Let op die lang droogtetyd tussen die vorige inskrywing uit die bos en hierdie een.  Tussen 2 Februarie 2020 en 29 Julie 2021 lệ 18 maande van inperkings weens Covid 19, verlange na Sabiepark, frustrasie en selfs twyfel of ek en Tokkie – nou 80 en 75 onderskeidelik – ooit weer ‘n voet op die geliefde grond sou sit.

Wel, hier is ons – danksy Pzifers, Airlink se direkte vlug na Kruger-Mpumalanga en ‘n paar ander dingetjies wat uiteindelik vir ons reg geval het.

Aanvanklik was dit bra vreemd om weer hier te kom.  Selfs die Honda se knoppies het my laat rondtas.  Tarlehoet self was half begrawe onder blare, spinnerakke en dooie goggas.  Miere het ‘n bylsteel feitlik opgevreet en ‘n besemstok gehalveer.  Maar vandag, dag drie, het normaliteit al grootliks teruggekeer.

Ons plek ken ons nog. Charelle het vir Tokkie by die Krugerhek herken, Chris Badenhorst vir my by sy werkwinkel – nog net so ‘n plaat motors soos altyd – en ons vrugteverkoper-vriend by die ou Checkers die Honda. By die kantoor wil almal weet: “Hoe gaan dit met Christopher?” Die weersiens met Patson en die flukse Lucy was hartlik. Ongelukkig is Patson se dienste nie meer nbeskikbaar nie.  Hy werk nou net vir Sabiepark.

Ou  “kuiergaste”uit die diereryk  soos die bosnagaap, die hiëna, die uil, die bloukuifloerie,die tarentale, die sebras, die blouwildebeeste, die rooibokkies  en die bobbejane het reeds kom oë wys.  Die hiëna was skemer by die swembad-trappies. Later het die bokker aan die noodwiel se seil kom kou. Die bobbejane het buitengewoon rustig verby gemarsjeer.

Drie kameelperde het ons spesiaal kom “verwelkom”.  Een het dadelik aangesuiker watergat toe, sy voorbene geknak en die lang nek laat sak om van die skoon, vars water te geniet . Dit was die eerste keer in 23 jaar  dat ‘n kameelperd voor ons o  uit ons watergat teenaan die huis drink – heuglik! Die ander twee het lank hier rondgestaan en blare gepeusel.  Op die foto’s kan ‘n mens sien hoe naby aan die stoep en lapa hulle was.

In Maroelalaan het ‘n swartwitpens vinnig tussen die bosse uitgespring. Goed gewees om so gou een van die Sabiepark-sierade te sien. (De Wet Mouton het ‘n klompie op die gras by  die kantoorgebou afgeneem.)

Ons eerste vlugtige kuiertjie  by die piekniekplek het ‘n verrassing gelewer: ‘n poublou bosloerie (narina trogon) met sy karmosyn bors in die takke van die reuse-trosvy.  Natuurlik was daar ‘n ophef, soos altyd, al is die minder seldsame bloukuifloerie vir my mooier.  Organ het met die Canontjie vir my ‘n klompie foto’s geneem. My nek is te styf vir sulke “lugfoto’s”.

Natuurlik was daar ‘n paar olifante (drie) en ‘n bosbokkie. Ook ‘n koedoe.

Wat vir ons sleg is, is die toenemende versletenheid van die wildtuin.  By Boulders het ons lekker gekuier saam met Philip en Nancé van Rensburg asook Jaap en Marlene Duvenage, Jani en Daniël.  Warm water was bitter skaars. Kaste, deurkosyne en stoele het beter dae geken.  Ook Letaba, Tshokwane en die Phabenihek toon tekens van verval.  Skukuza se “beddings” by die winkelkompleks is verwaarloos. Dit lyk met een woord bra oes.

Sabiepark daarenteen lyk goed versorg.  Gedurig kom nuwighede by, soos die groot uitkykplek by die rivier en nuwe braaiplekke, ook by die  TV-kamer. ‘n Persoonlike plesiertjie is dat “Bure van nature” by die kiosk ‘n topverkoper is.  Organ Ongeni wat die buitebladfoto van “Bure” geneem het, kry vanmiddag sy komplimentệre eksemplaar van die boek. Tokkie sal die keer die fotograaf wees.

Deel dit: