Jul 20, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In my verbeelding sien ek ‘n peloton Joodse soldoedies doelgerig van ‘n gepantserde David-voertuig spring om ‘n Arabierse vesting in die Gasastrook stormenderhand in te neem.
In werklikheid was dit nie dienspligtiges nie, maar ‘n spannetjie jong Israelse toeriste – mooi meisiekinders in ontspanningsdrag. Die voertuig is nie vir militêre doeleindes ontwerp en gebou nie, maar is ‘n donkergroen Toyota wat as ‘n safarivoertuig dien met ‘n wildtuinerige logo op die kajuit se deure.
Die vesting is toe ‘n groot olifant by die Krugerhek – donker en dreigend in die sterk skemer skuins na 06:OO toe mense en voertuie vir die oggend se wildbesigtiging begin opdam.
Ek sit in die Honda en wag. Tokkie staan in die tou om vir ons ons Wildkaart-permitte te registreer.
“Elephant,” kreet ‘n aantreklike swartkop in ‘n wit bloes en donkerblou jeans skielik. Met ‘n akrobatiese sprong is sy van die agterbank op die Toyota se bak op die grond en agterom die Honda. Toe haar selfoon flits, bemerk ek die olifant onheilspellend naby.
Dis of haar maters ‘n opdrag van ‘n streng sersant-majoor gekry het. Almal tuimel van die Toyota af en woerts voor en agter verby my kar die bos in. Flits, flits, flits.
Sal ek op die vlug slaan, wonder ek, want as die ou kwaad raak en storm is die Honda klaarblyklik op die onveiligste plek buite daardie hek op daardie oomblik.
Die volgende oomblik raak hy kwaad. Hy trompetter luid en swaai die ore. Jy sien net meisiekinders retireer. Ek klou net djie stuurwiel al hoe stewiger vas.
Gelukkig is die vinnige aftog van die meisies vir Oom Oli genoeg van ‘n ego-stimulant vir die dag. Hy storm nie regtig nie.
Vinnig is almal terug op hul plekke op die groen Toyota. Die olifant gaan rustig voort met sy aktiwiteit en Tokkie kom uit die kantoor met ons papiere in die hand, onbewus van die insidentjie waarby haar onskuldige man amper doodonskukdig betrek is.
Agterna wonder ek of die meisies se gedrag as dapper of dom beskryf moet word. Eintlik twyfel ek nie. Ek wonder ook of geen veiligheidswag die gevaarlike foto-avontuurtjie raakgesien het en kon ingryp nie. Dit is dalk my grootste besorgdheid.
Jul 18, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Wees gewaarsku dat hierdie storie sommige kan verveel. Alledaagshede kom voor soos ‘n oorstroomde wasbak, gestorte wyn en ‘n kierie wat op ‘n ongemaklike plek beland.
Daar is darem ook seekoeie, koedoes, waterbokke en ‘n luiperd betrokke wat aan die gegewe kleur gee.
Dis sommer net ‘n storie oor ‘n Sondagmiddag in Sabiepark.
As dit ‘n spanningsverhaal was. sou dit so kon begin het: ‘n Kreet klink uit die badkamer op (kies self ‘n byvoeglike naamwoord). Die kreet het gekom van gade Tokkie. Dit was een van ontnugtering en frustrasie.
Die wasbak se kraan het sterk bly drup (verdagte die uwe) en die uitvloeipyp was deur die prop geblokkeer. Die vloer was ‘n see, die matjies druipnat en die onderste blad van die wasbakkassie besig om vinnig toiingrig te raak.
Mev. Van D moes dadelik ingryp en al kruipende omvattend opruim terwyl die verdagte staan en wonder hoe om vir sy skuldgevoelens te kompenseer.
Die blink idee skiet hom te binne van ‘n rustige glasie wyn by die piekniekplek – altyd ‘n kalmerende invloed op ‘n versteurde gemoed.
Tokkie sien dadelik uit die uitkykplek ‘n klomp seekoeie wat lui in die water skommel en ‘n troppie waterbokke op die oorkantste oewer.. My oog val op ‘n paar koedoes.
Algou is harmonie herstel.
Ek sit die wynsak op ‘n bankie neer om die toneeltjie in te drink. Ongelukkig skeef. Volgende oomblik vorm op die houtvloer onder die bank ‘n poeletjie: die wyn. Die pop was nie deeglik teruggesit nie. Alles het uitgeloop.
Moedeloos oor die pynlike verlies, sak ek op die bank agteroor en probeer om die beskuldigende blik van my gade te vermy. Volgende oomblik hoor ons: kadoef. Dis my kierie – die ene van Transvaalse kiaat met die spoggerige vlakvarktand wat wyle Jan Scholtz vir my gemaak het. Het dit ietwat te agtelosig neergesit en daar gly dit uit die uitkykplek oor die elektriese heining tot op ‘n klipwering in gevaargebied waar die spore van luiperds en slange duidelik in die omringende sand te bespeur is.
Al genade is dat ek Craigen Ncube by die hek gaan roep en hom mooi vra om die waardevolle kierie te gaan herwin. Op pad na sy kantoortjie by die hek skuur ek by ‘n mede-Sabieparker verby. Het julle die luiperd gesien, verneem hy, en verduidelik waar die dier agter die gras verdwyn het. Dis waar die koedoes nou rustig wei.
Craigen onderneem die herwinning van die kierie. Net toe roep iemand: luiperd! Daar’s hy, roep Tokkie opgewonde. Maar ek sien niks – net oewerbos, die Sabierivier en die koedoes.
Daar’s hy weer, roep Tokkie. Sy beduie na ‘n groot wit klip ooswaarts naby die Krugerhek van die wildtuin. Jou wrintie, toe hy regs swenk bos toe, vang ook my oog beweging. Vir ‘n oomblik sien ek die pragdier in sy volle glorie. Al die pyn is skielik vergete.
Ons kan terugkeer huis toe waar die badkamer droog is en gelukkig nog koue wyn in die yskas wag – boonop met die baie spesiale lekker gevoel wat Sabieparkers ervaar as hul luiperds of leeus by die piekniekplek gewaar het.
Nog ‘n Sondagmiddag langs die Sabierivier eindig met die son wat die westerkim helderrooi laat gloei.
Ekskuus as my storie te doodgewoon is. Daar gebeur nou maar een maal nie altyd opspraakwekkende dinge om oor verslag te doen nie. Veral nie op Sondagmiddae nie.
Jul 16, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Die hoender langs Jacob in die vliegtuig

Ouma Tokkie is by in ons bosplek Tarlehoet se woonkamer. Haar betrokkenheid is dat Helshoogte se grasperk Tokkie heet – glo so genoem ter ere van die eggenote van ‘n vorige huisvader.
‘n Storie om oor te kraai – meen ouma Tokkie – is hoe ‘n groot wit houthoender uit die Laeveld Kaap toe is om sy plek in die Matiekoshuis Helshoogte en sy feesvierings vanjaar te gaan vind. Helshoogte se gelukbringer is ‘n hoender.
Die houtweergawe is deur kleinseun Jacob Claassens by n straatventer buite Hazyview aangeskaf. Van toe af is geraai en geredekawel hoe die hoender – te groot vir een van die tasse – ongeskonde in die Kaap gaan kom.
Jacob is op die bussie lughawe toe met die hoender op sy skoot.
Op Airlink se vlug 4Z664 van Kruger/Mpumalanga na Kaapstad Internasionaal tref die geluk toe dat ‘n sitplek langs Jacob oop is. Daar kry die hoender toe ‘n ereplek, boonop stewig vasgewoel en beskut teen alle bdreiginge en gevare wat op ‘n hoender se pad kan kom.
Vir groter gerief kan ‘n hoender nie vra nie. Net een vlieg in die salf was die ligte middagete wat voorgesit is. Van die hoendertoebroodjie het Jacob se haan niks gehou nie.
Jul 15, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Van 2005 af word ‘n spanfoto van die kleinkinders by die naambord van Tarlehoet geneem: eers van net die tweeling Jacob en Thomas en daarna met kleinboet Christopher by.
In die 25 jaar van ons verbintenis met Sabiepark het die naambord drie keer
verander. Eerste eie bord was van swarthout, gemaak deur Dick Turpin van Melkbos, die tweede was ‘n variasie op dieselfde tema weens verwering en die derde, die huidige, is uit hardekool. Dit kom van Lukas van der Merwe, ‘n oud-Sabieparker. Al drie pryk op van die tradisionele foto’s.
Dit is nogal ‘n aardigheid om deur die Sabiepark-albums te blaai en aan die hand van hierdie foto’s te herleef hoe die drie manne hul babaskoene ontgroei en al hoe verder agtergelaat het. Elke foto in die galery lewer sy eie wonderlike herinneringe van boskuiers sonder weerga op.
Vandag is twee trotse eerstejaar-Maties en een in graad agt aan die Hoërskool Stellenberg in Bellville/Durbanville. Die jongste is langer as sy oupa. Hy is ‘n rugbyspeler en houtkapper van formaat.
Die gesin Claassens is vanoggend huis toe n twee bedrywige weke met groot vure, wildritte, lang stoepkuiers en tegniese ondersteuning vir oupa en ouma aan verskeie fronte. Ek verwys o.m. na opgraderings en geduldige onderrig in die jongste tegnologie van die digitale era.
Dit was hartseer om die bussie tienuur met hulle te sien wegry lughawe toe. Dit sal vreemd wees om vanaand weer self ‘n vuurtjie te bou en aan te steek. Oorheerend is egter ‘n gevoel van dankbaarheid vir die spesiale bydrae tot ons viering van ‘n kwarteeu-verbintenis met ons geliefde bosplekkie.
Ons hoop maar daar sal vorentoe weer sulke kuiers wees.

Op die foto’s hierby is ‘n saamgestelde een van voriges by die naambord en drie van 2023: een van die drie alleen, een saam met oupa en ouma en een van ons al sewe saam. Vir laasgenoemde is ‘n vroulike stapper in Wildevylaan aangetree.
Dit is seker nie nodig om aan te dui wie Brent en Marisa, hul ouers, is en wie ek en Tokkie nie. Kyk maar na die hare, om van oupa se immer-teenwoordige kierie nie te praat nie.
Jul 6, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Vriendelike taksering van “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” in ‘n gewaardeerde lesersindruk van kollega Sarel Venter op litnet:
Die Rubicon na moderne inligtingstegnologie is deeglik oorgesteek die dag toe Hennie van Deventer (uiteindelik!) sy tikmasjien vir ’n rekenaar (destyds ’n woordverwerker genoem) verruil het.
Vir hom as redakteur van Die Volksblad (toe nog met die Die) het sy sekretaresse al sy skryfwerk (kommentare, artikels en briewe) op haar rekenaar oorgetik in die redaksionele stelsel.
Hoeveel sy vlytige vingers in sy koerantloopbaan geproduseer het, sal niemand weet nie. Van hom is gesê dat hy ’n tikmasjien geslaan het dat die confetti waai en die linte vodde word.
…..
Van hom is gesê dat hy ’n tikmasjien geslaan het dat die confetti waai en die linte vodde word.
…..
Ná sy aftrede as koerantehoof van Naspers het sy groot aanslag op die geskrewe woord met mening toegeneem en sowat 23 boeke, talryke blogs, artikels, koerantbriewe en Facebook-inskrywings het hul verskyning gemaak.
Dit maak Van Deventer ’n besonder gedokumenteerde skrywer ná sy sewe boeke met ’n binneblik op die koerantwêreld, asook outobiografiese werke, huldeblyke, grafskrifte, reisbeskrywings oor verskeie seereise en soms suiwer prosa oor die lewe van diere en mense in Sabiepark, hul boshuis daar digby die Krugerwildtuin.
En selfs ’n boek oor troeteldiere!
Hy het sy boek Koerantkamerade (Naledi, 2021) sy laaste boek genoem. Maar soos Ton Vosloo dit in die voorwoord van Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord dit stel: “Van Deventer is ’n gelaaide arsenaal en ’n vulkaan wat bly prut en af en toe, en onverwags, slaan hy weer toe.”
Soos inderdaad met hierdie Mooi nooi-boek wat ’n joernaal van scoops en skandes in die koerantwêreld is.
In sy voorwoord haal Van Deventer twee gesoute Afrikaanse digters aan oor die resep vir sukses van ’n geslaagde koerant.
Uit DJ Opperman se Joernaal van Jorik:
Gee ontspanning, hou die massas dop;
Gee elke dag ’n mooi nooi en ’n moord,
En stoot die sirkulasiesyfers op.
En uit digter Pirow Bekker (oud-hoofsubredakteur van Die Volksblad) se Peins oor die plakkaat:
Dit bly een maal onfeilbaar: vrees,
Dit laat die mens koerante lees.
“Die vraag is,” skryf Van Deventer, “wat gee ’n koerant skop?” Meisies en moorde, of om elke dag die lesers vol vrees te pomp?
Koerantlesers of diegene wat self Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord aanskaf en lees, kan self oordeel en besluit. Kyk maar na die opskrifte van ’n klompie van die essays (waarvan baie voorbladberigte was):
- “Hartstog, jaloesie… en ’n skêr (ja, die skêrmoord!)”
- “Beelde met boesems”
- “Man in die modder of man op die maan”
- “Kaalbas-redakteurs”
- “Sannie het gaan water haal”
- “Raaisel van die Rietbok”
- “Onder haar naeltjie”
- “As die aarde skeur”
- “Toe’s die ganse land op hol”
- “Slae vir Charlize”
- “PW se dogters”
Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord voer die leser langs ver paaie van herinneringe oor polemieke, petaljes, rusies en romanses, herries en hofsake.
Dit is regtig ’n lekker en lesenswaardige boek hierdie. Of dit Van Deventer se laaste boek is, sal ons maar moet sien.
Jul 5, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Enigeen vir dubbels?
Op 10 Julie 1998 het die Van Deventer hul eerste algemene jaarvergadering van Sabiepark in ‘n tent by die piekniekplek langs die Sabierivier bygewoon. Was dit nie vir Covid nie, was dit Saterdag nommer 25. Vir my was dit besonders – amper emosioneel – dat ek ‘n mosie kon indien – die enigste. Miskien was dit die laaste jaarvergadering: wie weet?
Die baadjie wat ek aangehad het, kom van die eerste AJV af saam met my. ‘n Mede-Sabieparker, Brenda Thompson, sien dit toe raak en kom sê vir my: “Ek sien jy het jou AJV-baadjie aan.” Jy kon my met ‘n tarentaalveertjie ompik dat sy die baadjie so goed onthou.
By die vergadering was Patson Ndlovu met wie ons sedert die eerste dag 25 jaar gelede ‘n pad hier saam loop, een van die trotse ontvangers van trofees vir 30 jaar diens. Tokkie het ‘n foto geneem waar ek hom geluk wens by een van die groot vir die tradisionele agternabraai met pap en die heerlikste tamatie-en-uie-smoor (sheba) waarvan jy kan droom. Ook ons ander eetgoedjies was ‘n fees vir die oog … en die maag. Sabiepark, daar is een soos jy.

Aan die woord.
Vele vriendskapsbande word by hierdie vergaderings hernuwe wanneer eienaars uit elke windrigting opruk. Min bande sal in lang duur kan kers vashou by die een van Tokkie en Mrad Shahia van Pretoria wat uit 60’s op Bultfontein in die Vrystaat strek.
Die twee was dubbelspelmaats in hul skool se eerste tennisspan in 1962. Van 31 Desember 1966 af is ek en sy spanmaats (ook dubbelbedmaats).
‘n Treurige element van die jaarvergadering is om die lys van die jaar se afgestorwenes te verneem. Op vanjaar se lys was Sally Dulek (75), vrou van prof. Ronald Dulek van Alabama, skrywer van die spitsvondige “Sitting with elephants”. Op my boodskappie van meegevoel het hy o.m. soos volg geantwoord:
”Thank you for the kind thoughts and words. They mean much. My children have joined me in Sabie Park and we have prepared a place for Sally between two of her favorite Impala Lillies. She has been unable to come to Sabiepark since 2019, but now her ashes and spirit reside where she loved. An added bonus is that I will need to return frequently to care for the site. P.S. Since I know of no one who loves Sabiepark more then the two of you, I believe you will understand the sentiments of my actions more than anyone.””
By die Donderdagvergadering was die uitstel van opgradering van die manskleedkamers by Sabiepark se swembad ter aprake. My stem was ten gunste van opgradering as prioriteit omdat ‘n nare 2008-ervaring nie net letsels gelaat het op die toilet se deur nie, maar ook op die uwe se gemoed. ‘n Nuwe deur sal al help om albei letsels uit te wis. Dit het so gebeur:
Met ‘n toets teen die All Blacks op Carisbrook, die sogenaamde “House of Pain” in Dunedin, loop ek rustyd in Sabiepark ‘n draai. Ek is só dom om die deur agter my op slot te trek. Dit haak toe vas. Met die wedstryd op ‘n mespunt, sit ek, arme drommel, toe amper 20 minute vas terwyl Samaritane met skroewedraaiers en hamers poog om my uit my eie “huisie van pyn ” te ontset.
Gerrie van Niekerk, parkhoof, is later persoonlik op die toneel. Sy plan is om die skarniere se pennetjies uit te kap. Daarvoor is ‘n hamer en ‘n lang spyker nodig. Twee helpers word afgevaardig om die nodige te gaan haal. Uiteindelik verskyn hulp in die vorm van die arbeider Klein Alfred (intussen oorlede) se vriendelike gesig oor die muur. My Samaritaan klim oor en begin pynlik stadig kap, kap, kap – eers die onderste, toe die boonste skarnier.
Toe ek ná die bevryding die TV-kamer instap, het die nuus al wyd versprei wat die rede vir my vertraagde verskyning is. Simpatieke applous klink op. “Nog 20 minute oor” sê kommentator Hugh Bladen op daardie oomblik. Gelukkig is ek betyds vir ‘n droom-solodrie deur skrumskakel Ricky Januarie, wat ‘n soete sege uit die kake van ‘n nederlaag pluk.
Toe die eindfluitjie blaas, brul dit in daardie TV-kamer dat die leeus dit seker tot oorkant die rivier in die Krugerwildtuin kan hoor. Ook die uwe staan regop en swaai triomfantlik my arms. Maar nooit weer sal ek in rustyd van ‘n kritieke rugbywedstryd ‘n toiletdeur sluit nie
Naskrif: Op 27 Junie was ons bevoorreg om in Sabiepark die 59ste verjaardag van Louis Nel by te woon. By vrolike ballonne op die stoep van hul boshuis het ons verjaardagkoek, koesisters en heerlike vleispasteitjies saam met die verjaardagman en sy ouers, ons goeie vriende Frik en Martie Nel van Montana, Pretoria, geniet. Louis wat by gevoorte breinbeserings opgedoen het, is een van die bekende en geliefde gesigte van Sabiepark. Hoe lief is hy nie ook vir die plek nie.