Johan op ‘n fiets. Hierdie een het ten minste ‘n saal. Met hom het hy as skoolseun koerante afgelewer.

Elke visterman kan vir jou ’n storie of twee vertel van die grote wat weggekom het. Sulke onheil tref nie net vistermanne nie. Pas is die nuus bekend gemaak van ons geskenkboek oor ons seun, Johan, se lewensreis met diabetes mellitus (Vyftig jaar op insulien – ‘n storie van hoop) of ‘n roerinkie kom in  die ou man se geheue.  ”Tokkie , weet jy watter storie wat moet in gewees het, het  uitgebly? vra ek langs die vuurtjie . ‘’Nee, watter een?” ‘’Die Brandvleistorie.” ‘’Natuurlik.’’ Wel, te laat vir trane is dit.  Maar hier is die storie – en dis ‘n riller.

Hoofstuk een: ‘n heerlike vakansietjie in Kgalagadi saam met Johan en Mariza so 15 jaar of wat gelede.

Hoofstuk twee: Op pad terug omring deur niks en met Brandvlei die volgende dorp op ons roete steek hul Land-Rover kop tussen die bene. Snelheidsmeter val van 120 tot 0 in ‘n smartlike sekonde.  Olie oweral.  Selfone is morsdood sonder teken van ‘n sein. Verslaenheid by al vier insittendes.  Wat nou?

Hoofstuk drie: Ons bespied die omgewing met verkykers en sien in die verte iets anders as die kaal haaie niks van hierdie verlate stuk Karoo. Dit lyk soos dakke. Dakke beteken huise. Huise beteken mense. Mense beteken hoop.  Maar hoe kom ons daar?

Hoofstuk vier:  ‘n Motor wat beter dae geken het, verskyn uit die niet; hou stil. Ja, hulle het plek vir een. Dié kan saamry tot by die huise op die horison. Daardie een is toe Johan, die enigste vrywilliger.

Hoofstuk vyf: Op die grootpad teenoor die huisies klim hy uit. Stap ‘n taamlike ent en kom by die huisies. Dis plaaswerkers s’n.  Die opstal lê ver doei kant toe, beduie hulle. Maar sien hy die fiets daar teen die muur?  Ongelukkig nou nie ‘n saal nie, maar Johan kan hom leen.

Hoofstuk ses: Johan val in die pad, staan-trap die hele tyd en bid stilletjies.  Sy kragte raak min. Voor hom sien hy ‘n huis maar sy blik raak wasig – ‘n seker teken van lae bloedsuiker. Om hom is niks.  Wat kan hy doen?  Maar net nog vinniger bly trap. Hy bereik die werf. Gelukkig staan die agterdeur oop. Sy bene swik onder hom.  Val-val stort hy oor die drumpel.  ‘’Ek is ’n diabeet,’’ prewel hy.

Hoofstuk sewe:  Soms waak jou engele oor jou. Die boervrou was ‘n verpleegsuster.  Sy herken die simptome en weet wat om te doen; jaag Johan ‘n klomp suiker in.

Hoofstuk agt: Ons ander drie sit in die kar en wag. Doodbekommerd. Weet van niks.  Geen motor kom verby nie.  Geen teken van lewe nie.  Toe ‘n beweginkie voor in die pad.  Dis, dank Vader,  die boer se dogter en Johan in ‘n bakkie.

Hoofstuk nege: Danksy die boer se seinversterker maak ons kontak met ‘n gemeenskaplike vriend in die Kaap. Hy stuur dadelik sy dubbelkajuitbakkie. Word toe ‘n ontspanne aand doer in Brandvlei om ‘n gesellige vleisbraaivuur.  Die Karoolam se tjoppies is so voortreflik dat Mariza voortaan al haar skaapvleis net by een plek koop.

Hoofstuk tien: Laataand sien ons ligte soek-soek op die grootpad. Ons bakkie.  Uiteindelik vind die bestuurder die hek. Ons groet ons redders uit die nood soos ou bekendes.  In die vroeë oggendure ry ons Melkbos binne.

 

Deel dit: