SEDE-HERRIE OOR BEELDE (Hoofstuk 2)

Tienie Pritchard (“’KAAL BEELDE SOEK WEER ‘N TUISTE, 31/10) was nie die eerste beeldhouer wat in die Jakarandastad die wind van voor gekry het nie. Daardie eer behoort aan ‘n voorganger op die toneel, Moses Kottler, in 1957. Ook in die geval was ‘n staatsgebou betrokke. Daar is ook ander sinonieme.
In daardie jaar, ná voltooiing van die Bevolkingsregister se gebou op die hoek van Van der Walt- en Schoemanstraat (destydse name), is ‘n reliëfwerk van Kottler teen die westelike muur aangebring. Die eerste reaksie was positief. Die publiek was nogal ingenome dat ‘n kunswerk op ‘n stugge staatsgebou pryk.
Die koerant Die Transvaler het so ’n verbeeldingryke stap nuuswaardig geag. ‘n Fotograaf, Corrie Roux, is gestuur om ‘n foto te neem. Hy het gewag dat die son net reg vale n die sluiter gedruk. Dit was ‘n voortreflike foto.
Een komplikasie: Die reliëf, bestaande uit ‘n halfnaakte man en vrou met die man se hand half stouterig op haar hand wat op haar bors rus en met albei se lendene net met ‘n drapeersel bedek, was baie eksplisieter op die foto sigbaar as vir die voetganger op straat, aangesien die kleur van die reliëf teen die gebou met sy agtergrond saamgesmelt het,
Roux se foto is as voorbladfoto oorweeg, maar die nuusredakteur indertyd, Fritz Potgieter, het gemeen dit sou verstandiger wees om dit op ‘n binneblad te plaas. Wat die koerant betref, was dit fluit-sluit die storie is uit.
Sowat ‘n week later kom die eerste aanmaning van ‘n moontlike agteropskop. ‘n Leser van die Wes-Rand betuig sy onbehae oor so ‘n onbetaamlike beeld teen ‘n staatsgebou. Nog briewe volg. Later nog. Dit word ‘n dik stroom.
Soos dit in die koerantwệreld gaan, begin ander koerante ook aan die storie krap. Nog foto’s word geplaas en onderhoude gevoer. Kerkinstansies tree toe tot die toe al taamlike vurige gesprek. Afvaardigings word na die minister van openbare werke,sen. Jan de Klerk – vader van FW de Klerk – gestuur.
Sen De Klerk kondig toe aan dat die kabinet die saak sal oorweeg en dat hy daarna ‘n verklaring sal uitreik. Die Transvaler se redakteur besluit in daardie stadium om die briefwisseling te sluit. Die ander koerante het nie die voorbeeld gevolg nie. Die druk het dag vir dag in momentum toegeneem.
Uiteindelik het De Klerk aangekondig: die beeld moet af. Te midde van groot openbare belangstelling is ‘n hyskraan gestuur om die bron van aanstoot te verwyder. Maande, indien nie jare nie, is dit iewers in ‘n donker hoek weggesteek. Later het dit onverwags sy verskyning gemaak aan ‘n muur in die binneplein van die William Humphreys-kunsmuseum in die Diamantstad, Kimberley.
Kunsliefhebbers was dankbaar dat die beeld ‘n wreder lot gespaar is. Party, ook doodgewone nuuskieriges, het tussen Pretoria en Kaapstad spesiaal Kimberley langs gery om die beeld te besigtig.

DIE VERKIESING: ‘N BESTEKOPNAME

Wanneer bestek opgeneem word oor die verloop van die munisipale verkiesing van 1 November 2021 sal dankbaarheid en verligting heers oor die relatief gladde verloop by die meeste stemlokale ondanks allerlei uitdagings, van storms tot ktagonderbrekings tot protesoptrede. ‘n Reuse-span mense het hard gewerk, kiesers goed behandel en onkreukbaar hul pligte vervul.
Dinge het plek-plek gehaper – sommer kwaai gehaper. Daarvan moet kennis geneem en haakplekke moet aangespreek word. Die mikpunt moet altyd wees om standaarde so te handhaaf dat die kiesers vertroue behou dat ‘n verkiesing inderdaad “vry en regverdig” was, soos dit voorspelbaar bevind sal word.
Hier dan ‘n 10-stuks vrot kolle waaroor in koerante, op TV en op sosiale media berig is:
1. Stemlokale was van tyd tot tyd disfunksioneel onder meer weens onderbemanning en elektroniese stelsels wat nie gewerk het nie. Die gevolg? Lang toue wat opgedam het ondanks ‘n lae stempersentasie. Hoeveel kiesers het nie onverrigter sake omgedraai nie? Ons sal nooit weet nie.
2. Stembriewe (en merkpenne/watte) wat vroeg-vroeg onverklaarbaar opgeraak het, opvallend by hoofsaaklik opposisievestings. Stembriewe is ook verkeerd afgelewer.
3. Verkeerde kieserslyste terwyl die regtes onder ‘n hoop papiere weggesteek lệ.
4. Geregistreerde kiesers wat tot hul verbasing moes hoor hul name is nie op die kieserslys nie.
5. Geregistreede kiesers wat by die “regte” stemokale, volgens hulle, weggewys en rond en bont gestuur is om elders hul kruisies te gaan trek.
6. Ontbrekende stempels. Gaan daardie stemme tel of gediskwalifiseer word?
7. Skelmstreke. Een verkiesingsbeampte (goeie genugtig) is in hegtenis geneem omdat hy gemerkte stembriewe in ‘n stembus gestop het. ‘n Ander is aangekla nadat hy ‘n verseëlde stembus oopgemaak het. Met watter doel?
8. Magsmisbruik. ‘n Verslaggewer is deur die polisie gegryp omdat hy die voorsittende beampte se “aandag afgelei het”. Helen Zille is hardhandig verwyder terwyl sy kiesers probeer motiveer om nie tou op te gooi nie.
9. Teenstrydighede en verwarring oor die hantering van oues van dae en immobieles.
10. Vreemdhede soos dat 90% plus in ‘n wyk vir spesiale stemme geregistreer is terwyl van die betrokkenes van geen sout of water weet nie.
Mense wat minder krities ingestel is, sal waarskynlik aanvoer dat hierdie dinge yl verspreid voorgekom het en nie ‘n patroon daarstel nie. Goed en wel. Maar ons moet tog maar waak dat ons nie agtelosigheid, tekortkominge en misbruike skouerophalend as die norm aanvaar nie. Dan reduseer ons Suid-Afrika in ons gedagtes tot maar net nog ‘n Afrikalandjie.

Opmerking
Deel

“KAAL” BEELDE SOEK WEER TUISTE

Vandag kan ‘n mens in verbasing jou hande daaroor saamslaan, meewarig glimlag, afkeurend frons of onbegrypend veroordeel, maar die waarheid is dat kuisheid by vorige generasies so swaar geweeg het dat selfs oor “onbetaamlike” beelde landwye storms ontketen is.
Een beeldhouer wat meermale in die spervuur gekom het, was Tienie Pritchard wat in die winter van 2021 op 83-jarige ouderdom weens Covid oorlede is, Die titel van ‘n pragtige kunspublikasie oor haar man wat sy vrou, Elna, in 2013 laat verskyn het, verklap die rede. Die titel is Tienie Pritchard, Sculptor of the Nude. A Narrative.
‘n “Sculptor of the nude” was Joachim Marthinus Pritchard, oud-staatsamptenaar uit Soekmekaar in Limpopo, inderdaad. In sy nalatenskap is talryke Lorelei’s, nimfe en ander naakte vrouefigure met parmantige boesems waarmee hy homself in ‘n vrugbare lopbaan tereg as die meester van die naak of semi-naak brondbeeld gevestig het.
Lank-lank gelede, aan die begin van sy loopbaan, het hierdie voorliefde van hom hom in diepe pekel laat beland. Die department van binnelandse sake was op soek na ‘n beeldgroep vir die ingang van sy nuwe Civitasgebou in die liewe Pretoria – ‘n konserwatiewe stad waar ‘n klomp sedebewakers saamgetrek was. In 1969 is die opdrag desondanks – ietwat avontuurlik – aan die ontembare jong Pritchard gegee.
Hy kom toe te voorskyn met ‘n lewensgroot groep genaamd Lewenslikus/ Life Cycle (foto) wat by wyse van ‘n seun, ‘n mooi jong vrou, ‘n volwasse man, ‘n ouer vrou en ‘n ou man die lewensiklus van jonk tot oud uitbeeld. Albei vrouefigure was naak. Die jong vrou staan op haar knieë en die hoek is so dat dit haar volledige profiel van kop tot tone beklemtoon. Ook haar gesonde borsmaat. En toe, voor oprigting nog, bars die herrie los.
Alles en almal wat ‘n sê oor sedes en kultuur gehad het, ‘n aksie teen Pritchard se “skandelike pornografie” begin. Die SA Vrouefederasie, kerke en die publikasieraad was voor in die koor. Die beeld is “onbehoorlik en “in stryd met openbare sedes”. Verontwaardigde verklarings is uitgereik. Koerante het maande lank voorbladstories gehad. Briewekolomme het gebult. Hier en daar was iemand wat vure probeer blus, maar in die algemeen was die volk diep ongelukkig.
Pritchard wat aanvanklik “uit eie beweging” ‘n ligte drapeersel om die lendene van die bejaarde man aangebring het, het later “uit respek vir die ouderdom” ingewillig om, teen kunsoorwegings in, die liggaam van die ou vrou ook liggies te drapeer. Maar die jong vrou bedek … dit kon hy nie oor sy hart kry nie.
Daarin is hy gesteun deur FGE Nilant, hoogleraar in die skone kunste aan die Universiteit van Pretoria. “Ons is tog geen bloedarmoedige volk nie,” het hy aan Rapport gesệ.
Pritchard kon altyd uitbundig lag as hy daardie petalje in herinnering roep. “Dit was alte prettig,” het hy aan die joernalis Daleen van Manen vertel. “Al wat ‘n koerant was, wou met my ‘n onderhoud voer. Die beelde is twee keer in kabinetsittings bespreek en ‘n groep afgevaardigdes van die publikasieraad het dit by die gietery in Hartebeespoort kom bekyk. Hulle was ‘n klomp suurgat ou mans wat nie ‘n woord gesê het nie.”
Vier jaar lank het die stryd gewoed. Hoewel Lewensiklus /Life cycle in 1971 voltooi is, is dit in 1974 eers goedgekeur en opgerig – maar nie naastenby so prominent soos dit bestem was nie. Die tuiste was nie voor by die ingang nie, maar die podiumvlak van die gebou waar die publiek nie vrye toegang gehad het nie. ’n Mens moes met ‘n hysbak ry en toestemming vra om die beelde te sien.
Die oprigting het in die geheim op ‘n Sondag geskied en die media is weggehou. “Verslaggewers en fotograwe het egter in bome geklim en die verrigtinge met telefotolense afgeneem. Die foto’s in die koerante was dof en uit fokus.”
So, versteek waar die publiek nie met die ergerlike naaktheid gekonfronteer word nie, is verdere aanstoot vermy en kon die lewe weer normaal aangaan. Die omstredenheid en heftige debat was op die lange duur nie vir Pritchard sleg nie. Die vraag na sy werk het die hoogte ingeskiet.
In 1993 is Pritchard versoek om die beelde skoon te maak en op te knap. Hy het dit na sy ateljee in Hartebeespoort gebring. “’n Jaar lank het ek niks gehoor nie. Toe kontak ek die nuwe regering om te vra wat ek met die beelde moet maak. Hulle wis egter van niks en sê ek moet dit hou.” Lewensiklus/ Life cycle is later na die die eksklusiewe Orient-boetiekhotel tussen die heuwels van die Krokodilriviervallei by Hartebeespoort verskuif waar dit tot Maart vanjaar die ingang versier het. “Hul naaktheid is uiteindelik ontbloot.” Sowat 80 van sy beelde is  heeltyds in die Tienie Pritchardmuseum in die hotel uitgestal.
Ongelukkig is die hotel in Maart gesluit.  Die beelde soek dus ‘n nuwe tuiste. 
(Pritchard se vakmanskap kan o.m.. ook bewonder word in die nege meter hoë George Harrison-beeld – ook bekend as The Miner – by Eastgate aan die Rand en die ses meter hoë Water nymphs in Bela-Bela (Warmbad, of in Tshwana “die pot wat kook”) in Limpopo.)
*Hierdie was nie die eerste storm oor “te kaal” beelde in Pretoria nie. Van ‘n vorige een vertel ek later.

REIS DEUR VORIGE EEU

Verbeel jou jy klim in ‘n “hi-tech”-hysbak wat terselfdertyd ‘n tydkapsule is. Dit woerts jou nie net van een verdieping na ‘n ander nie maar ook van een era na ‘n ander.

Druk knoppie een en jy klim uit in die 20’s. Knoppie twee vat jou na die 30’s. Wil jy 40’s toe druk jy knoppie drie.

Maak jou klaar vir so ‘n nostalgiese ervaring in die huismuseum – as so ‘n woord nie bestaan nie, patenteer ek hom terstond – van wyle Leo en Kate Kritzinger in Proteahoogte, Brackenfell in die Kaap.

Leo, ’n versamelaar sonder weerga en ‘n man met ‘n onversadigbare skeppingsdrang, is in Augustus op 73 aan ‘n Parkinsons-verwante beroerte oorlede. Hy het 25 jaar met die die siekte gekom. Tot sy nagedagtenis het Kate ná sy dood sy “goeters” liefdevol tussen hul waardevolle Victoriaanse meubels uitgepak – dit oorheers in vyf, dalk meer, vertrekke.

Ek en Tokkie het gister besoek. Ons kan nie uitgepraat raak nie.

Vir konteks: ‘n veelsydiger man het ek skaars geken.  Sy vele stokperdjies het ingesluit: spotprent-teken, fotografie, die versamel van boeke, tydskrifte, koerante, 78-spoedplate en grammofone,  modelmotorjies en ou motors, asook verwante memorabilia. Lang ure elke dag is opgeslurp deur die entoesiastiese beoefening van elkeen daarvan.

As ek ‘n lysie van vyf van sy voorkeur-passies probeer saamstel, sou dit so lyk:

  1. Ford
  2. Die Titanic
  3. Coca-Cola
  4. Elvis Presley
  5. Alles wat outyds is

Die huis wemel van aandenkings hiervan en van hope ander dinge. Dis in stapels,soos sy honderde grammofoonplate, in rakke wat hy self gebou het, soos sy verskeidenheid outydse kruideniersware, teen mure in die vorm van plakkate, foto’s, programme (ook programme van musiekaande wat hy aangebied het) en  spitsvondige kammavoorblaaie vir vriende,  op tafels in die vorm van plakboeke, op stoele soos lisensiehouers met motorembleme, op die vloer soos sy stapel ou koffers en staanradio’s.

 

Leo was by uitstek ‘n Fordman soos min. Sedert 1982 was hy lid van The Early Ford Car Club of South Africa. Die redakteurskap van die klubtydskrif, The Early Ford Times, het hy ongeveer 20 jaar behartig. In 2002 het hy die restourasie van ‘n spoggerige 1932 Ford V-8 sedan voltooi — `n vervullende taak wat twee en ‘n half jaar geduur het. Sy Fordjie was onder meer te sien in die Hollywood-fliek Ask The Dust wat grotendeels in die Kaap verfilm is . Dié is later verkoop.

 

In sy Coca-Colaversamelings is ‘n reuse-Kersvader, ‘n rooi Coke-vrieskas, ouderwetse Coke-botteltjies met hul oorspronklike inhoud, proppies en wat nog.  In ‘n hoek staan die grootste Tobleroneverpakking wat ek nog gesien het. Kom van vriende uit Switserland. Die sjokolade is lankal verslind.

 

Sy passie vir die gedrukte media blyk uit talryke boeke, plakkate en foto’s – dosyne der dosyne foto’s.   Hy het in verskeie tydskrifte se redaksies gedien as ontwerper en hoofontwerper, onder andere Scope, MAN/Magnum, Huisgenoot, YOU en TV Plus. Hy was ateljeehoof van Huisgenoot en YOU se bladuitleg-afdeling vir bykans 15 jaar.

 

Later het hy daardie kundigheid aangewend om boeke te maak. Die een oor ‘n reünie van Philippolis se matrieks van 1965 is klassiek.  Glo geen ander matriekklas van enige skool kan met so iets spog nie. Verskeie Ford-boeke is tussen al die ander raakgesien. Daar is selfs ‘n boek oor my geliefde Sabiepark. Daaraan het ons saamgewerk. Sy aandeel was die reuse-een.

Twee die mure is oudhede soos ‘n telefoon uit die jare toet. Op ‘n tafel is tikmasjiene wat saam met Noag in die ark kon gewees het. Hy het een spokie genoem. Die rede is duidelik.  Ek het Kate afgeneem by die opgestapelde ou koffers  (elegante goed, hoor).  Daar is verskeie ou staanradio’s, ‘n koffiemeul en ou waaiers.

Om die plakboeke intensief deur te blaai, sou ‘n mens ‘n week kon besig hou. Wat dadelik tref, is hoe kleurryk en kreatief advertensies in die ou dae was.  Kunswerke as’ t ware.

Ek moet halt roep maar ek is ver van uitgeskryf. Soos ek skryf, onthou ek meer. Hopelik dra die klompie foto’s by om groter reg aan my onderwerp te laat geskied.  Maar ook dit is te min, te ontoereikend. Gelukkig staan sy monumente vir altyd.

As iemand wil gaan kyk, sal Kate nie ongeneë wees nie. As versamelaars  wil kom rondkyk met die oog op die uitbreiding van hul eie versamelings, sal hulle welkom wees. Wonderlike ou meubels wag om opgeraap te word.   Ek is gek na ‘n Victoriaanse buffet uit eikehout.  As ek maar plek gehad het ….

Kate se e-pos-adres is katekritzinger@gmail.com

(In die raam op die tafeltjie is die foto van Leo in sy rolstoel wat by sy sterftekennisgewing in Die Burger verskyn het.)

 

 

 

 

 

 

 

UIT ‘N SOET FONTEINTJIE

‘n Stukkie van ons “tent van samekoms”, ‘n stukkie van Dale se huis en ‘n stukkie van Tafelberg.

Fonteintjie, uit jou drink die Van Deventers (en hul nasate) graag oor en oor; jou water is soet.  My verwysing is  na buurman Dale Schreuder se restaurant(-e).

In 2011 is my 70ste by sy Black Angus-restaurant in die Paddocks-sentrum in MIlnerton gevier.  In 2016 het ons op ons gras voor Penguin Place 11 tent opgeslaan vir ‘n driebakenfees: my 75ste, Tokkie se 70ste en ons twee se  goue bruilof. Dale het uit die Black Angus se kombuis die spyseniering gedoen.  Sy en Iris se huis langsaan was ‘n uitstekende “bedieningspunt”.

Vandag, 11 Oktober 2021, vier skoonseun, Brent Claassens, sy 50ste. Hy en Marisa begin ‘n rukkie gelede uitkyk vir ‘n plek om ‘n paar vriende te onthaal.  Hulle hoor net goeie dinge van die nuwe bistro Harvest Culture Eaterie in die Tygerbergse Waterfront.

Op ‘n verkenningstog dag sy sy herken die blok van ‘n man wat daar sit. Sy stap nader … dis Dale. Lang storie kort: Dis waar Brent se 50ste gevier gaan word. Die ou-ou verbintenis duur voort. ‘n Nuwe skakel word in die ketting gevoeg.

Marisa se storie jaag my na ou foto-albums toe.

Dale en Koos in 2011.

In 2011  het 130 vriende uit amper al die fases in ons lewe  – onder andere skoolmaats, studentemaats en  kollegas – binne en buite Dale se restaurant aangesit. Die kos was voortreflik. Dit was almal eens.

Een ongeluk: ek en Dale is daardie dag  – 11 Januarie 2011 – blykbaar nooit saam afgeneem nie. Ek het wel ‘n foto van Dale en Koos Myburgh, die twee stewigste manne teenwoordig! (My verjaardag is 3 Januarie.)

‘n Ander skok: hoeveel van die gaste reeds heen is.  Ek roep Tokkie en wys vir haar en ons kyk kopskuddend na hoe die “landskap” in ‘n enkele dekade verander het. Selfs egpare is eenvoudig net weg.

By die tentfees op 26 Maart 2016 is ‘n foto wel geneem waarop ek en Dale pryk saam met sy vrou, Iris, Tokkie en vriendin Hildegard Martin wat die kaartjies, spyskaarte en wat als ontwerp het.  Ongelukkig het die lig sleg geval.  Nietemin.

Iris, Dale, HvD, Tokkie en Hildegard Martin in 2016. 

Van die 100 gaste in ons “tent van samekoms” (Johan van Wyk se betiteling) is ook al ‘n aardige klompie heen, verklap die foto’s van die okkasie. Soos gras is ons dae …

Met Dale se restaurant het ek al tevore kennis gemaak: in die laat 90’s.  Danie Grundlingh van Bloubergstrand (later Melkbos) het my genooi om “die beste steak in die Kaap” te kom proe.  Hy het my beduie na ‘n restaurant in Boubergweg met die naam Dale’s Place.

Die Van Deventers en die Schreuders is van 2004 af bure. Trap nie mekaar se dumpels deur nie maar ons weet wat ons aan mekaar het. Een ding weet ek vir seker: Die Claassense en hul gaste gaan op die hande gedra word en heerlik eet. Dis Dale Schreuder se mantra.