Aug 27, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Vir Zandra van Wyk (77), sjarmante, elegante lewensmaat aan die sy van daardie prins van rubriekskrywers, Johan van Wyk, groet ons Dinsdagmiddag in die Paarl. Op die kennisgewing van die tot-siens-diens by die Vergenoegd-kapel verskyn sy, toe nog’n jong vrou in haar fleur, by ‘n ryperd.
Die storie daaragter ken ek nie. Dadelik herinner dit my egter aan Johan se latere liefde vir ‘n ysterperd, so kragtig en blitsig as kan. En aan Zandra se versoening met daardie derde party van blink metaal in ‘n eiesoortige driehoek.
In sy eerste boek, ‘’So was dit’’, skryf Johan daaroor ‘n kostelike hoofstuk met die titel ‘’Die pad na Tranedal”. Dis ‘n hoofstuk oor epiese togte op die langpad op sy Honda Gold Wing 1100 GL. Elke 500 km is trane gestort. Een keer het sy passasier 899 km ver gehuil.
Tuis gekom, sweer sy dan dit was die laaste. Maar as hy dromerig begin padkaarte bekyk, blink die donker oë en gaan koop sy dadelik ‘n nuwe jean.
Skielik tref dit hoe twee sterk eienskappe van hierdie sterk vrou in die verhaaltjie deurkom. Die een ‘n onblusbare lewenslus, die ander ‘n vasbyt-vermoë soos min.
Sy was ‘n bok vir sports, onthou kollega Tobie Wiese haar onder meer in sy huldeblyk op Netwerk24. Inderdaad. Net ‘n rêrige bok vir sports sou maar telkens weer agter opklim – al die pyne onderlangs vergete. Sonder ‘n stewige element avontuurlus sou niemand dit in elk geval met die “Oom” van Stop van myne (sy ikoniese rubriek in Die Volksblad) lank uitgehou het nie.
Dan: vasbyt. Daarvan sou niemand Zandra iets kon leer nie. Vyf jaar lank het sy teen ‘n aggressiewe borskanker vasgebyt, Maar as jy dit nie geweet het nie, sou jy dit nie kon sê nie. Gekla het sy nooit, opgehou glimlag, het sy nooit.
Deur ‘n intense stryd met Covid was sy aan haar ernstige siek man se sy ‘n steunpilaar, soos altyd. Maar net opgesaal en voortgebeur; voortgebeur en haar kop vorstelik hoog gehou.
Ware aristokrasie was Zandra van Wyk voorwaar in voorkoms, optrede en ingesteldheid. Daardie pragtige perdefoto met saal en toom en al is daarvan ’n treffende simbool.
Aug 25, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Kreef op die kole by Sabiepark se piekniekplek. Vir ons was dit iets nuut. Waarskynlik ook ‘n eerste vir Sabiepark.
Johan en Mariza het die begeerlike seekos saamgebring toe hulle die laaste week van ons lang wintervakansie uit Oudtshoorn kom saamkuier het. Die kreef kom uit Sedgefield se waters. Mariza het in die biezondere omstandighede die braaigereedskap oorgeneem en die heerlike happies tot perfeksie gebraai – so ‘n goue roesbruin, as so ‘n kleur bestaan.
Met die saamkuier – gekenmerk deur groot vure, bobaas-braaigeregte (dankie, Johan) en rojale rooiwyn-verbruik – is die vieringe van ons verbintenis van 25 jaar met Sabiepark feestelik afgesluit.
Danksy Jimmy en Lida Pressly was die tradisionele skemer-piekniek op die Granokoppie op die program. Ook ‘n lekker ontbyt by die gholfklub, gevolg deur ‘n wildrit na Leeupan wat stillerig verloop het. By die piekniekplek het ons darem mooi olifante gesien en ‘n luiperd net-net misgeloop.
Teenspoed het nie uitgebly nie. ‘n Bosluis of twee het Mariza bygekom. Bosluiskoors was die gevolg. ‘n “Sportbesering”, noem sy dit filosofies.
By Tarlehoet het twee baardspegte ons die laaste middag plesier verskaf met ‘n verbete aanslag op die maroela by die stoep. Die stryd teen die vlermuise is ongelukkig nie met welslae bekroon nie. Ons is redelik raad-op, Alle rate is uitgeput. Dalk trek hulle vanself. Hoop maar so.
Die reis na die Kruger-Mpumalanga-lughawe was nogal iets om te onthou. Eers het ek my amper misreken met die tyd. Ons was net betyds. Ten tweede het die immobiliseerder se batterytjie by die Phabenihek gekalf. Ons dag eers ons is gestrand. Toe onthou Tokkie gelukkig van die sleutelgat in die deur.
Die amperste moles was egter Cielie Versfeld van NSTBC se blaps om skoon te vergeet van die laat haal van die Honda. Tokkie moes vinnig spring om parkeerplek te gaan soek terwyl ek, kierie en al, met die bagasiewaentjie by die vertrektoonbank gaan inval.
‘n Laaste woord oor die nege weke se verblyf raak die lees van die nege A4-boeke. ‘n Boodskap wat werklik sterk daarin deurkom, is die rol van kleinwild soos duikers (nou baie minder) en vlakvarke (nou afwesig) om by die kleinkinders ‘n verknogtheid te kweek en ‘n boskultuur te vestig. Ons mis die ou dae se veel drukker wildverkeer – veral die gereelde koedoebesoeke om die voëls se pitjies te gaps.
Ek en Tokkie stem saam dat die regte resep vir Sabiepark radikale ontbossing is ten einde meer weiding te skep. Om eenvoudig net gedurig wild minder te maak, werk nie. Dit skep nie waarde nie, maar takel waarde af. Ernst Bezuidenhout, nuwe parkhoof, het al van my verskeie kommunikasies ontvang. Nog is op pad.
Aug 22, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
-
Vriendelike woorde van Anschen Conradie oor “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” … en oor koerante van oudsher in die algemeen:
Die klassieke koerantwese, kompleet met drukpers, ink, rolle papier, tikmasjiene, donkerkamers en teleksmasjiene word toenemend verower deur elektroniese publikasies; digitale foto’s, rekenaars, die internet, en alles wat daarmee saamgaan. Die ouer garde (waarby ek myself insluit) onthou egter nog die eerste oopvou van Sondag se Rapport, die skoolseuns wat soggens met hulle fietse koerante aflewer, en die afwagting oor wat die dag se lamppaalplakkate mag inhou.
Die skrywer, deurwinterde joernalis en voormalige redakteur van (Die) Volksblad, deel in hierdie bundel etlike kosbare herinneringe, nostalgie, humor, ironie, anekdotes, en huldeblyke uit vervloë dae. Sommige bydraes is, met erkenning, ontleen vanaf LitNet en die Nagkantoor-Facebookgroep, en sommige het voorheen in die skrywer se eie publikasies verskyn. Die voorwoord is deur Ton Vosloo – en die oorsprong van sy bynaam word ook in die bundel verklap.
Die ouer bydraes gaan so ver terug as 1914 toe C.J. Langenhoven ‘n persoonlike brief aan die koerant waarvan hy redakteur was, Het Zuid-Westen, geskryf en gepubliseer het, en sluit aan by moderne gebeure soos die storm wat om Prof. Amanda Gouws se kop losgebars het aangaande vroue wat vloek, en ‘n ontstoke dame beweer het vloekwoorde kom ‘…uit die mond van tandelose mense in die greep van alkohol of dwelms.’ (61)
Ander hoogtepunte sluit in: Glenda Kemp se privaat vertoning vir joernaliste waar die toegangsgeld R10 per kop was, maar darem ‘n bakkie kerrie-en-rys ingesluit het; die bisarre sensuurwetgewing wat polisiebeamptes in 1967 verplig het om, gewapen met skêre, ‘n berig uit die koerante te knip; die drukkersduiwel wat ‘n resensent laat koes het toe sy ‘Swak’ met ‘Twak’ vervang is; die redaksielid wat tydens die Vrystaatse aardbewing van 1975 soek geraak en in die brandkluis ontdek is, en die diakritiese glips wat in 1947 in ‘The Times’ se beriggewing oor die koninklike besoek aan Suid-Afrika die opskrif ‘Hoere, hoere, hoere vir die koning!’ tot gevolg gehad het.
‘n Lekkerlees, nostalgiese bundel.
⭐️⭐️⭐️⭐️ #uitdieperdsebek
Aug 9, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Skielike bevlieging neem ons op ‘n herinneringsrit via Olifants en Balule na Letaba (rondawel D58) en besorg ons ‘n onvergeetlike 24 uur. Het ons al ooit in 24 uur in die wildtuin meer gesien en beleef?
Die aksie begin met ‘n solovertoning deur ‘n leeu by die laagwaterbrug oor die Sandrivier. Sy draf ligvoets oor sand en teer voor ons uit en laat haar nie aanjaag nie.
Net af van die teer by Olifants op pad na Balule sien ons ’n kameelperd-karnaval soos nog nooit. Tokkie tel vinnig tot 15 nekke wat by ‘n lieflike klein watergat saambondel en in spanverband drink.
Op pad terug ry ons ons vas in ‘n indrukwekkende trop buffels wat van Timbavati se kant aantou – honderde der honderde. Dalk ‘n duisend of meer. Ongetwyfeld een van die wildtuin se grootste troppe, indien nie die grootste nie.
‘n Ent van Satara was ‘n leeuvangs. Ons sien net die mannetjie wat vlak langs die teer lê en eet (baie lig van kleur, dalk ‘n witte van Timbavati?) maar wat ‘n parade van gulsige hiënas wat skrik vir niks. Hulle kom uit elke windrigting.
By Leeupan geniet ons ‘n olifant-skouspel. Dertig of meer,
groot en klein, drink, rol in die modder, skop stof op, blaas stoom af, trompetter en treiter mekaar.
Van sebras en blouwildebeeste was daar troppe. Koedoes, waterbokke – en natuurlik rooibokkies – het gewemel. Steenbokkies was volop. Vlakvarke was hier, daar en oral.
Onder die groter gevleueldes was gompoue, boskorhane (baie) en volstruise.
Ook sierlike bome. Vir ‘n sambokpeul naby Letaba die goue medalje as wenner van die Laeveldse lentewedloop vir 2023. Reeds oortrek met sy briljante donkergeel bloeiselprag, kondig hy vroeg-vroeg al die koms van die naderende lente aan – sommer ‘n hele ent voor sy ritse mededingers van dieselfde spesie langs die hoofpad noorde toe. Wat ‘n pragtige boom in die blomtyd is die sambokboom nie. Ongelukkig is die duur van sy intense skoonheid maar kort – net vier fleurige weke of so.
Oor en oor die moeite werd, al vind ons amper R1 800 vir ‘n afgeleefde rondawel bra styf. Geen warm water om te stort. Die ysbakkies in ‘n yskas wat lyk of dit op ‘n rommelhoop opgetel is, is leeg. Op die stoep is ‘n kennisgewing met raad vir die hantering van ‘n gewapende roof, maar die sifdeur het geen skuifslot nie. Die badkamer is Apachestyl geteël: “patchies” wit tussen die groenes. So kan ek aanhou.
Lekker om dan by Skukuza tekens waar te neem van daadwerklike pogings om weer te begin tuin maak.
Aug 1, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Skakels binne skakels binne skakels,
Drie van die mense op die boonste foto – een van hulle ‘n kollega – was in die afgelope dae saam met my en Tokkie op Tarlehoet se stoep in Sabiepark, ‘n vierde is ‘n matriekmaat, asook mede-Klerksdorper, en die vyfde ‘n mede-oud-Volkie van Potchefstroom. Ek raai die foto is deur ‘n sesde bekende geneem.
Van links is Herman en Mariëtte Wilkens, eienaars van die Umkumbe River Lodge in die Sabi-Sand, Jas du Preez, afgetrede finansiële hoof van Koerante, dr. Van Aardt du Preez, ikoniese verfhandelaar van Potchefstroom, en Gerda, sy vrou. Ek neem aan Cheryl, vrou van Jas, het die foto geneem. Sy verskyn op foto 2 saam met haar man.
Kollega Jas, ’n staatmaker aan my regterkant toe die koerantesektor in die jare 90 uitgestyg het tot die groot presteerder in die destyds Nasionale Pers, was in Sabiepark, op twee dae na, presies 15 jaar na Hennie Conradie en Eric Wiese, vorige finansiële direkteure van die Pers met wie hy sy aan sy gewerk het. ‘n Driemanskap is so voltooi.
My voorreg gewees om saam met hom tot op datum 25 Perskollegas vir korter of langer in Sabieprk te ontvang.
Jas (ook bekend as Schoeman) en Cheryl het uit Welgemoed by Herman en Mariëtte, sy tweelingsuster, oorkant die pad gekuier. Die twee het saam hul 79ste verjaardag gevier (foto 3).

Jas en Cheryl.
Hulle het voorheen naby ons kinders Brent en Marisa Claassens in Welgemoed gewoon.
Jas en Mariëtte se ouer broer is Van Aardt (84), uitblinker-sportman, wat ‘n tafelmaat was in die Jack Pauwkoshuis aan Volkies, Potch in die 50’s. Dis waar hy Gerda ontmoet het.
Die Du Preez’s kom oorspronklik uit Klerksdorp waar hul pa, Jock, ‘n prokureur was. Hy was ook ‘n kranige briefskrywer aan Die Transvaler.

Tweeling op hul 79ste verjaardag.
Op Klerksdorp het ons gesin in Neeltjiestraat gewoon. Dit bied ‘n skakel na Herman. In die gedugte Wilkens-geledere van die Wes-Transvaal is Neeltjie ‘n familienaam.
Herman se neef is rugbyspeler Mannetjie Wilkens wat getroud was met ‘n Tukkie-vriendin Gretha Künnen, wat in Asterhof was.
Ek het die hooffoto gaan gaps op Mariëtte se Facebookblad. Vir my was sy in ons Klerksdorp dae “Naughty Marietta” n.a.v. ‘n rolprent van daardie dae waarin Jeanette McDonald die hoofrol gespeel het. Sy verklap toe tydens die stoepkuier dat haar pa haar ook so genoem het.
Die kuiertjie was te kort om op al die verbindingspaaie te loop. Maar julle kan glo dat dit ‘n lekker kuiertjie met baie lag en gesels was.
(Naskrif: My Klerksdorp-konneksie word nou nog weerspieël in my motor se registrasienommer: TY 24 WP. My eerste motor was TY 24. Eerste en laaste dus.)
Jul 26, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Agter: Herman en Hennie. Voor: Tobie en Philip.
Vier Volksbladveterane wat hul koerantloopbane in Bloemfontein in drie agtereenvolgende dekades begin het – die jare 50, 60 en 70- het in Sabiepark saamgetrek. Hulle is Herman le Roux, die uwe, Tobie Wiese en Philip van Rensburg.
Herman (op 88 die vierde oudste Volksbladder) het in die 50’s by Die Volksblad ingeval, Ekself in die 60’s en Philip en Tobie in die 70’s.
Die kollegiale saamkuier in die bos het groot hoogtes bereik soos die wonderlike stories van tot 60 jaar oud uit die kollektiewe koerantgeheue geryg is.
Die wegspring was ‘n voortreflike ete by van die Van Rensburgs in hul mooi boshuis, Ons Plasie. Die fillet was tot perfeksie deur die gasheer gaargemaak en die bykosse van die gasvrou het die gaste laat toustaan. Vars skyfies by ‘n bosete – verbeel jou!
Gister het die toneel na die Van Deventers laer af by Wildevy 154 verskuif waar Tokkie se geurige skaapbredie ‘n gunsteling was – en haar kleurryke slaai! Daarna is dit piekniekplek toe. Daar is diep gedelf, geheimpies verklap en vorige kuiers in Sabiepark in herinnering geroep.
‘n Vinnige berekening het aan die lig gebring dat meer as 20 Volksbladmense al op 154 se stoep besoek afgelê het in die 25 jaar dat die Van Deventers die plek bekom het. Van hulle dosyne kere. Dis nogal merkwaardig dink ek.

Kleurryke Tokkieslaai.
Vir doeleindes van ‘n foto is ‘n Volksblad-aandenking met die datum 17 Maart 1992 van die soldermuur gehaal. Dit is die rolpersplaat van Die Volksblad se voorblad op die dag van die referendum oor die nuwe bedeling – die enigste keer in my redakteursloopbaan dat ek ‘n voorblad-hoofartikel geskryf het. Opskrif: “Gryp die geleentheid.”
(Die geraamde plaat is nou saam met Herman se skoonseun, Frans Marais, op pad na die Erfenisstigting in Pretoria om deel van die Van Deventerversameling daar te word. Beter daar as ‘n donker solder in Sabiepark!)