Skakels binne skakels binne skakels,
Drie van die mense op die boonste foto – een van hulle ‘n kollega – was in die afgelope dae saam met my en Tokkie op Tarlehoet se stoep in Sabiepark, ‘n vierde is ‘n matriekmaat, asook mede-Klerksdorper, en die vyfde ‘n mede-oud-Volkie van Potchefstroom. Ek raai die foto is deur ‘n sesde bekende geneem.
Van links is Herman en Mariëtte Wilkens, eienaars van die Umkumbe River Lodge in die Sabi-Sand, Jas du Preez, afgetrede finansiële hoof van Koerante, dr. Van Aardt du Preez, ikoniese verfhandelaar van Potchefstroom, en Gerda, sy vrou. Ek neem aan Cheryl, vrou van Jas, het die foto geneem. Sy verskyn op foto 2 saam met haar man.
Kollega Jas, ’n staatmaker aan my regterkant toe die koerantesektor in die jare 90 uitgestyg het tot die groot presteerder in die destyds Nasionale Pers, was in Sabiepark, op twee dae na, presies 15 jaar na Hennie Conradie en Eric Wiese, vorige finansiële direkteure van die Pers met wie hy sy aan sy gewerk het. ‘n Driemanskap is so voltooi.
My voorreg gewees om saam met hom tot op datum 25 Perskollegas vir korter of langer in Sabieprk te ontvang.
Jas (ook bekend as Schoeman) en Cheryl het uit Welgemoed by Herman en Mariëtte, sy tweelingsuster, oorkant die pad gekuier. Die twee het saam hul 79ste verjaardag gevier (foto 3).

Jas en Cheryl.
Hulle het voorheen naby ons kinders Brent en Marisa Claassens in Welgemoed gewoon.
Jas en Mariëtte se ouer broer is Van Aardt (84), uitblinker-sportman, wat ‘n tafelmaat was in die Jack Pauwkoshuis aan Volkies, Potch in die 50’s. Dis waar hy Gerda ontmoet het.
Die Du Preez’s kom oorspronklik uit Klerksdorp waar hul pa, Jock, ‘n prokureur was. Hy was ook ‘n kranige briefskrywer aan Die Transvaler.

Tweeling op hul 79ste verjaardag.
Op Klerksdorp het ons gesin in Neeltjiestraat gewoon. Dit bied ‘n skakel na Herman. In die gedugte Wilkens-geledere van die Wes-Transvaal is Neeltjie ‘n familienaam.
Herman se neef is rugbyspeler Mannetjie Wilkens wat getroud was met ‘n Tukkie-vriendin Gretha Künnen, wat in Asterhof was.
Ek het die hooffoto gaan gaps op Mariëtte se Facebookblad. Vir my was sy in ons Klerksdorp dae “Naughty Marietta” n.a.v. ‘n rolprent van daardie dae waarin Jeanette McDonald die hoofrol gespeel het. Sy verklap toe tydens die stoepkuier dat haar pa haar ook so genoem het.
Die kuiertjie was te kort om op al die verbindingspaaie te loop. Maar julle kan glo dat dit ‘n lekker kuiertjie met baie lag en gesels was.
(Naskrif: My Klerksdorp-konneksie word nou nog weerspieël in my motor se registrasienommer: TY 24 WP. My eerste motor was TY 24. Eerste en laaste dus.)