TOT SIENS VIR ‘N ERA

Annatjie en Lientjie neem afskeid.

Vir ons ouer garde van Sabiepark was dit ‘n hartseernaweek.  ‘n Treklorrie het Saterdagand vol gelaai van die Strydomhuis, Rustig, erf 333 uit Apiesdoring, na Outeniekwastrand vertrek.  Vanoggend skuins ná agt het Annatjie en Lientjie in hul Toyota gevolg.

Onder die laaste skakel met die pioniersdae van vier dekades gelede word daarmee ’n soliede streep getrek. ‘n Era is verby.

Saam met vriende Dawie en Annatjie Strydom het ek en Tokkie goue dae beleef. Ons troetel herinneringe van uurtjies langs kampvure, by vleisbraaie en ander saamkuiers en uitstappies in die wildtuin. Lank is ons Sondae saam kerk toe in Skukuza  met my destydse blou kombi, die Bosbus.

Sout-van-die aarde-mense. Die Strydoms. Verknog aan die natuur, versot op die piekniekplek, altyd bedrywig in die lapa – waaruit Annatjie die heerlikste vetkoek kon tower –  styf langs mekaar in die TV-kamer wanneer sport op die skerm is.  Dawie, ‘n Springbok in die hengelkuns, en Annatjie, ‘n kranige tennisspeelster,  was ewe lief vir sport.

Hoe Dawie altyd met sy mondfluitjie altyd “God sy met u tot ons weer ontmoet” by die flikkerende skaduwees van die laaste hardekoolvlammetjies van ‘n vuurtjie laat opklink het, sal ons nooit vergeet nie. Ook nie sy mondfluitjie-uitvoering saam met die orrel by ‘n erediens nie – sekerlik iets unieks.

Dawie is  in 2015 oorlede ná jare in daardie skêmerwereld van min onthou maar baie vergeet, van weet en ook nie meer nie weet nie, Sedertdien het Annatjie en Lientjie, hul jongste kind, alleen die ver pad gekom.  Nou is die huis op die drie erwe aan Apiesdoring verkoop. Die Strydoms groet vir laas.

Treklorrie by Rustig.

Matriarg Annatjie het ‘n ander Sabiepark gegroet as die een destyds toe hier nog skaars huise – meesal boskaias – was, veel meer diere as mense, by die piekniekplek geen omheining nie en ‘n trop buffels in die veld gewei het.  By die piekniekplek was ‘n eilandjie in die Sabierivier en die ou keerwal was van klip gebou.  Die kinders het stoksielalleen die onbeskermde wandelpad langs die rivier aangedurf. Ian Crabtree was die parkhoof – die eerste.

Die plek was nog “wild en rof”, vertel Annatjie so tussen die siftery van kosbare ou dokumente en die oppakkery van duursame meubels deur.  Die ruim Strydomwoning was een van die eerste ‘’werklike’’ huise met drie slaapkamers, skuifdeure en teëls op die vloere.  Die tenderprys in 1983 was R40 000.  Erwe het van R10 000 tot R17 500 gekos.

Vir meer as drie dekades het Dawie die plek waarvoor hy so innig lief was, toegewyd gedien. Hy was in die komitee, het waargeneem as bestuurder, het heinings gespan, bruggies gebou,planke geslaan … Jy kon hom enige stuk gereedskap gee. Sy hande het vir vir niks verkeerd gestaan nie. ‘n Lui haar het nie op een van die Strydomkoppe gegroei nie.

Dawie was ook een van die boer-maak-‘n-plan-soort. By Rustig was ‘n spitbraai wat met ‘n fietsketting werk, en sonpanele wat jy al agter die son aan kan skarnier – sy eie prakseersels.Rustig se baas het jare der jare gelede die ewige heldeverering van ‘n duiker-ooitjie gewen toe hy ‘n luislang met ‘n stok pak om haar lammertjie te red. Ja, hy was ‘n man van daad.  Hy was egter ook ‘n man met ‘n klein hartjie.

Die dag toe ek die gesoute Sabieparker leer ken het, meer as 20 jaar gelede jaar gelede, wou hy by ‘n jaarvergadering vertel hoe twee swart personeellede  hom ná ‘n hartoperasie met ‘n stukkie uit die Tsonga-Bybel en ‘n gebed tuis kom verwelkom het. Dié diep Christen-mens was in trane lank lank voor die einde van sy storie.

Strydoms en Van Deventers klink ‘n glasie by die piekniekplek.

Ons het saam vreugdes beleef soos ‘n besonderse Lake Panic-besoek.  Die hoogtepunt van al sy besoeke, aldus Dawie, Eers het seekoeie, krokodille, ‘n ryke verskeidenheid watervoëls, selfs twee njalabulle lank gedrink en gewei het. Daarna het hulle met hul horings in die donker modder gegrawe en toe ‘n misverstandjie met klappendehorings besleg. Op daardie oomblik het ‘n troppie olifante  soos skimme uit die bos gekom en onverstoord op die eilandjie voor ons kom wei, naby genoeg om elke brekende takkie te hoor klap. Ons kon elke ou grote haarfyn van slurp tot stertjie bestudeer, selfs die wimpers.

Later was dit tyd vir waterpret. Die mammas is doelgerig na die oorkantste wal toe; die kleintjies, vier, as ek reg onthou, moes teen wil en dank agterna, hul slurpies soekende na die troos van moeder-nabyheid. Soos mini-duikbootjies met net die die tippiesvan hul slurpies bo die water sigbaar.

By die jaarvergadering het Dawie altyd die goedkeuring van die notule voorgestel.  By die tradisionele agternabraai met reuse-swartpotte pap en “sheba” (‘n voortreflike plaaslike tamatie-en-uiesmoor) is vleis gebraai.  Ons het daarby ‘n glasie of twee geklink – die Strydoms natuurlik hul gunsteling, Cellar Cask se wit Johannisberger Select, en die Van D’s ietsie droër.

Op 2 Julie word weer jaarvergadering gehou. Geen Strydom sal in sig wees nie. Een heildronkie van Tarlehoet se mense sal wees op ‘n era wat vir altyd verby is en op baanbrekers soos die Strydoms wat daardie era versinnebeeld het. Dit sal nostalgiese oomblikke wees, met ‘n wasigheidjie in die oë.

Naskrif: Hoe jammer dat Sabiepark nie in 2019 sy 40-jarige bestaan wou vier toe hierdie skakel nog bestaan het nie.

EIE GENESARET

‘n Entjie buite Chrissiesmeer op die pad van Carolina na Ermelo is ‘n padbord: Genesaret.  Dis nie ‘n pad wat ek dikwels ry nie.  Elke keer as ek verby ry, wonder ek egter oor hierdie Genesaret.  Bestaan  ‘n Bybelse konnotasie?

Die netjiese grondpad na Genesaret loop na die meer se kant toe. Dit laat gedagtes by jou opkom  oor die die Gennesaret (een met twee enne) van  die Evangelies, die landstreek  waar – o.m. volgens   Mattheus – al die siekes gesond gemaak is nadat hulle aan  die soom van Jesus se klere geraak het.

Dat Genessaret aan die kus van die See van Galilea geleë is en Genesaret aan die oewer van Chrissiesmeer – Suid-Afrika se grootste  binnelandse meer –  in die meredistrik van Mpumalanga versterk die vermoede van die een of ander Bybelse sinspeling in die naam.

Saterdag swaai ek by daardie pad in. Dit bring my by ons Genesaret. En ja, ‘n Bybelse konnotasie bestaan inderdaad. Genesaret is naamlik ‘n kerkkamp wat beheer word deur die Ermelose ring van die NG kerk. Ek word begroet deur ‘n stapel beskeie rondawels, ‘n eetsaal, ander geriewe en ‘n vriendelike jong vrou. Sy en haar man hrt ps van Worcester gekom om hier beheer oor te neem. Die blyplekke het name soos Vrede, Blydskap en Gebed.

Chrissiesmeer se waters klots hier aan jou voete.  Jy sien ook uitgestrekte grasperke, groot bome en enkele watervoëls … en ervaar ‘n groot  rustigheid. Fisieke genesing vind dalk nie daar plaas nie; geestelike genesing dalk wel.

Wat verras, is die rudimentêre aard van die ontwikkeling.  Geen terrasse met sonsambrele.  Geen plesierbote op die water. Genesaret lyk onontdek en, ja, ietwat verwaarloos.

Teenaan ‘n watermassa soos die van Chrissiesmeer – sewe km lank en 3 km wyd –  en so op die drumpel van die reuse-Witwatersrand – skaars twee ure se ry – sou ‘n mens dit anders verwag het.

Weet die mense van die Witwatersrand dat die grootste binnelandse meer in Suid-Afrika so binne bereik is?  Dui die gebrek aan ontginning van die potensiaal dalk op ‘n versadiging aan  toerismeplekke in die skone Mpumalanga? Lê die knoop dalk by die naam? Klink  Chrissiesmeer dalk te ordinêr? Ek wonder.

(Die See van Galilea is 166 km² teenoor Chrissiesmeer se 21km² – darem agt keer groter.Dis seker ook ‘n faktor. )

BREKFIS EN GESKIEDENIS


Billiard Room

Saam met n lekker plaasontbyt in die Billiard Room by die John Jack Inn op Chrissiesmeer kry jy ‘n stewige skep geskiedenis uit die begin van die vorige eeu.   Jy sit naamlik aan in ‘n vertrek wat tussen 1899 en 1901 opgerig is as ontspanningsentrum vir Britse troepe wat Chrissiesmeer gedurende die ABO beset het.

Die dink- en houtgebou kom oorspronklik uit Engeland en het ‘n draai by Tempe in Bloemfontein gaan maak. Dit is per ossewa van die Vrystaat af gebring.

Ek en Tokkie het aangesit by ‘n tafel neffens vier sandsteenblokke waarop ‘n reuse-biljarttafel gerus het.  Dié was vir die plesier van die offisiere.  Die naam Billiard Room kom al van 1901 af.

Die hotel langsaan  – ook van sink en hout – dateer self uit doerie tyd.   Dit is in 1903 deur die heer John Jack, n Durbaniet,  en ‘n vennoot opgerig. Die naam was Lake Chrissie Hotel. Dit was nie net ‘n gewilde oornagplek vir besoekers wat met hul waens en koetse na Barbetron of Delagoabaai op pad was nie, maar was die spil van die sosiale lewe op Chrissiesmeer.

John Jack Inn

Die naam het ‘n paar keer verander, o.m, tot Dumbarton Oaks Hotel en Mrs. Prices.  Die karakter het egter behoue gebly, al het die gebou in 1936 tot op die grond afgebrand.  Die huidige replika dateer uit 2012.  Die binnekant van die kamers is met sorg toegerus om die romantiek van  vergange tye vas te vang.

Die “oaks” verwys klaarblyklik na twee reuse-akkerbome voor die slaapkamer-gedeelte van die hotel.  John Jack het hulle al in 1886 daar geplant.

Buiten vir al die historiese elemente en ouwêreldse romantiek wat ‘n kuiertjie spesiaal maak, het ons ook die volgende ervaar:

Bokke op stoep

Boerbokke wat tot die ergernis van die bestuur die blomme in bakke op die stoepe voor die slaapkamers kom vreet;

‘n Heerlike kaggel en genoeg brandhout in die slaapkamer;

Memorabilia soos ’n ou rooi posbus waarin jy jou sleutels deponeer;

‘n Hoenderhaan wat vroeg-vroeg begin kraai, en

Witgerypte gras om ons heen – die eerste ryp wat hierdie verloopte Bloemfonteiners in dekades sien.

 

DUIWEL SE PRAGKANTOOR

 

Hondmak wilde perde.

 

Sommer ‘n hele ent voor die afdraai na Kaapsehoop, bekoorlike wegvlugplekkie so 30 km van Nelspruit, kry jy die eerste groot bord wat waarsku: Pas op, hier loop wilde perde rond!

Gou ontdek jy: Kaapsehoop en sy perde is sinoniem. Die stringe gastehuise, eetplekkies, koffiewinkels, pannekoekhoekies, kuierkroeë verleen aan die dorp sy sjarmante ouwêreldse grasie, sy staproetes in die berge lok die stappersgarde, sy boomrykheid is ‘n verkwikking, maar sy perde is sy kroon – sy ereburgers soos iemand hulle al genoem het.

Party besoekers tref dit nie so gelukkig om hulle raak te loop nie. Toe ons die dorp – ook bekend op sy Nederlandse naam, Kaapsche Hoop – deur die valhek binnery, paradeer hulle egter vir ons in die smal straatjie. Twee lyk of hulle ‘n aalwynhappie geniet, a la die apies wat in Sabiepark vir my Tokkievrou soveel ergernis verskaf.Pleks dat ek dadelik foto’s neem. Dié takie bêre ek vir later … maar later is hulle toe nie meer waar hulle was nie. Dit vat gelukkig nie lank om hulle op te spoor nie . Teenaan ‘n vreemd moderne huis, heel uit koers met die oorheersende outydse boustyl, wei die spannetjie. Hulle is die rustigheid vanself, toon selfs tekens van romantiese inklinasies – op die oog af hondmak wildeperde.

My vinger het oortyd gewerk op die Canon se sluiter.

Kantoorstraat

Ontmoet Kantoorstraat. Kaapsehoop. Die geplaveide tweespoorstraatjie met sy boomrykheid in skitterende herfsgewaad het dadelik in hierdie besoeker se hart gekruip. Aan gunstelingstrate sal ek voortaan nie kan dink sonder dat Kantoorstraat ook in die prentjie kom nie.

Stylvolle straat.

Wat maak die prentjiemooi straat so treffend? Wel, dat dit so fotogenies is. Dit het styl, Die oorheersende indruk is een van ouderwetse sinkgeboutjies met ‘’brookie lace’’, klein ruitjies en loodglasvensters. Daar is ook moderner bousels. Maar die latere ontwerpe versteur nie die eenheid nie.

Trouens, dit lyk of een meesterontwerper hier agter alles sit. Daardie indruk van alles hoort bymekaar is ook die sukses van sjarmante Amerikaanse sprokiesdorpies soos Carmel in Kalifornië en, trouens, van die hele Martha’s Vineyard aan die Cape Cod-kus, Massachusetts.

Aan die bekoorlike Kantoorstraat kleef inderdaad iets Amerikaans. Daartoe dra by die bome in verruklike herfskleure getooi. Aan een – ‘n gedugte esdoring (maple), meen ek – het gade Tokkie minstens vyf warm kleure onderskei.

In Kantoorstraat is kuierplekke, gastehuise – selfs ’n kerkie aan die bopunt waar dit teen die berg vasloop. Die enigste ‘’kantoor’’ so ver ek kon sien, is De Wet Potgieter se Nagkantoor wat, soos ingeligtes weet, ’n kuierkroeg is en geen kantoor nie.

Van waar dan die naam? Party sal wil raai dit het iets met De Wet se Nagkantoor te doen. Ver verkeerd. Die straat is veel-veel ouer as Nagkantoor. My raaiskoot, waarop ek geld sal verwed, is dat dit ‘n reliek is uit Kaapsehoop se dae as goudmyndorp in die 1880’s toe spoelgoud ontdek is in ’n klein spruitjie wat deur die dorp vloei.Kaapsehoop was in daardie tye bekend as die Duiwelskantoor, Nou toe nou – wat ’n pragkantoor vir die ou kwaadstoker.

Nagkantoor

Niks klop die ware Jakob nie. Oor De Wet se Nagkantoor het ek al vele foto’s gesien en heelwat gelees. Eers as jy daar instap en ‘n biertjie saam met die baas knak, tref die waarde van die plek jou ten volle. Dis ‘n juweel van die koerantekultuur. Elke denkbare hangplek word benut vir kosbare foto’s en ander onvervangbare koerantmemorabilia.

Saam met die baas van Nagkantoor.

Van die stukke sal jy nêrens elders aantref nie. En elkeen het sy eie boeiende storie. Jy sou ure daar kon deurbring en deur nostalgie oorweldig word. Ek kry die arme De Wet net jammer. Elkeen met koerantbloed in die are wil natuurlik hier, daar en oral saam met hom (en sy hond, Potlood, natuurlik) poseer, Moet naderhand vervelig raak!

Dankie, De Wet, vir die kuiertjie wat die rolpers as’t ware weer in die 81-jarige se ore laat dreun het. Om ‘n lang storie kort te sny (soos redakteurs maar gewoond is om te maak): Ek kom weer … So hoop ek altans.

OPPENHEIMERS EN RAMAPHOSA: REG EN VERKEERD

In ‘n beroemde Suid-Afrikaanse misdaad is juwele ter waarde van sowat 250 000 pond sterling (nou sowat R5 miljoen) op 5 Desember 1955 uit mev. Bridget Oppenheimer se juwelekissie in hul herewoning, Little Brenthust, in Parktown. Johannesburg, gesteel. Die buit is in ‘n kussingsloop weggedra,
Toe mev. Oppenheimer (foto) haar verlies ontdek, het sy eers die polsie gebel, toe haar man. Daarna is die huishulpe ingeroep. Hulle was uit die veld geslaan.
Polisiekolonel Ulf Boberg, Witwatersrande speurhoof, het self bevel van die ondersoek op hom geneem. In ‘n kort tyd was ‘n span speurders op die toneel. Die media is ingelig. Interpol, Scotland Yard en die FBI is betrek.
Niemand is ooit skuldig bevind nie. Die juwele is wel teruggekry nadat ‘n informant na vore gekom het. ‘n Ruim beloning is betaal.
Hierdie is ‘n kort opsomming van ‘n saak met vele intriges. Wat belangrik is, is egter hoe die Oppenheimers dit gehanteer het: dadelik polisie toe en oop kaarte met die media. Die polisie het op hul beurt ‘n internasionale net uitgegooi.
Hoe anders met die Ramaphosa-miljoene wat raaiselagtig voete gekry het. Ek wil net twee punte uitlig.
Een is dat die polisie en die Oppenheimers se openbaarmaking was soos ‘n mens sou verwag. Dit het hulle in beheer geplaas van die vloei van inligting na ‘n nuuskierige publiek via prominente banierstories in koerante, ens. Geen ruimte is gelaat vir skinderstories en allerlei stertjies nie.
Die tweede is dat die Oppenheimers hulleself onmiddelik geposisioneer het as bondgenote van die polisie en uit hul pad gegaan om te probeer help dat die skuldiges aan die pen ry. Dit is klaarblyklik die regte ding om te doen.
Cyril Ramaphosa het om raaiselagtige redes ongelukkig nie dieselfde reguit pad geloop nie. Daarom suspisies, fluisterstories en rokerige vuurtjies.
Hoe jammer.

RILLER BY BRANDVLEI

Johan op ‘n fiets. Hierdie een het ten minste ‘n saal. Met hom het hy as skoolseun koerante afgelewer.

Elke visterman kan vir jou ’n storie of twee vertel van die grote wat weggekom het. Sulke onheil tref nie net vistermanne nie. Pas is die nuus bekend gemaak van ons geskenkboek oor ons seun, Johan, se lewensreis met diabetes mellitus (Vyftig jaar op insulien – ‘n storie van hoop) of ‘n roerinkie kom in  die ou man se geheue.  ”Tokkie , weet jy watter storie wat moet in gewees het, het  uitgebly? vra ek langs die vuurtjie . ‘’Nee, watter een?” ‘’Die Brandvleistorie.” ‘’Natuurlik.’’ Wel, te laat vir trane is dit.  Maar hier is die storie – en dis ‘n riller.

Hoofstuk een: ‘n heerlike vakansietjie in Kgalagadi saam met Johan en Mariza so 15 jaar of wat gelede.

Hoofstuk twee: Op pad terug omring deur niks en met Brandvlei die volgende dorp op ons roete steek hul Land-Rover kop tussen die bene. Snelheidsmeter val van 120 tot 0 in ‘n smartlike sekonde.  Olie oweral.  Selfone is morsdood sonder teken van ‘n sein. Verslaenheid by al vier insittendes.  Wat nou?

Hoofstuk drie: Ons bespied die omgewing met verkykers en sien in die verte iets anders as die kaal haaie niks van hierdie verlate stuk Karoo. Dit lyk soos dakke. Dakke beteken huise. Huise beteken mense. Mense beteken hoop.  Maar hoe kom ons daar?

Hoofstuk vier:  ‘n Motor wat beter dae geken het, verskyn uit die niet; hou stil. Ja, hulle het plek vir een. Dié kan saamry tot by die huise op die horison. Daardie een is toe Johan, die enigste vrywilliger.

Hoofstuk vyf: Op die grootpad teenoor die huisies klim hy uit. Stap ‘n taamlike ent en kom by die huisies. Dis plaaswerkers s’n.  Die opstal lê ver doei kant toe, beduie hulle. Maar sien hy die fiets daar teen die muur?  Ongelukkig nou nie ‘n saal nie, maar Johan kan hom leen.

Hoofstuk ses: Johan val in die pad, staan-trap die hele tyd en bid stilletjies.  Sy kragte raak min. Voor hom sien hy ‘n huis maar sy blik raak wasig – ‘n seker teken van lae bloedsuiker. Om hom is niks.  Wat kan hy doen?  Maar net nog vinniger bly trap. Hy bereik die werf. Gelukkig staan die agterdeur oop. Sy bene swik onder hom.  Val-val stort hy oor die drumpel.  ‘’Ek is ’n diabeet,’’ prewel hy.

Hoofstuk sewe:  Soms waak jou engele oor jou. Die boervrou was ‘n verpleegsuster.  Sy herken die simptome en weet wat om te doen; jaag Johan ‘n klomp suiker in.

Hoofstuk agt: Ons ander drie sit in die kar en wag. Doodbekommerd. Weet van niks.  Geen motor kom verby nie.  Geen teken van lewe nie.  Toe ‘n beweginkie voor in die pad.  Dis, dank Vader,  die boer se dogter en Johan in ‘n bakkie.

Hoofstuk nege: Danksy die boer se seinversterker maak ons kontak met ‘n gemeenskaplike vriend in die Kaap. Hy stuur dadelik sy dubbelkajuitbakkie. Word toe ‘n ontspanne aand doer in Brandvlei om ‘n gesellige vleisbraaivuur.  Die Karoolam se tjoppies is so voortreflik dat Mariza voortaan al haar skaapvleis net by een plek koop.

Hoofstuk tien: Laataand sien ons ligte soek-soek op die grootpad. Ons bakkie.  Uiteindelik vind die bestuurder die hek. Ons groet ons redders uit die nood soos ou bekendes.  In die vroeë oggendure ry ons Melkbos binne.