Hondmak wilde perde.

 

Sommer ‘n hele ent voor die afdraai na Kaapsehoop, bekoorlike wegvlugplekkie so 30 km van Nelspruit, kry jy die eerste groot bord wat waarsku: Pas op, hier loop wilde perde rond!

Gou ontdek jy: Kaapsehoop en sy perde is sinoniem. Die stringe gastehuise, eetplekkies, koffiewinkels, pannekoekhoekies, kuierkroeë verleen aan die dorp sy sjarmante ouwêreldse grasie, sy staproetes in die berge lok die stappersgarde, sy boomrykheid is ‘n verkwikking, maar sy perde is sy kroon – sy ereburgers soos iemand hulle al genoem het.

Party besoekers tref dit nie so gelukkig om hulle raak te loop nie. Toe ons die dorp – ook bekend op sy Nederlandse naam, Kaapsche Hoop – deur die valhek binnery, paradeer hulle egter vir ons in die smal straatjie. Twee lyk of hulle ‘n aalwynhappie geniet, a la die apies wat in Sabiepark vir my Tokkievrou soveel ergernis verskaf.Pleks dat ek dadelik foto’s neem. Dié takie bêre ek vir later … maar later is hulle toe nie meer waar hulle was nie. Dit vat gelukkig nie lank om hulle op te spoor nie . Teenaan ‘n vreemd moderne huis, heel uit koers met die oorheersende outydse boustyl, wei die spannetjie. Hulle is die rustigheid vanself, toon selfs tekens van romantiese inklinasies – op die oog af hondmak wildeperde.

My vinger het oortyd gewerk op die Canon se sluiter.

Kantoorstraat

Ontmoet Kantoorstraat. Kaapsehoop. Die geplaveide tweespoorstraatjie met sy boomrykheid in skitterende herfsgewaad het dadelik in hierdie besoeker se hart gekruip. Aan gunstelingstrate sal ek voortaan nie kan dink sonder dat Kantoorstraat ook in die prentjie kom nie.

Stylvolle straat.

Wat maak die prentjiemooi straat so treffend? Wel, dat dit so fotogenies is. Dit het styl, Die oorheersende indruk is een van ouderwetse sinkgeboutjies met ‘’brookie lace’’, klein ruitjies en loodglasvensters. Daar is ook moderner bousels. Maar die latere ontwerpe versteur nie die eenheid nie.

Trouens, dit lyk of een meesterontwerper hier agter alles sit. Daardie indruk van alles hoort bymekaar is ook die sukses van sjarmante Amerikaanse sprokiesdorpies soos Carmel in Kalifornië en, trouens, van die hele Martha’s Vineyard aan die Cape Cod-kus, Massachusetts.

Aan die bekoorlike Kantoorstraat kleef inderdaad iets Amerikaans. Daartoe dra by die bome in verruklike herfskleure getooi. Aan een – ‘n gedugte esdoring (maple), meen ek – het gade Tokkie minstens vyf warm kleure onderskei.

In Kantoorstraat is kuierplekke, gastehuise – selfs ’n kerkie aan die bopunt waar dit teen die berg vasloop. Die enigste ‘’kantoor’’ so ver ek kon sien, is De Wet Potgieter se Nagkantoor wat, soos ingeligtes weet, ’n kuierkroeg is en geen kantoor nie.

Van waar dan die naam? Party sal wil raai dit het iets met De Wet se Nagkantoor te doen. Ver verkeerd. Die straat is veel-veel ouer as Nagkantoor. My raaiskoot, waarop ek geld sal verwed, is dat dit ‘n reliek is uit Kaapsehoop se dae as goudmyndorp in die 1880’s toe spoelgoud ontdek is in ’n klein spruitjie wat deur die dorp vloei.Kaapsehoop was in daardie tye bekend as die Duiwelskantoor, Nou toe nou – wat ’n pragkantoor vir die ou kwaadstoker.

Nagkantoor

Niks klop die ware Jakob nie. Oor De Wet se Nagkantoor het ek al vele foto’s gesien en heelwat gelees. Eers as jy daar instap en ‘n biertjie saam met die baas knak, tref die waarde van die plek jou ten volle. Dis ‘n juweel van die koerantekultuur. Elke denkbare hangplek word benut vir kosbare foto’s en ander onvervangbare koerantmemorabilia.

Saam met die baas van Nagkantoor.

Van die stukke sal jy nêrens elders aantref nie. En elkeen het sy eie boeiende storie. Jy sou ure daar kon deurbring en deur nostalgie oorweldig word. Ek kry die arme De Wet net jammer. Elkeen met koerantbloed in die are wil natuurlik hier, daar en oral saam met hom (en sy hond, Potlood, natuurlik) poseer, Moet naderhand vervelig raak!

Dankie, De Wet, vir die kuiertjie wat die rolpers as’t ware weer in die 81-jarige se ore laat dreun het. Om ‘n lang storie kort te sny (soos redakteurs maar gewoond is om te maak): Ek kom weer … So hoop ek altans.

Deel dit: