OPPENHEIMERS EN RAMAPHOSA: REG EN VERKEERD

In ‘n beroemde Suid-Afrikaanse misdaad is juwele ter waarde van sowat 250 000 pond sterling (nou sowat R5 miljoen) op 5 Desember 1955 uit mev. Bridget Oppenheimer se juwelekissie in hul herewoning, Little Brenthust, in Parktown. Johannesburg, gesteel. Die buit is in ‘n kussingsloop weggedra,
Toe mev. Oppenheimer (foto) haar verlies ontdek, het sy eers die polsie gebel, toe haar man. Daarna is die huishulpe ingeroep. Hulle was uit die veld geslaan.
Polisiekolonel Ulf Boberg, Witwatersrande speurhoof, het self bevel van die ondersoek op hom geneem. In ‘n kort tyd was ‘n span speurders op die toneel. Die media is ingelig. Interpol, Scotland Yard en die FBI is betrek.
Niemand is ooit skuldig bevind nie. Die juwele is wel teruggekry nadat ‘n informant na vore gekom het. ‘n Ruim beloning is betaal.
Hierdie is ‘n kort opsomming van ‘n saak met vele intriges. Wat belangrik is, is egter hoe die Oppenheimers dit gehanteer het: dadelik polisie toe en oop kaarte met die media. Die polisie het op hul beurt ‘n internasionale net uitgegooi.
Hoe anders met die Ramaphosa-miljoene wat raaiselagtig voete gekry het. Ek wil net twee punte uitlig.
Een is dat die polisie en die Oppenheimers se openbaarmaking was soos ‘n mens sou verwag. Dit het hulle in beheer geplaas van die vloei van inligting na ‘n nuuskierige publiek via prominente banierstories in koerante, ens. Geen ruimte is gelaat vir skinderstories en allerlei stertjies nie.
Die tweede is dat die Oppenheimers hulleself onmiddelik geposisioneer het as bondgenote van die polisie en uit hul pad gegaan om te probeer help dat die skuldiges aan die pen ry. Dit is klaarblyklik die regte ding om te doen.
Cyril Ramaphosa het om raaiselagtige redes ongelukkig nie dieselfde reguit pad geloop nie. Daarom suspisies, fluisterstories en rokerige vuurtjies.
Hoe jammer.

RILLER BY BRANDVLEI

Johan op ‘n fiets. Hierdie een het ten minste ‘n saal. Met hom het hy as skoolseun koerante afgelewer.

Elke visterman kan vir jou ’n storie of twee vertel van die grote wat weggekom het. Sulke onheil tref nie net vistermanne nie. Pas is die nuus bekend gemaak van ons geskenkboek oor ons seun, Johan, se lewensreis met diabetes mellitus (Vyftig jaar op insulien – ‘n storie van hoop) of ‘n roerinkie kom in  die ou man se geheue.  ”Tokkie , weet jy watter storie wat moet in gewees het, het  uitgebly? vra ek langs die vuurtjie . ‘’Nee, watter een?” ‘’Die Brandvleistorie.” ‘’Natuurlik.’’ Wel, te laat vir trane is dit.  Maar hier is die storie – en dis ‘n riller.

Hoofstuk een: ‘n heerlike vakansietjie in Kgalagadi saam met Johan en Mariza so 15 jaar of wat gelede.

Hoofstuk twee: Op pad terug omring deur niks en met Brandvlei die volgende dorp op ons roete steek hul Land-Rover kop tussen die bene. Snelheidsmeter val van 120 tot 0 in ‘n smartlike sekonde.  Olie oweral.  Selfone is morsdood sonder teken van ‘n sein. Verslaenheid by al vier insittendes.  Wat nou?

Hoofstuk drie: Ons bespied die omgewing met verkykers en sien in die verte iets anders as die kaal haaie niks van hierdie verlate stuk Karoo. Dit lyk soos dakke. Dakke beteken huise. Huise beteken mense. Mense beteken hoop.  Maar hoe kom ons daar?

Hoofstuk vier:  ‘n Motor wat beter dae geken het, verskyn uit die niet; hou stil. Ja, hulle het plek vir een. Dié kan saamry tot by die huise op die horison. Daardie een is toe Johan, die enigste vrywilliger.

Hoofstuk vyf: Op die grootpad teenoor die huisies klim hy uit. Stap ‘n taamlike ent en kom by die huisies. Dis plaaswerkers s’n.  Die opstal lê ver doei kant toe, beduie hulle. Maar sien hy die fiets daar teen die muur?  Ongelukkig nou nie ‘n saal nie, maar Johan kan hom leen.

Hoofstuk ses: Johan val in die pad, staan-trap die hele tyd en bid stilletjies.  Sy kragte raak min. Voor hom sien hy ‘n huis maar sy blik raak wasig – ‘n seker teken van lae bloedsuiker. Om hom is niks.  Wat kan hy doen?  Maar net nog vinniger bly trap. Hy bereik die werf. Gelukkig staan die agterdeur oop. Sy bene swik onder hom.  Val-val stort hy oor die drumpel.  ‘’Ek is ’n diabeet,’’ prewel hy.

Hoofstuk sewe:  Soms waak jou engele oor jou. Die boervrou was ‘n verpleegsuster.  Sy herken die simptome en weet wat om te doen; jaag Johan ‘n klomp suiker in.

Hoofstuk agt: Ons ander drie sit in die kar en wag. Doodbekommerd. Weet van niks.  Geen motor kom verby nie.  Geen teken van lewe nie.  Toe ‘n beweginkie voor in die pad.  Dis, dank Vader,  die boer se dogter en Johan in ‘n bakkie.

Hoofstuk nege: Danksy die boer se seinversterker maak ons kontak met ‘n gemeenskaplike vriend in die Kaap. Hy stuur dadelik sy dubbelkajuitbakkie. Word toe ‘n ontspanne aand doer in Brandvlei om ‘n gesellige vleisbraaivuur.  Die Karoolam se tjoppies is so voortreflik dat Mariza voortaan al haar skaapvleis net by een plek koop.

Hoofstuk tien: Laataand sien ons ligte soek-soek op die grootpad. Ons bakkie.  Uiteindelik vind die bestuurder die hek. Ons groet ons redders uit die nood soos ou bekendes.  In die vroeë oggendure ry ons Melkbos binne.

 

GRATIS GESKENK – ‘N STORIE VAN HOOP

‘n Geskenk wat hopelik vir mense hoop kan bring. So noem ek graag die beskeie e-boekie wat ek vandag namens die Van Deventers GRATIS vir een en almal aanbied.
Vir eers is die “storie van hoop” bedoel vir ’n nuwe generasie ouers wat hulle in dieselfde bootjie bevind as die een waarin ek en Tokkie in 1972 tot ons algehele verslaenheid beland het toe ons eersteling, Johan, op ses maande oud uit die bloute as diabeet gediagnoseer is. Vandag, 50 jaar en seker 60 000 inspuitings later, is die nimlike Johan sterk en gesond: ’n voorbeeld van wat met goeie beheer, dissipline en toewyding bereik kan word.
Ten tweede is die boek vir almal wat dink dat hulle uit ‘n ervaring van ander hoop kan put. Ten derde is dit vir almal wat dit graag wil lees, om watter rede ookal. Welkom, mense.
Dis ‘n plankdun boekie wat in ‘n japtrap gelees kan word. In die 50 of wat bladsye (foto’s ingesluit) word nietemin ‘n intieme lig gewerp op Johan se lewe op insulien: van kleins af toe diabetes by ‘n baba ‘n ongekende ding was wat dokters laat skarrel het, deur skool, universiteit en in sy volwasse lewe.
Die boekie wemel van vreemde insidente. Dit vertel onder meer hoe gade Tokkie – die “heldin’’ van die verhaal, aldus ‘n bevoegde waarnemer – haar seun met ‘n goed gemikte skop uit die hande van ‘n duiweluitdrywer bevry het, hoe sy incognito saam het hom ‘n veldskool bygewoon het, hoe ‘n onderwyser hom met byna noodlottige gevolge op ‘n uitstappie in ‘n badkamer op ‘n universiteitskampus vergeet het, en hoe sy hond, ‘n staffie met die naam Novo (dieselfde as sy insulien) sy lewe op ‘n donker aand gered het.
Die onbedagsaamheid en onbegrip by sommige word gelukkig deur wonderlike ondersteuning deur briljante geneeshere en andere uitbalanseer.

 

 

 

 

 

😊😊Heelwat humor is in die boekie opgesluit, soos die juffrou wat van skrik op die naat van haar rug beland het nadat Johan weens ‘n lae suikervlak in sy bloed in haar klas snaaks begin optree het, en hoe sy ma in ‘n verkeersknoop in ‘n sneeustorm stukkies ontbytkos moes fyn kou en in sy mond dwing.
Diabetes mellitus het Johan op vreemde, uitdagende en soms beperkende paaie gelei. Dit het hom nie ’n slegter mens gemaak nie. Verreweg nie. So skryf ek. Ek dink (hoop) dat die boekie hierdie woorde onderstreep.
Die e-weergawe is GRATIS by die aanlyn-boekwinkel van De Novo Uitgewers van Langebaan beskikbaar. Die skakel is https://www.denovowebs.co.za/books-2/. Lees dit aanlyn. Laai dit af. Versprei na goeddunke so wyd as moontlik, met komplimente van die Van Deventers.
Dank aan De Novo Uitgewers vir die versorging en hantering.
Die ooreenkoms in die name Novo-insulien en De Novo Uitgewers is – anders as in die geval van Novo, Johan se stoere staffie – net ’n gelukkige toevalligheid.
FOTO’S: Voorblad van die boek, Johan en sy ma, Tokkie, op sy 40ste, die skrywer en sy onderwerp op sy 40ste en ‘n resente foto van Johan, sy vrou, Mariza, en hul seun, Migael.

WILDEHONDE, WILDEVY EN WEERLIG

Op Granokoppie.

Weerlig slaan nie twee keer op dieselfde plek nie. Sê wie? Wat van drie keer?

Wel, ons het die vakansie al drie keer in drie weke wildehonde in Wildevylaan, Sabiepark gekry. Die derde keer, op Donderdag 19 Mei, kon ons maklik 300 meter rustig agter hulle aanry, verby ons eie 154, deur die driffie by 231 en toe links in by Gwarriebos. My Canon het oortyd gewerk.

By die Krugerbrug is ‘n nuwe padteken wat mense waarsku om versigtig te ry oor wildehonde op die pad. Die versoeking is groot om dit te gaan gaps. Ek wil dit hier voor ons huis kom plant.

Die tweede keer was minder as twee weke tevore. Twee opgewonde jong stappers – ‘n man en meisie – was die Sondagoggend op die toneel toe ek daar aangery kom. Hulle het geesdriftig beduie. Sowaar, die wildehonde – in daardie stadium vier, maar nog het uit die bos gekom – was net enkele treë van hulle. Moet sê ek was nogal verlig dat ek liewer in die veilige beskutting van my motor was.

Die derde keer was studentemaat Cas Jacobs en sy vrou, Nella, saam in die Honda.  Hulle het die vorige Saterdag hier aangekom met hul eie, nuwer Honda swaar gelaai van die heerlikste kos en drank. Soos altyd het die twee wellewende, stylvolle mense soveel tot die besoek bygedra dat ek des te meer dankbaar was vir die wildehonde se aktiwiteite. So kon Sabiepark my en Tokkie darem help met ‘n spesiale gebaar van wederkerigheid.

Derde keer is skeepspreg, lui die idioom. Neem kennis dat my tweede naam nou Skeepsreg is.‘

n Tweede hoogtepunt van ons heuglike saamkuier met gewaardeerde ou vriende was ‘n skemerpiekniek op die Granokoppie naby Skukuza. Watter wonderlike voorreg was ons vier beskore om as gaste van Jimmy en Lida Pressly van Skukuza ons kampstoele daar kon gaan neersit vir die skouspelagtigste sonsondergang wat ek nog in die Wildtuin beleef het.  Soos Konings van die Krugerwildtuin – so voel jy as daar sit en die rustige sononder indrink terwyl jy aan ‘n koue drinkdingetjie teug en aan Tokkie se smaaklike “platters” weglê.

Net een groot hartseer:  my en Cas se Tukkiemaat Vos Grey (ons was saam eerstejaars in Kollegetehuis in 1958) wat saam met ons sou wees, was in ‘n koma in die hospitaal ná ‘n beroerte aan die vooraand van sy en Magdaleen se kuier saam met ons in Sabiepark.  Hy is Dinsdag 24 Mei oorlede, en sal Sabiepark dus nooit weer sien nie.  Ook ons nie vir hom nie.

Wildehonde in Wildevy.

Tydens die Jacobse se besoek het Sabiepark die nuutjie beleef van twee vure langs mekaar op die stoep.  Hoekom dan twee vure vir vier Die antwoord is ‘n oulike groenterooster, ‘n geskenk van Cas en Nella. Ek moes dadelik daarmee eksperimenteer. Met die oog op volle konsentrasie was ‘n eie vuurtjie onontbeerlik. Eerlik nou: my tweede poging was beter as die eerste. Groente (al is dit in ‘n foeliebaadjie) soek meer hitte as wat ek aanvanklik geraai het.

In die Wildtuin het ons  die nuwe dek by Skukuza se gholfklub met melkskommels ingewy. Die klub is ‘n gunsteling onder ons Sabieparkers vir ‘n tradisionele ontbyt, ‘n ligte middagete of sommer vir ‘n happie en ‘n koffie (dalk ‘n koue bier of ‘n glasie wyn). Die  netjiese dek met tafeltjies en sambrele wat tot teenaan die 18de putjie se setperk strek, bring die seekoeie in die meer nou nog nader – en dalk ook die gevaar dat ‘n kragtige bofhou in jou bord spek en eiers skuiling kan land.

Iets besonders wat ons vier beleef het, was die intieme oomblikke van twee vlakvarke vlak langs die pad. Moet sê die onverdrote ywer en stamina van die beer verdien die hoogste respek. Nie verrassend nie was die passievolle minnaar en sy maat aan die einde papnat van die sweet.  Ek het nie geweet vlakvarke kan sweet nie, wat nog te sê van so erg.

BOMBARDEMENT YS-ALBASTERS

Was ek ‘n boer met ‘n oes op die lande was ek vanoggend waarskynlik ‘n verslae man. Watter skade kan ‘n bombardement van ysalbasters nie in tien minute aanrig nie.

Gisteraand se haelstorm oor Sabiepark – ongekend vir ‘n Kapenaar – het met albastertjies begin; toe ALBASTERS; toe met groter goed. Dubbeldoor-hoendereiers dalk?

Ondanks swaar weer van vyfuur se kant af met skouspelagtige blitse en ‘n onheilspelllende gerammel in die wolke was ek vasbeslote om ‘n tjoppie te braai.  Die hemele skeur oop net toe die tjoppie mooi begin kleur kry op die gloeiende kole.

Tokkie draf nader met ‘n swart sambreel (seker maar vir formele doeleindes). Maar watwou. Wys my die sambreel  wat kan staande bly as strome water en kletterende klonte ys in ‘n digte gordyn op hom neergiet.

Holderstebolder is die Van Deventers die huis in. Vir verdere hitte vir ons vleiskos sou die gasstofie in die kombuis moet sorg. Dit het hy heel doeltreffend gedoen, dankie.

My vrou se behulpsaamheid in die skielike krisis by die rooster het natuurlik nie sonder ‘n prys gekom nie.  Sy is bed toe met ’n nat krullebol. Haardroërs is nie in die bos so vryelik  beskikbaar nie.

Intussen het mevrou Van D die grootste klont hael op die stoep herwin. Dis die een op haar hand op die foto, met een verskil:  op die foto het amper die helfte al weggesmelt.  Dalk verskaf die tweede foto, ondanks die  onsekere beligting en fokus, ‘n beter perspektief.  Daardie knewel is ongetwyfeld die grootste hael-‘’korrel’wat hierdie man nog gesien het. Sou jou katswink slaan as dit jou tref.

‘n Mini-wolkbreuk sou ‘n mens dit kon noem. Saam met die hael het stortreën neergesak.  Gou was die swembadseil ‘n dammetjie en het die water uit die dakgeut wat op die stoep uitloop, soos ‘n jong waterval geklink.  In 10 minute is 10 mm in die reënmeter opgevang.

Deur die nag het dit nog gereën, maar sagter.  Vanoggend se lesing was 31 mm. Hierdie April was Sabiepark se natste. Lyk of Mei nie van plan is om by April af te steek nie.  Ek ruik nog reën.

Maar, mense, julle moet vanoggend die blare sien: op die Honda’tjie, die swembadseil (foto), die stoep, die lapa se plaveisel en reg rondom die huis. Wat die wind tot dusver gesukkel het om reg te kry, het gisteraand se hael met mening vermag. Aan talle bome kan jy vanoggend bemerk dat dit begin herfs word.

In die rooster lyk die natgereënde kole bra bedremmeld (foto). En hulle was so mooi!