In ‘n beroemde Suid-Afrikaanse misdaad is juwele ter waarde van sowat 250 000 pond sterling (nou sowat R5 miljoen) op 5 Desember 1955 uit mev. Bridget Oppenheimer se juwelekissie in hul herewoning, Little Brenthust, in Parktown. Johannesburg, gesteel. Die buit is in ‘n kussingsloop weggedra,
Toe mev. Oppenheimer (foto) haar verlies ontdek, het sy eers die polsie gebel, toe haar man. Daarna is die huishulpe ingeroep. Hulle was uit die veld geslaan.
Polisiekolonel Ulf Boberg, Witwatersrande speurhoof, het self bevel van die ondersoek op hom geneem. In ‘n kort tyd was ‘n span speurders op die toneel. Die media is ingelig. Interpol, Scotland Yard en die FBI is betrek.
Niemand is ooit skuldig bevind nie. Die juwele is wel teruggekry nadat ‘n informant na vore gekom het. ‘n Ruim beloning is betaal.
Hierdie is ‘n kort opsomming van ‘n saak met vele intriges. Wat belangrik is, is egter hoe die Oppenheimers dit gehanteer het: dadelik polisie toe en oop kaarte met die media. Die polisie het op hul beurt ‘n internasionale net uitgegooi.
Hoe anders met die Ramaphosa-miljoene wat raaiselagtig voete gekry het. Ek wil net twee punte uitlig.
Een is dat die polisie en die Oppenheimers se openbaarmaking was soos ‘n mens sou verwag. Dit het hulle in beheer geplaas van die vloei van inligting na ‘n nuuskierige publiek via prominente banierstories in koerante, ens. Geen ruimte is gelaat vir skinderstories en allerlei stertjies nie.
Die tweede is dat die Oppenheimers hulleself onmiddelik geposisioneer het as bondgenote van die polisie en uit hul pad gegaan om te probeer help dat die skuldiges aan die pen ry. Dit is klaarblyklik die regte ding om te doen.
Cyril Ramaphosa het om raaiselagtige redes ongelukkig nie dieselfde reguit pad geloop nie. Daarom suspisies, fluisterstories en rokerige vuurtjies.
Hoe jammer.
Deel dit: