggewer.  Hy het voorbladberigte gelewer oor onder meer politieke vergaderings waar stoelpote geswaai is. Skakel Kriek, nuusredakteur, was desondanks nie oortuig dat Botha vir die joernalistiek uitgeknip is nie. Kyk liewer uit vir iets anders, was sy aanbeveling. Botha het die raad ter harte geneem. Hy word toe, in sy eie woorde, ‘n “politikussie”. Die res is geskiedenis.

Ook pres. CR Swart is by die koerant as ‘t ware geweeg en te lig bevind. Hy is in 1921 deur die uittredende redakteur dr. JG Conradie, as sy opvolger voorgestel. Die aanbeveling is nie deur die direksie aanvaar nie.

Vyftien jaar later, in 1936, het hy twee maande as redakteur waargeneem.  Seker die “vurigste” hoofartikel in die geskiedenis het in daardie tyd uit sy pen verskyn.  Terwyl hy tik , het die vensters begin ruk terwyl die gebou bewe. Redaksielede het uitgestorm. Dit was ‘n aardbewing wat hulle die skrik op die lyf gejaag het.

Dr. AJR (Albertus) van Rhyn het die langste as redakteur uitgehou – van 1925 tot 1948. Hy is daardie jaar agter sy hart aan politiek toe. Hy is sommer dadelik in die kabinet opgeneem. Later was hy Hoë Kommissaris (ambassadeur) in Londen.

Die pedagoog van die Hantam was was seker die onwilligste redakteur tot dusver. Hy moes letterlik gesmeek word.  Nadat hy hom met ‘n aantreklike salaris laat “omkoop” het, het hy die aand vir sy vrou gesệ: . “Mamma, ek het ’n groot fout gemaak.”  Maar, fout of te nie, byt hy toe 23 jaar lank vas, al was dit nie altyd maklik nie.

’n Militante genl JBM Hertzog het in die onstuimige Smelterstyd byvoorbeeld rondborstig verklaar: Hy sou Van Rhyn se  koerant uit die Vrystaat “verdryf”; selfs “doodmaak”. “Die oubaas was baie haatdraend as hy eers persoonlik teen jou raak,” het die redakteur lakoniek opgemerk.

Gert Petrus De La Rosa (Oom Gert) Terblanche het in 1946 by Die Volksblad  ingeval en in ’n loopbaan van 24 jaar veral as kranige nuusredakteur sy spore verdien. In 1970 is hy, soos Van Rhyn,  politiek toe – eers as senator, toe as LV vir Bloemfontein-Noord en later as ambassadeur in Transkei.

Die joernalistiek is die een ding wat jy nooit uit sy bloed kon kry nie. Hy was ’n kampioen-briefskrywer. Dekades lank het honderde koerantbriewe, uit sy geliefde Olympia-tikmasjien gevloei -. totdat sy laaste, onvervangbare, tiklint verslete was. Daarna is hulle met die hand geskryf.

As daar in die hemel nie ’n koerant is nie, sal Oom Gert ongetwyfeld een begin, het die rubriekskrywer Blouwillem Theron ná sy dood geskerts.

Die politiek en die joernalistiek is nie altyd gemaklike bedmaats nie en soms moet een uit laasgenoemde dissipline vir een uit eersgenoemde pront die waarheid vertel.  Een wat nie gehuiwer het om sy keel skoon te maak nie was die misname, pyprokende  Boesmanlander Jan Scholtz – ook ‘n voortreflike meubelmaker wat met hout kon toor –  wat in die 70’s as parlementệre verslaggewer ‘n draai in die persgalery van die volksraad gemaak het.

Hy kry toe opdrag om ’n minister iets te gaan vra, en keer die betrokkene in die wandelgang voor. Dié trap rond, klaarblyklik min lus om iets uit te lap. Toe draai Jan nie doekies om nie: “Buurman” – hy het almal altyd Buurman genoem, “jy weet mos dis ’n pot stront.” Hy het die die sterker variant gebruik. Wel, Jan Scholtz was Jan Scholtz. “Sy edele” was nie onbewus van hoe op die man af hierdie Volksblad-man kan wees nie. Pleks van hom opruk, vermurwe hy toe. Jan het sy storie gekry.

In 1975 moes sy redakteur dr. SF (Oom Bart) Zaaiman in ‘n beroemde relletjie ‘n minister die waarheid vertel – maar darem net minder bru-taal.

’n Verbod op die publikasie van foto’s van gevangenes wat sedert 1958 van krag was, is met ingang Maandag 1 September deur Jimmy Kruger, minister van justisie, opgehef. Oggendkoerante het reg gesit met foto’s van gevangenes wie se gesigte hulle die Maandag vir hul lesers wou wys. Die Vrydag word aangekondig: die minister het die publikasiedatum tot Sondag vervroeg. Geen redes is verstrek nie.

’n Blinde kon met ’n stok voel dat suurlemoensous geloop het. Die skuif was klaarblyklik ’n gunsie vir die Sondagkoerante, waarskynlik nadat Kruger se arm gedraai is met argumente oor groter sirkulasies op Sondae.

Zaaiman vererg hom. Sit in die foto’s, gee hy sy nuusredakteur, Chris Moolman, opdrag. Reeds in Die Volksblad se Vrydaguitgawe verskyn toe foto’s van die bekendste gevangenes: skêrmoordenares Marlene Lehnberg, haar kreupel handlanger, Marthinus Choegoe, en David Protter wat in 1975 die Israelse konsulaat in Johannesburg beset, en wild en wakker geskiet het. Albei hofsake was opsienbarend en die nuus steeds vuurwarm.

Die nuuswaarde van die foto’s was hoog en vir Die Volksblad was eerste publikasie ’n scoop. Zaaiman het sy optrede so gemotiveer: Dat dit duidelik was dat die publikasiedatum vervroeg is om die Sondagkoerante ter wille te wees en dat dit waarskynlik op hulle aandrang geskied het … “Dit is duidelik dat geen beginsel of rede meer in die spel is waarom die foto’s nie dadelik geplaas kan word nie.” Ander koerante het Saterdag gretig die Vrystaatse voorbeeld gevolg. Die Sondagpers kon maar net kwylend toekyk.

Alf Ries, deurwinterde politieke beriggewer, het vir hom PW Botha se gramskap op die hals gehaal nadat hy “op Nuweland ’n kniebesering opgedoen het”, soos  hy graag gespog het. Hy het inderdaad. Maar ná die eindfluitjie. Hy en ‘n kollega het ná ’n WP-wedstryd sommer kortpad oor die veld gevat motor toe. Toe val Ries oor ’n hoekvlag. Hy moes van die veld gedra word en was geruime tyd in die hospitaal.

’n Onvergeetlike beeld ná die val is van hom besig om in rooi pajamas op die televisienuus kabinetskuiwe te voorspel. Die persman Freek Swart was daardie tyd ’n ruk lank TV-joernalis en natuurlik welbekend met Ries se vermoë as politieke profeet. Hy bring toe sy kamera hospitaal toe en vra sy kollega wat hy verwag. Ries se grondige kennis van gebeure in die politieke binnekringe het hom, soos altyd, nie in die steek gelaat nie. Net met twee voorspellings het hy misgetas.

Botha was stomend. “Verbeel jou, ’n man in rooi pajamas kondig jou kabinet uit ’n hospitaalbed aan,” het hy glo gesnork.

Hugo Dreyer, bestuurder/redakteur in die 50’s en 60’s – het in ‘n knyptang- situasie beland met mev. Mabel Jansen, eggenote van die laaste goewerneur-generaal van die Unie, dr. EG Jansen. Die formidabele mev. Jansen had ’n chroniese hekel aan “onbeholpe” koerantfotograwe wat taks om taks daarin slaag om haar met toe oë af te neem. Ná ’n swierige sosiale geleentheid in die GG se ampswoning in Harry Smithstraat beland so ’n gewraakte toe-oë-foto toe weer op die nuusredakteur, wat Dreyer was, se lessenaar. Die stomme man was al moedeloos en ongeneë om onder haar vlymskerpe tong deur te loop. Hy vra toe die fotograaf om die foto met sy retoesjeerkwassies te dokter. Die koerant verskyn en op die foto is mev. Mabel se oë so groot oop “soos dié van ’n lappop”.

Nie lank nie, hier daag ’n statige swart ampsmotor onder motorfietsgeleide op. In die motor sit die veeleisende eerste dame in lewende lywe. Sy wil asseblief ses van daardie pragtige foto’s bestel en sommer die knap fotograaf ook ’n kloppie op die skouer gee. Penarie. Die nuusredakteur het die omvang nie onderskat nie. Hy speel dus vir tyd: “Alte seker, mevrou, laat ek net gou gaan seker maak of die negatief nog beskikbaar is.” Mev. Jansen was verpletterd toe hy skoorvoetend kom rapporteer: “Jammer, mevrou, spyt my regtig, maar daardie negatief is skoonveld”.

Chris Moolman, assistant-redakteur in die 70’s, moes as Rapport-redakteur in 1988 die stang vasbyt om ‘n storie oor hul egskeiding uit ‘n onwillige FW en Marike de Klerk te pers. Op die regte oomblik speel hy sy troefkaart.  Rapport weet ‘n derde party is betrokke en haar naam begin met ‘n E (vir Elita). “Nou is ek geskok,” was FW se reaksie. Maar die koeël was deur die kerk. Verhoudinge het darem oorleef.

Charl Marais wat in vier “jollie” dekades “bokse en bokse” vol spotprente geteken het, is met sy aftrede gevra hoe hy daarin geslaag het om so baie mense so onvleiend te teken sonder dat een ooit in woede teen hom opgeruk of hom met hofsake gedreig het. Dit is jou houding teenoor mense, was sy teorie. “Ek is vriendelik met almal en gee almal ‘n kans. En my kwaad is gou oor.”

Naskrif: Verkopertjies se entrepreneurskap kon ’n mens verstom. In 1948 is op ’n Sap-kermis (VP-kermis) in Windhoek na die nuwe premier, dr. DF Malan, se foto skyfgeskiet. Die storie was op die voorblad en op die plakkaat: “Sappe skiet op dr. Malan se foto”. Toe sny vindingrykes die onderste lyn weg: “Sappe skiet op dr. Malan”. Dadelik groter trefkrag. Koerante het daardie middag soos soetkoek verkoop. ’n Vet lot is aan kommissie losgeslaan.

VURIG EN PLESIERIG


Met die sanger Gé Korsten, ‘n boorling van Rotterdam, se vurigheid as Afrikaner het niks geskort nie. Hy was aan ‘n Engelse skool, maar sy hart was so anti-Brits dat hy uit die bioskoop gestap het as God Save The King speel. Smiddae is hy Die Voortrekkers toe by ‘n Afrikaanse skool. Hy het selfs spanleier geword.
Die grootste Suid-Afrikaner vir hom was dr. H.F. Verwoerd – “’n eerlike, onberispelike siener”. Dit is hoegenaamd nie omdat hulle albei van Nederland af gekom het nie, het Gé in ‘n onderhoud vir my rubriek Onder Vier Oë in Beeld nadruklik verklaar, sommer seergemaak dat ek oor so ‘n ernstige saak ‘n grappie kon waag.
Toe deel hy ‘n geheimpie: dat hy selfs lid van die Afrikaner-Broederbond was. En voeg hy skalks by: Hoewel sommige Broers sy rooi baadjie en wit broek van onberispelike snit as ietwat onortodokse kleredrag ervaar het, was hulle gou oortuig ‘n goeie Afrikanerhart klop in daardie wit broek.
Dat Gé ‘n voorste Afrikaanse sanger van ligte liedjies geword het, het, volgens hom, “eintlik net gebeur”. Dit was in 1966 rond (toevallig die jaar toe Verwoerd vermoor is). Gé was ‘n suksesvolle sakeman wat deeltyds in opera gesing het. Sy skoonvader, die bekende ds. A.J.V. Burger, stel toe voor dat hy ‘n plaat ten bate van die Abraham Kriel-kinderhuis opneem. In die Oos-kerk in Pretoria het hy en die Cantare-sangers vinnig-vinnig ‘n plaat van die bekendste Psalms, Gesange en Halleluja-liedere gemaak.
Albie Venter van Brigadiers het dit opgeneem, en sê toe vir Gé: “Wil jy nie vir ons ‘n plaat maak nie?” Só gesê, só gedaan. Hulle het vir Dean Herrick voor die orrel gekry en Gé het gewilde ou ballades soos Granada en Because gesing.
Toe kom die FAK en sê vir Brigadiers: “Kry vir Gé Korsten om ‘n plaat te maak waarop hy Afrikaanse liedjies sing, maar met ‘n goeie orkes sodat ons kan wegkom van die konsertina en dinge.” Op die plaat was liedjies soos My Hart Verlang na die Boland, My Vader is ‘n Musikant… en Erika.
Van dié liedjies het Fanus Rautenbach baie gehou. Keer op keer het hy dit oor sy destydse oggendprogram, Flink uit die vere, gespeel, en toe Gé hom weer kom kry, sit hy met ‘n treffer.
Die volgende stap was Afrikaanse rolprente. Kavaliers het besluit om van Gé se liedjies by die rolprent Krugermiljoene in te sluit. Hulle vra hom later om sommer self die rol te kom speel. “Ons is toe Blyderivier toe en ek is op ‘n perd en op ‘n ossewa en ek sing.”
Sy eie gunsteling was Liefling. Dit het mooi woorde wat deur Heine Toerien geskryf is, ‘n goeie wysie en groot trefkrag, aldus Gé. Op ‘n dag laai sy vrou ‘n ryloper op en toe hy agterkom wie sy is, sê hy vir haar: “Tannie weet, daardie woorde van Liefling is darem so mooi. Dis net soos die lewe is vir mense wat verlief is.”
Ja, was Gé se kommentaar, dit wys dat die woorde ‘n boodskap het vir elkeen wat ‘n bietjie liefdesprobleme het – en sulke probleme het elke mens maar die een of ander tyd.
Gé het ook sukkeldae geken toe hy as rou sanger soms in moedelose trane uitgebars het wanneer hy die hoë note nie kon bykom nie. Een so ‘n keer was toe Anton Hartman hom gevra het om die opera La Boheme in die laat jare 50 in Afrikaans te sing. Hy het traag ingewillig, want, hy het nog nie “reg vir die ding” gevoel nie.
Hulle het begin oefen en dit het nie goed gegaan nie. Gé kon kwalik ‘n G haal, wat nog te sê van ‘n C. Op ‘n dag kon hy die trane nie keer nie. Hy het die boek neergesmyt en uitgeroep dat hy dit nooit sal kan doen nie. Nellie du Toit, vir wie hy groot bewondering gehad het, het teenoor hom gesing. Sy het haar dadelik oor hom ontferm en ‘n bietjie raad gegee. En net daar het dinge begin verander.
Dié La Boheme sou hy nooit vergeet nie; ook nie die brief wat op die openingsaand in sy kleedkamer op hom gewag het nie. “Gé Korsten, who the hell do you think you are that you can sing La Boheme?” wou die skrywer weet. “You can never sing La Boheme in your life. You shouldn’t even go on stage tonight.”
In sy operaloopbaan was ‘n “paar moeilike insidente”. ‘n Keer het hy saam met ‘n besonder vurige Carmen uit Frankryk opgetree. Tydens die Blommelied, net voor die swaardgeveg, ontstaan ‘n woordewisseling, gryp Carmen die swaard en smyt dit neer. Dié nooi het dit egter geslinger dat dit doer van die verhoog af trek.
Toe die hoofoffisier, Carmen se kêrel, op die toneel kom en baklei soek, is Gé sonder sy swaard. Al wat hy kon doen, is om die ou stewig aan sy bors te vat en in sy oor te fluister: “My swaard is weg – veg!” Met dié smyt Gé die offisier se swaard ook weg en daar pak die twee mekaar kaalvuis!
Met die openingsaand van Fledermaus in die Aula in Pretoria het Gé se opgeplakte snor hom begin hinder. Nie lank nie of dit hang so skuinsweg oor sy mond. Hy pluk hom toe maar af en gooi hom weg.
Op een plek moet sy karakter ‘n bietjie oefeninge doen voordat hy tronk toe gaan. Dan kom Rosalinda in en vra: Wat maak jy nou? Toe Rosalinda (in dié geval Mimi Coertse) met hom begin praat, kom hy agter sy kyk so na die middel van sy lyf en wys-wys.
Sy hele rits was gapend oop; die wit van sy hemp was al wat hy gesien het. Dit was ‘n bietjie ongemaklik so op ‘n openingsaand, volgens Gé, maar gelukkig is dit ‘n grapperige opera. Hy het doodluiters sy rug gedraai en gewys hy maak nou toe. Toe bars die hele saal uit van die lag.

 Gé Korsten is op 29/9/1999 aan ‘n skietwond oorlede. Die vuurwapen was in sy eie hand. 

KOERANTKAMERADE: NOG 15 VRAE

Die lang wag is verby. “Koerantkamerade” – my boek met grafskrifte vir nagenoeg 50 tydgenootlike pers-persoonlikhede – is vandag op Melkbos afgelewer.
‘n Welaangename oomblik vir ‘n derde en laaste raai-raai-riepa rondom die boek. Ons maak dit ‘n spesiale bonus-ene met 15 prikkelvrae.
Julle sal moet opskud. Tot dusver is omtrent net die identiteit van “Quintus van Blouen” raakgeraai – maar hoe anders, daar was dan ‘n foto by, al was dit van Quintus in ‘n WP-trui!
Hiermee die laaste vrae (drie korrekte antwoorde uit 15 word as redelik beskou):
1. Wie het FW de Klerk se wind uit sy seile geneem met die mededeling: “Ons weet dat die derde party se naam met ‘n E begin?”
2. Wie het die gaste by ‘n deftige dinee se asem weggeslaan deur ‘n kollega se vrou en sy skelmpie se name te verwar?
3. Wie het ‘n leraar uitgeboul met die vraag: “Dominee, waar is die terte?”
4. Wie is oor “fopnuus” beboet lank voordat die woord geskep is?
5. Wie moes handeviervoet kruip om by sy kantoor te kom?
6. Op wie se telefoon het ‘n man selfdood gepleeg deur miergif te drink?
7. Wie het altyd die laaste stukkie kameeldoring op ‘n kampvuur gegooi?
8. Wie is met die poedelkaal lyfie van ‘n mooi jong mamma gekonfronteer?
9. Wie was bekend as die “klein generaaltjie”?
10. Wie was die “op-vlieënde Hollander”?
11. Wie het so beeldryk gebid dat van sy tafelgebed gesê is: “Nou het ons sommer die weervoorspelling ook gekry?”
12. Wie is die vader van die uitdrukking “’n ligte mistykie”?
13. Wie se draagbare tikmasjien is vir ‘n bom aangesien?
14. Wie is ligvoets oor ‘n draadheining voor ‘n aanstormende bul?
15. Vir wie was koerantwerk so lekker dat sy nie kon glo jy word daarvoor betaal nie?
“Koerantkamerade” word deur Naledi uitgegee in samewerking met “Nagkantoor” en word ondersteun deur ‘n ruim subsidie van die LW Hiemstratrust. Die boek beslaan 300 bladsye plus ‘n spesiale fotoseksie van 20 bladsye.
Bestel dit by Tertia Swart-078 648 8616/ tertia@naledi.co.za of naledi.co.za(Naledi se webtuiste). Danksy die subsidie kos die boek net R220.
“Koerantkamerade” sal weldra ook op die rakke van voorste boekwinkels landwyd te koop wees. Hou dop vir die omslag met die gevoude skippie van koerantpapier wat op die waters dobber.

DIT WAS WEER LEKKER

Ironies genoeg moes ons ons laaste vuurtjie op Dinsdagaand 7 September in die agterste lapa aansteek en styf teen die muur skuil teen ‘n snerpende windjie.  Later was daar rammelende donderweer.

Die vorige twee aande was dit “swembadweer”.  Nou wel net een keer vinnig ingespring maar lekker gewees om skop-skop in die helder water ‘n wyntjie (en ‘n Jagermeistertjie) te geniet.

Hoe ‘n onvervangbare juweel daardie swembadjie is, is opnuut ingeprent. Soos Piet Cillié vir Harry Oppenheimer oor sy Blouberghuisie gesê het, sê ek vir al wat ‘n ryke is oor ons bos-swembad: “You can’t afford it.”

Ons kyk terug op ses wonderlike weke met vele vreugdes waarvan die sagte ontwaking van die lente dalk die grootste was.  Dit was heerlik om weer in Sabiepark te kuier en te beleef dat dit in die algemeen goed gaan met ons plek wat ons so na aan die hart lê. In die hart leef die hoop dat daar nog sal wees. Tyd sal leer.

Minder en ‘n kleiner verskeidenheid wild is oor ons werf as wat ons sou hoop.  Waar’s die koedoes? Die kameelperd wat kom water drink het, was darem ‘n gedenkwaardige eerste.  Klein bokkies – rooibokke, bosbokke, najala-ooitjies en ‘n periodieke duiker – was gereelde besoekers. Die nagapies (en die bosnagape) het ná ‘n sorgwekkende afwesigheid weer hul ding kom doen.

Bloukuifloeries was aanvanklik elke dag om die huis … tot die vangs. Toe vat hulle skrik. Die naguiltjies se klankryke geroep was dalk die konstantste verskynsel. Elke aand het ons minstens enetjie hoor sing.  Die laaste paar aande het die paddas by die watergat gekwaak dat dit dreun.

Die elektriese yskas het ‘n element van gerief bygedra wat voorheen ontbreek het, en die sonkrag het kranig meer as die mas opgekom. Die meeste oggende teen tienuur was die batterye vol gelaai.  Maar nouja, ons was net twee.  Daarvan getuig ook die konserwatiewe gasgebruik – minder as ‘n bottel.

Die Honda se stukkende agterlig – slagoffer van ‘n verdekselse boom – is herstel.

By die piekniekplek het ons een middag hope olifante gesien. Die opwinding met leeus en luiperds het ons telkens misgeloop.  Maak nie saak nie. Net om daar langs die Sabie te sit, is ‘n voorreg.  Die swartwitpense word bederf met voer by die kantoor. Gaan soek hulle maar daar. Hulle verruil gereeld die bos vir die kort groen gras.

‘n Aspek wat my, ‘n ouer eienaar,  werklik bekommer, is die gedrag van ‘n nuwe element in die geledere van Sabiepark-eienaars en hul plesiersoekende gaste wat eienaars wat aan die tradisionele Sabiepark-kultuur vashou, as ’t ware al hoe meer “uitboer”.

Die langnaweek met Vrouedag het die park uit sy nate gebars.  Die swemarea,  TV-kamer en selfs piekniekplek is oorstroom. Drank het gevloei en ‘n geswets het voorgekom. Oor onstigtelike Zoom-vergaderings in die TV-kamer het ek dadelik my stem verhef. Ek is dankbaar oor die onmiddellike verbod wat ingestel is.  Ongelukkig moet ek rapporteer dat balhorige mense eenvoudig voortgegaan het met die praktyk.  Die kennisgewings by die deur is veronagsaam asof dit nie bestaan nie.  Van die skuldiges se houding was heel astrant en aanmatigend teenoor mense wat wou TV kyk of in stilte op hul rekenaars werk.

Hoe anders beheer uitgeoefen kan word as deur strenge kontrole weet ek nie. Dit beteken waarskynlik toegangsbeheer – iemand by die hek met ‘n stel reëls in die hand.  Maar dit vereis ook volgehoue gedragsbeheer en optrede teen mense wat noodsaaklike reëls na willekeur buig en breek.

Ons leef in ‘n era dat ‘n nuwe geslag mense al hoe meer regte vir hulleself opeis en die regte van ander in die proses vertrap. Hoe om hierdie patroon ten minste t.o.v. Sabiepark om te keer, sal seker nie maklik wees nie. Die wysheid van Salomo word die bestuur toegewens.

Ten slotte ‘n buiging na Tokkie vir alles wat sy daar vermag het.  Net die likkewane het haar gewen. HUlle is steeds in die dak. Maar wat in Sabiepark gaan gebeur as sy nie meer haar bekwame en flukse hand so op die plek kan hou nie, weet ek nie.