Annatjie en Lientjie neem afskeid.

Vir ons ouer garde van Sabiepark was dit ‘n hartseernaweek.  ‘n Treklorrie het Saterdagand vol gelaai van die Strydomhuis, Rustig, erf 333 uit Apiesdoring, na Outeniekwastrand vertrek.  Vanoggend skuins ná agt het Annatjie en Lientjie in hul Toyota gevolg.

Onder die laaste skakel met die pioniersdae van vier dekades gelede word daarmee ’n soliede streep getrek. ‘n Era is verby.

Saam met vriende Dawie en Annatjie Strydom het ek en Tokkie goue dae beleef. Ons troetel herinneringe van uurtjies langs kampvure, by vleisbraaie en ander saamkuiers en uitstappies in die wildtuin. Lank is ons Sondae saam kerk toe in Skukuza  met my destydse blou kombi, die Bosbus.

Sout-van-die aarde-mense. Die Strydoms. Verknog aan die natuur, versot op die piekniekplek, altyd bedrywig in die lapa – waaruit Annatjie die heerlikste vetkoek kon tower –  styf langs mekaar in die TV-kamer wanneer sport op die skerm is.  Dawie, ‘n Springbok in die hengelkuns, en Annatjie, ‘n kranige tennisspeelster,  was ewe lief vir sport.

Hoe Dawie altyd met sy mondfluitjie altyd “God sy met u tot ons weer ontmoet” by die flikkerende skaduwees van die laaste hardekoolvlammetjies van ‘n vuurtjie laat opklink het, sal ons nooit vergeet nie. Ook nie sy mondfluitjie-uitvoering saam met die orrel by ‘n erediens nie – sekerlik iets unieks.

Dawie is  in 2015 oorlede ná jare in daardie skêmerwereld van min onthou maar baie vergeet, van weet en ook nie meer nie weet nie, Sedertdien het Annatjie en Lientjie, hul jongste kind, alleen die ver pad gekom.  Nou is die huis op die drie erwe aan Apiesdoring verkoop. Die Strydoms groet vir laas.

Treklorrie by Rustig.

Matriarg Annatjie het ‘n ander Sabiepark gegroet as die een destyds toe hier nog skaars huise – meesal boskaias – was, veel meer diere as mense, by die piekniekplek geen omheining nie en ‘n trop buffels in die veld gewei het.  By die piekniekplek was ‘n eilandjie in die Sabierivier en die ou keerwal was van klip gebou.  Die kinders het stoksielalleen die onbeskermde wandelpad langs die rivier aangedurf. Ian Crabtree was die parkhoof – die eerste.

Die plek was nog “wild en rof”, vertel Annatjie so tussen die siftery van kosbare ou dokumente en die oppakkery van duursame meubels deur.  Die ruim Strydomwoning was een van die eerste ‘’werklike’’ huise met drie slaapkamers, skuifdeure en teëls op die vloere.  Die tenderprys in 1983 was R40 000.  Erwe het van R10 000 tot R17 500 gekos.

Vir meer as drie dekades het Dawie die plek waarvoor hy so innig lief was, toegewyd gedien. Hy was in die komitee, het waargeneem as bestuurder, het heinings gespan, bruggies gebou,planke geslaan … Jy kon hom enige stuk gereedskap gee. Sy hande het vir vir niks verkeerd gestaan nie. ‘n Lui haar het nie op een van die Strydomkoppe gegroei nie.

Dawie was ook een van die boer-maak-‘n-plan-soort. By Rustig was ‘n spitbraai wat met ‘n fietsketting werk, en sonpanele wat jy al agter die son aan kan skarnier – sy eie prakseersels.Rustig se baas het jare der jare gelede die ewige heldeverering van ‘n duiker-ooitjie gewen toe hy ‘n luislang met ‘n stok pak om haar lammertjie te red. Ja, hy was ‘n man van daad.  Hy was egter ook ‘n man met ‘n klein hartjie.

Die dag toe ek die gesoute Sabieparker leer ken het, meer as 20 jaar gelede jaar gelede, wou hy by ‘n jaarvergadering vertel hoe twee swart personeellede  hom ná ‘n hartoperasie met ‘n stukkie uit die Tsonga-Bybel en ‘n gebed tuis kom verwelkom het. Dié diep Christen-mens was in trane lank lank voor die einde van sy storie.

Strydoms en Van Deventers klink ‘n glasie by die piekniekplek.

Ons het saam vreugdes beleef soos ‘n besonderse Lake Panic-besoek.  Die hoogtepunt van al sy besoeke, aldus Dawie, Eers het seekoeie, krokodille, ‘n ryke verskeidenheid watervoëls, selfs twee njalabulle lank gedrink en gewei het. Daarna het hulle met hul horings in die donker modder gegrawe en toe ‘n misverstandjie met klappendehorings besleg. Op daardie oomblik het ‘n troppie olifante  soos skimme uit die bos gekom en onverstoord op die eilandjie voor ons kom wei, naby genoeg om elke brekende takkie te hoor klap. Ons kon elke ou grote haarfyn van slurp tot stertjie bestudeer, selfs die wimpers.

Later was dit tyd vir waterpret. Die mammas is doelgerig na die oorkantste wal toe; die kleintjies, vier, as ek reg onthou, moes teen wil en dank agterna, hul slurpies soekende na die troos van moeder-nabyheid. Soos mini-duikbootjies met net die die tippiesvan hul slurpies bo die water sigbaar.

By die jaarvergadering het Dawie altyd die goedkeuring van die notule voorgestel.  By die tradisionele agternabraai met reuse-swartpotte pap en “sheba” (‘n voortreflike plaaslike tamatie-en-uiesmoor) is vleis gebraai.  Ons het daarby ‘n glasie of twee geklink – die Strydoms natuurlik hul gunsteling, Cellar Cask se wit Johannisberger Select, en die Van D’s ietsie droër.

Op 2 Julie word weer jaarvergadering gehou. Geen Strydom sal in sig wees nie. Een heildronkie van Tarlehoet se mense sal wees op ‘n era wat vir altyd verby is en op baanbrekers soos die Strydoms wat daardie era versinnebeeld het. Dit sal nostalgiese oomblikke wees, met ‘n wasigheidjie in die oë.

Naskrif: Hoe jammer dat Sabiepark nie in 2019 sy 40-jarige bestaan wou vier toe hierdie skakel nog bestaan het nie.

Deel dit: