STUDENTE-INVAL OP MELKBOS

Vir spys en drank sê ons U dank,
Ons loof U naam o Heer …..

Van die naweek-saamtrek van ‘n stranddiensspan van die Kruiskerk van  Stellenbosch by ons hier op Melkbos is hul pragtige weergawe van die tradisionele Voortrekker- / kerkkamp-liedjie voor elke ete van die aangenaamste herinneringe.

Die enigste aangename herinnering is dit verreweg nie. Ek en Tokkie voel verryk deur alle aspekte van die nuwe ervaring.en vol moed vir die toekoms as dit die kaliber jongmense is wat die leisels gaan vashou.

Dit was kleinseun Jacob Claassens se idee om die span Melkbos  toe te bring – 22  studente altesaam. Oupa en Ouma was dadelik positief.

Slaapplek was nogal ‘n uitdaging. Die sitkamermeubels is uitgedra motorhuis toe om ‘n groot slaapsaal met kermisbeddens te skep.  Slaapsakke en matrasse was oral net waar jy kyk: tot in die voorportaal, studeerkamer en binnetuin.

Hoe almal by die badkamers en net twee beskikbare storte kans gekry het, weet ek nie. Maar ‘n boer maak ‘n plan.

Op die program was erns en luim:  Bybelstudie, stiltetye, strandbesoeke, speletjies, pret … en kosmaak.  Hoe is nie kos gemaak nie: ‘n berg hamburgers, ‘n stapel hoenderdye en –boudjies op die kole, ‘n hoop braaibroodjies, skottels vol aartappelslaai.

Die ou mense was toeskouers vol verwondering soos die vreemde avontuur vir hulle hom in vinnige pas op hul werf afspeel. Ek plaas net enkele foto’s.

Miskien die verrassendste: die totale afwesigheid van drank (buiten, natuurlik,  my en Tokkie se gewone paar glasies). En die aangrypendste: stiltetye wanneer elkeen met sy /haar Bybel ‘n rustige bestemming opsoek: eenkant op ‘n duin, op ons bankies langs die see, in ‘n sonkolletjie op die gras.

Vanoggend is ons twee oues kerk toe. Met ons terugkeer tref ons die span voor die huis aan, dis huis–toe-gaan-tyd. Ons stap die huis is en staan verstom oor die metamorfose. Elke ding is op sy plek. Penguin Place 11 lyk glad nie of daar ‘n uur tevore nog ‘n studentesaamtrek was nie.

Ons is dankbaar teenoor elkeen van die oulike Maties  – vir ons geskenkies, vir hul bedagsaamheid, ordentlikheid en voortreflike opruiming, maar miskien die heel meeste vir die positiewe insig wat hul kuiertjie ons gebied het in die voorbeeldige leefwyse van sulke juwele van ‘n nuwe generasie soos hulle.

Ons glo mooi dinge wag op almal van hulle vorentoe.

As sy oupa sal dit my seker gegun word om Jacob vir sy bydrae as braaimeester spesiaal te vermeld. Jan Braai kan kom wenke kry.

Wat ‘n week was dit nie vir Jacob nie. Die week het begin met ‘n optrede as een van die vyf studentestemme by ‘n groot konferensie van finansiele adviseurs by die Waterfront.

Donderdag hy hy die nuus gekry dat hy een van die 43% van die kandidate is wat die vlak 1-eksamen van die CFA-instituut geslaag het. Die CFA (Chartered Financial Analyst) is ‘n internasionale batebestuurs-organisasie en die eindkwalifikasie (vlak 3) word beskou as die “goud-standaard” vir professionele mense in batebestuur, portefeuljebestuur en beleggingsanalise. Ons is trots op sy eerste groot tree op daardie pad.

 

ERESKULD AAN NAT NAKASE

Oor ‘n bord stomende New England clam chowder – koningskos – in Januarie 1976 in ‘n knus restaurantjie langs Harvard Square in Cambridge, Massachusetts, het ek die naam Nat Nakase die eerste keer gehoor.

My onkunde het ek probeer verbloem deur my soplepel neer te sit en stadig, baie stadig, aan my glas sterk Bloody Mary te teug. Ek kon Jim Thomson, kurator van Harvard se Nieman Foundation for Journalists, egter nie om die bos lei oor my verleentheid nie.

“You are not the first one”, het hy my darem effens gerusgestel.

Die waarheid was ongelukkig dat meer as een Afrikaanse Nieman Fellow voor en ná my soos ek in Cambridge opgedaag het sonder enige kennis van ‘n pynlike stukkie joernalistieke geskiedenis wat hul land van herkoms in so ’n ongunstige lig gestel het.

Ek kon net in stomme stilte luister terwyl Thomson die vlugtige buitelyne skets van die ontredderde swart voorganger van 1964 se stryd met die Suid-Afrikaanse regering oor ‘n paspoort, kort, stormagtige termyn as Nieman Fellow en uiteindelike selfdood deur uit ‘n New Yorkse wolkekrabber te spring.

Die middagete saam met Thomson was iewers in Januarie 1977.  Sneeuvlokkies het neergesif toe ek uit die restaurant stap met my gedagtes in warboel en ‘n ongemaklikheid in die gemoed oor die pynlike storie wat hom 12 jaar tevore afgespeel het rondom die Nieman-genootskap waaruit ek soveel behae geskep het.

Dieselfde middag nog was ek in die leeskamer van die beroemde Widener-biblioteek waar ‘n mens enigiets van ‘n Guthenberg-Bybel tot my kollega Blaar Grobbelaar se boek oor Bram Fischer (in Afrikaans) kan vind. Oor Nat Nakasa het ek voldoende te lese gekry om my ongemak verder te stimuleer.

Sy storie was een van ineengestrengelde vurigheid,  bitterheid, ambisie en ‘n talent met woorde wat vir hom ‘n pos by die prestigetydskrif Drum losgeslaan het. Sy ambisie van die oomblik was om, soos sy swart kollega Lewis Nkosi in 1962, ‘n sabbatsjaar by Harvard te gaan deurbring. Hy doen toe vir ‘n Nieman Fellowship aansoek, maar word teleurgestel: ’n wit kandidaat, Donald Prosser van Port Elizabeth, kry voorkeur.

Later word Prosser verhinder om te gaan. Nakasa kry sy kans.  Toe kom die skok: hy word in blinde onbesonnenheid ‘n paspoort geweier. Ná ‘n hele opskudding verlaat hy woedend en ontnugter die land met ‘n eenrigting-uitgangspermit en Tanzaniese reisdokumente; hy sou dus nooit kon terugkeer nie.

Hy kom twee maande laat in Cambridge aan en raak toenemend gefrustreerd oor wit akademici se gebrekkige insigte rakende die Neger-kwessie en onbegrip vir die anderste belewenis van Suid-Afrikaanse swartmense. Hy verwerf ‘n reputasie van opstandigheid.  By die gereelde Niemanseminare waar oor bier en kaas oor die politiek geginnegaap word, skree hy gereeld op gerespekteerde gaste en peper hulle met aantygings. ‘n Keer beland hy en ‘n sosiologie-professor in ‘n vurige bekgeveg wat ‘n volle twee uur duur.

Aan die einde van die Niemanjaar in 1965 verskuif hy na New York waar hy vir koerante soos die New York Times  artikels skryf.  Van sy ongedurigheid en nou ook diep verlange na sy geboorteland kan hy egter nie ontslae raak nie. Op 14 Julie 1965 spring hy in ‘n donker oomblik uit ‘n vriend se hemelhoë woonstel en val hom te pletter.  Hy was net 28 jaar oud.

Nakase is sonder ophef in die Ferncliff Cemetery in Hartsdale, New York, begrawe in ‘n graf met net ‘n koper-merker. Miriam Makeba is darem teenwoordig om hom met ‘n afskeidslied te groet. Eers 30 jaar later, nadat onder andere jonger kollega Dana Snyman namens Huisgenoot die verlate graf gaan soek en opgespoor het, het die Nieman Foundation in 1995 ‘n grafsteen laat oprig wat eenvoudig lui: Nathaniel Nakasa May 12, 1937 – July 14, 1965. Journalist, Nieman Fellow, South African — 1038 (die nommer van die grafsteen.)

In 1997 word hierdie versoolde redakteur (dis nou die uwe) in sy nuwe bestuursrol voorsitter van die ou NPU (Nuusblad-Persunie) wat later omvorm is in Drukmedia SA. Met Dana Snyman se artikel en die oprigting van die grafsteen in New York nog vars in die geheue, begin die gedagte by my herleef om op ‘n manier erkenning te gee aan daardie skimagtige figuur uit die verlede teenoor wie ek sedert my Niemanjaar ‘n vreemde soort ereskuld voel.

In  my voorsittersrede aan die einde van die jaar sit ek toe die voorstel op die tafel dat ons ‘n Nat Nakasa-toekenning in die lewe roep om onder meer onverskrokkenheid, integriteit, vreesloosheid, verbondenheid aan die waarheid en ander kernwaardes van die joernalistiek te bekroon,  met die suggestie daarby dat die NPU en die SA Niemans daarin hande vat.  My voorstel is met akklamasie eenparig aanvaar.

In 1998 is die eerste Nat Nakasa-prys op daardie grondslag aan Jon Qwelane toegeken. Die Redakteursforum en Sanlam vat nou hande in hierdie – mag ek maar hardop sê? – prysenswaardige onderneming.

Dat juis ‘n Afrikaanse joernalis uit wat daardie tyd ‘n stal van Nasionaalgesindekoerante was, agter die prys sit, sou dalk vir Nakase self en vir van die wenners deur die jare weens politieke afkeer laat ril het. Maar is dit nie tog ‘n pikante weerspieëling van die uniekheid van ons land en sy mense nie?

Naskrif: Die oorskot van Nakasa rus nou in sy tuisbodem. Sy kis is op 19 Augustus 2014 na Suid-Afrika teruggebring  nadat dit uit die VSA gerepatrieer is. Hy is daarna op 13 September 2014 – 12 jaar en ‘n paar dae  gelede – amptelik herbegrawe in die Heroes’ Acre in Chesterville, Durban, naby die plek waar hy grootgeword het. Sanef het , tot sy eer, daarin ‘n groot rol gespeel.

 

 

 

BESOEK VAN ABRAHAM EN “KLEIN TOKKIE”

Abraham Gonidwe (35) , Malawiese tuinman, wat 10 jaar gelede by ons weg is met drome om sy eie ding te doen, het gister uit die bloute in sy silwer BMW 325i hier opgedaag. Sy drome is aan’t verwesenlik. Hy besit nou ‘n bou-onderneming.
In sy arms was ‘n dogtertjie van 18 maande “Klein Tokkie” noem hy haar. Hy loop opgewonde van vertrek tot vertrek van “sy huis” en neem videos, verheug om al die ou bakens te herken, van die studeerkamerstoel waarvan die wiele gereeld sy aandag vereis het tot die foto’s teen die muur.
Hy praat met heimwee oor die tentfees van 2016: my 75ste, Tokkie se 70ste en ons 50ste troudag ssamgebondel in een fees op ons groot grasperk. Waaneer laas was ons op ‘n bootvaart, vra hy. En gaan ons nog elke winter Sabiepark toe?
Hy noem krom die name van my boeke se titels op, soos hy dit onthou: Praat-praat in Tamatiestraat, Flaters en Kraters … Hy wil weet hoe dit met die kleinkinders gaan, Jacob, Thomas en Christopher.
Laggend deel hy mee van ‘n skof in Bloemfontein: die ongeloof van mense as hy sê hy ken Hennie van Deventer, “he is my boss”.
Ons vra uit oor sy destydse meisie , Thoke. Sy is nog sy lewensmaat, die moeder van “Klein Tokkie”. Ons onthou hoe hy altyd vir Thoke foto’s gestuur het van sy kos en hy lag dawerend sy Abraham-lag.
Nou moet hy gaan kyk hoe groot die aalwyne geword het wat hy destyds op die agter-sitplek van ‘n gedaan Unotjie hier aangery het. Hulle toring bo hom uit.
Hy is klaarblyklik trots op wat hy bereik het, maar gul gee hy ons die eer. Alles is te danke aan wat hy by ons geleer het, sê hy. Hy gee ons sy telefoonnommer. Bel hom enige tyd van die nag of dag, nooi hy. Vir enigiets: hulp met instandhouding, nood, enigiets.
Tokkie gaan haal ‘n hangertjie en ‘n sjokolade vir “Klein Tokkie”. Die hangertjie is voorlopig vir Thoke. Dan moet dit ook na “klein Tokkie”´.
Wat ‘n verrassing om die joviale Abraham na al die jare weer te sien. En hoe verfrissend was die weersiens nie vir ons almal nie.

‘n MIS-ERABELE INSIDENT IN MIS

Met die mis wat vinnig al hoe digter toesak, het die liewe Tokkie van Deventer gister die tweede keer in agt maande op haar gewone strandwandeling gruwelik verdwaal.
Sy het uiteindelik 10 km heen en weer gestap soos sy vergeefs ‘n baken probeer vind wat haar terug huis toe sal lei.
Ek het seker tien keer gebel: “Waar is jy”. Dan pleit ek: “Stap riviertjie toe” (Kleine Zout), ek kom haal jou daar.” Maar toe is is sy al weer in die teenoorgestelde rigting op haar spore terug Koeberg se kant toe. En duidelik al hoe onsekerder hoe sy haar weg gaan vind.
So paniekerig het die uwe begin raak, dat hy kierie en al die eerste keer in jare self die duine oor is om te gaan soek. Dan sien hy ‘n deinserige gedaante in die verte. By nadere ondersoek is dit iemand anders, nie Tokkie nie.
Uiteindelik bereik sy of vier strate noord van Penguin (dis Pelican, vir diegene wat Melkbos ken) teer onder haar voete. Sy stap deur die motorhuis die huis in net toe ek hygend, met kloppende hart en die droogste verhemelte wat ek in my ganse lewe kan onthou, van die see se kant die huis instrompel.
Wat bygedra het tot die spannende insident was dat haar selfoon se battery in die proses die gees gegee het. Pogings van ‘n kleinseun wat haar bewegings op sy skerm gemonitor het (slim kinders deesdae!), om haar te help koers hou, het dus nie vrugte afgewerp het nie.
Dit is die tweede keer in enkele maande dat Tokkie hier op Melkbos ‘n potjie met die mis loop. Op oujaarsdag 2025 – ons 59ste troudag – was sy ook in ‘n stadium dwalende in die mis met geen benul waar die huis is nie. Gister se verdwaalslag was erger – loshande die ergste in die 30 jaar dat ons hier woon .
Ek sit hierdie nie op om ‘n glimlag uit te lok nie, want dit was werklik geen grap nie. Dis aan die een kant ‘n waarskuwing hoe maklik en hoe vinnig so iets kan gebeur. Dis ook ‘n aanmaning om slaggereed te wees. Agterna het ons besef watter stappe beter sou gewees het as om self oor die duine te piekel met die uitgestrekte strand voor my in digte mis gehul. Rondom ons is immers jonger bure – om mee te begin.
Ek wil darem ook byvoeg hoe dankbaar ek was toe ek beweging by die motorhuis hoor – des te meer toe ek my vrou sien. Ek wou my eers kwaad hou, maar al my kwaadgeid het vinnig vermurwe.
En reken, nou dat ek een keer reggekry het om weer die duine oor te steek, wil ek dit regtig weer probeer – net wanneer daar geen mis in sig is nie.

VERWOERD: ‘n NAGMERRIE

Op Saterdag 10 September 1966 – laas Donderdag 60 jaar gelede – is die vermoorde premier, dr.HF Verwoerd, in die Helde-akker in Pretoria ter ruste gelê  … en het ‘n logistieke nagmerrie hom in die koerantwêreld afgespeel wat in hedendaagse tye met onmiddellike vinger-op-die-sleutel-kommunikasie vir baie seker onbegryplik sal klink.

‘n Omvangryke operasie soos vantevore nooit was nie en, weens tegnologiese vooruitgang, vorentoe nooit weer sal wees nie,  is geverg om die die Sondagkoerant Die Beeld – voorganger van Rapport –  die Sondag betyds op straat te kry met bladsye vol foto’s van die somber geleentheid in Pretoria.

‘n Komplikasie was dat Die Beeld in die 60’s in drie sentra gedruk is:  Johannesburg, Kaapstad en Bloemfontein.   By die twee “buiteposte” was groterige spanne huursoldate van Die Burger en Die Volksblad Saterdae slaggereed om op voorskrifte uit Johannesburg omvangryke redaksionele en tegniese afronding te doen.

Die kopie vir die laaste paar nuus- en sportbladsye is per teleks uit Johannesburg versend of, soos in die geval van vars plaaslike sport, deur die betrokke twee dagblaaie se sportredaksies op hul ou Olivetti- of Remingtontikmasjiene geproduseer. Spanne subredakteurs  moes dit versorg, van opskrifte voorsien en met ‘n drukbuis in ‘n pyp  settery toe stuur. In die settery is die berigte in warm lood geset en in bladsyvorms gepak.

Foto’s was egter ‘n kwessie.  Van selfone was nog geen sprake nie – wat nog van die internet wat op die minimum sein kan werk, hipermoderne tablette, Whatsapp en dies meer.  Die heersende “snel”-aflewering was per landlyn – ‘n tydsame en wisselvallige proses. Die foto is pynlik stadig  kolletjie vir kolletjie op ‘n poskantoorlyn versend en op ‘n drom anderkant ontvang terwyl die nuusredakteur staan en trippel. Dikwels was die kwaliteit ver van wense.

Vir goeie dekking van die begrafnis van ‘n vermoorde premier sou so ‘n trapsuutjie-proses allermins deug. Om genoeg foto’s met impak so kolletjie vir kolletjie in Kaapstad en Bloemfontein te kry, was eenvoudig ondenkbaar.

‘n Klompie afdrukke in ‘n koevert was waarskynlik die doeltreffendste metode. Dit is daardie jare dikwels op die nippertjie as ekstra handbagasie in ‘n “informele koerier” – ‘n gewillige vliegtuigpassasier – se hand gedruk. Om die laaste vlug te haal, was al ‘n  uitdaging. Waar geen vlug was nie, was die uitdaging nog groter.

Maar eers moes die rolletjies film (sic) van die Helde-akker in Pretoria natuurlik by Die Beeld in Johannesburg kom vir ontwikkeling. Vir die operasie is ‘n meesterplan gesmee met onder meer drie motorfietse, ‘n helikopter en ‘n vliegtuig betrokke. ‘n Span van vyf verslaggewers en agt fotograwe moes, oog op die horlosie, haarfyn by ‘n uitdagende program hou.

Daardie begaafde nuusvrou die onstuitbare Rykie van Reenen was ‘n vername rat in die masjien. Selfs sy het in haar begrafnisrok by die Uniegebou agter op fotograaf Postma van Jaarsveld se motorfiets gespring vir ‘n hellevaart na die helde-akker, met haar begrafnishoedjie op die kop vasgedruk. Een sleutelfaktor in elke aspek van die operasie was immers tyd. Een glips met die sinchronisasie, een verlore konneksie, en die appelkar val om.

Fase twee breek ná die teraardebestelling aan. Al die films – Uniegebou s’n en Helde-akker s’n – moet deur die span fotograwe aan ‘n redaksielid by die hoofhek van die begraafplaas besorg word. Hy wag buite. Op sy beurt moet hy dit so vinnig as moontlik besorg by ‘n helikopter wat by die Fonteinesirkel (onbewus van ‘n nuwe naam) staan en opwarm. Maar skielik ‘n haakplek.  Toe die ontvanger die hoofhek bereik, gryp die polisie hom.  Hierdie bedryf is nie uitgeklaar nie.

Deur soebat en met die hulp van ‘n simpatieker offisier in uniform en ‘n polisiemotor voltooi hy, sopnat gesweet, sy sending. Nou vir ‘n blitslopie per Hell’s Angel-motorfiets Fonteine toe. Dis woerts-warts by rooi ligte verby. Die helikopter se skroef draai al toe hulle by die sirkel aankom.

In Johannesburg is die landingsplek ‘n parkeergarage. Nog ‘n redaksielid moet die kosbare pakkie daar optel. ‘n Nagwag met ‘n kierie weet egter van niks. Hy skop vas.  Gelukkig is dit een van daardie geboue met halwe bakstene wat by die hoek uitsteek. Die joernalis laat nie op hom wag nie; soos ‘n akrobaat is hy teen die muur op.

Die films bereik die tuisbasis en gaan direk donkerkamer toe. Onder die wakende oog van die veldheer Tobie Boshoff, nuusredakteur, word dit ontwikkel, foto’s afgedruk en genommer, en pakkies vir Kaapstad en Bloemfontein opgemaak.

Vir eersgenoemde had die SAL ‘n gerieflik geskeduleerde vlug. Vir laasgenoemde moes Tobie (Bossie) ‘n onkonvensionele plan maak. Hy kommandeer toe sy jongste broer, Pieter Boshoff, op – of eintlik Boshoff junior se rooi Mustang, pas uit Amerika ingevoer. Pieter en sy kar is oorgehaal vir die jaagtog  Vrystaat toe. Twee sakke sand in die kattebak moet die “swaai” neutraliseer.

Terwyl die pakkies met foto’s afgerond word, doen hy laaste ‘n “toetsdraai” om die blok. Opgeruimd gee hy die duime-op-teken. “Roger”.

Volgens berekenings sou hy 140 kilometer per uur moet handhaaf. Hy het. Dalk ‘n fraksie meer. Eers op die laaste skof, naby Brandfort (wat nou Winnie Mandela se naam dra), gewaar twee verkeersmanne in hul patrolliemotor onder ‘n boom die rooi gevaarte.  Te laat vir trane.

Die uwe was die aand in Bloemfontein in die hoofsubstoel. Ons sit in spanning op die fotopakkie en wag. Toe Boshoff in Voortrekkerstraat (nou Nelson Mandelarylaan) voor Die Volksblad stilhou, roep ‘n brandwag met die gang af:  “Hier’s die kar!”

Ek en my span huursoldate verrys ons soos een man uit ons stoele en drafstap met die trappe af om te gaan kyk en bewonder.  “Sjoe,” sê ons vir mekaar, “wat ‘n kar. Die Troskies kan gaan slaap.” (Ja, die broers Bill, later baas van die BMW-agentskap, en Boet, vervaardiger saam met Jamie Uys van treffers soos The gods must be crazy,  was toe al bekend om hul vuurwaens.) Toe’s dit terug lessenaars toe om ernstig te gaan koerant maak.

‘n Voertuig of twee van Bloemfontein se verkeerspolisie was gou op die toneel – met ‘n minder welwillende gesindheid.  “Hoekom dan so haastig?” wou die manne in uniform streng weet.   Op hul hakke daag die Brandfortmanne ook stomend op. Maar Boshoff is goed deur ouboet voorberei. Sy verduideliking word aanvaar. Almal staan gretig nader toe hy aanbied om die Mustang se enjin vir hulle te wys terwyl ons al by ons lessenaars vooroor gebuig sit en foto’s uitmerk vir die spesiale begrafnisbladsye. .

Een laaste amperse hik is daar wel. In die Kaap is digte mis, soos so dikwels.  Die Boeing begin omdraai. Verpletterende tyding. Net toe lig die wolke. “Kom land maar,” kom dit oor die radio in die beheertoring. Net betyds vir die eerste uitgawe.

(Schalk Pienaar, redakteur van Die Beeld, se boek Getuie van groot tye, Tafelberg, 1979, op sy sterfbed afgerond, was waardevol om die geheue oor die episode op te skerp.)