Op Granokoppie.

Weerlig slaan nie twee keer op dieselfde plek nie. Sê wie? Wat van drie keer?

Wel, ons het die vakansie al drie keer in drie weke wildehonde in Wildevylaan, Sabiepark gekry. Die derde keer, op Donderdag 19 Mei, kon ons maklik 300 meter rustig agter hulle aanry, verby ons eie 154, deur die driffie by 231 en toe links in by Gwarriebos. My Canon het oortyd gewerk.

By die Krugerbrug is ‘n nuwe padteken wat mense waarsku om versigtig te ry oor wildehonde op die pad. Die versoeking is groot om dit te gaan gaps. Ek wil dit hier voor ons huis kom plant.

Die tweede keer was minder as twee weke tevore. Twee opgewonde jong stappers – ‘n man en meisie – was die Sondagoggend op die toneel toe ek daar aangery kom. Hulle het geesdriftig beduie. Sowaar, die wildehonde – in daardie stadium vier, maar nog het uit die bos gekom – was net enkele treë van hulle. Moet sê ek was nogal verlig dat ek liewer in die veilige beskutting van my motor was.

Die derde keer was studentemaat Cas Jacobs en sy vrou, Nella, saam in die Honda.  Hulle het die vorige Saterdag hier aangekom met hul eie, nuwer Honda swaar gelaai van die heerlikste kos en drank. Soos altyd het die twee wellewende, stylvolle mense soveel tot die besoek bygedra dat ek des te meer dankbaar was vir die wildehonde se aktiwiteite. So kon Sabiepark my en Tokkie darem help met ‘n spesiale gebaar van wederkerigheid.

Derde keer is skeepspreg, lui die idioom. Neem kennis dat my tweede naam nou Skeepsreg is.‘

n Tweede hoogtepunt van ons heuglike saamkuier met gewaardeerde ou vriende was ‘n skemerpiekniek op die Granokoppie naby Skukuza. Watter wonderlike voorreg was ons vier beskore om as gaste van Jimmy en Lida Pressly van Skukuza ons kampstoele daar kon gaan neersit vir die skouspelagtigste sonsondergang wat ek nog in die Wildtuin beleef het.  Soos Konings van die Krugerwildtuin – so voel jy as daar sit en die rustige sononder indrink terwyl jy aan ‘n koue drinkdingetjie teug en aan Tokkie se smaaklike “platters” weglê.

Net een groot hartseer:  my en Cas se Tukkiemaat Vos Grey (ons was saam eerstejaars in Kollegetehuis in 1958) wat saam met ons sou wees, was in ‘n koma in die hospitaal ná ‘n beroerte aan die vooraand van sy en Magdaleen se kuier saam met ons in Sabiepark.  Hy is Dinsdag 24 Mei oorlede, en sal Sabiepark dus nooit weer sien nie.  Ook ons nie vir hom nie.

Wildehonde in Wildevy.

Tydens die Jacobse se besoek het Sabiepark die nuutjie beleef van twee vure langs mekaar op die stoep.  Hoekom dan twee vure vir vier Die antwoord is ‘n oulike groenterooster, ‘n geskenk van Cas en Nella. Ek moes dadelik daarmee eksperimenteer. Met die oog op volle konsentrasie was ‘n eie vuurtjie onontbeerlik. Eerlik nou: my tweede poging was beter as die eerste. Groente (al is dit in ‘n foeliebaadjie) soek meer hitte as wat ek aanvanklik geraai het.

In die Wildtuin het ons  die nuwe dek by Skukuza se gholfklub met melkskommels ingewy. Die klub is ‘n gunsteling onder ons Sabieparkers vir ‘n tradisionele ontbyt, ‘n ligte middagete of sommer vir ‘n happie en ‘n koffie (dalk ‘n koue bier of ‘n glasie wyn). Die  netjiese dek met tafeltjies en sambrele wat tot teenaan die 18de putjie se setperk strek, bring die seekoeie in die meer nou nog nader – en dalk ook die gevaar dat ‘n kragtige bofhou in jou bord spek en eiers skuiling kan land.

Iets besonders wat ons vier beleef het, was die intieme oomblikke van twee vlakvarke vlak langs die pad. Moet sê die onverdrote ywer en stamina van die beer verdien die hoogste respek. Nie verrassend nie was die passievolle minnaar en sy maat aan die einde papnat van die sweet.  Ek het nie geweet vlakvarke kan sweet nie, wat nog te sê van so erg.

Deel dit: