Nov 19, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Driekuns op die krieketveld veroorsaak groot opgewondenheid. Die bouler is uit sy vel . Sy spanmaats storm op hom af om geluk te wens. Laat ek julle vertel van ‘n sonderling driekuns in die bos.
Die “bouler” se naam is Caroline Pols-Dijkstra, ‘n mede-Sabieparker, met haar wortels in Heerhugowaard in Nederland. Die “veld” se naam is Tarlehoet, die Van Deventers se bosplek aan die Sabierivier by die Krugerwildtuin.
‘n Keer kry ons van daar ‘n ontstellende onheilsboodskap: “Die hemel weet wat julle huis getref het.” Dit blyk dat rame van mure geruk is, breekgoed is stukkend, glas lê gestrooi op die vloer, gordyne is aan flarde.
Caroline kuier in die Polswoning, Gecko, in Gwarrieboslaan. “Asseblief gaan kyk tog,” pleit ons by haar. Ná ‘n eerste besoek is die raaisel onopgelos. Met ‘n tweede betrap sy die sondaar op heterdaad. Toe sy die voordeur oopskuif, kom hy met die trappe afgewaggel: ‘n uitgevrete veldlikkewaan.
Die kantoor het hom met knypers kom haal en by die piekniekplek gaan los. Ons hoop hy is in die Sabierivier vort Mosambiek toe.
‘n Ander gedenkwaardige keer het sy en Gert, haar ontslape eggenoot, die omgewing gaan verken nadat ‘n luiperd ‘n bokkie op ‘n aangrensende erf platgetrek het. Hulle gaan loer sommer, soos ons wederkerige gebruik is, of alles pluis is by Tarlehoet … en dis toe dat Caroline, soos sy dit pikant stel, amper ‘n luiperd se peuselhappie word.
Gelukkig het Gert uit die motor by die stoep se ingang die puntjie van die stert gewaar. Volgens die bloed op die stoepteëls het ta waarskynlik die bokkie daar verorber.
Die volgende oomblik kom sy orent. Daar staan sy voor hulle in haar volle glorie. ‘n Ruk lank kon luiperd en mensekinders slegs vir mekaar staar. Toe stap die pragdier skuur-skuur teen die paaltjieheining van die Van Deventers se lapa weg en in die motorpad af vort.
Dit was Donderdag 19 Maart 2015. Wat ‘n spesiale dag, wat ‘n halleluja-oomblik, om ‘n vriend, Manie Malan, ook al saliger, aan te haal. “Ek is bewend van opgewondenheid, stomgeslaan, oorstelp – en dêm dankbaar dat jy op die regte oomblik op die regte plek was met ‘n stewige vinger op die sluiter.” So het ek vir Caroline laat weet.
Pasede Woensdag is Caroline weer op Tarlehoet met ‘n lysie van dingetjies om te kontroleer. “Kyk asseblief of dit reg is, en dit en dit” …. Een is ons sonpanele. Dié moes stutte kry omdat ons in Augustus ontdek het hoe gevaarlik hulle kantel as hulle in die wind wieg.
Maar o wee. Die stutte het nooit gekom nie en die paal het geknak. Die panele lê plat. Onderstebo. Gesig na onder. Moes net die vorige aand gebeur het, want die yskas is nog koud. Die batterye het nog krag.
Noodstappe kon dadelik getref en die skade dus beperk word.
Eers die likkewaan, toe die luiperd, toe die sonpanele. Elke keer was die parate Caroline op die toneel. Elke keer is foto’s Melkbos toe geblits. Hoe sê ‘n mens dankie, Caroline?
Nov 12, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Net ‘n week ná FW de Klerk se groot oomblik op 2 Februarie 1990 maak die dinamiese nuwe leier toe weer groot nuus – hierdie keer met ‘n aankondiging oor die vrylating van Nelson Mandela. Weer kom Die Volksblad met ‘n scoop – maar ene wat roeringe veroorsaak en die redakteur laat bontstaan.
Saterdag 10 Februarie is koorsagtig agter die skerms gewerk om al die los drade vir die aankondiging vas te knoop. Die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond was in sessie op ‘n plaas buite Stellenbosch, ietwat afgehaal omdat De Klerk wat die hoofdis op die program sou wees, deur “ander, belangrike” sake weggehou word.
Maar terwyl die Broers die aand sesuur die aankondiging oor Mandela op die TV-skerm volg, wie stap skielik daar in? Die Man van die Oomblik, Broer FW on lewende lywe! Die atmosfeer was tintelend. KWV se Roodeberg en Chenin Blanc is uitgehaal om feesvierende glasies te klink.
Later bel pres. George Bush die De Klerk-woning en laat ‘n boodskap. De Klerk bel terug uit die sitkamer van die manjifieke plaasopstal met sy swaar geelhoutbalke. Hy word o.m. deur ‘n dankbare Bush na die Wit Huis genooi.
Die gesprek het presies 11 minute lank geduur, deel hy die huisbaas, Piet Carinus, later met ‘n bree glimlag mee, maar die moenie bekommerd wees nie; sy kantoor sal kom regmaak. Nee, kap die terug, die geld soek hy nie; net die tjek – as ‘n aandenking van ‘n gedenkwaardige aand.
Die Sondag terug in Bloemfontein, nadat ek lank gewik en geweeg het, besluit ek dit is ‘n storie wat te goed is om nie geskryf te word nie. Ek gaan wel uit my pad om vertroulikheid te eerbiedig; noem glad nie die AB of die plaas of die eienaar se naam nie, praat net van “vriende” by wie De Klerk was.
Maar klaarblyklik was ek nie versigtig genoeg nie. Die Maandag vroeg is die vet in die vuur. Die AB is ontsteld. Die President is in die verleentheid gestel. Prof. Pieter de Lange, voorsitter, raai aan dat ek liewer self Tuynhuys toe bel.
Wat ek toe dadelik doen, taamlik bedug oor die gesprek wat voorlệ.
Maar nee wat, sê De Klerk, al was ek ‘n bietjie stout, is geen skade gely nie. Hy het nie slapelose nagte oor die berig nie; ek hoef ook nie te hệ nie.
Dankie, antwoord ek, ek wou ‘n mooi rubriek oor hom skryf, nou sal ek dit nog mooier maak. Moenie, skerts hy terug, as hy dit lees, sal hy weet ek bedoel dit nie opreg nie; daar is ‘n bymotief. Einde van daardie episode. Wel tog ‘n lekker voorbladstorie gewees, ook in Die Burger en Beeld.
Foto: Aandpak-geleentheid in Bloemfontein in die 90’s. Lyk na ‘n ernstige gesprek.
Nov 11, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Met die dood van FW de Klerk is een van die helder herinneringe wat by my opkom, daardie dramatiese dag 2 Februarie 1989 toe hy uit die bloute leier van die NP geword het.
Die hoofberig in Die Volksblad met die kraakvars nuus oor sy verkiesing tot hoofleier in die plek van die siek PW Botha was ‘n scoop soos elke joernalis van droom. Die Volksblad was toe nog ‘n middagblad. Geen ander middagblad in die land kon daardie middag by hom kers vashou nie.
P.W. Botha bedank skielik. F.W. klop Barend du Plessis, Chris Heunis en Pik Botha om die leierskap. Dit was die sleutelelemente van die berig. FW nuwe leier, was die banier. Wen teen Barend met 69 -61 was die tweede opskrif.
Alf Ries, gesoute politieke beriggewer van Die Burger en oud-Volksblad-man, het voor 11:00 die eerste keer opgewonde gebel om te waarsku dat iets groots klaarblyklik aan die gebeur is. Soos so dikwels in sy uitsonderlike loopbaan was Ries op presies die regte tyd op presies die regte plek. (‘n Ander Ries-scoop vir Die Volksblad was Samora Machel se dood in ‘n vliegtuigongeluk in 1986. Geen ander middagkoerant het dieselfde dag nog daardie berig gehad nie.)
Die oggend van die historiese NP-koukus het Ries ‘n vreemde aktiwiteit bespeur, wat sy sensors geaktiveer het. Hy het dadelik gedink aan Die Volksblad, wat toe nog ‘n middagblad was. Geen ander joernalis het in daardie stadium eens snuf in die neus gehad van die drama wat hom in die koukus afspeel nie.
Teen 12:20 het Die Volksblad se Francois Lötter (later van Die Burger) gebel met die nuus dat die koukus vir ‘n nuwe hoofleier stem. Om 12:40 was daar weer ‘n oproep van hom om te sệ: Die nuwe leier is F.W. de Klerk.
Die redaksionele wiele het volstoom begin draai. Foto’s is geselekteer vir ‘n fotoblad en ‘n lewenskets is vinnig afgerond. In die subkantoor is koorsagtig bladsye verander — en die produk was ‘n treffer, met ‘n Alf Ries-hoofberig wat lesers soos ‘n elektriese stroom regop laat sit het.
Daardie middag bel Piet Steyn, LV vir Winburg, sy vriend prof. Kallie Strydom in Bloemfontein oor die groot dinge wat die oggend gebeur het. Hy kon op sy rug val toe Strydom hom meedeel: “Ek het dit nou net alles in Die Volksblad gelees.”
Die storie eindig ongelukkig op ‘n pynlike noot. ‘n Kis KWV-Roodeberg bestem vir kollega Alf het op die Bloemfonteinse lughawe (toe nog JBM Hertzog) van die waentjie getuimel. Net ses bottels van die dankie-geskenk het heel in die Kaap aangekom!
Foto: Buiteblad van my loopbaanboek “Kroniek van ‘n Koerantman” (Tarlehoet. 1998). ‘n Dowwe relief van daardie gedenkwaardige voorblad is vir die ontwerp ingespan.
- Later deel ek nog FW de Klerk-herinneringe.
Nov 9, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Die hoofredaksie van Die Volksblad in die 8o’s hou na 40 jaar re-unie in die wildtuin. Sarel Venter staan links van my. Regs van my is Herman le Roux, Piet Theron en Paul Marais.
Sarel Venter, ‘n besonderse koerantkameraad uit eie reg maar gelukkig nog in lewe, het my die eer aangedoen om oor Koerantkamerade uit eie beweging ‘n positiewe lesersindruk te skryf. Vanselfsprekend is ek ingenome en dankbaar.
Sarel is ‘n gewese adjunk-redakteur van Die Volksblad en ‘n sleutellid van die hoofredaksie in my redakteurskof in die jare 80’s. Hy het hom veral as ewewigtige kommentaarskrywer onderskei. Dat ‘n joernalis van sy statuur oor die betekenis van Koerantkamerade so vriendelik oordeel, is vir my spesiaal en waardevol.
Sarel skryf onder meer:
“Hennie van Deventer, oudredakteur van Volksblad en gewese hoof van koerante by Naspers/Media24, het ’n prysenswaardige taak aangepak in Koerantkamerade, volgens hom sy laaste boek – nommer 20. (Dit is sy sesde boek met ’n koerantagtergrond.)
“Hy noem die inhoud van die boek informele “grafskrifte” vir ’n 50 stuks koerantkamerade, mense wat veral in die vorige eeu in die koerantesfeer gearbei het. Aan hulle bring hy hulde soos blomme na ’n graf. Rose? En dalk ’n paar dorinkies?
“Hy vertel van die lewe en werk van verskeie mense in die koerantwêreld. Van sogenaamde groot karakters of mense van statuur. Maar ook van hulle agter die skerms; diegene wat nie bekende openbare figure was nie. Verdienste, rol of nalatenskap was geen maatstaf nie.
“Maar almal is al saliger. En die lys van mense wat uit sy bos gekap is, word al hoe langer … (Die titel van nog ’n boek uit sy pen is Byl in my bos, Griffel 2009.)
“Die skrywer het met die meeste persoonlikhede van agter die papiergordyn in sy koerantloopbaan van 35 jaar persoonlik kennis gemaak; saam met baie van hulle gewerk, sommige goed leer ken. Hy lig die sluier oor intriges in nuuskantore en direksies, en stel sy tydgenote met deernis en humor bekend. Sy fyn waarnemingsvermoë en uitstekende geheue – steeds op tagtig! – blyk duidelik.
“Koerantkamerade – in Van Deventer se reeds kenmerkende, boeiende en vloeiende skryfstyl – is ’n besonder insiggewende en waardevolle magnum opus-bydrae tot die vroeëre eietydse geskiedenis van die koerantbedryf, en ook van Suid-Afrika.”
Om ’n moontlike leser “lus te maak om hierdie onderhoudende boek te lees” gee Sarel ’n paar kort grepe uit van die 52 hoofstukke, onder meer van Piet Cillié, redakteur van Die Burger, later professor in joernalistiek in Stellenbosch en voorsitter van Nasionale Pers, Wynand Mouton, voorste kernwetenskaplike, oudrektor van die Universiteit van die Vrystaat, voorsitter van die SAUK-raad (en vriend van Volksblad wat op sy dag ‘n koerantverkopertjie was), Ryno Verster, arts en bergklimmer en 43 jaar lank rubriekskrywer van Volksblad as “Dokter Goedhart gee raad” (wat seker ’n wêreldrekord was), asook Gert (GPD) Terblanche, minsame oudredaksielid, politikus, kultuurleier, kerkleier en ambassadeur wat twee maande voor sy 99ste verjaardag in 2021 as die oudste Volksbladder oorlede is.
Die volledige stuk kan gelees word by https://www.litnet.co.za/koerantkamerade-deur-hennie-van-deventer-n-lesersindruk/
Die boek is gepubliseer deur die uitgewery Naledi in samewerking met die webblad Nagkantoor en met ‘n ruim subsidie van die LW Hiemstratrust..
Nov 5, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Volksbladkamer by NALN was lank ‘n droom. Nou word dit ‘n werklikheid.
Met die trek uit die ou Volksbladgebou in Nelson Mandelarylaan (voorheen Voortrekkerstraat) in Bloemfontein na ‘n kleiner perseel in Westdene is vir ou en waardevolle stukke van historiese belang vier waardige nuwe tuistes beding.
Een is NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum) waar die stylvolle redakteurskantoor ‘n tuiste vind. Dit sluit in ‘n statige lessenaar van Birmaanse kiaat wat uit die era van dr. AJR van Rhyn (redakteur van 1923 tot 1948) dateer. In my era (1980 – 1992) is dit tot sy huidige glorie vernuwe.
Die lessenaar is deel van wyle kollega Jan Scholtz, ‘n meestervakman, se monumente by Volksblad. Die meubels – stoele, bank, tafels en boekrakke – sluit ook sierade uit stinkhout, swarthout en eikehout in. Die meeste hiervan is onder Jan met sy hartstog vir hout se toesig of deur hom persoonlik gerestoureer met die omvattende opgradering van die gebou in 1986.
Wat ook na NALN gaan, is die oorpronklike Volksbladgebou se karaktervolle dubbel-voordeur met sy delikate bolig. Sentraal in die ontwerp is ‘n lantern (laat daar lig wees?) en ‘n boekrol met die uitgebeitelde inskripsie: “Vox populi vox Dei” – “die stem van die volk is die stem van God”.
Met die opgradering het die gebou ‘n keurige siersteenfasade en ‘n ruim ingang met glasdeure van moderne ontwerp gekry. Die ou deur, ‘n pragstuk van Birmaanse kiaat, het nie meer “ingepas” nie. Jan het gespook om ook die historiese deur te red, en ek het my gewig solied agter hom ingewerp; helaas ‘n verlore stryd.
Jan was tot sy dood toe bitter oor die mistasting. Volgens hom is die voordeur vir alle praktiese doeleindes “weggesmyt”. Hoe verheug sou hy nie oor die nuwe lewe gewees het nie.
Ander Volksblad-eiendom van historiese belang sal deur die Nasionale Museum, die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke en INEG (Instituut vir Eietydse geskiedenis), nou bekend as ARCA, bewaar word. Dit is ook die tuiste van een eie private versameling (die ander is by die Erfenisstigting).
Ons veterane van vorige eras het maar asem opgehou oor wat van ons geliefde koerant – die oudste in Afrikaans – se sentrale plek in die geskiedenis van die Afrikaane perswese van die land gaan word noudat dit nie meer op papier verskyn nie. Ons almal slaak ‘n dankbare sug van verligting oor die nuus wat redakteur Gert Coetzee vanoggend bekend gemaak het.
In eie hoedanigheid – maar ook as oudste oorlewende redakteur (chronologies) – wil ek graag ‘n buiging maak na Gert en sy span vir toegewyde en vrugbare arbeid om vir Volksblad, naas die voortreflike digitale spruit wat hulle so bekwaam in stand hou, ‘n alternatiewe fisieke voortbestaan te gee met die bewaring van waardevolle historiese stukke by vier waardige tuistes.
Die besluite lyk sinryk en ek sien uit om by afhandeling ‘n besoek aan Bloemfontein te bring om in die goue herinneringe te kom deel.
- Op die saamgestelde foto is die redakteurskantoor soos hy besig is om in NALN se gebou tereg te kom, soos hy in my tyd was en dolleeg na die trek.
- Die volledige berig op Netwerk24 is te lese by https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/volksblad-en-sy-geskiedenis-kry-nuwe-tuiste-20211104