May 7, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Hier volg die tweede episode van die slang-sage by Wildevy 154, Sabiepark.
In die episode gesels ons oor die ontdekking van die waarskynlike toegangsroete van die yslike Mosambiekse spoegkobra wat Donderdag die vrede hierlangs so wreed kom versteur het.
Die leidraad is ’n lang slangvel – die langste wat hierdie waarnemer nog aanskou het – aan ’n dakbalk aan die voorkant van die huis, daar by die badkamer van die hoofslapkamer rond. Kon nie meet nie, dis te hoog, maar dis niks korter nie as 1,5 m. Dit sweer ek.
Dis Tokkie die verspieder wat die vel ontdek het op een van haar gewone rondes om die huis waarop sy alles waarneem wat waar te neem is en ook nog ’n bietjie ekstra.
Die doel vermoed ek is om die uwe uit die hoogte oor sy onoplettendheid te vermaan. Soos ook in hierdie geval.
“Kom kyk hier.” Dit klink na ’n kwaai weermagoffisier se bevel. Ek gehoorsaam so vining soos die kierie my toelaat. Daar hang die vel toe, wapperend in ’n ligte briesie. ”Dis syne.’’ Daaroor het ons onmiddellik konsensus,
Geen mens kan tot enige ander gevolgtrekking kom nie: dis onteenseglik ons kobra se vorige bedekking daardie. (As dit die van ’n ewe lang maat is, is dit onheilspellende nuus, want waar is die maat dan nou?)
Die omgewing waar die vel hang, dui op ’n klaarblyklike kwesbaarheid in ons vesting. Voorheen is ‘n likkewaangesin daar onder die dak se dekgras in vir ’n ’n uitgebreide besoek totdat die versoeking van ‘n gekookte eier een in ’n lokval gelei het. Die ander het ons so sit en kyk toe ons hom agter in die Honda laai om vir hom ‘n nuwe adres te gaan soek. Toe kies hulle ook koers.
Net om die draai van die lang vel hang boonop ’n korter velletjie. Onse spoegkobra was nie die eerste lid van die spesie slang wat daar kom vel afgooi het nie.
’n Verdere leidraad is ‘n dowwe plofgeluid wat die uwe die vorige dag uit die rigting van die badkamer hoor kom het. ’n Ondersoek ter plaatse het niks opgelewer nie. Tokkie was skepties. Dat ek in die nanag ook voetspore op die dak gehoor het – seker maar ‘n bosnagaap – het haar vermoede versterk dat ’n ooraktiewe verbeelding ’n rol speel.
Met die ontdekking van die vel het die scenario egter verander. Kon die kobra gewees het, gee sy toe. Waarskynlik sy vel afgegooi, onder die gras ingekruip en toe sy houvas verloor. Die donker hoekie langs die toilet lyk na die waarskynlikste landingsplek.
Dit sou ook die verklaring bied vir die resultaatloosheid van my vinnige rondkykery na iets verdags. ‘’Elementary, my dear Watson.’’
Uit die badkamer is hy klaarblyklik toe, deur avontuurlus gedrewe, slaapkamer toe waar ’n ontsnapping deur die skuifdeur gestuit is. Ons het immers self gesien toe hy ‘n keer onverrigter sake teen die gladde ruit probeer opseil. Dalk gefrustreerd deur die versperring was hy klaarblyklik in ‘n minder welwillende luim toe ek hom daar langs die deur raakloop; bak-kop dreigend in my rigting gekeer.
Volgende besoekpunt was onder die dubbelbed. Dis waar die dapper slangvanger Sipho hom met die slangtang aangekeer het: sissend en kriewelend.
May 6, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Kobra in die slaapkamer, wildehonde in ons straat, romantiese rooibokkies al om die huis en twee gulsige bosnagape wat meeding om die happies op die piesangtafel. Dit is van die ervarings tot dusver wat weer eens op ons Sabieparkskof, soos op al die voriges, ‘n groot klomp stof vir heerlike kampvuurstories skep.
Van slange weet ek min. Ken omtrent net ’n tuinslang, brandslang, pompslang by ’n vulstasie en ’n rubber-speelslangetjie. My raaiskoot is egter dat die indringer in ons slaapkamer-sanctum ’n kobra moet gewees het, waarskynlik ’n Mosambiekse spoegkobra.
Dis nie ’n saggeaarde vent nie, weet ons uit twee vorige ervarings. Ek skrik my dus boeglam toe ek gister om 15:30 by die deur instap. Net anderkant die drumpel wag die meneer: bakkop omhoog om sy terrritorium te verdedig. En die Mosambiekse manne kan spoeg hoor. Dodelik. Tref dit jou in die oë is dit middernag.
Tokkie speel slangwag en ek bel die kantoor: ‘’Kom help gou’’. Sipho daag op met ’n beiligheidsbril en ’n slangstok. Teen die tyd is ta onder die Van D’s se dubbelbed ná ’n mislukte poging om teen die skuifdeur se glas op te seil, onheilspellende tekens dat die ingeboude kas vir hom na ‘n aantreklike heenkome lyk en allerlei ander glibberige maneuvers.
Sipho ken sy storie. Nie lank nie of die knewel – gewis minstens 1,5 meter lank – kriewel in die greep van die slangstok. Hy word veld toe ontplooi waar hy hoort. Maar skielik lyk die slaapkamer onveilig. Het die slang juit die dak geval? Skuil daar ander slange in die gras?
Ek wonder hardop of ek nie in die Honda moet gaan slaap nie. Maar dit raak koel in die nag. ‘n Dubbelbed is in Mei se frisserige herfsweer nie te versmaai nie.
Wildehonde was die langnaweek weer die groot tema in Sabiepark. Donderdagaand het ’n troppie in Wildevy opgedaag. Ons gaste vir die naweek, Cules, Dalene, Marcus en Anel Malan van Pretoria, was bevoorreg om op die eerste aand van hul kuier nie KWV nie maar WWW by die kampvuur en die braai te kry: Wildehonde op die hoek van Worsboom en Wildevy.
Vrydagoggend het ek hul spoor gevat – die wildehonde s’n, nie die Malans s’n nie. Daar lê die bont brakke toe in Gwarriebos heerlik aan’t uitrus na nagtelike kaperjolle waarvan die aard en omvang nie aan my bekend is nie.
Die gebied is deeglik gemerk en ure later was hulle steeds daar. So het werkesel Tokkie darem ook kans gekry om hulle waar te neem.
Dit is die maand Mei, vir die rooibok-gemeenskap die mooiste, mooiste maand. Die liefde blom. Die ramme proes en brul luidrugtig. Die brulgeluide moedig glo estrus in die ooie aan en lei tot gesinchroniseerde ovulasie, paring en geboortes in November.
Die Van Deventers tref dit vanjaar gelukkig. Rondom ons plek is dag en nag romantiese rooibok-aktiwiteit. Buiten die harde brulgeluide van die ramme, sien ons aan mekaar hoe die ramme mekaar met die kop bykom, bosse met hul horings slaan, hul sterte lig, gaap en vir mekaar met monde wyd oop tong uitsteek – vinnig en verskeie kere.
Laasgenoemde – ook bekend as ‘’tongue flashing’’ – is dominante ramme se manier om hul dominansie te demonstreer. Dit laat ooie nader aan mekaar bondel en jong ramme op die vlug slaan.
Die ram wat die tamboer slaan, probeer om familietroppe vir 8 tot 12 dae in hul territorium te hou en moet terselfdertyd sy belange teen uitdagers verdedig. Daar is nie eens tyd om te wei nie. Die ou teer in die tyd op die vetreserwes wat deur verhoogde hormoonproduksie in die nek opgebou is.
Na hoogstens 12 dae is’n ram gewoonlik so uitgeput dat hy deur ’n mededinger verjaag word – arme ding.
(Met dank aan Riëtte vir kennis bygedra deur haar naslaanboek ‘’Aardwolf tot ystervark’’.)
Die “Piesangroete” verskaf Tarlehoet se mense al jare plesier. Nou weer met ons herfsbesoek aan Sabiepark. Dié roete kry lewe sodra dit sterk skemer begin raak. Skielik sak nagapies (galago moholi) en bosnagape (galado crassicaudati) uit alle oorde op die stoep toe vir ‘n porsie – net nie te ryp nie, hoor!
Met die toenemende wedywering van die grotes betaal die “moholi’s” die prys as hulle wag totdat dit goed donker is, soos hul instink hulle lei. Die “crassicaudatusse” met hul groter aptyt, onversadigbare piesanglus en minder verfynde eetgewoontes boer hulle uit.
Die eetgewoontes verskil aansienlik. Die kleintjies raap die lekkernye op soos blits en gaan eet dit fyntjies in ‘n tak van die pendoring. Dit word in die handjies gehou soos ‘n mens met ‘n mielie doen. ‘n Bosnagaap is soos ‘n dorsmasjien. Hy gaffel die heerlikheid behoorlik in, en maak die tafel skoon. (“Op is mooi,” het my ouma altyd gesê. Bosnagape stem klaarblyklik volmondig saam.)
As twee gelyktydig op die tafel land, word dit ’n eetkompetisie soos min. Hulle vloog onder die skyfies piesang in met ’n drif en ’n verbetenheid wat ’n mens verstom. ’n Beter vertoning kan jy kwalik vir gaste aanbied
Die verskillende eetkulture het ek in twee versies vir my kleinkinders in ’n private bundeltjie “Innibos saam met Oupa” in die versies “Piesangs en pendorings” en “Dorsmasjien” probeer verduidelik:
Nagapies dink: “O jinne, ons droom,
ons pluk stukkies piesang
hier sommer aan ‘n pendoringboom!”
__________
Met sy bieliestert is die bosnagaap
‘n apie-meneer van ‘n ander kleur;
voordat jy kan tel tot tien
draf hy deur ‘n piesang
soos ‘n dorsmasjien.
Apr 26, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Treurige toneeltjie begroet my op pad huis toe in Wildevylaan, Sabiepark. Twee rooibokrammetjies lê plat op die grond, horings ineengestrengel. ’n Derde , duidelik erg onthuts, draf op en af en maak ontstelde blaasgeluide.
Een van die twee op die grond lyk vir my dood. Die ander een haal hygend asem. Ek gaan haal gou vir Tokkie. Twee koppe is immers beter as een.
Watter treurspel sou hier plaasgevind het? Gou het ons konsensus: klaarblyklik het die twee hul humeur met mekaar verloor. Wat toe volg, was ’n verwoede gekopstampery met hul stewige horings as wapens. Toe raak die horings verstrengel. Die twee beland half bo-op mekaar hulpeloos op die grond. Die derde wil help, maar hoe?
Ek neem foto’s en Tokkie soek gou die nommer van die kantoor op haar selfoon om die vreemde gebeurde te rapporteer. Die derde blaas nog ’n keer hard en verdwyn in die bos. Volgende oomblik: hier is die twee “dooie” of ‘’sterwende’’ bokke op die been. Hulle skud hul koppe woes. Die horings glip los. Een hardloop links die bos in en die ander een regs.
Net die merke op die nat grond bly oor as bewys van die klein natuurdrama wat hom in Wildevy afgespeel het. Ons kan ons oë nie glo nie.
Wat ons hier gesien het, herinner aan ‘n raaiselagtige insident ook met twee impalarammetjies enkele jare gelede naby Satara in die Krugerwildtuin. Een was teen die grond, skynbaar dood of ten minste uit soos ’n kers. Die ander het die een stormloop na die ander geloods en met sy voorpote op die gevallene gespring.
Ek en Tokkie, romantiese siele, vertolk dit as liefdesdaad tussen ’n Dawid en Jonatan. Ons dag die een betuig sy smart met ‘n maat se dood of teenspoed. Aikona, hoor ons toe. Wat ons daar waargeneem, was impala-aggressie wat selfs verby die dood nog nie uitgewoed was nie. Die ou mooi bokkies se lonte is kort. Hoe langer die geveg duur, hoe kwater word hulle vir mekaar.
Apr 2, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

By Johan se 50ste
Soos D-dag, 6 Junie 1944, ‘n dag van betekenis was, is Van D-dag, 7 April 2022, dit ook.
Eersgenoemde was ‘n sleuteldag in die Tweede Wêreldoorlog, en word ná amper 80 jaar nog herdenk. Laasgenoemde kry vandag eers in hierdie skrywe sy naam, maar is vir die Van Deventers van groot herdenkingswaarde.
By 7 April 2022 is in die dagboek ‘n rits inskrywings wat op ons lewens’ n D-dag-impak het.
Nommer een is dat seun Johan Donderdag presies 50 jaar lank op insulien sal wees. Rofweg bereken, sal hy dan minstens 50 000 prikke agter die blad hê om insulien in te spuit, en vir ander dinge daaromheen, soos bloedtoetse.

Johan: begin van die pad
Die baken word bereik in sy 51ste jaar op aarde. Hy was net ses maande oud toe hy raaiselagtig siek geword het en met diabetes mellitus gediagnoseer is – destyds (waarskynlik) die jongste geval ter wêreld.
Hy hou ‘n onbenydenswaardige waarskynlike wêreldrekord. Geen geval is opgeteken van iemand wat in die loop van sy 51ste jaar reeds die baken van 50 jaar op insulien behaal nie. HY het op 14 September 2021 50 geword,
Oor sy lewe op insulien kan baie stories vertel word: onder meer van talryke vreemde insidente uit veral sy kinderjare. Een daarvan is hoe sy hond, Novo, vir hom een aand ‘n lewensredder was soos die insulien Novo dit al lewenslank vir hom is.
Radelose artse het destyds nie herwaarts of derwaarts met die unieke geval geweet nie. HY was drie maande in die hospitaal terwyl gesukkel is om hom te stabiliseer. Ons is daarop voorberei dat hy besmoontlik nie 10 sou haal nie. Wonder wat hulle sal dink as hulle hom vandag kan sien: spekvet en aktief. Hy bedryf ‘n groot trokwasonderneming op George. Hy is ook baie betrokke by die Legacy Centre, ‘n skool vir kinders met spesiale uitdagings wat sy vrou, Mariza, bedryf. Hul seun, Migael, is outisties.
Destyds het nie net SA dokters nie nie van ‘n jonger geval geweet nie. Ook by die bekende Joslinkliniek in Boston, VSA, wou ‘n Switserse dokter sy ma nie glo nie. “Ses maande? Kan nie wees nie, mevrou?”

Sabiepark: In het beginne
Inskrywings twee en drie by 7 April is van twee aktiwiteite. In die Kaap tree die uwe en Tokkie op die lughawe Kaapstad aan vir die eerste skof van ons eerste lang Sabiepark-verblyf sedert die Covid –skrikbewind. Ons vlieg om 10:25 met Airlink se vlug NDBIXP na Nelspruit. As alles goed gaan, brand die aand ‘n vuurtjie by Tarlehoet.
Sabiepark is nou 24 jaar deel van ons lewe. Minstens 50 onvergeetlike vakansies (of vier jaar in kalenderdae!) is al daar langs die Sabierivier in die skaduwee van die Krugerhek van die wildtuin deurgebring; van die onvergeetlikste die alleenkuiers met kleinkinders.
Elke vakansie lewer sy spesiale gedenkwaardigheid op. Wat sal dit die keer wees? Weer ‘n luiperd op die stoep dalk? ‘n Mosambiekse spoegkobra by die braai? Vier hiënas in ‘n nagtelike eskapade in die watergatjie? Hou die ruimte dop.
Op George word die gholfstokke geswaai en die gemeenskap se harte en beursies oopgemaak op ‘n spesiale gholfdag vir die Legacy Centre (kleinseun Migael se skool) hierbo genoem.
Die skool van hoop en BINAH (sy nie-winsgewende organisasie) het in 2021 sy 1ste golfdag by die George-Gholfklub aangebied. Rauch Gertenbach Prokureurs en Citadel was hoofborge. Dit was ‘n dag van groot emosie. Spelers en rolspelers uit die Georgesakegemeenskap het almal wat by die skool betrokke is, oorrompel met hartlikheid en vrygewigheid. Die fondsinsameling was ‘n reusesukses en die veiling agterna veral ‘n feestelike geleentheid.

Gholfdag 2021 en 2022
Rauch Gertenbach Prokureurs gedenk sy 100ste bestaansjaar vanjaar en vier dit o.m. met ‘n spesiale liefdadigheidsgholfdag ten bate van Legacy Centre op Van D-dag. Volgens Mariza is dit vir die skool ‘n enorme eer dat die praktyk sy hart in so ‘n mylpaal-jaar vir hulle oopmaak. Die Tuinroete se sakegemeenskap omarm die skool ook weer eens en stel hom in staat om fantastiese pryse aan te bied vir die veiling.
Altesaam 17 outistiese kinders van so ver as Grootbrak en Sedgefield woon die sentrum by. Legacy Centre kry geen staatsbefondsing nie en is aangewese op donasies en fondsinsamelings soos hierdie.
Nog iets van 7 April: dit is die geboortedag van Tokkie se ma, Ouma Marietjie. Sy sou Donderdag 108 jaar oud gewees het, maar is kort voor haar 99ste oorlede.
- Jan van Riebeeck het natuurlik op 6 April 1652 met drie skepe, die Drommedaris, Reijger en Goede Hoop, in Tafelbaai geland met die doel om ’n verversingstasie te vestig. Vanjaar is dit 370 jaar gelede. Gelukkig het hy nie ‘n dag later opgedaag nie. Op die dagboek-blad vir 7 April is werklik vir geen muis meer plek nie.
Mar 30, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Een, twee, drie jakkalsbessies tel ek op die werf van Tarlehoet by Wildevy 154, Sabiepark. Oornag het hierdie bome van statuur ‘n nuwe status verwerf. Jakkalsbessies is een van vier nuwe spesies op SA se lys van beskermde bome. Bewaar jou as jy hulle sommer net gaan verniel of met minagting behandel.
Prominentste boom by Tarlehoet is waarskynlik die gedugte maroela (links op die foto) teenaan die voorstoep en braailapa met sy sware takke wat sambreel maak oor die dak. Die laaste jare beur ‘n parmantige jong jakkalsbessie (regs op die foto) styf teenaan die ou heer se gryserige stam boontoe. Hy kom, hy kom. Gaan hy nog die oorhand kry?
Uit Wildevy lei ‘n kronkelende groen oprit van sowat 120 meter na die huis. Langs hierdie laning – dit moet een van die mooiste in Sabiepark wees, spog ek onbeskroomd – staan ‘n erewag van pragbome wat twee opgeskote jakkalsbessies insluit. Hulle gaan nog groot bome word, Salute, julle.
Wat die jakkalsbessie vir ons ekstra spesiaal maak, is dat dit die boomnaam is wat kleinseun Thomas by die WAT borg, (Jacob borg die blinkblaar-wag-‘n-bietjie en Christopher die wildevy).
Dan is ‘n gunsteling-besoekpunt op elke Sabieparkvakansie die reuse-jakkalsbessie met sy drie boomhuise by die Proteahotel by die Krugerbrug. Daar gaan ons bepaald in Junie weer saam met die drie seuns “roomys in die boomhuis” eet.
Vanaand drink ek ‘n eerste heildronk op ons bome van statuur met hul nuwe status. Oor twee weke, op 7 April, arriveer die Van Deventers in Sabiepark vir hul jaarlikse lang staning – nou weer moontlik na die Covid-onderbreking. Daardie aand drink ons op ons bome ‘n tweede heildronk op die stoep van Sabiepark – dalk in die teenwoordigheid van ‘n paar nagapies of ‘n bosnagaap of twee in die nimlike jakkalsbessie.